Die storie van Afrikaans: perspektiewe op die verlede, hede en toekoms - Carstens/Reidt
“A society can be terribly punished by a distorted understanding of the past.” (CW de Kiewiet)
Opsomming[1]
In hierdie artikel kom die skryf van die geskiedenis van Afrikaans ter sprake. Daar word betoog dat met die oog op die skryf van 'n geskiedenis oor die gedeelde verlede van Afrikaans daar rekening gehou moet word met die lotgevalle en bydraes van almal wat in die verlede Afrikaans gepraat het. Die tradisionele weergawe van die geskiedenis, wat so dikwels net die bydrae van wit sprekers van Afrikaans meegebring het, dien nie meer om die volle verhaal van Afrikaans te vertel nie. Enige geskiedenis wat nie ook rekening hou met die bruin en swart bydraes nie, is derhalwe nie 'n betroubare geskiedenis nie. Daar moet daarom gemik word om eerder die gedeelde as die verdelende geskiedenis te vertel. In hierdie artikel word uiteengesit hoe die proses verloop het om versoening te bewerkstellig in die Afrikaanse sprekersgemeenskap sodat die klimaat geskep kan word vir die skryf van 'n gedeelde geskiedenis.
1. Ter inleiding
Prof Gert Van der Westhuizen, dosent in Opvoedkundige Sielkunde aan die Universiteit van Johannesburg, het in Augustus 2012 ’n kort artikel in Beeld, een van die Afrikaanse koerante in SA, gepubliseer met as titel “Julle is die laaste groep", bedoelende: "julle is die laaste groep aan wie ek 'n klas in Afrikaans aanbied". In hierdie brief brei hy uit op die taalverskuiwing wat sedert 2004 op die kampus van hierdie universiteit, vroeër bekend as die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), plaasgevind het. ’n Universiteit wat gestig is om die belange van die Afrikaanse gemeenskap in die Johannesburgse omgewing te dien, is nou bykans ’n volwaardige Engelsmedium universiteit ten spyte van aansprake deur die bestuur van die universiteit dat dié universiteit ’n meertalige universiteit is. Hierdie brief word hier genoem om te illustreer wat die aard van die verskuiwing is wat besig is om in SA plaas te vind en dat wat in hierdie artikel ter sprake kom, nie in ’n lugleegte geskied nie.
Afrikaans is een van elf tale in die politieke landskap in Suid-Afrika (SA) ná afloop van die politieke skikking van 1994. Tot en met die aanvaarding van die nuwe SA Grondwet in 1993 (opgevolg deur die aangepaste Grondwet van 1996) was Afrikaans een van slegs twee amptelike tale (die tweede een is naamlik Engels), maar ná 1994 is Afrikaans slegs één van elf. Met die koms van die nuwe bedeling ná 1994 is Afrikaans se posisie dus beduidend geraak: magsgewys, statusgewys en getalsgewys (vergelyk Carstens 2006a, 2006b).
Gekoppel aan Afrikaans se verlede is ’n stuk negatiewe geskiedenis en dit raak Afrikaans en haar sprekers se posisie in die Suid-Afrika van vandag en dit is ’n aspek wat verreken moet word. Die tyd ná 1994 het groot druk op Afrikaans meegebring en dit het onafwendbaar ’n effek gehad op die wyse waarop na Afrikaans as taal in SA gekyk word en hoe Afrikaans as taal in die SA van vandag gehanteer word. Dit is baie duidelik dat daar enorme druk op Afrikaans is en dit skep groot kommer in die Afrikaanse gemeenskap oor Afrikaans as taal onder tale in SA. Daarvoor kan bloot die daaglikse briewekolomme van Afrikaanse koerante en internetgespreksforums (soos LitNet) geraadpleeg word. Dit wys op ernstige kommer oor wat van Afrikaans gaan word.
Omdat daar so baie is wat oor Afrikaans gesê kan word, moet daar keuses gemaak word en daarom word in hierdie artikel aandag gegee aan veral twee aspekte wat die posisie en status van Afrikaans raak:
(a) hoe Afrikaanssprekendes self kyk na die weerspieëling van Afrikaans se verdeelde verlede en wat tans gedoen word om hieruit ’n gedeelde verlede te skep;
(b) wat die toekoms vir Afrikaans kan inhou op grond van politieke verwikkelinge in die land.
Daar is duidelike bedreigings en gevare op die horison vir die tale-opset in SA en stappe sal geneem moet word om Afrikaans en die inheemse tale se posisie te beveilig. Die rol van interne versoening in die Afrikaanse gemeenskap sal ook betrek word in die uitpak van die argument. Die uitgangspunt is dat daar sonder versoening in die Afrikaanse gemeenskap geen toekoms vir Afrikaans kan wees nie.
Ten einde die agtergrond vir die gesprek te bied, word 'n kort oorsig (dit is bloot net enkele hooftrekke) gegee oor die herkoms van Afrikaans. Dit is moontlik dat sekere sake en beklemtonings uitgelaat kan word, maar die ruimte vir 'n artikel is beperk. Dit is egter nie te sê dat dit wat dalk nie genoem word nie, nie van belang is nie.
2. Die VERLEDE van Afrikaans
Die storie van Afrikaans is ’n storie wat oor ’n lang tydperk loop, om die waarheid te sê ongeveer 7 000 jaar gelede toe daar onbekende stamme op die vlaktes van Europa rondgetrek het (vergelyk De Vries e.a. 1993: 12-13; Van der Wal & Van Bree 2008: 45 en verder; Verdam 1923: 5 en verder). Wat oor die eeue gebeur het totdat Nederlands via die verskillende fases as taal sy vorm begin aanneem het, is ook vir Afrikaans van belang, want Afrikaans se verlede tot 1652 is presies ooreenstemmend aan die geskiedenis van die Nederlandse taal (vergelyk Raidt 1991: 84-85). Raidt (1991: 84) druk haar soos volg hieroor uit (my kursivering – WAMC):
Die geskiedenis van die Nederlandse taal tot omstreeks 1700 – in sy taalverskeidenheid en sy variëteite – is die gemeenskaplike agtergrond van die moderne Nederlands en van Afrikaans. Die verandering van Nederlands aan die Kaap en die ontwikkeling van Afrikaans moet steeds teen dié agtergrond gesien en bestudeer word.
Alles wat dus deel is van die geskiedenis van Nederlands tot en met 1652, is óók deel van die geskiedenis van Afrikaans (vergelyk Raidt 1991). In enige studie oor die ontwikkeling van Afrikaans as taal kan die rol van Nederlands as taal van Europa gevolglik nie ontken word nie.
Natuurlik het die Nederlands van die 16de en 17de eeu nie dieselfde gebly op die bodem van Afrika nie (vergelyk Van der Wal & Van Bree 2008: 45), want in Afrika het die steeds wordende Nederlandse taal ’n eie vorm en struktuur gekry en hier deur prosesse gegaan wat die taal die vorm help gee het wat dit vandag het. Afrikaans het derhalwe in wese twee geskiedenisse – die geskiedenis van Afrikaans (via die Nederlandse taal) in Europa en die geskiedenis van die ontwikkeling, wording en vestiging van die nuwe taal aan die suidpunt van Afrika.[2] Vervolgens kortliks net enkele opmerkings oor elkeen van hierdie sake.
2.1 Die Europese geskiedenis van Afrikaans
Die Nederlandse taalgeskiedenis word gewoonlik verdeel in drie fases, nl.
(a) die fase van Oud-Nederlands (ongeveer 400-1150 n.C.) en alles wat dit voorafgegaan het (soos die onderskeid tussen die verskillende vertakkinge van die Indo-Germaanse taalfamilie in Germaans, Romaans/Latyn, Grieks, ens. en die verdere ontwikkeling van die tale van die Germaanse volkere tot die stadium van Oud-Wesnederfrankies – die eintlike eerste vorm van Nederlands);
(b) die fase van Middelnederlands (± 1150-1550) wat gekenmerk word deur die opkoms van 'n aantal eiesoortige dialekte (Vlaams, Limburgs, Brabants en Hollands) wat weer die begin was van 'n ryk letterkundige nalatenskap en
(c) die fase van Nieu-Nederlands (± 1550 en later) wat gekenmerk word deur veral die volgende twee aspekte:
- die strewe na en opkoms van 'n 'algemeen-beskaafde' taalvorm (ABN) in die 16de en 17de eeue en
- die totstandkoming van die vertaling van die Nederlandse Bybel (die sogenaamde 'Statenvertaling') in 1637.
In Nederlands is daar ’n magdom bronne wat hierdie ontwikkeling deeglik uiteensit – soos Beekes 1990, De Vooys 1975, De Vries e.a. 1993, Lecoutere & Grootaers 1948, Van den Toorn e.a. 1997, Van der Auwera & Köning (reds.) 1994, Van der Horst & Marschall 1989, Van der Sijs 2005, Van der Sijs 2006, Van der Sijs e.a. 2005, Van der Sijs & Verhoef 2009, Van der Sijs & Willemyns 2009, Van der Wal & Van Bree 2008, Verdam 1923, Willemyns 2013, e.s.m.
Die Nieu-Nederlandse fase is hier van besondere belang, want die eerste nedersetters aan die Kaap het uit hierdie tydvak gekom. Dit was mense wat uit verskillende uiteenlopende sosiale en geletterdheidslae gekom het en in 'n groot mate ook nog dialekties-geskakeerd was, maar reeds in die fase was waarin hulle begin gewoond raak het aan 'n wordende algemene taalvorm (die taal van die Statenvertaling van die Bybel).
Dit is met hierdie mate van taalonvastigheid wat die klompie aanvanklike nedersetters (wat hoofsaaklik uit die area rondom die hawestede Rotterdam en Amsterdam gekom het) teen einde 1651 saam met die amptenaar Jan van Riebeeck die reis na 'De Kaap de Goede Hoop' op drie onstabiele skepies (in vandag se terme) aangepak het om in opdrag van die 'Here Sewentien', die direksie van die VOIC, 'n verversingspos aan die suidpunt van Afrika by die 'Kaap van Storms' te kom stig (vergelyk Steyn 1980: 102-104; Raidt 1991: 84 en verder). Hier was nie tyd vir ‘taalverfyning’ nie (aldus Raidt 1991: 84) – die eise was te groot om die taak wat hulle moes kom uitvoer, ten uitvoer te bring. Hulle het dus hier gekom in ’n grootliks onstabiele taalomgewing.
Hulle het beslis nie gekom met die edele idee om 'n nuwe nasie tot stand te laat bring (of ’n nuwe taal te vestig) nie, maar eerder met die opdrag om
(a) 'n plek tot stand te bring waar die Nederlandse handelsvaarders op hulle heenreise na die Ooste kon aandoen vir vars voorraad en
(b) 'n hospitaal vir siek seelui op te rig (Steyn 1980: 102-104).
Hulle was beslis ook nie die eerste Nederlanders wat 'n tydperk aan die Kaap deurgebring het nie – verskeie jare voor hulle koms was daar al Nederlandse skipbreukelinge vir etlike maande aan die Kaap gestrand waar hulle reeds begin kontak maak het met die inheemse bevolking (vergelyk Raven-Hart 1967, Steyn 1980: 102-104, Van Rensburg 2012). Hierdie keer het hulle egter gekom met die doel om ietwat langer te bly en om die strategies geleë suidpunt goed te benut vir hulle eie doeleindes (vergelyk Steyn 1980: 102 en verder, Van Rensburg 2012: ???).
