Praktiese meertaligheid in SA - feit of fiksie? (2007)

 

Abstract

Practical multilingualism in South Africa – fact or fiction?

This article focuses attention on problems related to the implementation of multilingualism in a democratic South Africa, especially South Africa after 1994. It shows that, although many plans have been made and various structures have been established, the government, as main actor in the implementation process, only seems to be giving lip-service. References are also made regarding the role of Afrikaans in the process of making multilingualism a reality in present day South Africa.

1. Inleiding

2. Feit 1: Statistiek

3. Feit 2: Funksies

4. Feit 3: Faktore wat die groei/agteruitgang van ´n taal bepaal

5. Feit 4: Die SA Grondwet en die taalbepalings

6. Meertaligheid in die SA tale-opset

7. Samevatting

Bibliografie

 

1. Inleiding[1]

Oor meertaligheid en die implementeer daarvan in Suid-Afrika is al heelwat geskryf (in koerante, populêre tydskrifte en akademiese tydskrifte) en van gepraat (op kongres na kongres) sedert die totstandkoming van ’n demokratiese Suid-Afrika in 1994 (vergelyk o.m. Alexander 2004a, 2004b en 2005; Bertelsman 2005; Buys 2004; Deprez & Du Plessis (reds.), 2000; De Vries 2004; Kriel 2000; Louw 2004; Mahlangu 2004; Mvulane 2003; Mwaniki 2004; Pandor 2004; Pienaar 2001; Reagan 2001, 2004; Rossouw 2005b; Steward 2005; Van Coller & Steyn 2005; Van Niekerk 2004; Webb 1999, en talle ander) en dis waarskynlik tyd om die effek en effektiwiteit van die hele poging tot meertaligheid te evalueer. Is meertaligheid wel die norm in die land of nie? Is meertaligheid deel van die praktiese daaglikse aktiwiteite in SA? In hierdie artikel word kortliks aandag gegee aan ’n aantal kwessies wat saamhang met meertaligheid as konsep en die praktyk­making daarvan in die land. Dit is so dat meertalig­heid vir verskillende mense verskillende betekenisse inhou en dat ’n mens hier versigtig moet trap om potensiële politieke slaggate te vermy – Mahlangu 2004 sê bv. “(w)ithin the context of any particular country, language policy and the promotion of multilingualism in Africa is a political decision that should be driven by central government in conjunction with civil society”, dus kniediep in politiek en die poging tot sentralisering. As Afrikaans se rol in die talebedeling in SA dan ook genoem word, is die kans nog groter dat daar politiek van gemaak word, want die verwyt is so dikwels dat Afrikaanssprekendes meertaligheid slegs ondersteun om Afrikaans te bevorder of te bevoordeel (vgl. Bertelsman 2005, Coetzee 2004a, Pandor 2004, Steward 2005). Die kernvraag in hierdie verband is: hoe raak die taalopset in SA mense in die land se daaglikse doen en late? Speel meertaligheid in hierdie verband ’n rol? Indien wel, hoe?

In die loop van hierdie artikel kom die volgende kortliks ter sprake in ’n poging om op hierdie vrae antwoorde te probeer gee: (a) toepaslike statistiek oor die gebruik van tale in SA; (b) die funksies wat tale daagliks vervul in taalgemeenskappe; (c) faktore wat die groei/agteruitgang van ’n taal bepaal; (d) verliese van Afrikaans ná 1994 (as voorbeeld van die wegneem / verval / aantas van funksies); (e) grondwetlike bepalings oor taal in SA; (f) taalliggame in SA: taak en effek; (g) die toekoms van die talebedeling in SA: meertaligheid of eentaligheid?

Uiteraard is daar baie meer oor hierdie kwessie te sê as wat hier aan bod sal kan kom.

 

2. Feit 1: Statistiek

Die posisie van tale in SA en alles wat daarmee saamhang, kry inderdaad baie aandag in koerante en tydskrifte, in beide populêre en akademiese publikasies. Dit is verder ’n feit dat Afrikaans se posisie as taal onder tale in SA heelwat aandag trek en dat daar heel lewendig daaroor gedebatteer en geskryf word in die openbare media en internetgeselsgroepe. Publikasies soos Giliomee en Schlemmer (reds.) 2001 (Kruispad. Die toekoms van Afrikaans as openbare taal) en Van Rensburg (red.) 2004 (Afrikaans – lewende taal van miljoene) is byvoorbeeld tekenend van die huidige gesprek wat onder Afrikaans­sprekendes aan die gang is oor Afrikaans se posisie en rol in die demokratiese “nuwe” Suid-Afrika sedert 1994 (vgl. ook Brand 2005, Carstens 2006).

In baie gevalle word die getalle-argument (statistiek) voorgehou as gepraat word oor die gebruik en regte van tale sedert 1994 (vgl. o.m. Du Plessis 2001: 15-16, Van den Berg 2003, Van Rensburg (red.) 1997: 77-83). Hier onder volg vergelykende statistiek oor die 1996- en 2001-sensus (verkry vanaf SA Statistiek se webblad) en dit dien om (a) aan te dui in watter mate taalpatrone aan die skuif is en (b) hoe taalpatrone daar uitsien.

Taal (eerstetaalsprekers)

1996 (uitgedruk in %)

2001 (uitgedruk in %)

Zoeloe (isiZulu)

22,9

23,8

Xhosa (isiXhosa)

17,9

17,4

Afrikaans

14,4

13,3

Noord-Sotho (Sepedi/ SeSotho sa Leboa)

9,2

9,4

Tswana (Setswana)

8,2

8,2

Engels

8,6

8,2

Suid-Sotho (Sesotho)

7,7

7,9

Tsonga (Xitsonga)

4,4

4,4

Swati (Siswati)

2,5

2,7

Venda (Tshivenda)

2,2

2,3

Ndebele (isiNdebele)

1,5

1,6

Ander

0,6

0,5

Totaal

100

100

Ten spyte van wye persepsies oor Engels as taal van algemene omgang en as prestigetaal, daal hierdie taal se eerstetaalsprekers (8,6% tot 8,2% in 2001) (vgl. o.m. Alexander 2001: 9, Buys 2004: 35-36, Rademeyer 2006a). Engels as tweede en derde taal is wel wyd gevestig. Zoeloe is die taal met die meeste sprekers, gevolg deur Xhosa, Afrikaans, Sepedi en eers dan Engels. Hierdie statistiek dui ook duidelik die omvang van veeltaligheid in SA aan (vgl. ook Van Rensburg (red.) 1997: 78-84) – nie net bloot in terme van die Grondwet met sy elf tale as amptelike tale nie, maar ook in terme van die werklike gebruik van hierdie tale op grondvlak. Hierby kom ook nog ’n verskeidenheid ander tale van Europese (soos Duits, Frans, Nederlands, Portugees, e.a.) en Oosterse (soos Arabies, Goedjarati, Hindi, Tamil, Urdu, e.a.) oorsprong. Mvulane (2003: 2) sê hieroor: “South Africa is in a particularly unusual position in that it has more official languages at a national level than any other country. Several indigenous languages are spoken across provincial borders and regions in South Africa. These languages are shared by speech communities from different provinces across the country.” Dit skep die prentjie van ’n land waar baie tale daagliks gebruik word om in één samelewing oor die weg te kom – dis dus in wese ’n meertalige land. Die taalwerklikheid wys derhalwe duidelik dat SA ’n veeltalige land is en dat daar hard daaraan gewerk moet word om van hierdie feit praktyk te maak en nie net lippediens daaroor te bewys nie.

 

3. Feit 2: Funksies

In die gesprek oor taal in SA is dit van belang om ook aandag te gee aan die funksies wat tale daagliks vervul, juis omdat die verlies van funksies al hoe meer sy kop begin uitsteek. As ’n taal nie daarin slaag om die onderskeie funksies vir sy sprekersgemeenskap te vervul nie, is van die sprekers geneig om dan eerder ’n ander taal in te span om die betrokke funksies te vervul. Dis een van die hoofredes waarom soveel sprekers van Afrikatale geneig is om eerder Engels (of selfs Afrikaans) in te span as hulle primêre kommunikasie­middel. Johnson (2006:2) is byvoorbeeld hieroor van mening: “Since 1994 South Africa has rapidly and irreversibly moved towards becoming an English-speaking country.” Engels word dikwels as die taal van geleerdheid, as die prestigetaal in ’n land beskou en die strewe van sprekers van ander tale is om hierdie taal aan te leer en te gebruik om ook in hierdie prestige en geleerdheid te deel (vgl. o.m. Alexander 2004a en 2005b, Altern 1994, Buys 204: 36, Grové 2006, Johnson 2006, Kgosana 2006, Louw 2004, Mwaniki 2004: 89, Van Rensburg (red.) 1997: 58-59). ’n Taalpraktisyn, mev. Khethiwe Mboweni-Marais (aangehaal in Coetzee 2006) sê in hierdie verband: Ons moet ophou dink aan Engels as die enigste taal van mag en wat intelligent en gesofistikeerd kan klink. “Ons is besig om ander tale te vermoor.” Gerrit Brand (aangehaal in Die Vrye Afrikaan, 21 Oktober 2005: 15) wys op die ’noodsaaklike band tussen veeltaligheid en demokrasie’. Hy spreek ook kritiek uit op die “versweë aanname wat selfs by baie Afrikaanse intellektuele voorkom, naamlik dat Engels tog maar uiteindelik die lingua franca van SA moet wees...” Alexander (2004a: 1) sê hieroor duidelik dat Engels wel nie “the only show in town” in Suid-Afrika is nie. En verder (2004a: 6): “The simple fact of the matter is that English as a global language is here to stay, at least for the foreseeable future. We are opposed not to English but to the hegemonic position of English which necessarily puts other languages and varieties at risk to the point of threatening them with extinction.”

