Afrikaans Grammatika

Wenke van 2003

53. Kry hulp
54. Vermy dit!
55. Verveeld vs. vervelig
56. Omskryf dit
57. “Billion”
58. Los en vas: op soek of opsoek?
59. Spam – Wat is dit in Afrikaans?
60. Foutiewe enkelvoudsvorme
61. Klik ons of kliek ons met ‘n muis?
62. Die skryf van woordgroepe met Latynse koppelinge
63. Is dit prof. De Lange of Prof. de Lange?
64. Postmodernisme of postmodernisme?
65. Hoe skryf ons die name van vakke en dissiplines?
66. Hoe skryf ons die nuwe naam van die universiteit?

 

53. Kry hulp

Die beste wenk wat ek vroeg in die nuwe jaar aan belangstellendes in taalsake op die PUK-kampus kan gee, is: kry goeie bronne waarin u kan naslaan oor taalprobleme. Hier onder volg dan enkele wenke in hierdie verband:

Oor spellingkwessies is die nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) (9de uitgawe, 2002) ‘n absolute moet. Dit help nie met spelreëls nie, maar bevat ook ‘n uitgebreide woordelys, ‘n afkortingslys, ‘n lys met buitelandse plek- en inwonername, en nog meer.

Kry ‘n goeie vertalende woordeboek, soos bv. Reader’s Digest se Afrikaans-Engelse woordeboek (6de uitgawe, 1999), of LC Eksteen se Groot Woordeboek/Major Dictionary (1997). Bosman, Hiemstra en Van der Merwe se Tweetalige Woordeboek/Bilingual Dictionary was oor die jare ook nog altyd ‘n staatmaker. Daar is ook goeie meertalige woordeboek beskikbaar by boekwinkels as u dalk daarin belang sou stel.

Kry ‘n goeie verklarende woordeboek, en dan in meer as een taal. Vir Engels is daar die Chambers, Websters of Oxford-woordeboeke. Die jongste South African Concise Oxford Dictionary is in 2002 gepubliseer. Vir Afrikaans is daar staatmakers soos die HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse taal; 4de uitgawe, 2002) of Eksteen en Labuschagne se Verklarende Afrikaanse woordeboek (8ste uitgawe, 1992).

Vir die meer rekenaarvaardiges onder ons is daar ook ‘n verskeidenheid bronne beskikbaar, soos bv. Pharos se CD-ROM met Woordeboeke/ Dictionaries 5 in 1 ( 2000)

Dus: spring die nuwe jaar op die regte voet weg en kry die bronne wat jou kan help om taalprobleme selfstandig op te los.

Laastens: stuur gerus u taalnavrae aan my of Johan Blaauw en ons sal in hierdie rubriek probeer antwoord.

28/01/2003

54. Vermy dit!

So vroeg in die nuwe jaar is dit nog tyd vir ‘nuwejaarsvoornemens’ – ook wat taalgebruik betref. Kom ons probeer in die lig hiervan vanjaar die volgende in ons taalgebruik op die kampus vermy:

Huidiglik: Huidiglik in sy veelgebruikte vorm (bv. in: Ek kan jou huidiglik nie help nie) is nie goeie Afrikaans nie. Dis oormatig deftige Afrikaans, want dit is die keuse van ‘n ‘belangrike klinkende’ woord (implikasie: Ek kan tog gróót woorde gebruik!) in die plek van goeie en meer effektiewe Afrikaanse woorde soos nou, tans, deesdae, teenswoordig (as jy nou tóg graag ‘hoog’ wil praat en vernaam wil klink…). En ek noem hier nie eens die argument oor foutiewe Afrikaans nie…

Aanspreek: Ons ‘spreek’ so maklik probleme, sake, kwessies, krisisse, ens. aan. Dis ook swak Afrikaans (aanspreek beteken eintlik “betig”), want daar is meer geskikte woorde hiervoor in Afrikaans, woorde soos aanpak, aanroer, aansny, behandel, beskryf, bespreek, blootlê, hanteer, daarop ingaan, die hoof bied, ondersoek, oopvlek, oplos, oorbrug, pak, spesifiseer, daarby stilstaan, uit die weg ruim, uitpak – om maar net ‘n paar te noem. Hierdie soort woorde (waarvan finaliseer en implementeer ook goeie voorbeelde is) is sg. donshaelwoorde – d.w.s. woorde wat ‘n gerieflike vaagheid meebring. Dié woorde lei daartoe dat die woorde nie in hulle korrekte betekenisverband gebruik word nie en dat dit derhalwe nie bydra tot effektiewe kommunikasie die eerste keer nie.