2.2 Die Afrikageskiedenis van Afrikaans
Enkele flitse uit die geskiedenis van Afrikaans in Afrika word hier onder genoem:
Op 6 April 1652 het kommandeur Jan van Riebeeck met sy geselskap bestaande uit slegs 90 persone (insluitende 'n aantal vroue en kinders) amptelik in die Kaap aan wal gestap om sy opdrag uit te voer, naamlik om ’n verversingspos te stig wat met die hulp van die produkte wat hulle moes lewer, die handel tussen die ooste en die weste sou kon bevorder (vergelyk De Villiers 2012a: 41-42). Dat dit uiteindelik sou lei tot die totstandkoming van 'n nuwe land met 'n eiesoortige taal en tradisie sou hy waarskynlik nooit kon dink nie. Hier aan die suidpunt van Afrika het daar mettertyd uit die saamleef van verskillende volkere wel 'iets anders' ontwikkel, 'n volk wat 'n taal van Europese oorsprong sou praat, maar wat stewige wortels in Afrika (en ook in Asië) sou hê.
Die klompie amptenare wat onder die eerste koloniste was, het probeer om 'n tradisie van amptelike Nederlands onder die nedersetters te vestig – dit was egter nie heeltemal geslaag nie omdat aan die een kant die amptenare redelik gewissel het (a.g.v. normale verplasings en verskuiwings in die amptenary) en die nedersetters aan die ander kant min gepla was met die behoud van 'n amptelike Nederlandse skryfvorm. Dit was vir hulle eerder 'n stryd om fisieke oorlewing as om die handhawing van 'n nog wordende taal wat ver verwyder was in Europa. Die res van die nedersetters (wat natuurlik ook in diens was van die kompanjie) was gewone matrone en boere en hulle was oorwegend dialeksprekers van Vlaamse, Utrechtse, Seeuse, Brabantse en Hollandse (veral Suid-Hollandse) herkoms. Aan die Kaap was daar dus aan die een kant 'n voortsetting van 'n stedelike Nederlands (soos oorwegend gepraat deur die amptenare) en aan die ander kant 'n dialektiese Nederlands (soos gepraat deur die res van die nedersetters) (vergelyk Raidt 1989, 1991).
Die nedersetters was beslis ook nie die eerste inwoners van die Kaap nie. Hier was reeds 'n inheemse bevolkingsgroep soos die Khoekhoen gevestig en hulle kontak met die koloniste was nie altyd te positief nie (vergelyk Bredekamp 1982, Elphick 1985, Van Oort 2008: 24 en verder, Van Rensburg 2012, Van Rensburg (red.) 1997). Mettertyd het van hulle in diens getree by die kompanjie en as veewagters, ens. opgetree; ander groepe het weer verder getrek die binneland in. Dit is 'n ongelukkige feit van die geskiedenis dat die kontak met die blanke nedersetters in 'n beduidende mate bygedra het tot die uiteindelike ondergang van 'n groot deel van die Khoekhoenbevolking weens onder meer (pes-) siektes (soos tifus en pokke). In later jare het van die Khoekhoenbevolking ook probeer om die Nederlandse taal aan te leer, maar daar was min sukses daarmee (vergelyk De Villiers 2012a: 41-43, Steyn 1980: 104-106). Hulle kontak met die aanvanklike en ook die latere koloniste word vandag nog steeds gereflekteer in die talle name van Khoekhoenoorsprong vir dier- en plantsoorte, plekname, e.s.m.
Teen omstreeks 1690 was daar reeds al tekens (en daar is voldoende dokumentêre bewys daarvan – vergelyk Raidt 1991: 115 en verder) van 'n veranderende Nederlandse taalvorm aan die Kaap. In die tussentyd het die Kaap met sy hawegeriewe 'n gewilde aankomplek vir reisigers geword en talle reisigers het ook besluit om aan die Kaap aan te bly. Voordat die Franse Hugenote teen 1688 hulle opwagting aan die Kaap begin maak het, was daar al 'n stewige klompie slawe uit die Ooste (Indië, Ceylon en Batawië) en Afrika (Angola) aan die Kaap – hulle is hoofsaaklik ingevoer om die groot arbeidstekorte aan te vul (vergelyk De Villiers 2012a: 44-45; Groenewald 2002; Shell 2012; Steyn 1980; Van Oort 2008: 28 en verder). Dié slawe is baie sterk aangemoedig om Nederlands aan te leer – hulle kon byvoorbeeld hulle vryheid koop as hulle Nederlands kon praat en in die NG Kerk aangeneem is. Via die slawe het talle Maleise en Kreools-Portugese woorde die veranderende Nederlandse taal binnegedring en mettertyd deel geword van die alledaagse woordeskat van Afrikaans.
Die Franse Hugenote was in der waarheid 'n betreklik klein groepie en om te verhoed dat hulle invloed uitbrei, is hulle tussen die Nederlandssprekende boere in die skiereiland en omstreke geplaas (vergelyk De Villiers 2012a: 45, Raidt 1991: 93-95, Steyn 1980: 111-114). Sodoende kon die totstandkoming van 'n eie Franse groep binne die groeiende Kaapse gemeenskap verhinder word. Teen 1725 was die Franse taal as afsonderlike taal aan die Kaap net nie meer lewensvatbaar nie (vergelyk Pheiffer ???) en hulle is ook in die Nederlandssprekende (eintlik vroeg-Afrikaanssprekende) gemeenskap geïntegreer.
Ook 'n aantal Duitsers (veral as soldate, matrose, onderwysers, predikante, ambagsmanne), Dene, Swede en immigrante uit ander bevolkingsgroepe het in die loop van die tyd hulle opwagting aan die Kaap gemaak (vergelyk Raidt 1991: 93-95, Steyn 1980: 111-114). In nie een van die gevalle was hulle teenwoordigheid en getalle van so 'n omvang dat dit 'n groot invloed kon hê op die steeds veranderende Nederlandse taal aan die Kaap nie.
Wat wel belangrik is uit hierdie kontaktyd, is die gebrekkige Nederlandse taalvorm van die vreemdetaalsprekers. Hulle pogings om die taal van die Nederlandse bewindhebbers van die tyd te praat, het nie net aanleiding gegee tot 'n versnelling in van die veranderinge wat reeds in die Kaapse taal aan die gang was nie, maar ook tot die aanhelp van die proses van normale taalverandering wat momentum begin optel het (vergelyk Raidt 1989).
Die groot kreoliseringsdebat kom hier ter sprake – Roberge (1994), Deumert (2004), Groenewald (2002), en talle ander beskryf hierdie prosesse goed. Hans den Besten se navorsing oor die rol van kreolisering in hierdie proses moet ook hier vermeld word (vergelyk Van der Wouden (red.) 2012). Teenoor die burgers en vreemdetaalsprekers se pogings om die taal van die tyd te praat, was daar steeds die soms verbete pogings van die Nederlandse amptenary om die status van die Nederlandse skryftaal te bewaar.
Teen 1740 was die algemene omgangstaal nie meer die Europese Nederlands van die 18de eeu nie, maar eerder 'n vorm wat duidelik daarvan begin afgewyk het (byvoorbeeld in terme van die werkwoord- en naamwoordstelsel wat aan die vereenvoudig was, in woordeskat, en so meer). Daar is na dié vorm verwys as 'Kaaps-Nederlands'.
Teen omstreeks 1790-1795 was Nederlands as sodanig in min gevalle nog die werklike omgangstaal onder Kapenaars. Navorsing (deur onder meer J du P Scholtz) dui daarop dat die basiese grammatikale struktuur van Afrikaans al teen 1795 duidelik gevestig was en daar is dan ook al redelik vry na dié taalvorm verwys as 'Afrikaans-Hollands'. Nederlands was wel nog die amptelike skryftaal (selfs nog tot in die vroeë 20ste eeu), maar die praattaal was beslis nie meer Nederlands nie.
Vanaf 1795 kom die tydperk van kontak met die Engelse (vergelyk De Villiers 2012b; Giliomee 1975; Scholtz 1964, Steyn 1980: 124 en verder). Brittanje het die Kaap die eerste keer beset vanaf 1795-1803 om strategiese oorlogsredes. Hulle het aanvanklik geen poging aangewend om die Kaap te verengels nie. Eers ná die tweede Britse besetting van die Kaap vanaf 1806-1814 en veral nadat die Kaap in 1814 'n permanente Britse kolonie geword het, is daar in alle erns probeer om van die Kaap 'n volwaardige Engelse kolonie te maak. Deur die pogings van goewerneurs soos Sir John Cradock en Lord Charles Somerset (lg. met sy bekende taalproklamasie van 1822) is daar ver gevorder met hierdie ideaal toe onder meer Skotse onderwysers en predikante na die Kaap ingevoer is. Dit was ook nodig om Engels te kan gebruik alvorens jy werk in die staatsdiens sou kry. Die dominansie van Engels as taal van wyer kommunikasie is hier al gevestig.
Vir heelwat van die inwoners was die kontak met die Engelse taal en kultuur heel aangenaam en het hulle hul ook daarmee versoen, want dit het goed met hulle gegaan. Talle ander het in opstand gekom teen die afdwing van Engels en het begin om te propageer vir eie Nederlandse skole en kerke. Wat hier egter teen Nederlands getel het, was die feit dat Nederlands nie meer werklik teen Engels bestand was nie, want Nederlands was eintlik nie meer 'n lewende taal in Suid-Afrika nie. Die taal wat algemeen gepraat is, was Afrikaans, maar dit het weer nie die nodige status as 'taal van die volk' gehad om die stryd teen Engels aan te knoop nie (vergelyk Pienaar 1943, Scholtz 1964, Steyn 1980). Daar was dus 'n soort skaakmatsituasie teen die wêreldtaal Engels, die taal van die bewindhebbers van die tyd. Teen 1865 het Engelse dienste in selfs die Nederlandse kerke 'n instelling geword en hiermee het Nederlands eintlik die stryd finaal teen Engels verloor.
Daar was intussen 'n ander baie belangrike ontwikkeling aan die gang. Boere aan die Oosgrens het naamlik uit ontevredenheid met die Engelse regering se onvermoë om hulle te beskerm teen die swart stamme teen omstreeks 1836 begin om die binneland in te trek (die sogenaamde 'Groot Trek') (vergelyk Steyn 1980: 131 en verder, Visagie 2012a, 2012b). Daar is deur die uitwissings (die difaqane) van talle swart stamme deur die hand van Shaka se magte teen omstreeks 1830 'n natuurlike vakuum geskep waarin die voorttrekkende boere kon inbeweeg (vergelyk Visagie 2012a: 108-115). Talle van hierdie boere het oor die Drakensberge Natal binnegetrek, ander het hulle in die Vrystaat gevestig en nog ander het deurgetrek na die Transvaal. Sommige (soos Louis Trigardt) het selfs aanhou trek tot in Mosambiek en ander nog verder tot in Kenia. So is die Afrikaanse taal verder die binneland ingedra.
Die vorm van Afrikaans wat hierdie trekkers met hulle saamgeneem het, staan vandag bekend as Oosgrensafrikaans – dit is naamlik daardie variëteit van Afrikaans wat aan die sogenaamde Oosgrens sy beslag gekry het in die jare 1770-1835 (vergelyk Van Rensburg 1989, 2012). Dit word wyd aanvaar dat hierdie variëteit mettertyd die basis gevorm het vir die huidige Standaardafrikaans.
Daar is ook twee ander historiese variëteite waarmee ons deeglik rekening moet hou, nl.
(a) Kaapse Afrikaans (dit is daardie variëteit wat sy beslag gekry het in die Kaapse skiereiland en omgewing en wat veral na die wegtrek van 'n aantal grensboere tog 'n eiesoortige vorm ontwikkel het onder invloed van veral die taal van die slawe en hulle nakomelinge) en
(b) Oranjerivierafrikaans (dit is daardie variëteit van Afrikaans wat ontstaan het as gevolg van die kontak wat Afrikaanssprekendes gemaak het met van die stamme wat aan die Oranjerivier gewoon het) (vergelyk Van Rensburg 1989, 2012).