Steyn (1980: 15-18) se bekende onderskeid tussen die hoë en lae funksies van ’n taal is hier kortliks ter sake. Lae funksies het naamlik te doen met die gebruik van taal vir informele, spontane kommunikasie. Dit kom die mees tipiese in informele kontekste en in huisgesinsverband voor en dit word gebruik vir gesprekke met vriende, vloek, grappe vertel, ens. Hoë funksies daarenteen het te doen met die gebruik van taal op meer ’n formele vlak, soos in staatsinstellings, in die kerk as taal van godsdiensbelewing, in die hof as taal van verdediging, in die onderwys (skool en tersiêr), in die openbare media (radio, TV, koerante, tydskrifte), e.a. Hoë funksies val uiteen in drie groepe, t.w. (a) ekonomiese funksies: vir gebruik in die openbare sektor (staatsdiens, statutêre rade, munisipaliteite) en private sektor (maatskappye, winkels); (b) kulturele funksies: vir gebruik in die letterkunde, massamedia, godsdiens, onderwys, vermaaklikheidslewe; (c) praktiese funksies: die nuttigheidswaarde wat ’n taal vir die gebruikers daarvan het (m.a.w. Wat kan ek doen met die taal?). Dis vir ’n taal belangrik om deel te hê aan alle soorte hoë funksies anders begin dié besondere taal die kreeftegang gaan. Buys (2004: 39) wys ook op die belang van die behoud van funksies (hoog en laag) vir die langtermynoorlewing van ’n taal.

In die lig van die bogenoemde is dit ook belangrik om die volgende te besef:

  • As ’n taal nie ekonomiese waarde het nie, het dit ook nie praktiese waarde nie.
  • As ’n taal se funksies afgeskaal word, raak dit ook die praktiese nut van kennis van die betrokke taal (bv. taal in die tersiêre sektor, in die bemarkingswêreld).

Dis ook duidelik dat onderwys (op watter vlak ook al) die skakel is tussen die soorte funksies. In die lig hiervan is die gewoel verstaanbaar oor die belang van moedertaalonderrig en die rol wat dit speel in die bevordering van tale in die algemeen (vgl. o.a. Coetzee 2006, Grové 2006, Kamwangamalu 2004, Joubert 2006, Kgosana 2006, Lewis 2004, Malan 2006a, Pandor 2006, Pienaar 2001, Rademeyer 2005, Van der Rheede 2006, Van Rensburg (red.) 1997: 60-62, FIJ van Rensburg 2001, ).

Dis ook ’n feit dat die verwerwing of verlies van politieke mag bydra tot die behoud, vordering of inboet van funksies (vgl. Landman 2006). Die nuwe SA ná 1994 is tekenend hiervan: met die verlies in politieke mag van die Afrikaanse deel van die bevolking en die oorname van die politieke toneel deur die ANC het Afrikaans op sekere vlakke agteruit begin gaan, bv. t.o.v. hoftaal-, mediataal-, onderwys­taalfunksies, e.s.m. (Vgl. o.m. Carstens 2006, Johnson 2006, Landman 2006, Van Rensburg (red.) 2004.) Louw (2004: 238) wys in hierdie verband op die invloed wat die voorkeur aan die gebruik van Engels vir ander tale se funksies kan inhou: “The reality is, English has become South Africa’s dominant (metropolitan) language, while 10 of South Africa’s languages are peripheral – restricted to economically less developed areas, and to a smaller range of economic rules and functions.” Louw sê duidelik dat as ’n taal beskou word as ’n periferale taal (taal wat op die rand lê, van mindere waarde is, wat beperk aangewend kan word), dan begin die geleidelike verlies van funksies. Taalverskuiwing kan die gevolg wees: gee voorkeur aan ’n ander taal as jou eie en dit op sigself impliseer reeds ’n funksieverlies (soos in status). Die gevare daarvan op lang termyn is duidelik. Die kostefaktor (dat veeltaligheid te duur is) word ook heel dikwels ingespan om argumente oor verder verliese teen te werk. Dis wel opmerklik dat Afrikatale nie ’n ooreenstemmende styging in status en gebruiksvlakke ervaar het nie (vgl. Alexander 2004, Johnson 2006, Webb 2001). Dis verder ook duidelik dat die behoud of verlies van funksies ’n beduidende invloed het op die oorlewing/vordering/ agteruitgaan van taal. Steyn (1980) sê hieroor:

  • ·"Die groei of agteruitgang van ’n taal blyk uit die toename of afname van sy gebruik in sy hoë funksies" (Steyn 1980: 18)
  • "Die verlies van hoë funksies lei dikwels tot ’n verlies van lae funksies” (bl. 18)
  • "Wanneer ’n taal sy vernaamste lae funksie – die taal van die huisgesin – verloor het, is die moontlikheid op oorlewing bitter skraal, al herwin hy later die verlore hoë funksies." (bl. 18)

Hieruit blyk ook weer: (a) ’n taal moet hoë sowel as lae funksies hê vir oorlewing of groei en (b) dis van belang vir die sprekers van ’n taal om hulle konstant te beywer om die betrokke taal in alle funksies te behou – op alle vlakke – anders word dit ’n ‘dooie taal’ (bv. Latyn).

In die geval van Afrikaans is daar aanduidings dat daar hard daaraan gewerk word om Afrikaans in al sy funksies behoue te laat bly (vgl. Carstens 2006, Du Plessis 2006a, Du Toit 2006, Landman 2006, Pienaar 2006, Rademeyer 2006). Bertelsman (2005) sê byvoorbeeld dat “die Afrikaanse gemeenskap tans besonder begaan (is) oor die sogenaamde hoër taalfunksies”, o.a. na aanleiding van die debat oor Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit van Stellenbosch (vgl. o.m. Bothma 2006; Brink 2006; De Vries 2006; Du Plessis 2006a, 2006b; Gerwel 2006; Giliomee 2005, 2006a, 2006b; Jacobs 2006; John 2006; Johnson 2006; Landman & Le Roux 2006; C Malan 2006; K Malan 2005; M Malan 2006a, 2006b; Retief 2006; Rossouw 2005c; F Slabbert 2006; Van Niekerk 2006). Prof. Hennie van Coller, voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, sê in hierdie verband ‘die waarskuwingsligte vir Afrikaans op universiteitsvlak flikker nie meer; hulle skyn reeds helder’ (Du Toit 2006). Hy wys verder op die domino-effek as Afrikaans byvoorbeeld sy funksie as universiteitstaal sal verloor: “Ons moet goed besef dat as Afrikaans op universiteit verdwyn, die hoër funksies van Afrikaans daarmee heen sal wees” (Du Toit 2006). Landman (2006) voeg hierby: “As ’n taal se kop- en intellektuele ruimte in die slag bly, dan byt sy media en koerante en literatuur ook in die stof. Die ‘demokratiese’ verengelsing van hoëronderwysinstellings moet gesien word vir wat dit is: magsmisbruik.”

Die geskiedenis van Afrikaans toon dat die Afrikaanse gemeenskap besonder hard daaraan gewerk het om Afrikaans in al sy funksies te vestig en uit te bou – die laefunksietaal van die 19de eeu het vroeg in die 20ste eeu (1925) ’n hoëfunksietaal geword, ’n taal wat daarop aanspraak kan maak dat dit met verloop van tyd al die funksies ontwikkel het wat die sprekers van Afrikaans nodig het om daagliks daarmee oor die weg te kom oor alle vlakke van die samelewing (vgl. o.m. Johnson 2006, Raidt 1991, Schlemmer & Giliomee 2001, Steyn 1980; Van Rensburg (red.) 1997, Van Rensburg (red.) 2004, Webb (red.) 1992). Van Rensburg (red.) (1997: 49) vat dit só saam: “In die geskiedenis van Afrikaans kan daar op ’n hele aantal pogings gewys word wat ten doel gehad het Afrikaans só te bevorder dat die taal meer funksies bykry sodat daar meer dinge daarmee gedoen kan word... ’n Amptelike taal moet verskeie rolle kan vervul. Afrikaans het dié funksies relatief vinnig bygekry.”

