'n Oorsigtelike beeld

As aanvaar word dat Winternag van Eugene Marais wat in 1905 verskyn het ongeveer die begin van die ernstige Afrikaanse literêre tradisie is, is die Afrikaanse letterkunde nou maar eers een honderd jaar oud. In vergelyking met ander wêreldletterkundes soos Duits, Nederlands, Engels en vele ander, staan die Afrikaanse letterkunde dus nog in sy baba-skoentjies.

Tóg het die skrywers van Suid-Afrikaanse letterkunde reeds vir dekades  tot die internasionale podium toegetree en is vele werke is reeds in verskeie tale vertaal. Talle skrywers het al internasionale erkenning vir hulle werk gekry.

Die doel van dié afdeling is nie om´n literatuurgeskiedenis aan te bied nie. Daar is reeds verskillende bronne beskikbaar waarin studente die fyner detail self kan naslaan (sien die literatuurlys wat ons stelselmatig aanvul).

Dié hoofstuk wil:

  • 'n voëlvlug bied oor die Suid-Afrikaanse letterkunde as geheel;
  • die Europese studente oriënteer met die posisie wat Afrikaanse letterkunde inneem ten opsigte van ander letterkundes in die Suid-Afrikaanse konteks (sien Voëlvlug in menu-skakels);
  • kortliks aandui wat met letterkundige periodes bedoel word;
  • inligting voorsien oor ouer en resente skrywers en hulle publikasies;
  • aanvullende inligting op die internet saamstel (Afrikaanse boeke is nie altyd in Europese biblioteke beskikbaar nie);
  • die plek van Afrikaanse letterkunde in die buiteland bekyk.