Die nie-erkenning van die Nederlandse taal en ook die verpligte gebruik van Engels vir talle doeleindes, het geleidelik aanleiding begin gee tot 'n bewuswording van die eie identiteit van die Afrikaner en van sy bestaansreg as volk met 'n eie taal en kultuur (vergelyk Giliomee 2004, 2012c; Steyn 1980: 129 en verder). Daar was ook 'n groeiende ontevredenheid met die houding van die Britse regering oor bepaalde aspekte soos byvoorbeeld hulle optrede (eintlik gebrek aan optrede) tydens die Basoetoe-oorloë (1865-1866, 1867-1868), die stryd oor (en anneksasie van) die diamantgebied in die 1870's, die miskenning van die regte van baie Afrikaanssprekendes in dié tyd. Dit het gelei tot 'n groter bewuswording van die politiek en tot die besef dat hulle iets moet doen aan hulle posisie. Dit het weer gelei tot die groei in nasionalisme by die Afrikaner en veral taalkwessies het hier 'n rol gespeel (vergelyk Giliomee 2004, 2012b; Steyn 1980, 1987).
Teen 1870 was daar al 'n aandrang onder talle sprekers dat Afrikaans as taal tot sy reg moet kom. Dit is verder aangehelp deur die ywer van Nederlanders soos Arnoldus Pannevis en C.P Hoogenhout wat hulle sterk beywer het vir die vertaling van die Nederlandse Bybel in die omgangstaal van die tyd, Afrikaans, om die 'Woord van God ook vir die bruin mense verstaanbaar te maak'. Dit het dus nie uitsluitlik gegaan om die verhef van die spreektaal tot statustaal ter wille van die taal self nie, maar eerder daarom dat die taal vir godsdiensdoeleindes 'n wyer gebruik kon kry. Saam met 'n persoon soos ds. S.J. du Toit het daar op 14 Augustus 1875 'n 'Genootskap vir Regte Afrikaners' (d.i. vir persone met 'Afrikaanse harte', naas dié met 'Engelse' of 'Hollandse harte') tot stand gekom en hieruit het heelwat Afrikaanse publikasies voortgespruit – hierin kon die spreektaal ook in 'n skryftaalvorm weergegee word, byvoorbeeld in die blad Die Afrikaanse Patriot (en die latere Ons Klyntji). Daar word gewoonlik na hierdie fase verwys as die 'Eerste taalbeweging', maar 'n mens sou miskien eerder kon sê dat dit die eerste fase was in die beweging om die taal van die Afrikaanssprekende naas Engels en Hollands erken te kry. 'n Patriotiese strewe was dus gekoppel aan 'n taal- en godsdiensstrewe; vergelyk byvoorbeeld die leuse van die GRA: "om te staan vir ons taal, ons nasie en ons land" (vergelyk Botha 1989, Pienaar 1943, Steyn 1980).
Daar word deur sommige persone beweer dat GRA-dag (14 Augustus 1875) en die plek (Paarl) waar die GRA tot stand gekom het, die belangrikste dag en plek in die geskiedenis van die Afrikaanse taal is. Dit is nie die volle waarheid nie, want Afrikaans was teen daardie tyd al 'n lewendige spreektaal (en ook skryftaal in verskeie koerante van die tyd) onder verskeie bevolkingsgroepe. Daar is byvoorbeeld duidelike bewyse dat Afrikaans al teen 1830 as skooltaal deur die Moslems (hoofsaaklik Maleiers) in hulle skooltjies gebruik is en ook dat daar al teen 1856 'n boek of wat in Arabies-Afrikaans gepubliseer is – die eerste werklike publikasie in boekvorm was inderdaad in Arabies-Afrikaans. Ook in die bruin gemeenskap, veral by die sendingstasie te Genadendal, was daar al duidelike pogings om Afrikaans as skryftaal in die Broederkerkers se kerkpublikasies De Bode (1859) en die latere De Kinder-Vriend weer te gee (vergelyk Du Plessis 1986, Steyn 1980: 136-138).
Wat wel belangrik is van die Paarl en die GRA-dag, is dat dit die stimulus verskaf het tot die verdere groei van Afrikaans as skryftaal en dat dit indirek daartoe bygedra het om die strewe na 'n eie taal en die erkenning van 'n eie taal onder die Afrikaanssprekendes aan te wakker.
Die eerste fase van die Afrikaanse taalbeweging was teen omstreeks 1898 afgehandel, hoofsaaklik omdat een van die hoofrolspelers, ds. SJ du Toit, se politiek verander het (van ondersteuning vir pres. Kruger tot ondersteuning vir Cecil John Rhodes) en hy die ondersteuning van die Afrikaanssprekendes verloor het. Na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog (Anglo-Boere-oorlog) teen Brittanje (1899-1902) was die Afrikaanse volk verpletter en verslaan (vergelyk Pretorius 2012).
Van die leiers het opnuut die strewe na en erkenning van 'n eie taal begin gebruik om die verslaande Afrikaner sy selfrespek te laat herwin en dit het veral in die jare 1904-1925 momentum gekry met die verdere opbloei van nasionalisme onder die Afrikaners (vergelyk Giliomee 2004, 2012b). Verskeie toesprake en lesings deur invloedryke persone het die Afrikaner tot die besef laat kom dat sy taal erkenning verdien as taal van die land, Afrikaanse koerante en tydskrifte het tot stand gekom, die strewe na eie skole het toegeneem, redes is aangevoer in die parlement waarom Afrikaans erkenning verdien en dit het in 1925 uitgeloop op die besluit in die parlement om onder die begrip 'Hollands' ook 'Afrikaans' te verstaan (die Wet op Officiële Talen van de Unie, Wet nr. 8 van 1925) (vergelyk Giliomee 2004, 2012a, 2012b).
Afrikaans het erkenning gekry as skooltaal (eers op laerskoolvlak in 1914) en binne enkele jare daarna ook op hoërskool- en universiteitsvlak (teen 1918), as kerktaal (tussen 1916-1919), as taal van 'n groeiende letterkunde (vergelyk Botha 1989, Pienaar 1943, Raidt 1991: 242 en verder, Steyn 1980). In 1915 is begin met die samestelling van 'n Afrikaanse woordelys en spelreëls (wat in 2009 reeds sy 10e, hersiene uitgawe beleef het), in 1926 is begin met die saamstel van 'n woordeboek van die Afrikaanse taal (van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal het reeds 13 dele – tot by die letter S – in 2012 verskyn). In 1933 het die eerste volwaardige vertaling van die Bybel in Afrikaans verskyn (die jongste vertaling van die Afrikaanse Bybel het in 1983 verskyn, terwyl daar tans 'n proses aan die gang is om 'n nuwe vertaling van die Bybel tot stand te bring – waarskynlik teen 2015) (Pienaar 1943).
In die jare 1925 tot 1961 het Afrikaans geweldig vinnig ontwikkel. Omdat Afrikaans skielik in 1925 van status verander het (van 'n laefunksiespreektaal tot 'n volwaardige skryftaal ook vir hoëre funksies) en hy eintlik nie die taalkundige apparaat daarvoor gehad het nie, het hy redelik vryelik by Nederlands geleen om sy tekorte aan te vul (vergelyk Uys oor die eerste en tweede vernederlandsing). Vandag het Afrikaans in 'n groot mate hierdie invloed afgeskud en kan hy as 'n volwaardige standaardtaal in alle opsigte erken word.
Afrikaans is eintlik eers in Mei 1961 in die nuwe grondwet van die Republiek van Suid-Afrika naas Engels erken as amptelike taal van Suid-Afrika. In 2013 is Afrikaans 'n taal wat gebruik word vir die uitvoer van alle funksies (hoog en laag) en kan hy aanspraak maak op 'n uitsonderlike en eiesoortige letterkunde. Hier onder word die posisie van Afrikaans sedert 1994 vlugtig bekyk in afdeling 3.
Afrikaans wat begin het as taal van Europa, het geëindig as taal van Afrika – dit is daarom 'n taal met 'n stewige Europese penwortel, maar ook met duidelike wortels in Asië en Afrika.
Hierdie kort oorsig oor die proses van die ontwikkeling en groei van Afrikaans is wel redelik eensydig, soos die ingeligte leser sou agtergekom het. En dit is juis een van die groot redes waarom Afrikaans se verlede nie as vlekkeloos beskou kan word nie en waarom sienings oor die verlede so gekritiseer word. Te veel van die een kant van die storie van Afrikaans – die wit kant – is naamlik vir te lank voorgehou as dié geskiedenis van Afrikaans en in hierdie proses is die ander kant – die geskiedenis van ook die bruin en swart sprekers van Afrikaans – opsy geskuif. In die volgende afdeling word dieper op hierdie saak ingegaan.
3. Die HEDE van Afrikaans
3.1 Apartheid en Afrikaans
Afrikaans is sedert die 1970’s onder druk. Hierdie druk hang in ’n groot mate af van die assosiasie van Afrikaans met die politieke filosofie van apartheid wat sedert 1948 na vore gekom het in SA en bestendig is met die bewindsoorname van die Nasionale Party in 1948. Ná die verkiesing in 1948 het Afrikaans die taal van die nuwe regering geword en in hierdie taal is onregverdighede teenoor landsgenote gepleeg. Daar is al baie geskryf oor die beduidende impak van apartheid op Afrikaans (vergelyk o.a. Giliomee 2004, 2012c, 2012d, 2012e, 2012f; Scher 2012; Steyn 1980, 1984).
Giliomee (2012d: 307-308) dui daarop dat die apartheidsbeleid as sodanig wel ’n betreklik klein rol in die NP se verkiesingsveldtog gespeel het en dat dit eerder die omstrede oorlogsverklaring – om aan die Tweede Wêreldoorlog deel te neem op aandrang van genl. Jan Smuts – en die ontwrigting wat dit in die land meegebring het, wat tot die oorwinning van die NP op 26 Mei 1948 by die stembus gelei het. Die gevolg van die oorwinning was egter dat Afrikaans as taal spoedig die “simbool van die Afrikaners se kollektiewe identiteit geword” het (Giliomee 2012d: 308). Die manier waarop sommige Afrikanerleiers in die jare daarna “die taal as eksklusiewe Afrikaner-besit toegeëien het, het egter ’n kloof tussen hulle en bruin en swart sprekers van die taal geskep” (Giliomee 2012d: 308). En hiermee het Afrikaans die stigma van taal van die onderdrukker begin kry, want oor jare is die beleid in meer detail uitgewerk en geïmplementeer.
Die jare sedert 1948 in SA het daartoe gelei dat die greep van Afrikanernasionalisme al hoe sterker op SA en die breë SA samelewing geword het en dat die belange van ander groepe beduidend hieronder gely het. Die belange van die eie (wit) groep het voorkeur gekry bo die belange van die groter (wit, bruin, swart) groep (vergelyk Scher 2012: 325-327). Dit het mettertyd gelei tot die beleid van rassevoorkeur, die vestiging van afsonderlike woonbuurte vir die onderskeie groepe, die verskuiwing van mense uit woongebiede om dit moontlik te maak, aparte skoolstelsels, die ontneem van die stemreg van bruin en swart mense, en so meer
Dit het mense ook ontneem van hulle menseregte, van hulle menswaardigheid, dit het van hulle minderwaardige burgers in hulle eie land van geboorte gemaak, mense is daagliks verneder, gedwonge verskuiwings het families ernstig ontwrig, mense mag mekaar nie oor kleurgrense liefgehad het nie, en so meer (vergelyk ook Jackson 2012). Die effek op menseverhoudinge oor kleurgrense heen was dus katastrofies, ook vir die verhouding tussen taalgenote oor kleurgrense heen.