Kom ons probeer vanjaar sonder hierdie woorde in ons taalgebruik klaar kom.

28/01/2003

55. Verveeld vs. vervelig

Die twee woorde verveeld en vervelig word heel dikwels verkeerd gebruik in Afrikaans – veral as daar gepraat word. Dis soos ons kinders wat tydens vakansies so maklik sê Ek is nou regtig vervelig! En dan eintlik die teenoorgestelde bedoel.

Vervelig verwys na dinge wat jou verveel. Verveeld is wel die toestand waarin jy is as jy geen belangstelling in iets het nie of as iets oninteressant is, met ander woorde wanneer jy werklik opgeskeep is met jouself. As jy dan vervelig is, verveel jyself eintlik iemand anders.

Dus: dink mooi oor wat jy presies wil sê en maak seker jy kies die regte woord om dit te verwoord. Dis nogal erg as jy sê jy is vervelig in ‘n bepaalde konteks (dis iets waarvan die meeste van ons – veral dosente – nie graag beskuldig wil word nie), maar eintlik verveeld bedoel!

10/02/2003

56. Omskryf dit!

Ons is tog so lief om in Afrikaans sulke laaaang woorde uit te ryg. Die skryfwyse van hierdie soort onooglike samestellings lei dan dikwels tot begripsprobleme en onvermydelik ook tot spelprobleme. Dis altyd beter om sulke lang samestellings te vermy weens die lompheid en onoorsigtelikheid wat dit kan meebring.

Dit maak om begripsredes meer sin om eerder dié soort uitdrukkings te verkort of selfs te omskryf sodat dit makliker sal lees. So kan onderwysleierskapontwikkelingsprojek byvoorbeeld verkort word tot: leierskapsprojek of onderwysleierskapsprojek of omskryf word as projek vir die ontwikkeling van onderwysleierskap. Verdere voorbeelde hiervan is: Universiteitstaatsubsidiebegrotingswetsontwerp wat omskryf kan word as die leesbaarder en begrypliker: Begrotingswetsontwerp op Staatsubsidie aan Universiteite; klinknaelbroekuitverkopingspotensiaal (kan omskryf as: die uitverkopingspotensiaal van klinknaelbroeke); waatlemoenstukkonfyttentoonstellingsgeleentheid (kan omskryf as: die geleentheid om waatlemoenstukkonfyt ten toon te stel), en so meer.

Die hulp van koppeltekens kan selfs ingeroep word om begripsprobleme by hierdie derm-samestellings op te los (AWS 2002; Reël 12.5). ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die skryfwyse van ‘n samestelling soos Bosveldstollingskompleksnavorsingseenheid. Die gebruik van ‘n koppelteken ná die hoofbetekeniskomponent van dié samestelling sal daartoe bydra dat die woord makliker lees en dus ook makliker begryp word. Dus: Bosveldstollingskompleks-navorsingseenheid. Verdere voorbeelde is: hoërskoolkompetisie-inskryfvorm, onderwater-bomopruimingspanne, ontwikkelingspelerspan-afrigting.

10/02/2003

57. "Billion"

Dié klein woordjie wat so 'n groot getal verteenwoordig, lei maklik tot eksponensiële foute in Afrikaanse taalgebruik. Soos so baie ander dinge wat ons hoofbrekens besorg, wil dit lyk of die oorsprong daarvan lê in die Amerikaanse neiging om altyd groter en beter te wil wees.

'n Mens se eerste reaksie as jy dié getal in Afrikaans moet weergee, is om te sê "biljoen". Maar die korrekte Afrikaans hiervoor is "miljard". 'n Biljoen is "maar net" drie nulle meer, en om te dink dis 'n "biljoen" wanneer daar in Engels van 'n "billion" gepraat word, is dus werklik 'n eksponensiële fout.

Die probleem is dat die Britse begrip "billion" en die Amerikaanse begrip "billion" van mekaar verskil. In die Suid-Afrikaanse Engelssprekende finansiële wêreld het die Amerikaanse konvensie ongelukkig gevestig geraak. As daar dus plaaslik in Engels van dié getal gepraat word, word die Amerikaanse 109 (10 met nege nulle) bedoel, hoewel in korrekte Britse Engels 'n "billion" 1012 is, en so ook die Afrikaanse "biljoen".

