Europese Universiteite oor 21 jaar

Wroclaw Universiteit

Die Wroclaw Universiteit is opgerig in die 16de eeu. Die stigtingsooreenkoms is op 20 Julie 1505 deur Vladislaus II Jagiello, koning van Bohemië en Hongarye, onderteken. Die universiteit ontwikkel egter eers merkbaar vanaf 1702 in die vorm van ´n klein Jesuïte Adademie wat opgerig word deur die Oostenrykse keiser Leopold I van Habsburg. Dit het aanvanklik net uit twee fakulteite, naamlik filosofie en teologie bestaan. Vandag het die universiteit sewe fakulteite. 

Die Centrum voor cultuur van de Lage Landen van de Universiteit van Wroclaw betrek ook sporadies Afrikaans in hulle kultuurprogramme.

Prof. Jerzy Koch

In die Filologiese Fakulteit werk prof. dr. Jerzy Koch. Hy is hoof van die Afdeling vir Moderne Nederlandse en Afrikaanse Literatuur van die Erasmus-leerstoel vir die bevordering van die Nederlandse taal, literatuur en kultuur. Hy is verantwoordelik vir die organisering van Afrikaanse programme in Poolse universiteite en lewer´n groot bydrae om die belangstelling in Afrikaans uit te bou.

Hy is bekend vir sy vertalings van Nederlandse boeke in Pools:

  • in 1996 het hy Sewe dae by die Silbersteins van Etienne Leroux in Pools vertaal
  • en sy vertaling van Ingrid Jonker se gedigte het ook alreeds verskyn

Hy is skrywer van verskeie boeke oor die Afrikaanse literatuur.

Adam Mickiewicz-Universiteit (UAM) in Poznań

Die Suid-Afrikaanse ambassadeur besoek die Adam Mickiewicz-Universiteit in Poznan.

 

V.l.n.r.:

Prof. dr. Habil. Jerzy Koch, L.Akad. S.A., Hoof van die Departement
Ambassadeur Eksellensie Febe Potgieter-Gqubule
Prof. Fanie Olivier
prof. dr. habil. Katarzyna Dziubalska-Kolaczyk, Hoof van IFA
Ambassadeur Eksellensie Febe Potgieter-Gqubule
Prof. Fanie Olivier
prof. dr. habil. Katarzyna Dziubalska-Kolaczyk, Hoof van IFA

Akademiese posisie

Die Suid-Afrikaanse spesialisasie soos dit tans in die Instituut vir Engelse Filologie (IFA) aan die Adam Mickiewicz-Universiteit (UAM) in Poznań (Pole) aangebied word, is taamlik jonk. Die ontwikkeling van wetenskaplike navorsing op hierdie vakgebied en die didaktiese take in verband met die instandhouding van die kurrikulum word waargeneem deur die Departement vir Nederlandse en Suid-Afrikaanse Studies wat deel vorm van IFA.

Navorsing

Soos dit uit die naam van die Afdeling afgelei kan word, het die belangstelling vir Suid-Afrikaanse studies ontstaan via bestudering van die Nederlandse en Afrikaanse taal. Die impetus wat Engelse studies aan die Suid-Afrikaanse spesialisasie gee, verleen ook ’n addisionele dimensie aan ons aktiwiteite. Dit verklaar die belangstelling van medewerkers vir navorsing oor o.a. die geskiedenis van Nederlandse geskrifte uit die koloniale periode, koloniale en moderne reisliteratuur, geskiedenis van ouer Afrikaanse letterkunde en postkoloniale studies.

Hierbenewens word daar ook projekte in stand gehou wat verband hou met die moderne Afrikaanse literatuur en met die Engelstalige Suid-Afrikaanse letterkunde, sosiolinguistiek, meertalligheid en multikulturaliteit. Daar word tans aan die eerste Pools-Afrikaanse woordeboek gewerk.

Die boek Historia literatury południowoafrykańskiej. Literatura afrikaans XVII-XIX wiek (‘Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse literatuur. Afrikaanse letterkunde. 17de-19ste eeu’; Wydawnictwo Akademickie Dialog: Warszawa 2004) deur prof. Jerzy Koch wat die prys van die Poolse Minister vir Nasionale Opleiding ontvang het, is ’n bewys dat dié afgebakende navorsingsgebied sistematies en suksesvol bestuur word.