Die huidige wit Afrikaanse post-50-geslag in Suid-Afrika, het hierdie proses en die gepaardgaande stuk geskiedenis beleef en kan ook oordeel oor die rol wat gespeel is om die beleid van apartheid, met voorkeur aan die eie, in die land waar te maak. Dit het so diep ingewortel geraak dat dit mense se denke en menslikheid geraak het. Hierdie geslag kan ook oordeel oor die proses wat gevolg is om hierdie beleid ongedaan te maak. Hulle (Ons) het tegelykertyd ook ’n rol om te speel deur die skade van die verlede deur hulle (ons) eie optredes en bydraes ongedaan te probeer maak. Meer daaroor hier onder.
3.2 Aftakeling van apartheid
Tussen 1948 tot 1994 het daar baie verwikkelinge gekom. Daar is al baie hieroor geskryf en gesê, en daarom word hierdie stuk geskiedenis nie weer opgehaal hier nie. Wat wel duidelik is, is dat via verskeie politieke prosesse, wat die land in groot onrustigheid gehad het, en ook weens druk op politieke prosesse, die nuwe SA in 1994 tot stand gekom het (vergelyk onder meer Brits 2012; Giliomee 2012e, 2012f; Grobler 2012a, 2012b; Scher 2012). In hierdie proses staan verskeie punte tog uit:
- Die Soweto-opstand van 1976 waar Afrikaans die skuld gekry het vir die opstand in die land.
- Die gebruik van Afrikaans as taal van bevryding deur die United Democratic Front (UDF) in die 1980’s.
- Die opkoms van die ANC en die gewapende stryd in SA (met die hulp van bomme, ontploffings, ens.).
- Die geleidelike demokratisering van die politieke klimaat, ook as gevolg van die buitelandse druk (soos sanksies, die kulturele boikot deur Nederland, ens.).
- Die onderdruk van politieke onrus deur die veiligheidsmagte en die reaksie wat dit meegebring het.
- Die ontbanning van die ANC en ander verbode partye in 1990.
- Die onderhandeling van ’n nuwe demokratiese bedeling in die 1990’s.
- Die totstandkoming van ’n nuwe (onderhandelde) grondwet vir SA in 1993.
- Die eerste demokratiese verkiesing in April 1994.
- Die nuwe ANC-regering wat in Mei 1994 beheer oorgeneem het.
Dit is so dat die proses sedertdien ook groot ontnugtering meegebring het omdat die bestuur van die land vandag op verskeie vlakke onder groot druk is weens wanprestasie van die nuwe regering (vergelyk Brits 2012, Joubert 2012). Die neiging is nog steeds om gebrekkige prestasie te wyt aan apartheid – Alhoewel daar duidelik al stemme opgaan teen die ophaal van apartheid as verskoning as sake verkeerd loop in die land. Sandile Memela (2012) het onlangs gesê dat dit tyd is om op te hou om apartheid verantwoordelik te hou vir alles wat in die land verkeerd loop. Mense moet naamlik ophou om redes te gee waarom dinge nie gedoen kan word nie sodat ons kan voortgaan om te werk aan die samelewing wat ons graag wil hê ... Kom ons aanvaar dat apartheid ’n gefaalde stelsel was en iets van die verlede is. Dit behoort tot die asblik van die geskiedenis. (My kursivering – WAMC.)
Ook rakende die taalopset ná 1994 is nie die verwagte resultate gekry nie.
3.3 Die talebedeling ná 1994
Soos vroeër reeds aangedui, was daar voor 1994 slegs twee amptelike tale in SA, te wete Engels en Afrikaans. Die Afrikatale was beperk tot afgebakende gebiede (die eufemistiese benaming vir die ou tuislande) waar hulle gebruik is. Ná 1994 is daar nou elf tale wat amptelike status geniet, waarvan Afrikaans en Engels slegs twee is. Dit raak dus die status van beide Afrikaans en Engels. Weens die negatiewe persepsies oor die Afrikaans (veral sedert 1976 met die Soweto-opstand en die uitkringende gevolge daarvan) kry Engels voorkeurbehandeling as kommunikasietaal in SA en as taal van die regering. Daaroor is daar geen twyfel nie, al word dit ook hoe ontken. Die belofte van meertaligheid wat die nuwe talebedeling meegebring het, realiseer gewoon nie in die praktyk nie (vergelyk Carstens 2006b). Meertaligheid is dikwels meer lippediens as praktyk in die SA van vandag.
Daar is mense wat sê dat hierdie meertalige bedeling nie kan werk nie – dit is naamlik nie ‘prakties haalbaar’ om aan elf tale dieselfde status en gebruikswaarde te gee nie – en dat Engels daarom eerder as die voorkeurtaal in SA gebruik moet word (vergelyk Carstens 2006a, 2006b). Dit maak sake soveel eenvoudiger en goedkoper, is die tipiese argument. 'n Joernalis, J Rantoa, het in 2005 in die Cape Argus ook gesê Afrikaans verdien geen spesiale behandeling nie:
So, what is special about Afrikaans? Why is this language being treated as something special and accorded a status higher than the other 10 official languages of this country? The truth is that there is nothing special about Afrikaans. It is a language like any other. The only ‘special’ thing about it is that it was the official language of a racist regime which tried, unsuccessfully, to ram it down the throats of all South Africans. Other than this infamous historical significance, Afrikaans is not special and should be treated as such.
Dit verwoord ook baie swart en bruin mense se persepsie oor Afrikaans – dit bly ’n taal wat so baie skade aangerig het en verdien daarom nie ’n kans tot oorlewing en selfs bewaring in die nuwe SA nie. Die herinnering aan Afrikaans is te veel gekoppel aan menslike lyding en verwerping. Waarom verdien Afrikaans daarom ’n kans?
Demografiese ondersoeke wys ook dat baie van die tradisioneel bruin sprekers van Afrikaans na Engels oorgegaan het en dat dit die taal van prestige en opvoeding onder bruin en swart inwoners geword het. Dit is werklikhede waarmee Afrikaans rekening moet hou in die bedeling sedert 1994. Dit geld wel nie net vir Afrikaans nie, maar ook vir die nege geïdentifiseerde Afrikatale in die Grondwet, want ook hulle groei en ontwikkeling het min werklike groei en ontwikkeling opgelewer. Die krag van Engels as internasionale taal is daarvoor te groot.
Wat staan die sprekers van Afrikaans en die Afrikaanse taalgemeenskap dan te doen? Is dit ’n geval van boedel oorgooi en dan in die spreekwoordelike hoekie gaan sit om sodoende uit die openbare oog te kom? Of is dit eerder ’n geval van vrede maak met die foute en ongeregtighede van die verlede en dan aan te gaan om ’n bydrae tot die uitbou van die land en sy inwoners te lewer? So baie Afrikaanssprekendes het reeds geïmmigreer: of na die buiteland (volgens beskikbare syfers van die vakbondbeweging Solidariteit meer as 800 000 na lande soos Australië, Nieu-Zeeland, Kanada, die VSA en dele in Europa) of na binne ("onttrek jou dus uit die samelewing agter jou spreekwoordelike mure in en laat die res van die land rondom jou aangaan, want ons is duidelik nie meer nodig nie" – maar lewer tog telkens kommentaar op die samelewing wat in 'n staat van verval is).
In die res van hierdie artikel word aan die hand van Carstens (2006a, 2006b, en veral 2013) terugvoer gegee oor ’n proses wat tans meehelp om die Afrikaanse gemeenskap weer nader aan mekaar te laat beweeg en wat kan meehelp om die interne immigrasieproses om te keer: dit is 'n proses wat onderlinge versoening ten doel het.[3]
3.4 Van ’n verdelende na ’n gedeelde verlede[4]
Steyn (1984: 19-20) se woorde oor die kloof tussen die komponente van die sprekersgemeenskap van Afrikaans is hier ter sake:
Afrikaans kan dit nie bekostig dat dit (’n deel van) sy blanke sprekers of (’n deel van) sy bruin sprekers verloor omdat sy kultuurskeppings, as geheel genome, nie genoeg verskeidenheid vertoon nie. Afrikaans moet iets beteken vir sowel die konserwatiewe as liberale deel van sy gemeenskap; dit moet, sy dit in verskillende publikasies, draer bly van die ideale, belange en strewes van wit en bruin. (My kursivering – WAMC.)
Sedert die middel 1990’s het daar al hoe meer ’n bewuswording onder Afrikaanssprekendes (wit, bruin en swart) gekom dat die toekoms van Afrikaans in SA in die hande van die sprekers van Afrikaans self is. Dit is so dat niemand iets vir Afrikaans gaan doen as die Afrikaanssprekendes dit nie self doen nie, en veral die huidige regering toon min bewyse van entoesiasme om tale anders as Engels te bevoordeel.
Daar wag dus werk op die lede van die Afrikaanse taalgemeenskap as die gesamentlike toekoms moet waar word. Die naaste wat ’n mens aan die toekoms kan kom, is om dit self te skep. Dit beteken dat die risiko om die toekoms van Afrikaans aan die huidige regering in SA oor te laat, bloot te groot is. Twee aspekte staan hier uit:
- Die behoefte om die storie van Afrikaans so te vertel dat alle hoeke van die storie belig word – dus die volledige storie van Afrikaans. Die storie van wit én bruin én swart sprekers van Afrikaans; dus die volle objektiewe geskiedenis van Afrikaans. Cleophas (2012) sê dit is kwalik moontlik om ’n gebalanseerde geskiedenis te vertel, want geskiedkundige dade is volgens hom nie emosioneel gebalanseerd nie en gevolglik kan die vertelling daarvan ook nie wees nie. Dit keer ons egter nie om wel te probeer om dit te doen nie. Dit is iets wat die sprekers van Afrikaans in die belang van Afrikaans sal moet aanpak. In Van Rensburg 2012 is 'n poging aangewend om juis hierdie storie te vertel.
- Die proses van onderlinge versoening onder die sprekers van Afrikaans sodat daar heling kan plaasvind.
Wat moet gebeur dat die volle verhaal van Afrikaans vertel word? Daar word vryelik aangehaal en verwys na Carstens (2013) om hierdie punt toe te lig:
Daar is al by herhaling gesê dat 'n taal nie die skuld kan dra vir die foute van sommige van sy sprekers nie (vergelyk onder andere Van Rensburg 1989b hieroor). Gerrit Brand het in 'n meningstuk gesê dat daar ook onthou moet word dat nie alle 'blankes skuldig was aan apartheid nie' (Brand 2009). Die feit dat 'n destydse minister gesê het dat Afrikaans gebruik moet word as medium van onderrig in Soweto in 1976 (vergelyk Steyn 2000, Pienaar 2004), impliseer nie dat alle Afrikaanse sprekers so dink nie en dat alle Afrikaanse sprekers noodwendig onderdrukkers – of rassiste – is nie. Dit (die siening oor Afrikaans vanuit die kant van die regering) was wel die vonk wat die spreekwoordelike kruitvat laat ontplof het en die geskiedenis wys wat die uitkoms van die hele proses was. Die woede was toe gemik teen die wit sprekerskorps van Afrikaans. Daar was dus kollektiewe woede teenoor alle wit mense wat Afrikaans praat (vergelyk Brand 2009). Aan die ander kant moet ook onthou word dat Afrikaans gebruik is om SA te bevry – die geskiedenis wys dit duidelik uit (vergelyk Steyn 1980, Brand 2009, Van Wyk 2012).