Die geskiedenis wys ongelukkig ook uit dat Afrikaans oor die jare wel só bevorder is dat dit ander tale se ontwikkeling gestrem het (vgl. Pienaar 2004, Van Rensburg (red.) 1997: 54-55, Webb (red.) 1992) en dat Afrikaans daardeur gestigmatiseerd geraak het. Dit het vanselfsprekend ’n invloed op die wyse waarna mense na die taal en sy sprekers kyk (vgl. Jeffreys 2006, Van Rensburg 1989, Webb 1997) en dit het in die nuwe politieke landskap ná 1994 ook ’n invloed gehad op die pogings tot marginalisering van Afrikaans weens sy negatiewe politieke assosiasie (vgl. Brand 2005; Du Preez 2006; Grut 2004; Johnson 2006; Perry 2003: 183; Rantoa 2005; Van Rensburg (red.) 1997: 58; Verhoef 1996; Webb 1997, 2001).

Bertelsman (2005) sê dat ten spyte van die afskaal van funksies op bepaalde vlakke Afrikaans nog minder probleme het as ander tale in Suid-Afrika: “Afrikaans as voertaal in die hoër onderwys het wel veld verloor, maar dit fungeer darem nog as sodanig. Verder is daar ’n nasionale radiodiens (sonder grense, nogal), talle dag- en weekblaaie en ’n produktiewe uitgewersbedryf. Daarenteen word die ander inheemse tale (...) slegs by uitsondering as voertaal in die hoër onderwys gebruik, radio-uitsendings word slegs op ’n streekgrondslag aangebied, daar is feitlik geen dag- of weekblaaie nie, om van meer ambisieuse publikasies nie eens te praat nie.” Volgens Bertelsman kan daar nie verwag word dat die inheemse tale hulle sal beywer vir Afrikaans as taal nie alvorens hulle nie hulle eie tale as sodanig opgehef het nie: “Tensy die sprekers van ander inheemse tale hulle eie (basiese) taal- en kultuurregte begin waardeer, opeis en uitleef, sal hulle nie ’n duit omgee vir die voort­bestaan van Afrikaans nie, en nog minder vir die behoud van haar hoër funksies.” Die omgekeerde geld ook hier. Buys (2004: 41) druk hom só hieroor uit: “Dit sou goed wees as meer sprekers van Afrikatale tot die stryd van veeltaligheid sou toetree. Dit kan nie van Afrikaners verwag word om hulle te beywer vir die uitbou van swart tale as dit nie van die sprekers van die tale self kom nie... Afrikaanssprekendes is egter vennote van moedertaalsprekers van ander inheemse tale omdat hulle reeds oor ondervinding beskik oor hoe ’n inheemse taal bemagtig kan word deur dit te ontwikkel en te handhaaf as volwaardige taal wat in die ekonomie en werkplek as gelykes naas die wêreldtaal Engels kan bestaan. Afrikaans­sprekendes het met hulle beywering vir die vestiging van Afrikaans naas Engels dus die deur oopgemaak vir ander inheemse tale om dieselfde te doen.” Dus: een taal sal ’n ander se funksiebehoud steun as daardie taal sy eie funksies stewig gevestig het. Mwaniki (2004: 101) sê vir die waarmaak van grondwetlike meertaligheid in Suid-Afrika sal daar bewuste ontwikkeling van alle tale moet plaasvind “to a level where they can be able to serve almost all if not all of the functions in a modern and changing society”. Daar wag dus groot uitdagings op beleidmakers en beleiduitvoerders om seker te maak dat die verskeidenheid tale in die land só ontwikkel word dat alle moontlike funksies van alle tale vervul kan word. Voordat dit nie werklikheid word nie, is die kans skraal dat meertaligheid in sy volle implikasie waar sal kan word.

 

4. Feit 3: Faktore wat die groei/agteruitgang van ´n taal bepaal

’n Taal se oorlewing (en dus sy behoud en groei in ’n meertalige samelewing) word nie net gemeet aan die behoud of verlies van dié taal se funksies nie, maar ook aan talle ander buitetalige faktore (soos normale demografiese prosesse, immigrasie, status van ’n taal in ’n gemeenskap, politieke magsverskuiwing, e.a.) waaroor Steyn (1980: 30 e.v.) breedvoerig uitwei. (Vgl. ook Steyn 2006.)

Steyn (1980: Voorwoord) sê dat dit onmoontlik is “om sinvol oor die toekoms van enige taal te praat as ’n mens nie weet hoe en waarom tale groei en kwyn en wat die sprekers van kwynende tale gedoen het en vandag nog doen om die agteruitgang van hulle tale te stuit nie”. Dis dan hier ook die geval: in Suid-Afrika, wat ’n grondwetlik-gewaarborgde meertalige land is, is dit so dat van die tale in die land om bepaalde redes juis nie groei nie (tipies die Afrikatale) en dat van hulle begin kwyn, bv. wat betref die afskaal van funksies of selfs die nieverkryging van bepaalde hoëtaalfunksies. Selfs Afrikaans word hierdeur geraak – daar is byvoorbeeld druk op Afrikaans se funksies in onderwystaalverband. Carstens (2006) wys in hierdie verband op slegs enkele voorbeelde: die debakel rakende Afrikaans as medium van (moedertaal)onderrig aan die Laerskool Mikro in Kuilsrivier en by skole in die Noord-Kaap, die tot niet gaan van die Dept. Afrikaans aan die Universiteit van Fort Hare met ingang Januarie 2006 of die omstredenheid rakende die sogenaamde T-opsie (d.w.s. tweetaalopsie) aan die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan die Universiteit van Stellenbosch (oor laasgenoemde sien ook weer o.m. Botham 2006; Brink 2006; Du Plessis 2006a, 2006b; Gerwel 2006; Giliomee 2005, 2006a en 2006b; Jacobs 2006; John 2006; Landman & Le Roux 2006; C Malan 2006; K Malan 2005; M Malan 2006a, 2006b; Retief 2006; Rossouw 2005c; F Slabbert 2006; Van Niekerk 2006; Die Vrye Afrikaan 21 Oktober 2005: 15.)

Dat hierdie verwikkelinge voortgaan sonder ’n oënskynlike poging van die kant van die owerheid om die teendeel te bewys, is tekenend van ’n gevestigde persepsie dat daar politiek-geïnspireerde druk uit regeringskant is op die afskaal van Afrikaans as hoëfunksietaal in die onderwys (vgl. Colditz 2006, Louw 2004, Olivier 2004). Kotzé (2004: 63) sê dis duidelik dat die nuwe regering “in die nadraai van die 1994-wending ... ’n nieamptelike verengelsingsbeleid begin volg (het), ten spyte van bepalings in die Grondwet waardeur meertaligheid erken en beskerm word”. Giliomee & Schlemmer sê hieroor aansluitend in ’n verslag (2006: 23) die volgende: “Die regering was tot dusver geensins verbind tot die beginsel van moedertaalonderrig nie. Voertale op staatskole, selfs op primêre vlak, het kort ná 1994 na Engels begin swenk.” Statistiek ter stawing hiervan (verstrek in bogenoemde verslag) spreek vanself: 11% van primêre skole het teen 1998 Afrikaans as voertaal gehad en 55% weer Engels as voertaal. Op sekondêre vlak lyk dit soos volg: 14% Afrikaans as voertaal en 79% weer Engels as voertaal, met Afrikatale wat slegs in enkele gevalle gebruik word. Heese (2005) verwys na navorsing van Du Plessis (2004) in hierdie verband: wat die skole betref, het daar in die ses provinsies wat ondersoek is, in die periode van 1993 tot 2003 ’n afname van 1 396 tot 844 enkelmedium- Afrikaanse skole plaasgevind. Aan die einde van dié periode was slegs 59,6% nog enkelmedium. In hierdie periode is daar nie rekord van ’n enkele enkelmedium- Engelstalige skool wat van voertaal verander het nie. Gedurende hierdie periode het 150 dubbelmedium geword, 377 het parallelmedium geword en 30 het geheel en al verengels. In skole wat in 1993 100% Afrikaansmedium was, het in 2003 slegs 84,8% van die leerders deur medium van Afrikaans onderrig ontvang. Giliomee (2003: 22) wys ook op die feit dat die aantal Afrikaanse skole beduidend verminder in die tien jaar van demokrasie: “By the beginning of the 1990’s there were 1 800 schools which were white and Afrikaans; by 2002 only 300 single-medium Afrikaans schools remained, of which almost all were racially inclusive. A major crisis is building up with respect to the training of teachers that can offer Afrikaans-medium instruction in the different school subjects. At present only a quarter of the teachers that will be necessary in five years time are being trained.” Daarom: “Hoewel die Grondwet ... enkelmediumskole erken, plaas amptenare in verskeie provinsies druk op alle Afrikaanse enkelmediumskole om dubbel- en parallelmedium te word, terwyl die Engelse enkelmediumskole met rus gelaat word. Dus: die strewe is na amptelike Engelstaligheid, en lippediens word bewys aan veeltaligheid, hoewel dit ’n wesenlike aspek is van wat ná die apartheidstyd so optimisties ‘die reënboognasie’ genoem is” (Van Coller & Steyn 2005: 16).

