Interkulturele Afrikaans

Strand by Paternoster

'Swart' of 'Bruin' Afrikaanse skrywers is, soos prof Hein Willemse dit duidelik stel in sy voorwoord tot die verslag van die tweede swart Afrikaanse skrywersimposium in September 1995, arbitrêre begrippe.

Tydens dié geleentheid het 'n groep swart, wit en bruin skrywers op die vissersorpie Paternoster (wat 'my vader' beteken) aan die Kaapse Weskus vergader om saam te praat en menings uit te ruil. Die eerste vergadering was op 2 Februarie 1990.

Willemse skryf:

"Dit is eers na 1976 dat swart Afrikaanse skrywers bewustelik probeer om die Afrikaanse kulturele terrein te beset. Hulle skryf teen 'n tradisie in wat op skool die Afrikaanse letterkunde tot Afrikaner-eiendomlikheid verklaar het. Dit kos moed vir 'n swart mens om in Afrikaans te skryf.

Die pogings van hierdie skrywers is in wese nie verskillend van soortgelyke ontwikkeling in die wêreld-literatuur nie, of dit nou in Afrika. Asie, Australië, Europa, Latyns-Amerika of Noord-Amerika is. Ook hier soos in dié streke ruk die insurgente op teen die vestings van gestabiliseerde kultuur waar burgerlike vormlikheid oorheers".

Die demokratiese bestel waarvoor hierdie skrywers en mense soos hulle intens geagiteer het, het met groot verwagtinge aangebreek. Maar: toe die euforie van politieke vryheid verdamp, het ook die sekerhede van vroeër verdwyn. Ou verhoudinge moes herbeding word, ou vyande moes skoorsoeken die hand gereik word. By talle Suid-Afrikaners is daar nou afwagting, vertwyfeling en selfs benouendheid." (Die reis na Paternoster, 1995:9).

Die Afrikaanse kanonskrywers, pers, media en publiek het ná die demokratisering van Suid-Afrika onteenseglik verander en toegang gebied tot vroeëre gemarginaliseerdes. Doelbewus word daar gepoog om 'n leeskultuur te ontwikkeling in 'n gemeenskap wat dit vir dekades moes ontbeer.

Intussen is daar ´n lang pad geloop om alle Afrikaanssprekendes te bereik en te motiveer. Daarom is die persverklaring van 22 April 2013 van groot belang, en ek haal aan:

Afrikaans and English are no longer ‘white languages’. Some 4.1 million (or 60%) of people whose home language is Afrikaans are African, coloured, or Indian. Of the 6.9 million people who speak the language at home, only 2.7 million (or 40%) are white, according to the South African Institute of Race Relations.

Afrikaans and English no longer 'white languages'.pdf"

Die kruis-kulturele inslag wat duidelik in die Afrikaanse taal en letterkunde te bespeur is, word deur dié verklaring onderstreep.

Bronne:

Willemse, H., Hattingh. M., Van Wyk, S, Conradie, P. (red.). 1995. Die reis na Paternoster. Universiteit van Wes-Kaapland.
www.tripadvisor.de/members-photos/GavinP2
Afrikaans and English no longer 'white languages'.pdf

 

Gepubliseer: Desember 2009

Hersien April 2013

 

© Catharina Loader 2001