In Van Oort (2008) kom die kwessie van die verdelende versus die gedeelde verlede van Afrikaans ter sprake. Hierin kry ons 'n aanduiding van hoe ons vorentoe kan gaan, onder andere deur reeds op skoolvlak seker te maak dat die volle storie (met ander woorde: die storie van die gedeelde verlede van die sprekers van Afrikaans – van wit én bruin én swart) van Afrikaans vertel word. Die jeug is die vertrekpunt en daarom moet die jeug ingelig word oor dit wat onderliggend aan die inklusiewe verlede van Afrikaans lê. In hierdie verband is die volgende aksies al geloods:
- Materiaal is voorberei vir grade 4-6 en 7-10 vir opname in die nuwe kurrikulum oor Afrikaans en dit word reeds vanaf 2013 op skoolvlak infaseer.
- Onder die vaandel van die Afrikaanse Taalraad (ATR) is ’n boek – deur Van Rensburg met as titel En so kry ons Afrikaans (2012) – geskryf waarin die inklusiewe storie van Afrikaans vertel word, in ’n populêre styl en formaat sodat dit so toeganklik as moontlik kan wees. Dus: die verlede word bestuur deur ’n inklusiewe inligtingsproses. Hierdie boek sal in ander tale vertaal word om die storie van Afrikaans ook aan hulle te vertel.
Die ATR het in Maart 2011 in Stellenbosch ’n gesprek gereël oor die gebeure rakende Soweto 1976. Die aard van die gesprekke dui daarop dat die Afrikaanse jong mense al begin het om hierdie negatiewe stuk verlede te verwerk – nie te vergeet nie, maar te verreken in hoe hulle die geskiedenis van Afrikaans beleef (vergelyk Le Cordeur e.a. 2012). Op hierdie wyse leer hulle om hulle eie nuwe geskiedenis te skryf – soos verwoord deur mev. Helen Zille tydens ’n Vryheidsdaggeleentheid op 27 April 2012 in Pretoria: "Ons het die verantwoordelikheid om ons eie storie te skryf. Ons moet eienaarskap neem vir ons toekoms deur dit stukkie vir stukkie uit te kerf." (Vergelyk Essop 2012.)
Hieruit blyk dit dat die klimaat nou waarskynlik ryp is om hierdie verlede agter die rug te begin sit sodat aangegaan kan word met die proses om te besin oor Afrikaans as taal én in die besonder Afrikaanssprekendes se rol in die SA van 2013, oor die Afrikaans van 2060 (vergelyk Carstens 2010), soos in die studie van Ronel van Oort (2008) uiteengesit. (Vergelyk ook Carstens 2010b, Steyn & Duvenhage 2011.) Willemse (2011) sê ons durf nie langer toelaat dat net "een kant van die geskiedenis" (dus die wit kant) vertel word nie, aangesien dit ontmagtigend op die res van die sprekers inwerk, met ander woorde asof hulle geskiedenis nie ook deel van die groot geheel is nie. Die gevolg hiervan is: "... wanneer ons nie ons storie vertel nie, werk ons mee aan die vernietiging van ons geskiedenis." (My kursiverings – AMC.) Daar moet daarom onthou word dat die storie van die meerderheid Afrikaanssprekers nog nie na behore vertel is nie, en dat hulle self sal moet begin om eienaarskap te neem van die proses om wél hulle storie te vertel. As 'hulle' dit nie gaan vertel nie, gaan dit nie vertel word nie.
Vir die res van die artikel volg enkele opmerkings oor 'n proses wat ten doel het 'n inklusiewe Afrikaans, 'n Afrikaans wat verteenwoordigend is van sy volle sprekerskorps. Hierdie proses sal grootliks die toekoms van Afrikaans bepaal. Daaroor is daar geen onduidelikheid nie. Die klem val hier ook op die proses as sodanig en nie noodwendig op die beplande uitkoms nie. Sonder die proses kán daar nie 'n uitkoms wees nie (vergelyk Carstens 2013).
4. Die toekoms van Afrikaans
Uit die omvattende literatuur (vergelyk die bronnelys van hierdie artikel vir 'n oorsig van bronne) blyk dit dat die toekoms van Afrikaans bepaal gaan word deur ’n hele aantal faktore. Aan die een kant verteenwoordig hierdie faktore 'n diversiteit, maar aan die ander kant is dit weer die faktore wat sáám werk om 'n uitkoms te verkry.
- Die nakom van die taalbepalings in die Grondwet (vergelyk Steyn & Duvenhage 2011). Sonder grondwetlike beskerming kan ’n taal op die lange duur tot niet gaan. Die aandrang op die instel van die nuwe wet op die gebruik van SA tale is daarom van kardinale belang omdat dit die raamwerk skep vir die bestuur van tale in SA (vergelyk Cornelius & Malan 2012, Lourens 2012, October 2012).
- Die rol van taalaktiviste en van die burgerlike gemeenskap in hierdie proses moet nie onderskat word nie. Dit is wel ook duidelik – in die woorde van ’n spreker tydens ’n onlangse (2012) byeenkoms oor die nuwe talewet in SA – “dat Afrikaans te belangrik is om aan die regering oor te laat”.
- Die demografiese profiel van die sprekerskorps van Afrikaans: dit moet uitbrei eerder as afneem. Ook die sekondêre Afrikaanse sprekersgemeenskap (dit wil sê die tweede- en vreemdetaalsprekers) moet toeneem.
- Die relevansie van Afrikaans en sy sprekersgemeenskap in die nuwe SA. Watter bydrae maak hierdie gemeenskap tot die uitbou van SA? Word Afrikaanssprekendes deur die regering van die dag ervaar as afbrekend, as kermkouse oor alles wat verkeerd loop? Of lewer die sprekers van Afrikaans 'n bydrae om die land te laat werk?
- Die betrokkenheid van die sprekers van Afrikaans by die bedryf en bestuur van die land. Om op die kantlyn te staan en te kritiseer, is nie bevorderlik nie.
- Die verandering van gesindhede oor Afrikaans en sy verlede. Hoe moet gedoen word om die negatiewe gesindhede oor Afrikaans se verlede in ’n positiewe lig te kan beskou.
- Die oopmaak en vertel van al daardie dele van Afrikaans se verlede wat nog nie behoorlik vertel is nie. Ook oor daardie variëteite van Afrikaans wat nog besinning verdien – soos in Julie 2012 toe ’n simposium oor Kaaps as variëteit van Afrikaans aangebied is (vergelyk Kotze 2012, Pakendorf 2012, Titus 2012). Die gesprek ook die Maleise variëteit van Afrikaans kry ook heelwat aandag (vergelyk Willemse & Dangor 2011) en heelwat woorde uit die Maleise gemeenskap is reeds in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls van 2009 opgeneem.
- Maar veral ook deur die proses van interne versoening wat in die Afrikaanse gemeenskap aan die deurloop is (vergelyk Carstens 2013, Van Oort 2008). In Steyn (1984: 19-20) se woorde moet Afrikaans “iets beteken vir sowel die konserwatiewe as liberale deel van sy gemeenskap; dit moet, sy dit in verskillende publikasies, draer bly van die ideale, belange en strewes van wit en bruin”. Eers dan is daar hoop vir Afrikaans.
Kortliks enkele opmerkings hieroor.
Die ‘storie’ wat hieroor vertel word, het drie onderskeibare fases.
4.1 FASE 1: Die Afrikaanse Oorlegplatform (1990’s)
In 1996 is in Afrikaanse geledere met ’n proses begin wat ten doel gehad het ’n liggaam wat namens Afrikaans as taal moes praat en wat verteenwoordigend sou wees van die demografie van Afrikaans (vergelyk Steyn 1998 hieroor). Dit moes in die woorde van prof Herman Giliomee ’n “soepele Afrikaanse Raad van Afgevaardigdes waarin wit, bruin en swart Afrikaanstaliges hulle ewe tuis voel” (Steyn 1998: 253) wees. So ’n liggaam sou dan oor die potensiaal beskik “om met ’n magtige stem oor sake soos die verontregting van Afrikaans ... te spreek”. (My kursiverings – WAMC.)
Reaksies en steun van skrywers en vanuit mediageledere het die voorstel gesteun en Breyten Breytenbach het selfs gepleit vir “’n organisasie wat verteenwoordigend van alle Afrikaanssprekendes kan wees”. Dit moes ’n “koördinerende liggaam” wees, ’n “saamstaan”, “’n ‘adres van uitklaring’ waar aangeklop kan word vir inligting en raad en bystand. So ’n ‘adres’ moet die belange van swart en bruin en wit Afrikaners kan artikuleer en verteenwoordig. Maar die inisiatief moenie van politieke partye en ou patriargale bonde en koukusse en klieks kom nie.” (My kursiverings – WAMC.)
Daar is uiteindelik ’n verkenningskomitee aangestel met as doel die stigting van ’n “oorkoepelende Afrikaanse organisasie”, ’n ‘saambreelorganisasie’ wat “hoofsaaklik ’n taal- en kulturele inslag sal hê en nie-polities van aard sal wees”. Hierdie organisasie moes die volgende doen:
- Verleen ‘krag en kohesie’ “aan die dikwels versplinterde aksies van ’n magdom Afrikaanse organisasies”
- Moet “voorspraak vir Afrikaans doen en dit versterk”.
- Moet “die welsyn van die deel van die Afrikaanse gemeenskap wat histories benadeel is, probeer bevorder”.
- Moet “bondgenootskappe met ander minderhede probeer sluit”.
- Die klem moes “op ’n saambindende proses eerder as ’n struktuur ... val”.
- ’n Nuwe denke en die bou van vertroue tussen Afrikaanssprekendes as deel van die burgerlike gemeenskap moes gevestig word om uit ‘die slagyster van die verlede’ te ontsnap (Steyn 1998: 260).
- Inklusiwiteit moes ’n kernrol speel in die ontwikkelende proses
Steyn (1998: 262) oordeel dat die denkverskuiwing wat plaasgevind het sedert die idee van so ’n AO die eerste keer in 1996 genoem is, van belang is omdat dit op ’n mate van eenheid dui wat vroeër nie bestaan het nie. ’n Ander groot voordeel was dat rolspelers wat aanvanklik los van die proses gestaan het, wel by die proses betrokke geraak het. "Mense met uiteenlopende sienings oor die kultuur en politiek vind dat hulle soveel gemeen het dat hulle gesamentlik kan beplan vir Afrikaans."
Dit blyk dat “mense van soveel uiteenlopende rigtings, ook aanvanklik antagonistiese mense betrek kon word” (Steyn 1998: 262) by ’n breë proses in die belang van Afrikaans.
Die AO was uiteindelik nie die beplande sukses nie en inisiatiewe het kort daarna ook begin doodloop. Die rede is waarskynlik dat die tydsgees vir die totstandkoming van so ’n liggaam in SA (nog) nie ryp was nie. Dit was nog te kort ná die aftakeling van apartheid en die begin van die nuwe SA om Afrikaans so te posisioneer. Dit kan wel beskou word as die begin van ’n proses van herposisionering van Afrikaans eerder as die resultaat van die proses self.