’n Mens vorm hier bo ’n prentjie van druk op die volwaardige uitvoer van tale se funksies. Afrikaans het reeds al die nodige hoëtaalfunksies in die loop van sy kort standaardiseringsgeskiedens verwerf (vgl. Brand 2005, Du Preez 2006), terwyl die meerderheid van die Afrikatale duidelik nog nie hierdie funksies verwerf het nie (Alexander 2004). Dat dit nog nie gebeur het nie, is ’n taaltragedie en ook ’n aanklag teen die regering se wil om die nasionale taalplan in sy volle konsekwensies te implementeer. In terme van die taalbepalings van die Grondwet sou ’n mens geredelik kon verwag dat Afrikaans sedert 1994 sonder probleme al sy funksie sou kon behou en selfs sou kon uitbou, terwyl in die geval van Afrikatale hierdie tale juis teoreties die geleentheid en ruimte sou kry om al hierdie funksies by te kry en uit te bou sodat hierdie tale volwaardige hoëfunksietale kan word (Webb 2001). Die werklikheid wat hier bo t.o.v. Afrikaans aangedui is, wys daarop dat nie in die praktyk gebeur het nie. Wat sou die rede hiervoor wees? Mwaniki (2004: 83) sê eksplisiet die staat “has a constitutional duty to progressively pursue the realisation of rights contained in the Constitution, language rights included.” Waarom gebeur dit dan nie as dit so duidelik is nie? Mwaniki (2004: 88) verwys in hierdie verband na navorsers soos Alexander, Du Plessis en Kamwangamalu se uitsprake oor die gebrek aan politieke wil en politieke steun om meertaligheid te implementeer – “Lack of political will and political support on the part of the new South African government has been cited as one of the reasons for the non-implementation of the multilingual language policy and plan as envisioned in the Constitution” en verder ook weer (bl. 89): “Therefore, the failure of South Africa’s political actors to lend political support for the implementation of a multilingual language policy and language plan contradicts the ethos that informed their negotiating of the 1996 Constitution. It is tantamount to undermining the very Constitution that they undertake to uphold and protect.”

Dit maak in die lig hiervan sin om net weer kortliks na enkele van Steyn (1980) se (bykans tydlose) uitsprake oor die invloed van die verkryging van politieke mag op die groei en kwyn van tale te gaan kyk:

  • “Een manier om ’n taal te onderdruk, is om hom sy amptelike status te ontneem (of, as hy die status nog nie gehad het nie, dit konsekwent te weier) in die gebiede waar die mense dit gebruik.” (bl. 32)
  • “Taalimperialistiese maatreëls in die staatsdiens het twee nadelige gevolge vir die minderheidstaal. Die eerste is dat sy sprekers in ’n vreemde taal met die owerheid moet praat of skryf (of mense huur wat dit vir hulle kan doen) of kontrakte, testamente, telegramme en ander amptelike dokumente opstel. ’n Verbod op ’n taal in die staatsdiens beteken ook ’n versperring in die sosiale mobiliteit van die lede van die benadeelde taalgemeenskap. Hulle moet die bevoorregte taal eers ken voordat hulle in aanmerking kom vir aanstelling of bevordering. ... Om hierdie versperring te oorkom, neem sommige lede van die minderheidstaal naderhand die bevoorregte taal aan ‘sodat ons kinders nie eendag soos ons moet sukkel nie’.” (bl. 33)
  • ’n Owerheid kan ’n taal wat hy onsimpatiek gesind is, ook onregstreeks benadeel deur maatreëls (of gebrek aan maatreëls) wat nie direk met taalsake te maak het nie.” (bl. 36)
  • “Die onderwys kan help om ’n bevolking ’n ander taal te laat aanneem as (a) dit ekonomies voordelig is om die imperialistiese taal aan te leer (bv. as kennis daarvan noodsaaklik is vir aanstelling in goeie poste), en (b) daar geen kragtige taalbewuste nasionalisme onder die bevolking, veral onder die ouers en geestelike leiers, bestaan nie.” (bl. 38)
  • Dis vir elke taal belangrik dat sy spreker seggenskap behou oor sake wat sy wel en wee raak, anders kan ’n vyandige owerheid hom in die godsdiens, onderwys en kultuurlewe benadeel.” (bl. 39)

Hierdie aanhalings spreek vanself: ’n owerheid wat nie erns maak met die tale van die gemeenskappe wat in ’n meertalige omgewing bly nie, maak hom skuldig aan growwe nalatigheid, wat bykans aan misdadigheid grens veral as die implikasies van die Grondwetlike taalbepalings volledig verreken word. Die duidelike voorkeur aan Engels deur regeringsinstansies en -amptenare en die feit dat daar nie ’n behoorlike klimaat geskep word vir die groei en ontwikkeling van die vroeër gemarginaliseerde Afrikatale nie, val in hierdie kategorie. Politieke mag speel (direk en indirek) in hierdie proses ’n kernrol en dit mag nooit buite rekening gelaat word in die taaldebat nie, juis omdat dit belemmerend inwerk op die groei en ontwikkeling van tale.

Afrikaans het byvoorbeeld sedert 1994 terugslae op talle terreine beleef (soos reeds hierbo uitgelig is), maar ook t.o.v. ander aspekte: soos bv. waar die SAL kort voor lank die SAA geword het (en Afrikaans en Afrikatale ’n vreemde kommunikasiemiddel op vliegtuie is); die Poskantoor wat voorkeur aan Engels gee; staatsdepartemente wat oor ’n breë vlak taalbepalings ignoreer; die poging om howe te verengels; die Parlement wat voorkeur gee aan Engels as taal van rekordhouding; die SAUK wat kort voor lank die SABC geword het (en volhou om voorkeur aan Engels bo die ander SA tale te gee – daar is wel heelwat meer Afrikatale op TV ná 1994 as voor 1994); die voorkeur aan Engels as onderrigmedium (waar “access” belangriker is as moedertaalonderrig); waar Afrikaansmedium universiteite moet saamsmelt met Engelsmedium universiteite, e.s.m. (Vgl. ook Carstens 2006, Du Plessis 2006a, Louw 2004, Perry 2003: 183.)

Saam hiermee het die ontwikkeling en groei by Afrikatale nie gekom soos verwag is nie (vgl. o.m. hieroor Broeder e.a. 2002: 73 e.v., Mwaniki 2004: 91 e.v.) en daar is groot teleurstelling op grondvlak hieroor, soos blyk uit die volgende: (a) die boekebedryf in Afrikatale het byvoorbeeld bitter min groei beleef, en daar was eerder afskaling; (b) Afrikataalsprekende ouers gee ook al hoe meer voorkeur aan Engels as onderrigmedium en ontken hierdeur die belang van moedertaalonderrig vir kinders op die ontvanklike fase (vgl. o.m. Johnson 2006); (c) die inskrywing vir kursusse in Afrikatale aan universiteite neem beduidend af en in bepaalde gevalle is departemente op die rand van sluiting.

Dis hieruit baie duidelik: die verwagtinge oor tale n.a.v. die 1993- en 1996-Grondwet realiseer nie en die geleenthede vir taalpraktisyns (tolkwerk en vertaalwerk) neem nie toe soos verwag is in ’n werklik veeltalige samelewing nie. Meertaligheid word derhalwe nie as die praktykswerklikheid in ’n grondwetlik-multitalige samelewing ervaar nie, juis omdat die geleenthede om dit te doen, nie benut word nie – die regering moet grootliks hiervoor pa staan. Vervolgens: wat sê die Grondwet presies oor taal en hoe dit behoort te funksioneer in SA?

 

5. Feit 4: Die SA Grondwet en die taalbepalings

Daar is hier bo al etlike kere verwys na wat die taalbepalings in die Grondwet inhou. Die 1996-weergawe (Wet 108 van 1996) volg in Engels hier onder:

6. (1) The official languages of the Republic are Sepedi, Sesotho, Setswana, siSwati,Tshivenda, Xitsonga, Afrikaans, English, isiNdebele, isiXhosa and isiZulu.
6. (2) Recognizing the historically diminished use and status of the indigenous languages of our people, the state must take practical and positive measures to elevate the status and advance the use of these languages.
6. (3) (a) The national government and provincial governments may use any particular official languages for the purposes of government, taking into account usage, practicality, expense, regional circumstances and the balance of the needs and preferences of the population as a whole or in the province concerned; but the national government and each provincial government must use at least two official languages.
(b) Municipalities must take into account the language usage and preferences of their residents.
6. (4) The national government and provincial governments, by legislative and other measures, must regulate and monitor their use of official languages. … all official languages must enjoy parity of esteem and must be treated equitably.
6. (5) A Pan South African Language Board established by national legislation, must -

(a) promote, and create conditions for, the development and use of -

(i) all official languages;
(ii) the Khoi, Nama ­en San languages; and
(iii) sign language; and

(b) promote and ensure respect for -

(i) all languages commonly used by communities in South Africa, including German, Greek, Gujarati, Hindi, Portuguese, Tamil, Telugu and Urdu; and
(ii) Arabic, Hebrew, Sanskrit and other languages used for religious purposes in South Africa.