Dit spreek vanself dat die Afdeling saamwerk met akademici in Engelse studies, veral kollegas wat binne die kader van hulle ondersoek en klasse ook aandag bestee aan die talige, literêre of kulturele aspekte van die Suid-Afrikaanse realiteit. Die resultaat van hierdie samewerking kan gesien word deur die publikasie van ’n bundel onder redaksie van prof. Liliana Sikorska The Universe Of Histories. Essays On J.M. Coetzee (Peter Lang: Frankfurt am Main 2006).

 

Die tydskrif "Werkswinkel" is nou ´n bekende publikasie

Spesiale Uitreikprojekte

Daar word op die oomblik intensief gewerk om die eerste nommer van ’n nuwe tydskrif redaksioneel voor te berei. Die naam van die tydskrif sal lui: “Werkwinkel. A Journal of Low Countries and South African Studies / Tijdschrift voor Nederlandse en Zuid-Afrikaanse Studies / Tydskrif vir Nederlandse en Suid-Afrikaanse Studies” en die belangstelling en die fokusareas van die Afdeling sal daarmee gedek word. Die bedoeling hiermee is om uit te reik na ander navorsers in Europa en daarbuite. Die doelstelling is ook om die tydskrif in Suid-Afrika te laat akkrediteer om sodoende vakgenote uit die RSA te lok.

Sien ook: Werkwinkel - Tydskrif vir Nederlandse en Suid-Afrikaanse Studies

Daar was reeds ’n aantal buitelandse gassprekers wat Poznań besoek het om vir ons studente lesings te gee. Ons hoop dit word in die toekoms ’n vaste element van ons program en dat dit moontlik sal word om veral met Suid-Afrikaanse universiteite ’n uitwisseling van dosente en studente in stand te hou.

Sedert 2004 het ons begin met ’n projek van gasskrywers (writer in residence). Die eerste outeur wat ’n spesiale reeks voordragte en ook werksessies aan die studente gegee het, was Eben Venter. Ons hoop om in 2007 ’n ander bekende Suid-Afrikaanse skrywer uit te nooi. Op die oomblik word gesprekke met hom gevoer en ook met potensiële donateurs wat vir borge kan sorg om die projek moontlik te maak.

Die Afdeling geniet ondersteuning van die IFA-direksie vir die persprojek wat reeds sedert enkele jare onderneem word. Binne die kader van hierdie projek het ons intekening op koerantknipsels uit die Poolse pers wat spesifiek oor Suid-Afrika handel. Alle artikels in Poolse dagblaaie en ander joernale wat relevante inligting, opinies of kommentaar met betrekking tot Suid-Afrikaanse aangeleenthede bevat, word aan ons gestuur en in digitale vorm bewaar vir akademiese ondersoek.

Didaktiek

’n Kort skets van die organisatoriese veranderinge wat die afgelope jare plaasgevind het, gee ’n goeie insig in die ontwikkelingsgang van die belangstelling in Suid-Afrika.

Teen die einde van die jare negentig is daar binne die kader van ’n keusemodulereeks vir die derdejaarstudente in Engels ’n basiese kursus genaamd Inleiding tot die Afrikaanse Taal, Literatuur en Kultuur aangebied.

Na die positiewe ervarings van ’n aantal jare is daar in 2001 ’n besluit geneem om ’n volwaardige Suid-Afrikaanse spesialisasie te skep. Nuwe dosente is in die tyd betrek en ook Suid-Afrikaanse medewerkers is aangestel. Die ou kursus is omskep in ’n tweejarige spesialisasie met nuwe vakke en nuwe fokusareas wat vir die MA-studente in Engels van stapel gestuur is.

Dit het egter na enkele jare geblyk dat hierdie opset ongelukkig nie heeltemal aan die nuwe uitdagings beantwoord wat die verandering binne die universitêre sisteem meegebring het nie. Met die oorgang van die vyfjarige MA-standaardstudie na die nuwe sisteem van drie jaar BA-studie en twee jaar MA-studie was dit noodsaaklik om die opset van die Suid-Afrikaanse spesialisasie aan te pas. Dit het ook geblyk dat die periode van twee jaar, veral met die oog op aanleer van nuwe tale soos Afrikaans of elemente van die Bantoetale, te kort was.