4.2 FASE 2: ’n Nasionale strategie vir Afrikaans (2003-2008)
Die lede van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (die NTLA), ’n substruktuur van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT), het in Maart 2003 'n proses aan die gang gesit wat ten doel gehad het die ontwikkel van ’n nasionale strategie van Afrikaans. Die proses was aanvanklik broos en min organisasies het belang gestel om hierby betrokke te raak. Die dryfkrag agter die proses was wel die strewe om ’n liggaam tot stand te bring wat die belange van alle Afrikaanssprekendes moes verteenwoordig, niemand moes uitgesluit word nie. Hierdie liggaam moes ’n forum wees “waar almal wat belang by Afrikaans het met mekaar in gesprek kon tree”. Gerrit Brand (2004) het hom soos volg hieroor verwoord:
Die bedoeling van so ’n forum moet juis wees om aan almal die geleentheid te gee om hulle standpunt te stel. Die forum moet dus nie pro- of anti-Afrikanerraad wees nie. Voor- en teenstanders van so ’n raad moet hulle sprook kan spraak. Swart, wit en bruin Afrikaanspraters, sowel eerste- as tweedetaalsprekers, moet daar hul mening kan lug. Die hele kleurvolle spektrum van standpunte, belange en voorgestelde strategieë moet daar die podium kan betree. (My kursivering – WAMC.)
En verder:
Die voordeel van so ’n gespreksforum met ’n leë agenda is dat dit almal kan betrek sonder om enige spesifieke groepering uit die staanspoor te marginaliseer of hulle aktiwiteite in die wiele te ry. Alle organisasies en individue wat op een of ander manier met Afrikaans gemoeid is, kan nog steeds rustig (of onrustig) voortgaan met dit wat hulle doen, maar terselfdertyd kan hulle begin om gemene grond te verken en stadig maar seker ’n mate van konsensus rondom bepaalde sake te stig. Hardnekkige verskille in standpunt of strategie hoef nie in so ’n forum te verdwyn nie, maar kan juis duideliker aan die lig kom terwyl daar besluit word om op daardie punte ‘to disagree to agree’. Onderlinge misverstande en wanpersepsies kan egter ook uit die weg geruim word. (My kursiverings – WAMC.)
Hierdie proses is sedert 2003 deur verskeie stappe, wat as fases beskou kan word. Die afhandel van elke stap/fase was nodig om die klimaat te skep vir die volgende stap/fase.
- Die aanbied van ’n simposium onder beheer van die FAK in September 2003: die idee van ’n “groter voetspoor vir Afrikaans” is hier as vertrekpunt gebruik en die gedagte van ’n proses van samewerking in die groter belang van Afrikaans, is hier geloods.
- ’n Voortsettingskomitee het sedert 2003 die proses gedryf en wel deur die beplan en aanbied van die Eerste Nasionale Afrikaanse Taalberaad in Augustus 2004 in Stellenbosch. Verskille oor kleurgrense heen oor die aard van die proses na afloop van die beraad het wel bykans die beweging reeds daar gekelder. Dr Neville Alexander, taalaktivis verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, se raad was egter duidelik om hieroor te kom: beweeg stadig vorentoe en konsulteer voortdurend met mekaar. Letterlik "voetjie vir voetjie". En: wees bereid om selfs 'n tree terug te neem as die proses dit sou verg. Vooruitgang moes nie ten alle koste geskied nie.
- Die formuleer van ’n goed nagevorste en gekonsulteerde taalplan en die bekendstelling daarvan in Februarie 2005. Die proses is hierna bestuur aan die hand van die taalplan.
- Die Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA) het in April 2005 tot stand gekom as die instrument waardeur die proses verder gestuur moes word. Die doel van die NFA was tweeledig: om gespreksgeleenthede te skep waartydens Afrikaanssprekendes met mekaar kan praat oor sake en ook die doen van navorsing oor Afrikaans (soos die opvolg van die eerste taaloudit van 2004). Die bewuswording in die komitee was ook deurgaans: tyd is nodig om wonde te heel en kanale weer oop te maak.
- Die Tweede Nasionale Afrikaanse Taalberaad is in Februarie 2007 in Pretoria aangebied en die NFA het hier die mandaat gekry om op die gekose pad – die pad van inklusiwiteit en versoening – voort te gaan.
- Die behoefte aan ’n verteenwoordigende liggaam wat kan meehelp om die onregte van die verlede te oorbrug en sodoende heling te kan bewerkstellig, het in die maande daarna harde werk en verskeie konsultasies met belangegroepe geverg. Dit het uiteindelik op 24 Mei 2008 in Wellington gelei tot die totstandkoming van die Afrikaanse Taalraad (ATR) onder die leiding van prof WAM Carstens (vergelyk Prinsloo (red.) 2006a, 2006b, 2007, 2008a, 2008b).
4.3 FASE 3: Die Afrikaanse Taalraad (2008 -)
Die betrokkenes by hierdie proses het die volgende vertrekpunte (vergelyk Carstens 2009b, 2013) gebruik.
- Die einddoel van die proses sou wees heling in Afrikaanse geledere en dit sou verkry kon word deur versoening aktief en sigbaar te bestuur.
- § Die besef dat versoening van twee kante kom en dat daar van alle kante oopmaak en bereidheid tot versoening moes wees.
- Toewyding tot en 'n strewe na versoening en werklike inklusiwiteit binne die Afrikaanse gemeenskap.
- Die besef dat die betrokkenes met ’n proses besig was. Die proses as sodanig sou waarskynlik waardevoller as die produk kon wees
- Soveel as moontlik organisasies en instansies moet betrek word. Die ATR het reeds tans (2013) 41 lidorganisasies wat ongeveer 450 000 persone in die georganiseerde Afrikaanse gemeenskap verteenwoordig.
- Die proses sou tyd neem. Seermaak van die verlede neem tyd en dit word nie net 'reggedokter' nie.
- Die afbreek van wantroue oor mekaar as groepe – as wit, bruin, swart.
- Wedersydse vertroue sal opgebou moet word gebaseer op gedeelde waardes en visies.
- Die proses sou harde werk verg.
- Die proses sou geduld en verdraagsaamheid met mekaar vra.
- Die proses vra dat tyd gemaak word vir werklike luister na mekaar. Maar ook vir die hoor van mekaar.
- Vordering sou kom mits die toewyding daar is en daar ook die geduld is om die proses sy natuurlike loop te laat neem.
- Doelbewuste pogings en projekte tot samewerking oor grense heen moet aangepak word. Sonder voorbeelde van sodanige suksesse is daar geen bewys dat die proses sigbare resultate oplewer nie – dit is nodig om te wys dat ons wel kán saamwerk.
- Die geloof dat die Afrikaanse taalgemeenskap wel die vermoë het om homself te organiseer.
- Die deel van gedeelde ervarings (mislukkings en suksesse).
- Die bereidwilligheid om aanpassings te maak soos die proses vorder, en die besef dat daar by tye selfs kompromisse aangegaan moet word. Die proses het laat blyk dat kompromisse van kernbelang is sodat daar nooit ’n verloorsituasie vir enigiemand ontstaan nie.
- Die samewerking met die breë burgerlike gemeenskap – dus 'n soort vennootskap. By tye blyk hierdie vennootskap onder druk te kom, maar gelukkig bly die ATR nog steeds op koers.
- Die deel van bronne en strukture.
- Die saamvier van suksesse.
- Die oopstel van mekaar se menswees vir ander. Dit is 'n kernvoorwaarde vir enige vordering .
- Daar moet ruimte gelaat word vir verskille en vir verskillende benaderings tot die hanteer van sake.
- Daar is 'n gedeelde liefde: Afrikaans.
- Die proses moet lei tot die beskerming en bevordering van Afrikaans en tot die bemagtiging van die sprekers van Afrikaans.
Hierdie proses het tyd geneem om deur te loop, maar dit was uit terugvoer duidelik dat die uitkoms van die beweging wel gelei het tot ’n liggaam wat nou sy plek volstaan in die Afrikaanse gemeenskap van 2013 (vergelyk Carstens 2013 vir ’n vollediger uiteensetting hiervan). Slegs die geskiedenis sal vorentoe kan oordeel oor die uitkoms van wat hier bo uiteen gesit is. Omdat die proses gebaseer is op onderlinge vertroue en ’n gedeelde visie, het dit wel ’n groter kans op sukses as die destydse Afrikaanse Oorlegplatform. Terugvoer dui daarop dat groot vordering gemaak is (vergelyk Carstens 2010, 2011, 2013) en dat daar goed gevorder word met die vestiging van versoening in Afrikaanse geledere.
In enige proses is daar ook probleme wat hanteer moet word en die proses het onder meer die volgende probleme opgelewer:
- Die tekort aan fondse om projekte uit te voer om werklik bemagtigend te kan werk.
- Onderlinge verskille kom by tye nog na sterk vore. Telkens is wel daarin geslaag om dit te oorbrug. En dit sal nog lank so voortduur omdat ons mense is met verskillende sienings van die verlede van Afrikaans.
- Daar is nog werk om die gedeelde visie na almal uit te brei.
- Nog nie genoeg organisasies uit bruin en swart geledere het aangesluit nie.
Hoe oordeel ander oor die versoeningsproses? Lei dit tot die verlangde en verwagte uitkoms? Die Afrikaanse literator Annemarie van Niekerk wat in Den Haag woon en die voorreg het om van die buiteland af terug te kyk na SA, oordeel in ’n onlangse onderhoud op LitNet (3 Februarie 2012) soos volg oor die stand van versoening in die Suid-Afrikaanse gemeenskap:
Ek is op kort termyn nogal pessimisties oor die versoeningsproses tussen Suid-Afrikaners. Daar gebeur baie goeie dinge en daar is ’n baie mense wat werklik probeer om versoening te bewerkstellig, maar daar is ook nog soveel wrokkigheid en haat en rassisme wat bly smeul. Die wonde van die verlede kan nie so vinnig genees nie; ons moet geduldig wees; die skade wat aangerig is deur apartheid, is onvoorstelbaar groot. Dit smeul nog voort, en elke nou en dan word daar weer nuwe vuurtjies aangesteek. Maar daar is ook baie mooi dinge wat gebeur en daar is definitief positiewe veranderinge te sien onder groot dele van die jonger generasie. Dit gaan ’n tydjie duur voordat al die vrot uit die appel gesny is. (My kursiverings– WAMC.)
Dit kom pessimisties voor, en by tye voel dit nog steeds so in SA as ’n mens die agteruitgang in die land raaksien. Daar is sekerlik nog werk voor en daaroor kan nie geswyg word nie. Die eerste belangrike stappe na mekaar is egter reeds geneem en dit gee alreeds hoop op ’n gesamentlike toekoms.
5. Samevatting
Uit die argumentasie hierbo blyk dit dat die verlede nie so maklik afgeskud word nie. Dit sal altyd met ons wees en ons sal moet leer om dit te hanteer (vergelyk Carstens 2013). Die onregte van die verlede durf nie vergeet te word nie, want dit het Afrikaanssprekendes van mekaar vervreem en wat bymekaar gehoort het, om politieke redes uit mekaar gehou. As daar wel nie daarby (dit is wrokkigheid oor die verlede) verby beweeg kan word nie, gaan daarby vasgesteek word en dit gaan uiteindelik verlammend inwerk op menseverhoudinge. Daarom moet daar ook 'n toekomsvisie vir Afrikaans geformuleer word. Scholtz (2012) sê die regte stap om dit vorentoe te kan verwesenlik, behels die volgende:
Afrikaans se redding lê in oopmaak, in grense afbreek, en inklusiwiteit, nie in toemaak en afskerm nie. Afrikaans is groter as die Afrikaners, want laasgenoemdes deel hulle moeder met die meeste bruin mense en selfs sommige swart mense en Indiërs. ... Afrikaans moet die instrument van aanvaarding en transformasie wees ... (My kursiverings – WAMC.)