Hierdie bepalings sê vir ons ’n paar dinge baie duidelik:

  • Meertaligheid lê ten gronde aan die grondwet – elf tale word erken as amptelike tale. (Vgl. o.m. Colditz 2006, Du Plessis & Pretorius 2001, Du Plessis 2002, Johnson 2006, Lubbe & Truter 2005: 37-38, Olivier 1995, Steyn 1996, Strydom 2003, Webb 2001.)
  • Meertaligheid moet gekoester word.
  • Die staat moet ’n kernrol speel in die waarmaak van die taalbepalings. Daar rus in der waarheid ’n plig op die staat om die status van veral die ‘inheemse tale’ ‘te verhoog en hulle gebruik te bevorder’.
  • Daar moet onderlinge respek vir ander se tale wees.
  • Tale moet as gelykes behandel word, m.a.w. een taal is nie ‘meer gelyk’ as ander nie (vgl. Alexander 2004a).
  • Tale se status mag nie aangetas word nie (vgl. Landman 2006).
  • Daar moet ’n formele struktuur, t.w. PanSAT, tot stand kom om die taalbepalings waar te maak.

Indien die volgende twee bepalings hiermee saam gelees word, dan raak die prentjie nog duideliker:

Art. 29 (Onderwys)

29. (2) Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. …

Art. 30 (Taal en kultuur)

30. Elkeen het die reg om die taal van eie keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van eie keuse deel te neem, maar niemand wat hierdie regte uitoefen, mag dit doen op ’n wyse wat met enige bepaling van die Handves van regte onbestaanbaar is nie.

Taal kry dus die volle steun van die Grondwet en dit moet ook as sodanig waar gemaak word (vgl. Strydom 2003, Vrydaggroep 2001). Uit hierdie bepalings volg twee belangrike sake: eerstens moet daar planne gemaak word om reg te laat geskied aan die opdrag van die Grondwet en tweedens moet daar ’n struktuur of strukture tot stand om te help om die planne te implementeer.

PanSAT het die taak om ’n struktuur tot stand te bring aangepak deur ’n aantal liggame te konseptualiseer wat moes help met die implementeer van die plan(ne) (vgl. o.m. Perry 2003). Hierdie liggame, t.w. provinsiale taalkomitees, nasionale taalliggame en nasionale leksikografiese eenhede, het elkeen ’n eie opdrag en taak gekry om ten uitvoer te bring.

§ Provinsiale taalkomitees (PTK) (nege – een per provinsie; is saamgestel is op grond van die taalsamestellings van elke besondere provinsie): Die taak van hierdie komitee is om in elke provinsie meertaligheid te bevorder en ’n bewusmakingsproses oor tale in die betrokke provinsie te begin. Dit hou in dat taal vir die betrokke provinsie bereël moet word, en dit behoort o.m. te geskied in terme van ’n eiesoortige provinsiale taalwet.

§ Nasionale taalliggame (NTL) (13 in totaal – een vir elke amptelike taal asook een vir gebaretaal en een vir die Khoe- en die Santale): Die taak van hierdie liggame is om vir elke taal die nodige maatreëls te tref om daardie besondere taal optimaal te bevorder, o.m. deur die status van die betrokke taal in stand te hou of uit te bou (in die geval van die inheemse tale) en die struktuur van die betrokke taal te handhaaf. “Their members are selected based on their specialist knowledge of each language in question, and their functions are the standardization of spelling and orthography, terminology, literature and lexicography, as well as to conduct research and initiate projects such as educational projects” (PanSAT-webblad).

§ Nasionale leksikografiese eenhede (NLE) (13 in totaal – een vir elke amptelike taal asook een vir gebaretaal en een vir die Khoe- en die Santale): Hierdie liggame het ten doel om die woordeskat van elke taal op te teken en desnoods ook te bevorder. Die primêre doel van hierdie liggame is die saamstel en maak van woordeboeke.

Teoreties klink dit of alles goed behoort te gaan met hierdie strukture, maar in die praktyk is dinge nie altyd wat dit veronderstel is om te wees nie. Die betrokke taalentiteite is helaas nie almal so effektief as wat PanSAT seker sou wou hê nie (vgl. Perry 2003: 159 e.v. vir kritiek op die werking en effektiwiteit van PanSAT). Selfs ná tien jaar is die provinsiale taalkomitees in min provinsies werklik funksioneel (met die Wes-Kaap, die Noordwes-Provinsie en Gauteng as moontlike uitsonderings), hoofsaaklik weens gebrekkige politieke en infrastrukturele steun. Die meerderheid nasionale taalliggame vergader bloot gereeld en kom weens ’n gebrek aan befondsing (om projekte mee te doen) nie behoorlik van die grond af nie. Wat betref die nasionale leksikografiese eenhede is daar ook nie te veel positief te rapporteer nie omdat daar met die uitsondering van die Afrikaanse NLE (die Buro van die WAT op Stellenbosch) en die Engelse NLE (in Grahamstad) nog nie besondere produkte tot stand gekom het nie.

Beteken dit dan dat PanSAT se strukture in wese oneffektief is? ’n Mens sou hierop ’n gekwalifiseerde ja kon antwoord, en dis moeilik om die redes vir die skynbare gebrek aan effektiwiteit van die PanSAT-strukture te bepaal, maar die volgende drie aspekte kan wel dien as moontlike redes hiervoor: (a) gebrekkige finansiële steun van sowel die nasionale as provinsiale regerings (vgl. Broeder e.a. 2002: 73, Mwaniki 2004: 93, 103), (b) ‘n gebrek aan politieke wil om taal die staanplek te gee wat dit in die SA samelewing behoort te kry (vgl. Mwaniki 2004: 88-89) en (c) ’n gebrek aan ’n veeltaligheidstaalindustrie (Mwaniki 2004: 94). Mwaniki (2004: 90) beskou politieke wil en politieke ondersteuning as van die kernfaktore wat aanwesig moet wees alvorens die taalbepalings in die grondwet volwaardig praktyk sal kan word. Hiersonder is die implementeer van enige taalplan (hoe goed ook al) in wese doodgebore. Die geskiedenis wys dat taal nie vir politici ’n dringende saak is nie, maar sigbare veranderings soos naamsveranderings wel. Daar sal derhalwe in die gemoedere van die bewindhebbers in die regering, veral diegene wat uitsprake oor taalsake kan maak en besluite daaroor kan neem, ’n groot kopskuif moet kom.

Afgesien van PanSAT (as grondwetlik-opgedraagde struktuur) is daar ook die Nasionale Taaldiens (NTD/NLS) wat deel van die nasionale regeringstrukture uitmaak. Die NTD is die Staat se afdeling waar daar deur die nasionale Departement van Kuns en Kultuur erkenning gegee word aan die ‘taalkundige verskeidenheid van die land as bron om alle Suid-Afrikaners te bemagtig om volledig deel te neem aan die land se sosiale, politieke en ekonomiese lewe’. Die NTD doen dit “by providing language services that promotes multilingualism and language diversity nationwide” (aangehaal uit ’n bekend­stellingspamflet van die NTD). Met die oog hierop het die NTD drie fokusse: (a) terminologie-ontwikkeling, (b) vertaling en redigering asook (c) taalbeplanning. Volgens die webblad (2006) van die nasionale taaldiens het die NTD die volgende opdrag en take: “Die Nasionale Taaldiens bevorder en fasiliteer kommunikasie tussen tale. In ooreenstemming met die taalvereistes van die Grondwet bestuur die NTD die taaldiversiteit van ons samelewing en is hy verantwoordelik vir die benutting van al die tale van ons mense deur beleidsmaatreëls in werking te stel wat gemik is op die bevordering van die gebruik van al hierdie tale, ook van die tale wat histories afgeskeep is.

Die kern van die NTD se werksaamhede is om aan die taalvereistes van die Grondwet te voldoen deur 'n vertaal- en nasiendiens in al die amptelike tale te verskaf ten einde kommunikasie oor taalgrense heen te fasiliteer en te bevorder, en deur taaldiversiteit deur middel van taalbeplannings- en terminologieprojekte te bestuur. Die NTD fungeer as die regering se professionele taalsteunstelsel deur amptelike dokumente in al die amptelike tale te vertaal. Die terminologiediens van die NTD verleen hulp met die ontwikkeling en modernisering van die tegniese woordeskat van die amptelike tale. Die taalbeplanningswerksaamhede omvat die advisering van die regering oor die ontwikkeling van taalbeleid en oor implementeringstrategieë.”

