Europese Universiteite oor 21 jaar

Palarcky Universiteit in Olomouc

Dr. Lianne Barnard

Vir die afgelope amper dekade doseer Dr. Lianne Barnard Afrikaans in die Tsjeggiese Republiek. Sy is ook besig is met Nederlandse letterkunde aan dieselfde universiteit.

As ek dink aan Afrikaans in Europa, vertel sy, kom die laaste versreëls van Ingrid Jonker se gedig, "Die kind" outomaties op my tong:

        die kind wat 'n man geword het trek deur die ganse Afrika
        die kind wat 'n reus geword het reis deur die hele wêreld

Ons reis nou die hele wêreld deur met Afrikaans as ons paspoort.

Die klas van Afrikaans-vir-Beginners by Palacky, 2000

Afrikaans is reeds vyf jaar lank gevestig in Palačky Universiteit in Olomouc in die Tsjeggiese Republiek. Olomouc is in Sentraal-Morawië, so drie uur se reis van Praag, geleë. Dit is ná Praag die stad met die meeste gedenkwaardighede in die Tsjeggiese Republiek. Die universiteit is in die ou sentrale kern geleë en elke dag is ek bevoorreg om deur geskiedenis te stap, verby die gebou waar De la Fayette oorgegee het, verby die gebou waar Keiser Frans-Josef I gekroon is, en dan te werk in 'n universiteit wat 529 jaar oud is.

Toe ek in Februarie 1998 in Olomouc aangekom het, was Afrikaans reeds twee jaar aan die gang by Palačky Universiteit onder die bekwame leiding van dr. Edna Deudney. Dr. Deudney het 'n pragtige, kunstige verslag hieroor geskryf vir Karring, Herfs 1996.

'n Suid-Afrikaanse braai in Senice-na-Hane

 

My begin - 'n Zulu, 'n Pool en 'n Tsjeg

Dr. Deudney moes in Januarie 1999 onverwags in Suid-Afrika bly en ek moes behalwe Nederlandse Letterkunde ook Afrikaanse doseer. Dit was vir my 'n vreemde begin, want in die klas vir Afrikaans vir Beginners was daar 'n Pool en 'n Zulu!  Die Zulu was Thabani Mzolo wat vir 'n semester by Palacky Universiteit Engels kom studeer het. Die Pool was 'n uitruilstudent van Wroclav. Ek het ook 'n briljante Tsjeggiese musiekstudent gehad wat uiters geheimsinnig was oor die rede waarom sy Afrikaans wil leer. Sy het my baie gevra oor die uitspraak van woorde en ek dink ek het baie by haar geleer oor die onderrig van Afrikaans as 'n vreemde taal. Ondertussen het ook dr. Deudney se studente vir Afrikaanse Prosa oorgeneem. Ons het Fiela se Kind gelees.

Aan die begin van die akademiese jaar van 1999/2000 het dr. Wilken Engelbrecht Afrikaans sterk aanbeveel by ons groot Nederlandse groep wat begin het met 'n Magister-kursus. Ek het toe 22 studente vir Afrikaans vir Beginners gehad. Natuurlik was daar allerlei botsings op die rooster en uiteindelik het ek dieselfde vak drie maal op verskillende tye aangebied. Ek het ook drie knap tweedejaarstudente gehad wat Afrikaanse Letterkunde en Taalkunde studeer het.

 

´n Besige jaar

April 2000 was 'n baie besige maand vir Afrikaans in Olomouc. Ek en twee studente, Eva Burdychova en Lucie Fryhiwirtova, het dr. Luc Renders se seminaar oor Afrikaanse Letterkunde in Hasselt bygewoon. Ons het baie geleer en ook die sosiale verkeer met ander liefhebbers van Afrikaans terdeë geniet. Dr. Rasher van die Suid-Afrikaanse Ambassade in Praag het ook van my studente gevra om op te tree as vertalers en werkers by die Suid-Afrikaanse blomme-uitstalling by die jaarlikse Flora-uitstalling in Olomouc. Ek het 'n mini-kongres gereël oor akademiese samewerking rondom Suider-Afrika in die Tsjeggiese Republiek en my studente het ook daar gehelp. Die Suid-Afrikaanse ambassade in Praag het ook 'n essay-wedstryd geborg. Jana Rezková, die wenner en een van my studente,  het 'n paar sinne Afrikaans in haar essay ingewerk.  Hier is haar essay:

The white one, therefore, took a lift to get on the roof of one of the tallest skyscrapers in the center of the city. He could see people moving like ants, hurrying, running, bumping in each other.  They were mostly people in suits with suitcases and most probably mobile phones – all those busy and successful bank managers and manageresses, financial workers, lawyers, businessmen and women and so on. The cars were squeezing in the traffic jam.  The afternoon sunshine reflected from the shining labels and billboards and emphasized their colourfulness.  The noise was incredible, he could even catch some fractions of English words and shouts.

While he absorbed the vivacity of the modern life, his friend rested on the peak of the highest mountain in the park near his village.  He could feel the close connection with nature. It was so calm, as if time had stopped. The only sound came from the waterfall in the mountains  The rich colour range fulfilled his eyes. The untouched scenery full of exotic flowers, trees and wild animals were dominant for this part of the south country of the sun. There was a bright sunflower field, and over there an ostrich farm.  Not far away he could see old boabab trees.  Herds of antelopes and elephants were resting in the sun.  Just on the opposite side the snow still covered one mountain peak.  Somewhere down at the estuary of the river his family with the rest of the villagers were preparing lunch without any rush just like any other day.  He could imagine his mother saying : " Waar is ons seun? Hy weet dat ek hom hier wil hê.  Hy moek my help …."  But the son just went to sleep like the elephants there in the bush.