Al dink die Amerikaners dus hulle "billion" is baie, is die Britse (en Afrikaanse) "biljoen" eintlik 'n duisend maal groter. Maar as jy "biljoen" sê en eintlik "miljard" bedoel, dik jy darem 'n bietjie erg aan – eg Amerikaans

Johan Blaauw

11/02/2003

58. Los en vas: op soek of opsoek?

Kollega Kobus Bergh stuur onlangs ‘n E-pos-berig aan my oor ‘n ‘groot pyn’ wat hy ervaar as hy sien hoe ons mense op die kampus skryf. Hy verwys na gevalle soos die volgende wat bykans daagliks in berigte op BBS voorkom: musiek onderrig, slag skape, eenman woonstel, selfoon winskoop, vakansie verblyf. Dié vorme word bloot verkeerd geskryf (waarskynlik onder invloed van die Engelse patroon), want dis almal gewone samestellings in Afrikaans. (Gaan kyk hiervoor na Reël 14.3 in die nuwe AWS.) Dus: musiekonderrig, slagskape, eenmanwoonstel, selfoonwinskoop, vakansieverblyf. Kobus is daarom reg – ons skryf so maklik verkeerd omdat ons dikwels nie omgee hoe ons skryf nie. Mense sou verbaas wees as hulle weet wat ander mense van sulke swak taalgebruik dink…

Ek merk self op hoe op hoe die mense opsoek skryf as hulle op soek is na ‘n bepaalde item. Dis weer duidelik ‘n geval van los skryf. Ook hier kan die probleem maklik opgelos word: gaan kyk in ‘n goeie naslaanbron, soos die nuwe Afrikaanse Woordelys en Sprelreëls, hoe die betrokke vorm gespel word.

Afrikaans is ‘n taal wat ‘n natuurliker neiging tot die vasskryf van vorme vertoon in teenstelling met Engels. As jy daarom twyfel oor of jy los of vas moet skryf, is jy waarskynlik nader aan reg as jy die vorme vas skryf. Dit geld egter slegs as ‘n baie breë riglyn en kan nie in alle gevalle net so toegepas word nie. Die goue reël bly nog steeds: as jy onseker is, gaan kontroleer dit in ‘n gesaghebbende born.

01/04/2003

59. Spam – Wat is dit in Afrikaans?

Ek is een van die ongelukkige persone op die PUK wat opgeskeep sit met talle ongewenste e-pos-boodskappe, daardie soort wat jy nie graag wil hê nie… Hierdie soort boodskappe word in Engels “spam” genoem. Die rekenaarterminologielys op die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) se webwerf (www.afrikaans.com) beskryf “spam” as

Irriterende nierelevante nuusgroepboodskappe.

Irriterende nuusgroepboodskappe wat herhaaldelik gestuur word.

Nierelevante nuusgroepboodskappe wat van meer relevante nuusgroepe af gekruispos word.

Onaangevraagde internetkommunikasie.

Onaangevraagde kommersiele internetkommunikasie.

Die vraag is wat noem ‘n mens hierdie ongewenste indringers in jou e-posbus? Kontrole op webwerwe en navrae toon dat daar verskeie moontlikhede is soos: varkpos, geraaspos, sproeipos, gemorspos, pespos. Dit kom dus voor asof die tipe “spam” bepaal wat dit in Afrikaans genoem word. In ‘n berig in die Nederlandse tydskrif Taalpost word ook die term plapos voorgestel. Dit klink na ‘n uiters bruikbare alternatief. Kyk ook net hoeveel variasie is daar in Afrikaans vir één Engelse woord!

Watter terme gebruik u hiervoor? Laat weet asb. en dan sal ek ‘n opsomming van die voorstelle publiseer in ‘n volgende taalwenk. Tot dan sal ons maar gepla word deur “ongevraagde en veelal ongewenste e-mailtjes”… Hopelik slaag die pesposwagters (“spam cops”) spoedig daarin om hierdie boodskappe van ons te weerhou.

02/06/200

60. Foutiewe enkelvoudsvorme

Kollega Jaco Breytenbach het laat weet dat die foutiewe gebruik van die woord antibiotika (as enkelvoudsvorm) in plaas van die korrekte antibiotikum hom opgeval het tydens die kommunikasie oor die onlangse probleme wat met breinvliesontsteking op die kampus ervaar is. Hy sê “in die amptelike blaadjie wat uitgedeel is asook in die e-pos word gesê dat die antibiotika, Ciprobay uitgedeel sal word, terwyl elkeen net een tablet van hierdie antibiotikum ontvang het”. Kollega Marianne Dircksen van die Vakgroep Latyn sê dat die patroon duidelik in Latyn is (en dat hierdie patroon oorgedra is in Afrikaans): enkelvoudsvorme eindig op -dum (soos addendum, kompositum, laboratorium, memorandum, museum, sentrum, ens.) en dat die meervoudsvorme uitgaan op -a (soos addenda, komposita, laboratoria, memoranda, musea, sentra, ens.). Dus ‘n betreklik eenvoudige patroon.