Volgens die PanSAT-webblad (2006) is daar ’n onderskeid tussen die liggame wat taal se belange moet uitdra: “Government (dus die Nasionale Taaldiens – WAMC) is charged at both national and provincial levels to regulate and monitor their use of official languages, while PanSALB is charged with the more pro-active tasks of promoting and creating conditions for the development and use of all official languages, the Khoe, Nama and San as well as Sign Language, and to promote and ensure respect for the heritage languages.” ’n Mens kan hierby ook die sg. art. 185-kommissie voeg (die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe) wat o.m. as doel het die bevorder van respek vir die regte van kulturele, godsdienstige en linguistiese gemeenskappe. Dus nog ’n liggaam wat hom beywer vir taal, weliswaar op ’n ander vlak, maar nog taal as sodanig – wat ook reeds deur PanSAT en die NTD gedoen word (vgl. o.m. Perry 2003: 191-193).

As ’n mens deeglik kyk na die funksies en take van PanSAT en die Nasionale Taaldiens (NTD), is dit opvallend dat daar oorvleueling van funksies en take voorkom (vgl. Perry 2003: 154). Die nasionale leksikografiese eenhede hou hulle byvoorbeeld ook besig met terminologie-ontwikkeling (woordeboeke sluit per definisie terminologie in) en die nasionale taalliggame werk ook op die terrein van standaardisering en statusbeplanning. Op inisiatief en met befondsing van die NTD het daar in die loop van 2004 en 2005 ’n aantal Language Research and Development Centers (LRDC) by van die voorheen benadeelde universiteite tot stand gekom. Hierdie sentrums moet ook terminologie ontwikkel; dus ’n verdere oorvleuelende entiteit.

Die beleidsdokumente oor en selfs implementeringsplanne vir ’n Nasionale Taalplan vir SA is reeds ontwikkel (beloof in 2000, afgerond in 2003, maar teen 2005 nog steeds nie geïmplementeer nie). Hierdie plan het ten doel om die talebedeling so te bereël dat meertaligheid in SA werklikheid word. Die dilemma is net: die plan word nie verder gevoer as die konseptuele fase nie.

Hier bo is die agtergrond geskets oor die taalopset in SA. In die volgende afdeling word kortliks uitgekom by die vraag of praktiese meertaligheid in SA feit of fiksie is.

 

6. Meertaligheid in die SA tale-opset

In die loop van hierdie artikel is aangedui dat die raamwerk vir die implementering van grondwetlike meertaligheid in SA ’n gegewe is, ’n voldonge feit, en wel op ’n verskeidenheid van vlakke – via die taalbepalings in die Grondwet, die talle strukture (soos PanSAT en die Nasionale Taaldiens) wat reeds gevestig is. Wat is dan die probleem?

Die groot struikelblok vir die waarmaak van die grondwetlik-aanvaarde konsep van meertaligheid skyn die onwilligheid t.o.v. implementering te wees. Redes hiervoor is waarskynlik dieselfde as wat hier bo oor PanSAT se gebrekkige effektiwiteit gesê is: ’n gebrek aan politieke wil en steun van die regering. Regeringgesteunde taalinstansies, soos PanSAT en die Nasionale Taaldiens, kan ook net soveel doen as wat hulle mandaat sê. Die inisiatief vir implementering moet kom van die kant van die kabinet en die parlement en dit het nog nie gebeur nie. Webb (2001: 170) sê die volgende oor meertaligheid in SA: “ideaal gesien, behoort die elf amptelike tale van SA in ‘volkome ewewig’ te bestaan, dit wil sê hulle moet werklik gelykwaardig wees, Suid-Afrikaanse burgers moet mekaar se tale ken en geen huiwering ondervind om van een oor te slaan na ’n ander in ’n gees van respek en erkenning nie, en die konflikpotensiaal wat daar dikwels in taalgemengde gemeenskappe voorkom, moet afwesig wees.”

Verhoef (1998: 36) wys daarop dat daar van hierdie ideaal min in die praktyk tereg kom:

“By ’n noukeurige waarneming van die SA taalsituasie oor die algemeen, spesifiek met betrekking tot die bevordering van meertaligheid, lyk dit of daar spanning bestaan tussen die makro-taalplan en die implementering daarvan op mikro-vlak. Hierdie waarneming word veral empiries bevestig uit die aanduidings dat die breë Suid-Afrikaanse bevolking nie so gretig is as wat aanvanklik gemeen is om meertaligheid op alle samelewingsvlakke te vestig nie, hoewel dit amptelik oënskynlik ’n hoëprioriteitsaak is. Dié onderwaardering en miskenning van funksionele meertaligheid word hoofsaaklik gewyt aan taalgemeenskappe se gevestigde gestereotipeerde taalpersepsies wat onder andere lei tot ’n neiging tot eentaligheid in die heersende taalpraktyk.”

Hierdie kwessie is agt jaar later bykans onveranderd. Pragtige, beredeneerde, deeglik ondersoekte, en goed gemotiveerde planne en strukture, maar: dit word nie werklikheid in die praktyk van die nuwe SA nie. Waarom nie? Verhoef (1998: 48) gee die volgende aanduiding hiervan:

“...funksionele meertaligheid (kan) (...) nie nagestreef (...) word indien daar nie werklik ’n behoefte aan meertalige vaardighede in gemeenskappe bestaan nie. Dit beteken dat die taalartikels in die grondwet slegs geoptimaliseer kan word indien inheemse tale as onontbeerlike kommunikasiemiddele vir administratiewe, akademiese, regs- en mediadoeleindes in die SA samelewing bestempel word.”

Dit kom dus voor of die pad van die bevordering van die status en erkenning van Afrikatale die aangewese weg is om te loop, ook vir Afrikaans. Dit gebeur wel dat Afrikatale die nodige steun kry, maar dat die sprekers self onwillig is om dit tot hoër vlakke te neem. Verhoef (1998: 48) maak hier melding van ’n ondersoek wat sy onder swart skoolkinders in die Noordwes-Provinsie uitgevoer het: hulle skat wel hulle tale baie hoog, maar verkies tog hoofsaaklik Engels “as akademiese, administratiewe, ekonomiese en persoonlike bemagtigingsinstrument.” Voeg hierby Webb & Kembo-Sure (2000 – aangehaal in Lewis 2004: 189) se standpunt oor die negatiewe gevolge van niemoedertaalonderrig in swart skole:

“The decision of school authorities and parents to use English as the language of learning in schools (especially primary schools) has definitely contributed to the underdevelopment of the South African people. One of the tasks that language people in SA need to undertake is to persuade parents that the answer to their needs and those of their children lies in the language of learning that their children know well, together with high quality teaching of English as subject.”

Die oplossing vir die implementering van meertaligheid in SA lê daarom skynbaar in ’n baie eenvoudige kwessie: die aanvaarding deur die sprekers van Afrikatale van die waarde en status van hulle tale as volwaardige kommunikasiemiddele in alle opsigte in die SA samelewing (vgl. o.m. Alexander 2003, 2005; Alexander (red.) 2005; Buys 2004: 37, 40; Webb 2004). Dit skyn die voorwaarde te wees vir meertaligheid: Aanvaar jou eie taal, dring daarop aan dat dit gebruik word in alle opsigte, bevorder die waarde van die moedertaal – maak dus jou taal jou persoonlike instrument om deel te neem aan die aktiwiteite van die ontwikkelende nuwe SA samelewing. Van Niekerk (2004) sê in hierdie verband dat mense voorgelig moet word in die taal waarmee hulle gemaklik is en ingelig en ondersteun word. “Wanneer ons tale nie bedreig word nie en ons mekaar se tale respekteer en aanleer, bly ons nie net kennisse nie, maar word ons vriende.”

Daar is al by herhaling gewys op die skynbare onwilligheid (elders het Buys 2004 dit ‘lippediens’ genoem) van die SA regering om die daad by die grondwetlike woord te voeg – vgl. bv. Rossouw 2005 en Goosen 2005a, 2005b in berigte oor die huidige krisis rakende moedertaalonderrig in Afrikaanse skole. Slegs die toekoms sal hier wys wat die uitkoms is.

 

7. Samevatting

Uit hierdie oorsigtelike beredenering behoort dit duidelik te blyk dat die talebedeling in SA kompleks is, dat daar ’n onwilligheid is om die grondwetlike taalbepalings tot hulle volle konsekwensie deur te voer, dat tale reeds funksieverliese begin ervaar, dat die taalstrukture slegs beperkte effektiwiteit het en dat daar ’n soort moedeloosheid begin neerdaal in taalgeledere.

Meertaligheid in SA skyn derhalwe méér fiksie as feit te wees. Dis inderdaad ’n pragtige en uiters lofwaardige ideaal, maar iets wat in die praktyk van die SA van dag tot dag nog baie ver van verwesenliking is. Hopelik is die waarmaak van die teorie in die praktyk nie meer te ver in die toekoms nie. Berigte oor die aankoop van meertaligheidsmateriaal deur PanSAT (Sauer 2006) en die formuleer van planne om ’n meertalige beleid in die Tshwane-metroraad deur te voer (vgl. A Slabbert 2006a, 2006b), gee wel rede tot hoop.