Daar wag dus doelbewuste werk op die lede van die Afrikaanse taalgemeenskap om die gesamentlike toekoms vir almal waar te wil maak. Daar moet saamgewerk word aan ’n stem wat kan aanspraak maak dat ‘namens Afrikaans’ gepraat word, en wat in die belang van Afrikaans dalk sal kan bydra tot ’n waarlik getransformeerde Afrikaans, oftewel ’n inklusiewe Afrikaans wat voorsiening maak vir al sy sprekers (vergelyk Carstens 2013). Slegs as 'n inklusiewe benadering gevolg word, is daar hoop om 'n plan van aksie te formuleer wat kan slaag. Vir so ’n aksie word die toewyding en ondersteuning van die totale Afrikaanse gemeenskap benodig (vergelyk Van der Rheede 2012) en nie net van een groep nie.
Slegs langs hierdie weg lê die pad vir Afrikaans vorentoe – daar moet sáám gedink en sáám gedoen word en in hierdie proses moet dieselfde visie vir Afrikaans as taal van Suid-Afrika ontwikkel word. Afrikaans is beslis nie net ’n taal vir een groep sprekers nie – daarvoor is die inherente verskeidenheid te groot. Slegs as doelbewus almal in die Afrikaanse gemeenskap ingesluit word in prosesse en verwikkelinge, sal daar ’n gedeelde Afrikaanse visie ontwikkel kan word en slegs as daar ’n gedeelde Afrikaanse visie is, kan daar gepraat word van die Afrikaanse gemeenskap wat homself waarlik aangepas en verander het in die nuwe SA ná 1994 (vergelyk J Gouws 2012).
Hoe raak hierdie stappe versoening van vandag in SA, veral versoening tussen die wit en bruin sprekers van Afrikaans? Weer eens is die proses wat verloop moet word van groot belang: die luister met ’n oop gemoed, die aanhoor van slegte ervarings, die oopstel vir en die skep van kommunikasie tussen wit en bruin sprekers, die gelyke behandeling van mense (die menswaardigheid waarvan die Grondwet melding maak) en ook boetedoening deur bemagtigende optredes by die voorheen benadeeldes. Dit is al ’n stap in die regte rigting. Dit mag ook nie paternalisties wees nie, dit moet spreek van eerlikheid en opregtheid, van ’n erns om ’n verskil te wil maak (vergelyk Carstens 2013).
Dit is ’n lang en soms moeilike pad om te volg, maar die Afrikaanse gemeenskap sal in sy totaliteit wel hierdie pad móét loop – individueel sowel as groep. Dit is daarom van belang dat doelbewuste pogings aangewend word deur individue (elke Afrikaanssprekende in sy/haar eie hoedanigheid), maar ook deur instansies/verenigings (soos die ATR, die ATKV, die Vriende van Afrikaans, die FAK, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Afrikaanse Taalmuseum en verwante instansies, die Erfenisstigting, die Vereniging vir Regslui vir Afrikaans, die Afrikanerbond, die Rapportryers, die Dameskring, ensovoorts) te alle tye 'n inklusiewe benadering met taal en kultuur volg. Sodoende "... verseker ’n mens goedgesindheid, begrip en kommunikasie wat nie so maklik met ander middele bereik kan word nie" (aldus Gouws 2012).
Daar ís dus 'n beleefde, goed deurdagte en uitgestippelte pad. Dit moet net aangepak en sáám afgestap word. Kom, laat ons begin.
----------------------------------
Bronnelys
Beekes, RSP 1990. Vergelijkende Taalwetenschap: Tussen Sanskrit en Nederlands. Utrecht: Het Spectrum.
Botha, TJR e.a. (reds.) 1989. Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde. Pretoria: Academica.
Botha, TJR 1989. Afrikaans sedert die negentiende eeu. In: Botha, TJR e.a. (reds.) 1989: 127-154.
Brand, G 2004. Op pad na ’n Afrikaanse forum. Plasingsdatum 26/04/2004. Beskikbaar op www.litnet.co.za/taaldebat/forum.asp. Gebruik op 27/05/2004.
Brand, G 2009. Het verzoeningsdiscours in Zuid-Afrika. www.litnet.co.za Onttrek 07/09/2009.
Bredekamp, HC 1982. Van Veeverskaffers tot Veewagters: ’n Historiese ondersoek na betrekkinge tussen die Khoikhoi en Europeërs aan die Kaap, 1662-1679. Bellville: Wes-Kaaplandse Instituut vir Historiese Navorsing.
Brits, E 2012. Ras lê toe nie veldiep. Beeld, 17/08/2012, bl. 13.
Brits, J 2012. Suid-Afrika ná apartheid, 1994-2004. In: Pretorius, F (red.) 2012: 549-580.
Buys, F 2004. Afrikaners moet hul toekoms help vorm. Rapport, 20/06/2004, bl. II (Perspektief).
Carstens, WAM 1994. Om ou koeie uit die sloot te grawe: is daar lesse te leer uit die verlede? Enkele kantaantekeninge. Literator 15(2): 16-33.
Carstens, WAM 2006a. Die breë Afrikaanse debat (1994-2005): enkele temas en inisiatiewe. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 48(2): 1-19. Supplement oor Moedertaalonderrig.
Carstens, WAM 2006b. Praktiese meertaligheid in Suid-Afrika – feit of fiksie? Tydskrif vir Taalonderrig 40(1):1-19. Junie 2006.
Carstens, WAM 2007. Op pad na ’n getransformeerde Afrikaanse gemeenskap – die rol van die Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA). Referaat gelewer tydens MIDP-colloquium, Universiteit van Antwerpen, Antwerpen, België, 26-28 November 2007.
Carstens, WAM 2009a. Die ontpolitisering van Afrikaans deur 'n Nasionale Strategie vir Afrikaans. Lesing gelewer tydens die Roots-konferensie by die Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville; 22-23 September 2009.
Carstens, WAM 2009b. Eerste Voorsittersrede van die ATR. ????
Carstens, WAM 2010a. Waarheen met Afrikaans? – My droom vir Afrikaans. Lesing gelewer tydens die Jaarsimposium van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, 30 September – 1 Oktober 2010, Universiteit van Pretoria.
Carstens, WAM 2010b. Tweede Voorsittersrede van die ATR. ????
Carstens, WAM 2011. Derde Voorsittersrede van die ATR. ????
Carstens, WAM 2012. Versoening in Afrikaans – Is dit haalbaar? 31ste DF Malherbe-gedenklesing. Bloemfontein, Universiteit van die Vrystaat, 28 Mei 2012.
Carstens, WAM 2013. ????
Cleophas, F 2012. Daar sal altyd iemand wees wat die geskiedenis vir homself opeis. BY, Beeld, 11/08/2012, bl. 2.
Conradie, CJ 1986. Taalgeskiedenis. Pretoria: Academica.
Cornelius, S & K Malan 2012. Taalwet magteloos teen ‘representivity’. Rapport, 22/01/2012.
Deumert, A 2004. Language standardization and language change: the dynamics of Cape Dutch. Amsterdam: John Benjamins.
De Villiers, J 2012a. Die Nederlandse era aan die Kaap, 1652-1806. In: Pretorius, F (red.) 2012: 39-62.
De Villiers, J 2012b. Die Kaapse samelewing onder Britse bestuur, 1806-1834. In: Pretorius, F (red.) 2012: 73-96.
De Villiers, M 1978. Nederlands en Afrikaans. Kaapstad: Nasou.
De Vooys, CGN 1975. Geschiedenis van de Nederlandse Taal. Groningen : Tjeenk Willink.
De Vries, JW; R Willemyns & P Burger 1993. Het verhaal van een taal. Nege eeuwen Nederlands. Amsterdam: Prometheus.
Donaldson, BC 1983. Dutch. A linguistic history of Holland and Belgium. Leiden: Martinus Nijhoff.
Du Plessis, H & LT du Plessis (reds.) 1987. Afrikaans en Taalpolitiek: 15 opstelle. Pretoria: HAUM.
Du Plessis, LT 1986. Afrikaans in beweging. Bloemfontein: Patmos.
Elphick, R 1985. Khoikhoi and the Founding of White South Africa. Johannesburg: Ravan Press.
Essop, P 2012. Zille het opdrag vir land wat nou mondig is. Beeld, 28/04/2012, bl. 2.
Giliomee, H 1975. Die Kaap tydens die eerste Britse bewind. Kaapstad: Tafelberg.
Giliomee, H 2004. Die Afrikaners. ’n Biografie. Kaapstad: Tafelberg.
Giliomee, H 2012a. Afrikanernasionalisme, 1875-1899. In: Pretorius, F (red.) 2012: 219-234.
Giliomee, H 2012b. Afrikanernasionalisme, 1902-1924. In: Pretorius, F (red.) 2012: 275-292.
Giliomee, H 2012c. Apartheid: ’n ander blik. In: Pretorius, F (red.) 2012: 429-442.
Giliomee, H 2012d. ’n “Gesuiwerde” nasionalisme, 1924-1948. In: Pretorius, F (red.) 2012: 293-310.
Giliomee, H 2012e. “Aanpas of sterf”, 1978-1994. In: Pretorius, F (red.) 2012: 389-404.
Giliomee, H 2012f. Opstand, oorlog en oorgang, 1984-1994. In: Pretorius, F (red.) 2012: 405-428.
Giliomee, H & B Mbenga (reds.) 2007. Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg.
Giliomee, HB & L Schlemmer (reds.) 2001. Kruispad. Die toekoms van Afrikaans as openbare taal. Kaapstad: Tafelberg.
Gouws, J 2012. Kultuur wat uitnooi. Taalgenoot, Herfs 2012, bl. 9.
Grobler, J 2012a. Swart politieke ontwikkeling, 1875-1949. In: Pretorius, F (red.) 2012: 311-324.
Grobler, J 2012b. Swart verset teen apartheid, 1950’s -1980’s. In: Pretorius, F (red.) 2012: 369-388.
Grobler, J 2012c. Sê waar Voortrekkers oor moord spog. Beeld, 18/02/2012, bl. 10.
Groenewald, GJ 2002. Slawe, Khoekhoen en Nederlandse pidgins aan die kaap, ca. 1590-1720. ’n Kritiese ondersoek na die sosiohistoriese grondslae van die konvergensieteorie oor die ontstaan van Afrikaans. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Kaapstad, Rondebosch.
Jackson, N 2012. Was apartheid rêrig verkeerd? Beeld, 09/02/2012, bl. 14.
Joubert, J 2012. Die demokratiese puberteit, 2004-2011. In: Pretorius, F (red.) 2012: 581-600.
Le Cordeur, MLA; R Olivier, D Prinsloo & J van der Elst (redaksionele komitee) 2012. 16 Junie 1976. 35 jaar later. Jeugberaad aangebied deur die Afrikaanse Taalraad as deel van die US Woordfees 11 en 12 Maart 2011. Pretoria: SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Le Cordeur, M 2012a. Jou taal is jou reg. Beeld, 28/02/2012, bl. 15.
Le Cordeur, M 2012b. Persoonlike mededeling per e-pos. 03/05/2012.
Lecoutere, CPF & L Grootaers 1948 (6de uitgawe). Inleiding tot de Taalkunde en tot de Geschiedenis van het Nederlands. Brussel: Dewit.
Lourens, C 2012. Ons moet sélf byt gee aan nuwe Talewet. Weekliks, Rapport, 12/08/2012, bl. V.
Makhanya, M 2010. Afrikaners set a fine example championing their language. The Sunday Times, 24/01/2010, bl. 6.
Makhanya, M 2011.Will this nation allow its languages to die out – from sheer neglect? The Sunday Times, 01/05/2011.
October, A 2012. ‘Wetsontwerp ’n triomf vir tale’. Die Burger, 10/08/2012.
Olivier, G & AE Coetzee (reds.) 1994. Nuwe Perspektiewe op die Geskiedenis van Afrikaans – Opgedra aan EH Raidt. Halfweghuis: Southern Boek-Uitgewers.