Na evaluasie het ons besluit om op vroeë ervarings voort te bou en die bestaande spesialisasie te omskep na ’n driejarige BA-studie. In beginsel is hierdie spesifieke pakket in Suid-Afrikaanse Studies bedoel vir studente in Engels, maar daar word ook moontlikhede geskep om belangstellendes uit ander universitêre rigtings te akkommodeer.

Kurrikulum

Die kurrikulum van Suid-Afrikaanse studies moet binne die breë kader van die Engelse Filologie gesien word. Die 3-jaar-studie (B.A.) gee vir ons studente die geleentheid om twee diplomas te ontvang: ‘n diploma in die Engelse Filologie (B.A.) en ‘n diploma in Suid-Afrikaanse studies. Beide studierigtings vul mekaar aan want die kurrikulum bestaan uit drie dele: ‘n Engelse pakket, ‘n Suid-Afrikaanse pakket en ‘n gemeenskaplike pakket. Binne die eerste pakket word vakke aangebied wat aan alle ministeriële vereistes vir M.A.-studie in Engels voldoen betreffende die aantal ure, klasse en vakdiversifikasie (Engelse taalverwerwing, Geskiedenis van Engeland en die VSA, Geskiedenis van die Engelse en Amerikaanse letterkunde, Geskiedenis van Engels ens.)

Die Suid-Afrikaanse pakket bevat vakke wat volgens ministeriële vereistes ‘n volwaardige B.A.-studie moontlik maak en wat naas die aanleer van tale en die bestudering van letterkunde ook aardrykskundige, historiese en sosio-politieke aspekte insluit. Die klem binne Suid-Afrikaanse studies val hoofsaaklik op die bestudering van kulturele fenomene, d.w.s. Suid-Afrikaanse werklikheid word as ‘n uitmuntende, multikulturele voorbeeld gebruik om vir die studente al die aspekte van ‘n multidimensionele wêreld te laat sien; daar word ook aandag bestee aan die interessante ooreenkomste tussen Pole en Suid-Afrika wat veral sedert die transformasie van die jare negentig na vore getree het. Die koloniale en moderne beeldvorming rondom Suid-Afrika is ook ‘n belangrike aspek van ons studies. Die bestudering van Afrikaans gee vir studente die moontlikheid om deur die jongste Germaanse taal wat in Afrika ontstaan het, toegang tot die Afrikaanse mentaliteit en kultuur te kry.

Die pakket in Suid-Afrikaanse studies bestaan uit die volgende vakke: Afrikaanse taalverwerwing, Engelstalige Suid-Afrikaanse letterkunde, Geskiedenis van Suid-Afrika, Suid-Afrikaanse variante van Engels, Suid-Afrikaanse kulturele studies, Geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde en Geskiedenis van Afrikaans.

Daarbenewens word aan die studente ‘n aantal gemeenskaplike vakke gebied wat ‘n deel van beide studies uitmaak. Dit is veral taalkundige vakke wat aan die hand van twee Germaanse tale (Engels en Afrikaans) verskeie teoretiese agtergronde belig soos: deskriptiewe grammatika van Engels en Afrikaans of vergelykende grammatika van Engels, Afrikaans en Pools. In die gemeenskaplike pakket is daar ook vakke ingesluit wat volgens ministeriële vereistes as verplig vir alle filologiese studie beskou word: Filosofie, Latyn, Rekenaartegnologie, Literatuurwetenskap en Inleiding tot die Taalkunde.

Personeel

Onder die medewerkers tel persone met ’n volle professoraat, ’n gepromoveerde hoofdosent, doktorale assistente en Suid-Afrikaanse lektore. Op die oomblik werk die volgende persone binne die Departement vir Nederlandse en Suid-Afrikaanse Studies (Department of Dutch and South African Studies):

prof. dr. habil. Jerzy Koch (L.Akad.SA) – hoof van die afdeling
dr. Paweł Zajas
dr. Ilse Groenewald
Ewa Dynarowicz MA
Aleksandra Łukomska MA
Neil Cochrane MA

Daar word tans voorsiening gemaak om vanaf Oktober 2006 ’n nuwe Suid-Afrikaanse moedertaalspreker aan te stel omdat daar ’n pos sal vrykom nadat een van ons Suid-Afrikaanse kollegas na die RSA terugkeer.

Studente wat in 2005 met spesialisasie in die Departement vir Nederlandse en Afrikaanse Taal, Literatuur en Kultuur begin het

Prof. Koch in gesprek met Marita van der Vyver

2006, hersien 2011

© Catharina Loader 2001