[1] Hierdie artikel word met graagte opgedra aan prof Anna Coetzee, gewaardeerde kollega, mede-Taalkommissielid en goeie vriend oor baie jare.


Bronne geraadpleeg

Alexander, N 2001. “Die noodsaak van universiteite vir die oorlewing van die nie-dominante tale in Suid-Afrika.” In: Giliomee, HB & L Schlemmer (reds.) 2001: 8-14.

Alexander, N 2003. The African Renaissance and the use of African languages in tertiary education. PRAESA Occasional Paper 3, Kaapstad: PRAESA.

Alexander, N 2004a. “Multilingualism – International perspectives.” Referaat gelewer tydens parlementêre kongres oor meertaligheid (“Promoting and reviewing multilingualism”), Parlement, Kaapstad, 23 Februarie 2004.

Alexander, N 2004b. “Language policy: the litmus test of democracy in post-apartheid South Africa.” Diskoers 32(2): Desember 2004.

Alexander, N 2005. “The role of African universities in the intellectualisation of African languages.” Http://www.litnet.co.za/taaldebat/intellectualisation_alexander.asp Onttrek op 28/02/2006.

Alexander, N (red.) 2005. The intellectualisation of African languages. Kaapstad: PRAESA.

Altern, J 1994. “Hou op om Afrikaans te begrawe.” Beeld, 27 April 1994, bl. 13.

Bertelsman, R 2005. “Pluralisme en veeltaligheid. Die onlosmaaklike band.” Die Vrye Afrikaan, 21 Oktober 2005, bl. 12.

Bothma, P 2006. “Tyd vir ’n skietstilstand!” Rapport, 23 April 2006.

Brand, G 2005. “Afrikaans is here to stay.” Mail & Guardian, 21 Februarie 2005.

Brink, C 2006. No lesser place: The taaldebat at Stellenbosch. Stellenbosch: African Sun Media.

Broeder, P; G Extra & J Maartens 2002. Multilingualim in South Africa, with a focus on KwaZulu-Natal and Metropolitan Durban. PRAESA Occasional Paper 7, Kaapstad: PRAESA.

Buys, F 2004. “Afrikaanssprekendes se bydrae tot die vestiging van veeltaligheid in die werkplek.” In Van Rensburg, FIJ (red.) 2004: 35-41.

Carstens, WAM 2004. “Afrikaans – tien jaar later (1994-2004).” Referaat gelewer tydens Jaarsimposium SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, op 25/06/2004 te Potchefstroom.

Carstens, WAM 2006 (voorgelê vir publikasie in Tydskrif vir Geesteswetenskappe). “Die breë Afrikaanse debat (1994-2005): enkele temas en inisiatiewe.”

Coetzee, G 2004a. “Stryd oor taal onder die loep.” Beeld, 24 Februarie 2004, bl. 6.

Coetzee, G 2004b. “Arbeid gelooi oor Engels.” Beeld, 28 Julie 2004, bl. 5.

Coetzee, T 2006. “Kopskuiwe. Moedertaal bly belangrik tot op hoogste vlak.” Beeld, 11 Januarie 2006, bl. 16.

Colditz, P 2006. “Die druk op Afrikaansmediumskole.” Die Vrye Afrikaan, 17 Maart 2006, bl. 5.

Deprez, K & LT du Plessis (reds.) 2000. Multilingualism and government. Pretoria: Van Schaik.

De Vries, A 2004. “Só verdwyn meertaligheid in niet.” Rapport, 10 Oktober 2004.

Die Vrye Afrikaan, 21 Oktober 2005. “Die intense geluk van deelname. Vanjaar se FAK-kongres.” Bl. 15.

Du Plessis, B 2001. “Toewysing van universiteite volgens onderrigtaal: demografiese, ekonomiese en onderwysdata.” In Giliomee, HB & L Schlemmer (reds.) 2001: 15-33.

Du Plessis, LT & JL Pretorius 2001. “The structure of te official language clause: A framework for its implementation.” South African Public Law 15: 45-59.

Du Plessis, LT 2002. “Multilingualism under construction.” Language International, Augustus 2002: 13-16.

Du Plessis, T 2006a. “Afrikaans het skaflik koers gekry in 2005.” Rapport, 1 Januarie 2006, bl. 12.

Du Plessis, T 2006b. “US se taalstryd: tyd om te sê hóé.” Rapport, 2 April 2006, bl. 16.

Du Preez, M 2006. “Afrikaans should be celebrated as a national treasure.” Cape Argus, 16 Februarie 2006.

Du Toit, ZB 2006. “’Gevaarligte skyn helder vir Afrikaans.’” Rapport, 5 Maart 2006, bl. 17.

Gerwel, J 2006. “Kalmte is wat kort in die US se taaldebat.” Rapport, 9 April 2006, bl. 16.

Giliomee, HB 2003. The rise and possible demise of Afrikaans as a public language. PRAESA Occasional Papers 14, Kaapstad: PRAESA.

Giliomee, HB 2005. “US dan net nóg ’n Engelse kampus.” Beeld, 25/10/2005, bl. 12.

Giliomee, HB 2006a. “Sit Afrikaans op stewige platform.” Rapport, 12 Maart 2006, bl. 17.

Giliomee, HB 2006b. “Die Stellenbosse taaldebat: Maak oop die raad, dat almal kan weet.” Perspektief, Rapport, 9 April 2006, bl. 2.

Giliomee, HB, C Heese & L Schlemmer 2005. Ongepubliseerde verslag oor: Afrikaans­mediumonderrig op skool en van die menings van ouers in alle gemeenskappe oor die huidige stand van skoolonderwys.’ Stellenbosch. Januarie 2005.

Giliomee, HB & L Schlemmer (reds.) 2001. Kruispad: Die toekoms van Afrikaans as openbare taal. Kaapstad: Tafelberg.

Goosen, DP 2005. “Die FAK-spitsberaad oor Afrikaanse onderwys, Pretoria, 25/02/2005: Enkele voorwaardes vir ’n geloofwaardige antwoord op die onderwysvraagstuk.” http//www.vryeafrikaans.co.za/lees.php?id=150. Onttrek op 04/04/2005.

Grové, N 2006. “As ons mense se tale steel, steel ons ook hulle toekoms.” Beeld, 2 Mei 2006, bl. 13.

Grut, M 2004. “Afrikaans under threat.” Concensus, Vol 1 (3), bl. 6-7.

Heese, DCF 2005. Ongepubliseerde verslag oor ‘Swak en sterk punte van die ou en nuwe onderwysstelsel met spesiale verwysing na die behoefte aan verdere hervorming.’ In: Giliomee, HB, C Heese & L Schlemmer 2005.

Jacobs, J 2006. “Afrikaanse universiteite: English only?” Die Taalgenoot, Februarie 2006, bl. 17-19.

Jeffreys, H 2006. “Bou brûe oor die onoorbrugbare.” Beeld, 14 Februarie 2006, bl. 15.

John, P 2006. “In diens van vandag se magsbelange. Brink se vooroordeel skyn deur logiese aanbod.” Beeld, 8 Mei 2006, bl. 13.

Johnson, RW 2006. “Goodbye isiXhosa.” Prospect Magazine, Nommer 122, Mei 2006.

Joubert, JJ 2006. “Moedertaalonderrig sal uitslae in dié toetse verbeter, sê Pandor.” Beeld, 14 Maart 2006, bl. 8.

Kamwangamalu, NN 2004. “The language policy/language economics interface and mother-tongue education in post-apartheid South Africa.” Language Problems and Language Planning 28(2).

Kgosana, C 2006. “Moedertaal eerste? Liewer Engels, sê sommige swart ouers.” Rapport, 19 Februarie 2006, bl. 17.

Kotzé, EF 2004. “Afrikaans en die problematiek van inheemse tale in die Afrika-onderwyskonteks.” In: Van Rensburg, FIJ (red.) 2004: 55-67.

Kriel, K 2000 (samesteller). Veeltaligheid in die werkplek. Pretoria: MWU-Navorsingsinstituut.

Landman, K 2006. “Dié verengelsing is magsmisbruik.” Beeld, 16 Maart 2006, bl. 16.

Landman, R & M le Roux 2006. “Loop risiko met vertroue.” Rapport, 12 Maart 2006, bl. 17.

Lewis, J 2004. “Die onderonderhandelbare waardes van moedertaalonderrig”, in: Van Rensburg, FIJ (red.) 2004. Afrikaans – lewende taal van miljoene. Pretoria: JL van Schaik. Bl. 183-190.

Louw, PE 2004. “Anglicising Postapartheid South Africa.” Journal of Multilingual and Multicultural Development 25 (4): 318-332.

Lubee, HJ en EJJ Truter 2005. “Taalregte van minderheidsgroepe” ’n basiese mensereg.” Tydskrif vir Geesteswetenskappe 45(1): 29-40.