Let wel dat die bogenoemde meervoudsvoorbeelde ook wisselvorme in Afrikaans het, te wete addendums, antibiotikums, kompositums, laboratoriums, memorandums, museums, sentrums. (Vergelyk hiervoor Reël 13.29 in die nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls.)

05/08/2003

61. Klik ons of kliek ons met ‘n muis?

Ek het onlangs ‘n navraag gekry oor ons klik of kliek met ‘n muis as ons op ons rekenaars werk. Navrae by Rekenaarwetenskap toon dat ek so twee jaar gelede van oordeel was dat ons eerder kliek as klik en dat hulle op my advies kliek in hulle gidse opgeneem het. Dit word ook so aangedui op die lys rekenaarterme wat in die webblad (www.afrikaans.com) aangegee word.

Sedertdien het daar groter duidelikheid gekom en nuwer bronne, soos die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (2002) en Dalene Müller se nuwe Skryf Afrikaans van A tot Z (2003) gee slegs klik aan as die aksie wat uitgevoer word as met ’n rekenaarmuis op ikone op ‘n rekenaarskerm gedruk word. Dit maak sin om die term nou te standaardiseer en daarom beveel ek aan dat ons voortaan eerder klik as kliek met die rekenaarmuise. (Jammer vir die slegte advies aan Rekenaarwetenskap!)

05/08/2003

62. Die skryf van woordgroepe met Latynse koppelinge

Latyn speel steeds daagliks ‘n rol in die taalgebruik van sekere dissiplines. Een tipiese voorbeeld hiervan is die regswêreld waar daar maklik melding gemaak word van sg. vreemde woordgroepe soos ad hoc, bona fide, de jure, ex gratia, ex officio, ex post facto, pro Deo, ultra vires, ens. Hierdie vorme word in Afrikaans konsekwent met ‘n koppelteken vas aan die daaropvolgende woord geskryf, soos in ad hoc-komitee, bona fide-boer, de jure-regering, ex gratia-betaling, ex officio-lid, ex post facto-goedkeuring, pro Deo-advokaat, ultra vires-besluit. (Vergelyk in hierdie verband Reël 12.4 in die nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls.)

Die vraag is of hierdie woordgroepe gekursiveer moet word soos ek hier bo gemaak het? Daar is geen verpligting om dit te doen nie (die AWS is nie só voorskriftelik nie!), maar my aanbeveling is dat dit wel gedoen word omdat dit die vreemde woorde ook duideliker laat uitstaan. (Dit sou ook inpas met die voorskrif van kursivering van die Latynse "et al." in bibliografiese verwysings.) Wat u as gebruiker ook al kies – gekursiveer of niegekursiveer – is u eie saak, net solank u konsekwent is met die skryf daarvan.

05/08/2003

63. Is dit prof. De Lange of Prof. de Lange?

Een belangrike beginsel in goeie taalgebruik is dat ‘n mens versigtig moet wees om nie twee tale se strukture te vermeng nie. Dit gebeur heel dikwels by die skryfwyse van aanspreek- en aanhefvorme (titel + naam) dat sisteme deurmekaar raak en dat bv. die Engelse skryfvorm oorgedra word op die Afrikaanse taalvorm. (In taalkundekringe noem ons hierdie verskynsel interferensie.) Dit is tog belangrik om telkens seker te maak dat die eie taal se struktuur korrek gebruik word.

As ‘n titel + eienaam in ‘n sin gebruik word (soos prof. Van der Merwe), skryf ons in Afrikaans dan konsekwent die titel met ‘n kleinletter en in die geval van vanne met meer as een element (soos van, de, du, ens.) word die betrokke element dan weer met ‘n hoofletter geskryf. Dus: Ek het prof. Van der Walt/De Villiers/Du Toit/Du Preez by die kongres ontmoet. (Vergelyk Reëls 9.7, 9.8 en 9.18 in die nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls vir meer besonderhede en verdere voorbeeldmateriaal.) In Engels daarenteen word weer geskryf I met Prof. van der Walt/de Lang/du Plessis at the conference.

Maak daarom seker dat jy die korrekte vorm gebruik as jy in Afrikaans moet skryf, ook in vorme soos Ek het president Mbeki/koningin Beatrix/biskop Tutu dit hoor sê asook in aanhefvorme soos Beste oom Piet, Geagte minister Asmal, ens.