 

Die jaar 2000

My tweedejaar-studente het verkies om Afrikaanse Taalkunde hierdie jaar te bestudeer en ek het vir my eie  plesier Afrikaanse Letterkunde aan 'n Hongaarse uitruilstudent, Lazlo Papp aangebied. My studente, Jana Rezková en Lenka Hražková, het weereens die seminaar in Hasselt bygewoon, die keer oor Afrikaanse Taalkunde.

Eva Burduchova, wat reeds met Afrikaans by dr. Deudney begin het, het besluit om Afrikaans in haar Magisterskripsie in te werk. Haar tema is die vergelyking van Tsjeggiese, Nederlandse en Afrikaanse vaste frases en idiome oor diere. Ons is baie bly oor die hulp wat dr. Roodt en dr. Jac Conradie aan haar kon gee.  Albei het boeke uit Suid-Afrika vir haar gebring.

Lenka besig met ´n Afrikaanse opdrag

Besoekers 

Ons ontvang al hoe meer besoeke van Suid-Afrikaners aan Olomouc. Dr. P.H. Roodt van die Universiteit van Pretoria was in November 2000 hier en het 'n uitstekende lesing oor 'n kortverhaal van P.G. du Plessis gehou.    Dr. Jac Conradie kon ongelukkig net een dag in Olomouc wees, maar sy lesing oor die ontwikkeling van Afrikaans en sy boekgeskenke word hoog waardeer.  Daarby het die Burgemeester van Pretoria en 'n aantal raadslede ons studente as deel van hulle besoek aan Tsjeggië toegespreek in Oktober 1999. Liz Thompson van die Universiteit van Zululand het saam met Paul Whittaker van die Sentrum vir Vergelykende Kultuurwetenskap het 'n kongres met die tema Africa speaks to Europe  in Mei 1999 gereël. Verskeie voordragte het ook 'n Afrikaanse tema gehad, soos dr. Marilet Sienaert se "Africa an identity in the Art and Poetry of Breyten Breytenbach" en dr. Elsa Klopper se "Peter Blum bridging Africa and Europe."  Ook Jerzy Koch, onse Afrikaanse kenner in Pole, besoek ons gereeld. Ek onthou nog sy insiggewende lesing oor verskillende teorieë oor die ontstaan van Afrikaans in 1998 baie goed.  

Beginnersklas 2000

Zulu 

Deur die bemiddeling van Liz Thompson het mnr. Themba Langa 'n kort kursus van Zulu in November 2001 by ons universiteit aangebied. Ten spyte van baie kort kennisgewing en die feit dat die kursus geen punte getel het nie, was daar gemiddeld 15 studente wat Zulu wou leer. Ek onderhandel nou met die Suid-Afrikaanse Ambassade in Praag om finansiële ondersteuning te verleen aan 'n semesterkursus van Zulu. Ek beskou my rol by Palačky cky Universiteit in Olomouc nie net om Afrikaanse te bevorder nie, maar ook om kennis oor Suid-Afrikaanse kultuur en tale te versprei.

 

Die reis van ons boeke

Ons grootste probleem in Olomouc was die gebrek aan Afrikaanse boeke. Die probleem is voorlopig opgelos deur die harde werk van dr. Deudney en die ruimhartige skenkings van die Stigting vir Afrikaans, Naspers en radio-luisteraars wat reageer het op dr. Deudney se oproep vir boeke vir Olomouc. Dr. Deudney het al die boeke in reuse trommels vergader, op die skip gesit en dit na Olomouc versend. Ongelukkig was daar probleme by die doeane en moes die boeke by Theo Puttemans (nog 'n vriend van Afrikaans) se ouerhuis in België gestoor word. Uiteindelik is die boeke na Hasselt geneem deur dr. Wilmots, waar Luc Renders dit opgepas het. Dr. Jerzy Koch het vriendelik gesê dat hy die drie tasse boeke in Olomouc sou besorg, maar toe hy sien dat dit Afrikaanse "tasse" ('n tas in Nederlands is 'n sak in Afrikaans) het hy gesug, maar tog uit sy liefde vir Afrikaans plek gemaak vir die boeke in sy motor.  Die boeke is toe Pole toe. Dr. Kiedron het die boeke toe in  Olomouc besorg. Ek sê baie dankie aan almal. Ek het die boeke uitgesorteer en kopieë aan die Universiteit van Wroclav, 'n dosent in Krakov en 'n dosent in Noorweë besorg.

 

 

 

Ten slotte

As ek terugkyk op die ontwikkeling van Afrikaans in Europa, dan is dit met dankbare verbasing oor verstommende groei wat in vyf jaar plaasgevind het. 'n Groot deel daarvan is te danke aan die visie van drs. Wilken Engelbrecht wat besef het dat Afrikaans 'n belangrike lid van die Germaanse tale is en vir Afrikaans 'n kamer gegee het in die ruimhartige huis van Nederlands in Olomouc.

Dr Lianne Barnard

 

 

 

 

Gepubliseer 2003

© Catharina Loader 2001