Pakendorf, G 2012. Kaaps in fokus! Verslag oor die simposium aan UWK, 19-20 Julie2012. www.litnet.co.za/Article/kaaps-in-fokus-verslag-oor-die-simposium-aan-uwk Onttrek 30/07/2012.
Pheiffer, RH ????
Pienaar, EC 1943. Die Triomf van Afrikaans. Kaapstad: Nasionale Pers.
Pienaar, L 2004. Die Soweto-onluste van 16 Junie 1976 en die gevolge daarvan vir Afrikaans, in: Van Rensburg, FIJ (red.) 2004: 133-141.
Ponelis, FA 1989. Nederlands-Afrikaans: die Europese agtergrond van Afrikaans. In: Botha, TJR e.a. (reds.) 1989: 38-71.
Ponelis, FA 1993. The Development of Afrikaans. Frankfurt am Main: Peter Lang.
Ponelis, FA 1998. Standaardafrikaans en die Afrikaanse taalfamilie. Stellenbosch: Annale, Universiteit van Stellenbosch.
Pretorius, F 2012. Almal se oorlog: die Anglo-Boereoorlog (1899-1902). In Pretorius, F (red.) 2012: 235-254.
Pretorius, F (red.) 2012. Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg.
Prinsloo, KP & MCJ van Rensburg (reds.) 1984. Afrikaans: stand, taak, toekoms. Pretoria: HAUM Opvoedkundige Uitgewery.
Prinsloo, KP (red.) 2005. ??? oor eerste taalberaad
Prinsloo, Karel (red.) 2006a. Op pad na 'n Taalstrategie vir Afrikaans. Verslag gereproduseer deur Content Solutions en versprei deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, Maart 2006.
Prinsloo, Karel 2006b. Towards a language strategy for Afrikaans: the process before, during and after the Afrikaans Language Indaba of 2004 in Stellenbosch, in: Webb, Vic & Theodorus du Plessis (eds.) 2006.
Prinsloo, Karel (Projekleier) 2007. Opname oor Afrikaanse projekte en aktiwiteite op ‘n plaaslike munisipale vlak in Suid-Afrika, 2006. Ongepubliseerde navorsingsverslag versprei by die Tweede Afrikaanse Taalberaad, gehou in Pretoria op 23 en 24 Februarie 2007.
Prinsloo, Karel (red.) 2008a. Die Afrikaanse “ons’’ en die nodigheid van 'n Afrikaanse Taalraad. Verslag gereproduseer deur CRINK en versprei deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, April 2008.
Prinsloo, Karel (red.) 2008b. Die Afrikaanse Taalraad kom tot stand. Verslag gereproduseer deur CRINK en versprei deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, November 2008.
Raidt, EH 1989. Ontwikkeling van Vroeë Afrikaans. In: Botha, TJR e.a. (reds.) 1989: 96-126.
Raidt, EH 1991. Afrikaans en sy Europese verlede. Kaapstad: Nasou.
Raidt, EH 1994. Historiese taalkunde. Studies oor die geskiedenis van Afrikaans. Johannesburg: Wits University Press.
Rantoa, J 2005. Government should do away with Afrikaans medium schools. Cape Argus, 23/02/2005.
Raven-Hart, R 1967. Before Van Riebeeck: Callers at South Africa from 1488-1652. Kaapstad: Struik.
Roberge, PT 1994. The formation of Afrikaans. Spil Plus 23, 1994. Universiteit van Stellenbosch.
Scher, DM 2012. Die vestiging van die apartheidstaat, 1948-1966. In: Pretorius, F (red.) 2012: 311-324.
Scholtz, J du P 1964. Die Afrikaner en sy taal 1806-1875. Kaapstad: Nasou.
Scholtz, J du P 1965. Afrikaans uit die Vroeë Tyd. Kaapstad: Nasou.
Scholtz, J du P 1972. Afrikaans-Hollands in die agtiende eeu. Kaapstad: Nasou.
Scholtz, J du P 1980. Wording en ontwikkeling van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg.
Scholtz, J du P 19812. Taalhistoriese Opstelle. Kaapstad: Tafelberg.
Scholtz, L 2012. Taal gaan nie maklik onder. Die Burger, 20/04/2012.
Semela, S 2012. Haal sélf remskoen van apartheid af. Rapport, 05/08/2012, Weekliks bl. III.
Shell, R 2012. Mense in knegskap. In: Pretorius, F (red.) 2012: 63-72.
Steyn, JC 1980. Tuiste in eie taal. Die behoud en bestaan van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg.
Steyn, JC 1984. Die oorlewing van Afrikaans. In: Prinsloo, KP & MCJ van Rensburg (reds.) 1984: 3-29.
Steyn, JC 1987. ????????
Steyn, JC 1998. Nuwe aktiwiteite rondom Afrikaans: die totstandkoming van ’n ‘Afrikaanse Oorlegplatform’. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 38(4): 253-264.
Steyn, JC 2000. As jy op my liddoring trap, gaat ek jou slaat, vir ou goete ook. Beeld, 16/06/2000, p. 11.
Steyn, JC & A Duvenhage 2011. Taalverskuiwing en taalhandhawing in die Afrikaanse gemeenskap: tendense en toekomsperspektiewe. LitNet Akademies 8(3), Desember 2011.
Titus, D 2012. Stiek yt vir ’n Afrikaans met curves. Rapport, 29/07/2012, bl. 18.
Uys, ????????????
Van den Toorn, MC e.a. (reds.) 1997. Geschiedenis van de Nederlandse Taal. Amsterdam: Amsterdam University Press.
Van der Auwera, J & E König (reds.) 1994. The Germanic Languages. London/New York: Routledge.
Van der Horst, J & F Marschall 1989. Korte Geschiedenis van de Nederlandse taal. Amsterdam: Nijgh & Van Ditmar.
Van der Merwe, HJJM (red.) 1969. Inleiding tot die Taalkunde. Pretoria: JL van Schaik.
Van der Merwe, HJJM (red.) 1972. Afrikaans – Sy aard en ontwikkeling. Pretoria: JL van Schaik.
Van der Rheede, C 2012. Afrikaans: probleme en oplossings. maroelamedia.co.za/blog/die-groot-debat/afrikaans-probleme-en-oplossings Onttrek 11/04/2012.
Van der Sijs, N 2005. De geschiedenis van het Nederlands in een notendop. Amsterdam: Bakker.
Van der Sijs, N 2006. Calendrium van de Nederlandse taal: de geschiedenis van het Nederlands in jaartallen. Den Haag: SDU.
Van der Sijs, N; J Stroop & F Weerman (reds.) 2006. Wat iedereen van Nederlands moet weten en waarom. Amsterdam: Bakker.
Van der Sijs, N & P Verhoef 2004. Taal als mensenwerk. Het ontstaan van het ABN. Den Haag: SDU.
Van der Sijs, N & R Willemyns 2009. Het verhaal van een taal. Een geschiedenis van twaalf eeuwen. Amsterdam: Bakker.
Van der Wal, M & C van Bree 1992. Geschiedenis van het Nederlands. Utrecht: Aula.
Van der Wal, M & C van Bree 2008 (4de uitgawe). Geschiedenis van het Nederlands. Utrecht: Aula.
Van der Westhuizen, G 2012. 'Julle is die laaste groep.' Beeld, 23/08/2012, bl. 12.
Van der Wouden, T (red.) 2012. Roots of Afrikaans. Selected writings of Hans den Besten. Amsterdam: John Benjamins.
Van Eeden, P 1998. Afrikaans hoort by Nederlands. Ons Afrikaanse taalverdriet. Howick: Brevitas.
Van Niekerk, A 2012. Stories uit Amsterdam – Annemarie van Niekerk vertel. www.litnet.co.za/Article/stories-uit-amsterdam--annemarie-van-niekerk-vertel Onttrek 04/08/2012.
Van Oort, CP 2008. Die ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans: ’n Inklusiewe perspektief en implementering in ’n lesreeks. Ongepubliseerde doktorale proefskrif, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus.
Van Rensburg, FIJ (red.) 2004. Afrikaans – lewende taal van miljoene. Pretoria: Van Schaik.
Van Rensburg, MCJ 1989a. Soorte Afrikaans. In: Botha, TJR e.a. 1989: 436-467.
Van Rensburg, MCJ 1989b. Oor die depolitisering van Afrikaans: vertrekpunte vir 'n gesprek. Tydskrif vir Letterkunde XXVII (2): 42-47. Mei 1989.
Van Rensburg, MCJ 1992. Die demokratisering van Afrikaans, in: Webb, VN (red.) 1992: 181-199.
Van Rensburg, MCJ 1999. Afrikaans and Apartheid. International Journal for the Sociology of Language 136.
Van Rensburg, MCJ (red.) 1997. Afrikaans in Afrika. Pretoria: JL van Schaik Akademies.
Van Rensburg, MCJ 2012. En so het ons Afrikaans gekry. Pretoria: LAPA.
Van Wyk, A 2012. ‘Jy behou jou identiteit’. Onderhoud met dr Danny Titus. Beeld, 28/04/2012, bl. 11.
Verdam, J 1923. Uit de Geschiedenis der Nederlandsche Taal. Zutphen: WJ Thieme & Cie.
Visagie, J 2012a. Migrasie en die gemeenskappe noord van die Oranjerivier. In: Pretorius, F (red.) 2012: 97-116.
Visagie, J 2012b. Oorsake van die Groot Trek na die binneland. In: Pretorius, F (red.) 2012: 117-130.
Weijnen, AA 1974. Het algemeen beschaafd Nederlands historisch beschouw. Assen: Van Gorcum.
Willemse, H 2011. Toespraak tydens die 1ste Jaarvergadering van die Kaapse Kunste- en Uitsaai-assosiasie (KKUA) en Radio Kaapse Punt, Morawiese kerksaal, Albertweg, Landsdowne, Kaapstad. 16 Julie 2011.
Willemse, H & SE Dangor (reds.) 2011. The Afrikaans of the Cape Muslims. Pretoria: Protea.
Willemyns, R. 2013. Dutch. A biography of a language. Oxford: Oxford University Press.
31/03/2013
[1] Hierdie artikel is die verwerkte weergawe van 'n referaat met die titel: "Die storie van Afrikaans: perspektiewe op die verlede en die hede" wat gelewer is as 'n hoofreferaat (keynote) tydens die agtiende colloquium van die Internationale Vereeniging voor Neerlandistiek (IVN) van 28-31 Augustus 2012 by die Universitiet van Antwerpen in Antwerpen, België. Die terugvoer van keurders op die referaat is grondig verwerk in die teks van die artikel. Die titel van die artikel is verder gewysig deur ook die "toekoms" hierby te betrek. Die referaat en artikel vorm ook deel van 'n boekskryfprojek met as titel: Die storie van Afrikaans: van Europa tot Afrika met WAM Carstens en EH Raidt as outeurs. Volgens beplanning sal hierdie boek teen 2014 op die mark verskyn.
[2] In die boek Die storie van Afrikaans: van Europa tot Afrika met WAM Carstens en EH Raidt as outeurs sal hierdie verhaal in meer detail uiteengesit word. Volgens beplanning sal hierdie boek teen 2014 gepubliseer word by Protea-Uitgewers.
[3] In Carstens 2013 is die betoog wat verder volg, in meer besonderhede uiteengesit. Ter wille van die argument waarom dit gaan in hierdie artikel, is redelik vryelik uit hierdie artikel aangehaal omdat dit reeds daar verwoord is aan die hand van gedokumenteerde gegewens.
[4] Hierdie proses word grondig beskryf in Van Oort 2008 asook in Van Oort & Carstens 2013 en kom ook ter sprake in Van Rensburg 2012.
Die artikel verskyn ook binnekort in: Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans.Gepubliseer November 2013