Mahlungu, MJ 2004. “Enhancing multilingualim in Parliament.” Referaat gelewer tydens parlementêre kongres oor meertaligheid (“Promoting and reviewing multilingualism”), Parlement, Kaapstad, 23 Februarie 2004.

Malan, C 2006. “Ons gaan nie toi-toi, maar moenie taal onderploeg. Regte en respek.” Beeld, 23 Maart 2006, bl. 30.

Malan, K 2006. “Is tweetalige universiteite moontlik?” Die Vrye Afrikaan, 17 Februarie 2006, bl. 11.

Malan, M 2006a. “Taalplan gesoek.” Rapport, 12 Februarie 2006, bl. 6.

Malan, M 2006b. “Rektor los bom oor taalstryd.” Rapport, 12 Maart 2006, bl. 6.

Mvulane, Z 2003. “Multilingualism in South Africa.” Teks van navorsingsverslag van die Inligtingsdiens van die SA Parlement, Kaapstad; 20 Februarie 2003.

Mwaniki, MM 2004. “Best practices for multilingual language policy implementation: lessons from the Free State local government sphere.” Referaat gelewer tydens PanSAT-kongres oor navorsing (“PanSALB Conference on Language Research”), Pretoria, 29 September 2004.

Olivier, NJJ 1995. “Die 1994 Suid-Afrikaanse Grondwet en Afrikaans.” In Ester, H & A van Leuvensteijn (reds.) 1995. Afrikaans in een veranderende context. Amsterdam: Suid-Afrikaanse Instituut. Bl. 37-56.

Pandor, N 2004. “Multilingualism and nation building.” Referaat gelewer tydens parlementêre kongres oor meertaligheid (“Promoting and reviewing multilingualism”), Parlement, Kaapstad, 23 Februarie 2004.

Pandor, N 2006. “Die kruks. Sonder basiese geriewe kán ons kinders nie leer.” Beeld, 4 Januarie 2006, bl. 11.

Perry, T 2003. Language rights, ethnic politics: A critique of the Pan South African Language Board. PRAESA Occasional Paper 12, Kaapstad: PRAESA.

Pienaar, J 2005. “Tolke in die klas. Noordwes-Universiteit meen dit sal druk op Afrikaans verminder.” Beeld, 27 Oktober 2005.

Pienaar, L 2004. “Die Soweto-onluste van 16 Junie 1976 en die gevolge daarvan vir Afrikaans”, in: Van Rensburg, FIJ (red.) 2004: 183-190.

Pienaar, M 2001. “Op pad na veeltaligheid: uitdagings op grondvlak, die waarde en beperkinge van ’n taaloudit, belowende inisiatiewe.” Aambeeld 29(1): 41-45.

Rademeyer, A 2005. “Pandor ‘kom by’ oor onderrigtaal.” Beeld, 14 Desember 2005, bl. 7.

Rademeyer, A 2006a. “Twee kenners doen voorstelle om Afrikaans te beskerm.” Beeld, 10 Maart 2006, bl. 7.

Rademeyer, A 2006b. “UP misken glo taalregte.” Beeld, 14 Maart 2006, bl. 4.

Rantoa, J 2005. “Government should do away with Afrikaans medium schools.” Cape Argus, 23/02/2005.

Reagan, 2001. “The promotion of linguistic diversity in multilingual settings.” Language Problems and Language Planning 25(1): 51-72.

Reagan, T 2004. “Multilingualism in South Africa: ‘Dit is nou ons erns.’” Language Problems and Language Planning 28:2.

Retief, H 2006. “Engels sit in sy kop, Afrikaans is in sy hart.” Rapport, 12 Maart 2006, bl. 15.

Rossouw, J 2005a. “Onderwys: Die staat teen die gemeenskap: Die geval van Laerskool Mikro.” http//www.vryeafrikaans.co.za/lees.php?id=148. Afgetrek op 04/04/2005.

Rossouw, J 2005b. “‘Meertaligheid’ in SA wys dat maghebbers nie taal verstaan.” Beeld, 8 Oktober 2005, bl. 9.

Rossouw, J 2005c. “Engels by die Universiteit Stellenbosch.” Die Vrye Afrikaan, 21 Oktober 2005, bl. 5.

Rossouw, J 2006. “The disgrace of a guilty Afrikaner: on Chris Brink’s No lesser place: The taaldebat at Stellenbosch.” http//www.litnet.co.za/taaldebta/rossouw_brink.asp Onttrek 20/03/2006.

Schlemmer, L & HB Giliomee 2001. “Afrikaans by die kruispad.” Giliomee, HB & L Schlemmer (reds.) 2001: 115-135.

Slabbert, A 2006a. “Goeiedag, good day, dumela.” Beeld, 28 April 2006, bl. 2.

Slabbert, A 2006b. “Veeltaligheid gaan Tshwane miljoene uit die sak jaag.” Beeld, 3 Mei 2006, bl. 6.

Slabbert, F v Z 2006. “Gee die ideologie ’n papwiel... en praat oor taalsake wat saak maak.” Rapport, 7 Mei 2006, bl. 17.

Steward, D 2005. “Afrikaans education and the future of multilingualism.” Concencus 2(3): 2.

Steyn, JC 1980. Tuiste in eie taal. Die behoud en bestaan van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg.

Steyn, JC 1992. “Drie soorte dreigende funksieverliese vir Afrikaans.” Tydskrif vir Geesteswetenskappe 32(2): 155-163. Junie 1992.

Steyn, JC 1996. “Die taalklousule van die nuwe grondwet: moontlike toepassing.” Tydskrif vir Geesteswetenskappe 36(4): 272-283.

Steyn, JC 2006. “Raad in die krisis van vertwyfeling.” Beeld, 16 Februarie 2006, bl. 16.

Strydom, H 2003. “Mapping the road to multilingualism in South Africa.” Acta Academica Supplementum 2003(1): 15-31.

Van Coller, HP & JC Steyn 2005. Taal en aktivisme in ’n tyd van transformasie. DF Malherbe-gedenklesing 24, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

Van den Berg, S 2003. “Taalverskuiwing en Afrikaans – ’n ontleding van sensusdata.” Tydskrif vir Geesteswetenskappe 43(3/4): 177-188.

Van der Rheede, CO 2006. “Fliek wys belang van moedertaal.” Die Burger, 8 Maart 2006, bl. 12.

Van Niekerk, A 2004. “Bevordering en hersiening van veeltaligheid.” Referaat gelewer tydens parlementêre kongres oor meertaligheid (“Promoting and reviewing multilingualism”), Parlement, Kaapstad, 23 Februarie 2004.

Van Niekerk, A 2006. “Stellenbosse taaldebat: Die omstrede opsie is ons beste plan!” Rapport, 30 April 2006, bl. 19.

Van Rensburg, FIJ 2001. “Taal en universiteit.” Aambeeld 29(1): 9-12.

Van Rensburg, FIJ (red.) 2004. Afrikaans – lewende taal van miljoene. Pretoria: JL van Schaik.

Van Rensburg, MCJ 1989. “Oor die depolitisering van Afrikaans: vertrek-punte vir 'n gesprek. Tydskrif vir Letterkunde XXVII (2): 42-47. Mei 1989

Van Rensburg, C (red.) 1997. Afrikaans in Afrika. Pretoria: JL van Schaik Akademies.

Verhoef, MM 1996. “Politieke determinante in die hedendaagse gesprek oor Afrikaans.” Literator 17(3): 29-44. November 1996.

Verhoef, MM 1998. “Funksionele meertaligheid in Suid-Afrika: ‘n onbereikbare ideaal?” Literator 19(1): 35-50.

Vosloo, J 2004. “Op dié manier speel Afrikaans tweede viool.” Rapport, 10 Oktober 2004.

Vrydaggroep 2001. Die Grondwet en veeltaligheid. Is veeltaligheid ons erns? Vrydaggroep, Johannesburg.

Webb, VN (red.) 1992. Afrikaans ná Apartheid. Pretoria: JL van Schaik.

Webb, VN 1997. “Afrikaans in een democratiserend Zuid-Afrika.” Ons Erfdeel 40(2): 225-236.

Webb, VN 1999. “Multilingualism in democratic South Africa. The overestimation of language policy.” Journal of Educational Development 19: 351-366.

Webb, V 2001. “Die bevordering van Afrikaans”, in: Carstens, A & H Grebe (reds.) 2001. Taallandskap. Huldigingsbundel vir Christo van Rensburg. Pretoria: JL van Schaik. (bl. 164-178)

Webb, VN 2004. “African languages as media of instruction in South Africa. Stating the case.” Language Problems and Language Planning 28(2): 147-174.


Prof. W.A.M. Carstens
Skool vir Tale
Potchefstroomkampus
Noordwes-Universiteit
Potchefstroom 2520
e-pos: sktwamc@puk.ac.za


Gepubliseer op Afrikaans in Europa, Januarie 2007
Ook gepubliseer in Tydskrif vir Taalonderrig 40(1) 1-19, Junie 2006

 © Catharina Loader 2001