05/08/200

64. Postmodernisme of postmodernisme?

Kollega Rita Swanepoel van Kunsgeskiedenis wil weet: “Kan ek – ter wille van eenvormigheid – die volgende alles met kleinletters spel: modernisme, modernistiese, postmodernisme, postmodernistiese, logiese positivisme, kubisme, impressionisme, strukturalisme, poststrukturalisme, ens.?”

Die antwoord is ja. Volgens die 2002-AWS (Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, Reëls 9.30, 9.56 en 12.2) word die afleidings van benamings van leerstellings, geestes- en kunsrigtings, ekonomiese en denkstelsels wat op -is, -isme en -isties eindig, met ‘n hoofletter óf ‘n kleinletter geskryf. Dus: Feminis of feminis, Sosialis of sosialis, Postmodernis of postmodernis; Modernisme of modernisme, Postmodernisme of postmodernisme, Kapitalisme of kapitalisme, Kommunisme of kommunisme; Dadaïsties of dadaïsties, Kubisties of kubisties, ens.

Rita gebruik wel ‘n belangrike woord in haar navraag, te wete “eenvormigheid”. Omdat daar ‘n keuse is of die vorme met hoof- of kleinletters gespel word, is dit belangik om wel ‘n keuse te maak vir een van die twee moontlikhede en dan daarby te hou. Dit bring konsekwentheid in taalgebruik mee, een van die kernaspekte van goeie en effektiewe taalgebruik.

06/08/2003

65. Hoe skryf ons die name van vakke en dissiplines?

Skryf ons Fisika of fisika, Fisiologie of fisiologie, Geskiedenis of geskiedenis, Psigologie of psigologie, Rekenaarwetenskap of rekenaarwetenskap, Wiskunde of wiskunde? Dis iets wat nogal gereeld na vore kom in die skryf van studiegidse. Hoe moet ek my vak of dissipline se naam spel? Kom ons kyk wat sê die AWS hieroor.

Volgens die 2002-AWS (Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, Reël 9.65) begin die name van vakke en dissiplines met ‘n hoofletter of ‘n kleinletter. Daar is dus ‘n keuse (hoof- óf kleinletter), maar soos altyd geld die belangrike taalgebruiksbeginsel: kies een en hou konsekwent daarby. (Ek verkies self die hoofletterskryfvorm en pas dit in al my skryfwerk toe.) Die bogenoemde reël gaan egter verder: as die vaknaam ‘n taalnaam is of van ‘n geografiese naam afgelei is, word slegs die hoofletterskryfvorm gebruik, soos in Afrikaans (afgelei van die geografiese naam Afrika) en Japannees (afgelei van Japan) asook Latyn (taalnaam). Dis dus ‘n betreklik eenvoudige kwessie.

06/08/2003

66. Hoe skryf ons die nuwe naam van die universiteit?

Dit blyk uit skryfwerk in kampusdokumente en die koerante dat die naam van die nuwe universiteit in die provinsie op 'n verskeidenheid wyses in Afrikaans geskryf word. Dit wissel van Noord-Wes Universiteit, Noordwesuniversiteit, Noordwes universiteit, Noordwes-Universiteit tot Noordwes Universiteit. Dit maak dalk sin om van die begin af 'n eenvormige Afrikaanse skryfwyse hiervoor op die kampus te ontwikkel en sodoende ook te help om 'n vaste skryfvorm daarvoor tot stand te bring – ook in die titels van verhandelinge en proefskrifte wat noodwendig in die toekoms sal begin volg. Die spelling van Noordwesprovinsie, Noordwes Provinsie, Noordwes-provinsie, Noordwes-Provinsie in gradedagprogramme gee al lank 'n aanduiding van 'n groot verwarring in spelwyse...

Eerstens: tweeledige windrigtingname word vas geskryf, nie met 'n koppelteken nie, dus Noordwes, Suidwes, Suidoos, ens. Tweedens: Daar is streng gesproke vier skryfwyses van die verkose naam moontlik: Noordwesuniversiteit, Noordwes-Universiteit, Noordwes universiteit en Noordwes Universiteit. Hierdie verskeidenheid moontlikhede skep vanselfsprekend skryfprobleme en dit is daarom aan te beveel dat 'n mens eerder één kies as vaste skryfvorm. Ter wille van eenvormigheid word aanbeveel dat voorkeur gegee word aan die skryfvorm Noordwes-Universiteit. Dit is die mees frekwente Afrikaanse skryfvorm van hierdie tipe verbinding. Deur nou hierdie keuse te maak en dit te vestig, sal op die langer termyn help om groter skryfvastigheid mee te bring, 'n aspek wat belangrik is in enige taal.

Die Engelse skryfwyse van die nuwe universiteit is: North-West University.

WAMC en JWHB

06/08/2003

© Catharina Loader 2001