Europese Universiteite oor 21 jaar

Universitaire Campus Diepenbeek

Afrikaans in Vlaandere, België

In Vlaandere het prof. Luc Renders jaarliks met finansiële ondersteuning uit Suid-Afrika vanuit Hasselt taal en letterkunde seminare gereël by die Universitaire Campus in Diepenbeek wat deel uitmaak van die Universiteit Hasselt.

Hierdie universiteit ontwikkel vanaf 1964 met drieledig omskryfde doelstellings: onderwys, wetenskaplike ondersoek en diensverlening aan die omgewing.

Die Universitaire Campus in Diepenbeek is op 3 September 1973 in gebruik geneem.

Sien die verslae van 2002-2004 onder die opskrif Afgelope Projekte.

Universiteit Antwerpen

Het Centrum voor taal en spraak is in de loop van 2006 gefuseerd met ICTL en Didascalia in LINGUAPOLIS, het Instituut voor Taal en Communicatie van de Universiteit Antwerpen.

In the course of 2006, the Centre for Language and Speech has merged with ICTL and Didascalia into LINGUAPOLIS, the Institute for Language and Communication of the University of Antwerp.

website LINGUAPOLIS

Historiese terugblik: Afrikaans in die Centrum voor spraak en taal

So het dit alles met Afrikaans begin in 1995

Die Centrum voor taal en spraak, wat verbonde was aan die UA-UIA (Universiteit Antwerpen - Universitêre Instelling Antwerpen), het in 1995 vir die eerste keer Afrikaanse klanke oor haar vloer laat rol. Die Centrum se noue betrokkenheid by en bevordering van Afrikaans het sy oorsprong in `n kursus: Afrikaans vir Nederlandstaliges, wat in 1995 vir die eerste keer by die Centrum aangebied is.

Uit en tuis

Die studente se entoesiasme oor die kursus het gelei tot `n tweede “Groot Trek”. Hierdie keer was dit egter nie van die Kaap na die Transvaal oor die Drakensberge nie, maar van België na Suid-Afrika oor die oseaan. Tydens hierdie reis het vier van die studente, wat die Afrikaanse kursus gevolg het, en vier dosente van die Centrum voor taal en spraak by verskeie Suid-Afrikaanse universiteite besoek afgelê en lesings en werkswinkels oor die Nederlandse taal en kultuur, asook oor taalvaardigheidsonderrig in die algemeen, aangebied.

Rolf Nijs, een van die toenmalige studente - en later `n werknemer by die Centrum - se entoesiasme was selfs so groot dat hy in 1996 'n tesis geskryf het oor die onderrig van Afrikaans aan Nederlandstaliges. Rolf was die eerste van 'n aantal studente uit België wat vanaf 1996 hulle “stages” by die Afrikaanse Departemente van die Universiteit van Pretoria (UP) en die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PUCHO) gaan volg het.

Hierdie uitruiling was moontlik gemaak deur samewerkingsooreenkomste tussen die UIA, en UP en die PUCHO (spesifiek die afdeling Taal en Letterkunde, binne die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte), respektiewelik. Die 1995-besoek van die Antwerpse geselskap aan Suid-Afrika het die weg gebaan vir hierdie meer amptelike verhouding tussen die Centrum en Afrikaans. In 1998 het UNISA se Fakulteit Lettere en Wysbegeerte die PUCHO en UP se voorbeeld gevolg en ook `n amptelike samewerkingsooreenkoms met die UIA aangegaan.

Die reise was egter nie net in een rigting nie. Verskeie Afrikaanse dosente (o.a. van UP, die PUCHO, Rhodes Universiteit, die UOVS, die Universiteit van Natal en UNISA), persone uit die sekondêre opleidingsektor in Suid-Afrika (onderwysers en vakadviseurs), Afrikaanse skrywers en vertalers het ook, op uitnodiging van die Centrum, die reis van Suid na Noord aangepak. Hierdie menslike wisselwerking binne die samewerkingsooreenkomste het tot ‘n groot aantal projekte en produkte gelei. Binne die LAO-projekte (Linguïstische Afstande Overbruggen) is daar tydens die Noord-Suid- en Suid-Noord-besoeke en met behulp van elektroniese kommunikasie (wanneer die oseaan weer tussen die verskillende deelnemers gelê het), hard gewerk om Afrikaans, die taalleerproses en kommunikasie deur middel van opleidingsinisiatiewe te bevorder en die volgende insluit: 

Materiaal

  • ‘n sillabus vir die onderrig van Afrikaans as tweede- en vreemdetaal,
  • 'n CD-Rom (LinC) en ‘n video-en-papier-pakket (Mediaprojek) wat dien as opleidingsmateriaal vir tweedetaalsprekers,
  • 'n kursus Afrikaanse taal en kultuur vir mediese studente uit België,
  • ‘n kursus Afrikakunde, vir Nederlandsprekendes wat meer oor Suid-Afrika te wete wil kom deur haar kuns en literatuur te bestudeer,
  • ‘n opleidingsvideo oor die wyses waarop taaldosente en –onderwysers kleingeld van pedagogiese en didaktiese hindernisse kon maak.

Opleiding

Vanaf 1997 het verskeie dosente en persone vanuit die sekondêre opleidingsektor in Suid-Afrika, in België, sowel as in Suid-Afrika, opleiding ontvang oor ‘n wye spektrum van sake rakende die didaktiek en pedagogiek van taalonderrig. Vanaf materiaalontwikkeling, tot administratiewe aangeleenthede is deur verskeie Vlaamse kenners onder die loep geneem, ten einde die Vlaamse kennis en ervaring te deel met die Suid-Afrikaanse deelnemers.

Onderwysnetwerk

Daar is ook ‘n Afrikaanse onderwysersnetwerk opgerig in die Noordwes Provinsie in Suid-Afrika en hulp verleen aan die Afrikaanse onderwysersnetwerk in Gauteng. As deel van die pogings om veral Afrikaanse onderwysers, wat hulle besig hou met tweedetaalonderrig, op te lei en te mobiliseer, is daar finansiële en opleidingsondersteuning gebied aan ‘n hulponderwyserstelsel wat die Department Afrikaans, UP by ‘n hoërskool in Mamelodi begin het.

Afrikaanse kursusse

Die Centrum het begin met twee Afrikaanse kursusse: Afrikaans as tweede taal en Afrikaans vir mediese studente wat binne 'n interkulturele konteks 'n “stage” in Suid-Afrika sal doen.

En wie moet ons bedank?

Die band tussen die Centrum en Afrikaans is veral moontlik gemaak deur finansiering van die Ministerie van die Vlaamse Gemeenschap: Departement Onderwys, wat vir 5 jaar geld belê het in die LAO-projekte. Maar sonder die toegewyde deelname van ‘n aantal Suid-Afrikaners en Vlaminge sou die finansiële hulp min bruikbare rente opgelewer het.

Ten slotte ...

Hierdie projekte het daartoe gelei dat nie net taalgrense nie, maar ook kultuur-, kontinent- en kennisgrense oorgesteek is. In Antwerpen is Afrikaans dus nie op enige Groot Trek opsoek na `n tuiste nie, want hier het Afrikaans dit by die Centrum voor taal en spraak gevind.

Tans bestaan die sentrum nie meer nie en is dit ingelyf by Universiteit Antwerpen.

 

 

Hersien 2015

© Catharina Loader 2001