Versoening in Afrikaans - Is dit haalbaar? (2012)

Prof WAM Carstens, Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)

31ste DF Malherbe-gedenklesing 28 Mei 2012, Bloemfontein

 

INHOUD

1. Inleiding


2. Versoening en Afrikaans

    2.1 Waar moet ons begin?
    2.2 Op pad na versoening: Van 'n verdelende na 'n gedeelde verlede
    2.3 'n Nasionale strategie vir Afrikaans: van 'n droom tot by die ATR

3. Samevatting: Die pad vorentoe

Bronnelys

 

“Aan die einde van die dag is ons almal in dieselfde bootjie, en ons sal mekaar moet help om daardie bootjie te maak roei, as ons die ander kant wil haal.” (M le Cordeur 2012b)

“Elke Suid-Afrikaner dra ’n verantwoordelikheid om ons nuwe nasie te bou; om alle Suid-Afrikaners te versoen en te verenig; om mekaar te verstaan, veral mense uit ’n ander gemeenskap (as ons eie).” (De Freitas 2012)

 

1. Inleiding

Meneer die Rektor, meneer die Dekaan, dames en here

Dankie dat u gekom het om na my te luister, veral oor ’n onderwerp wat dalk vir u vreemd mag opval.

Toe ek moes besluit wat ek my tema vir hierdie geleentheid wou maak, het ek eers gedink dat ek sal praat oor DF Malherbe se taalgebruik in vergelyking met vandag se taalgebruik – dus ’n taalkunderige lesing. Toe ek egter bewus word van DF Malherbe as taalstryder (die 2000-lesing deur PJ Muller), het ek besluit om eerder iets aan te pak wat verband hou met die ‘taalstryd’ en dan ’n spesifieke komponent daarvan soos ek dit ervaar het. Dit is ook opvallend dat baie van wat Muller in 2000 gesê het, vandag – 12 jaar later – nog net so relevant is! Ek haal drie opmerkings daaroor aan:

Wanneer ’n mens die loopbaan van DF Malherbe as taalstryder beskou, word ’n mens opnuut bewus van hoeveel arbeid deur hoeveel mense dit gekos het om Afrikaans van spreektaal te verhef tot kultuurtaal tot staatstaal. Hoeveel toewyding dit gekos het en hoeveel energie. En hoeveel Afrikaans inderdaad vandag gevaar staan om te verloor. (Muller 2000: 5)

As ’n mens (...) al die verlore funksie bymekaar tel, besef ’n mens met ’n skok dat dit Afrikaans jare van eendragtige taalstryd sal kos om daardie taalfunksies weer te herstel. (Muller 2000: 8)

Afrikaanssprekendes moet hulself ernstig afvra of die regering se bereidwilligheid tot gesprek, en die mooi woorde wat hooggeplaasde politici van tyd tot tyd oor Afrikaans maak, nie maar net ’n diplomatieke rookskerm is waaragter teen die taal geknoei word nie? Het dit nog nut om verdere gesprekke met die owerheid te voer? (Muller 2000: 8)

Ek is in die besondere voorreg dat ek tans ná aan taalpolitieke ontwikkelinge in Afrikaans staan en daarom gaan ek eerder daaroor rapporteer. Van hierdie vrae van Muller kan ek dalk ook antwoord.

As ’n mens kyk deur die onderwerpe waaroor die DF Malherbe-gedenklesing die afgelope 30 jaar gelewer is, dan val dit op dat bekommernis oor die ‘toekoms van Afrikaans’ reeds etlike kere aan die beurt gekom het, om die waarheid te sê in elf uit die 30 lesings tot op hede, soos ek dit bereken het uit die lys van publikasies in hierdie reeks. Gedagtes oor of Afrikaans in Suid-Afrika ’n toekoms het in die politiek ná 1976 (wat ’n soort waterskeidingsjaar vir Afrikaans is), kom dus al ’n lang pad.

Dit blyk uit ook duidelik uit boeke soos JC Steyn se bekroonde Tuiste in eie taal (1980), en Prinsloo & Van Rensburg (red.) se Afrikaans: stand, taak en toekoms (1984). Voeg hierby die lewendige briewewisseling in koerante, gesprekke en debatte oor die radio en televisie, in koerante, by kongresse en op verhoë reg oor die land sedertdien. Hieruit het geblyk dat daar veranderinge sou moes kom om Afrikaans se posisie in ’n verwagte nuwe politieke bedeling te handhaaf. In Prinsloo & Van Rensburg (reds.) (1984) is onderwerpe soos die volgende ondersoek: “Die oorlewing van Afrikaans”, “Afrikaans binne meertalige verband”, “Afrikaans in Afrika”, “Stand van die Afrikaanse taal: tans en in die toekoms”, “Gesindhede t.o.v. taal in die onderwys in Suid-Afrika”, “’n Kultuurstrategie van Afrikaans”, “Die handhawing van Afrikaans”, “Afrikaans: die pad vorentoe”, “Die toekoms van Afrikaans”, “Afrikaans: ’n toekomsblik”. Dit is opskrifte wat tekenend is van ’n besef dat dinge nie dieselfde gaan bly nie. (Vgl. Carstens 2006a.)

Uit die titels van die genoemde hoofstukke blyk ’n bekommernis oor die toekoms van Afrikaans in die verwagte nuwe politieke landskap – wat natuurlik eers in 1994 gerealiseer het. Die opbou na 1994 is wel merkbaar sedert die 1970’s en die bekommernis en wroeging was daar vir almal om te sien: Wat gaan van ons taal word? Gaan die nuwe heersers ons duld? Wat van die bagasie van verdrukkers­taal wat Afrikaans moes saamdra? Sal ons skole en universiteite, ons kerke, ons howe behoue bly? Gaan Afrikaans nog ’n rol speel in die Staatsdiens? Gaan ons werk kry in Afrikaans? Gaan ons enigsins geduld word deur die nuwe bewindhebbers? Sal Afrikaans uiteindelik tot niet gaan?

In Webb (red.) se bundel Afrikaans ná apartheid (1992) duur die bekommernis voort met hoofstuktitels, soos: “Afrikaans as probleem”, “Standaardafrikaans in oorgang”, “Veranderde opvattings oor Afrikaans sedert die sewentigerjare”, “Taal, emosies en die toekoms van Afrikaans”, “Die demokratisering van Afrikaans”, “Die behoud van Afrikaans as ampstaal” en “Die moontlike toekomstige posisie van Afrikaans op skool”. Almal hoogs relevant vir die tyd waarin dit geskryf is. Alle opskrifte dui ook op bekommernis oor die pad vorentoe.

Selfs ná 1994 duur die onsekerheid voort in die boeke van Giliomee & Schlemmer (reds.) Kruispad: Die toekoms van Afrikaans as openbare taal (2001) en in Van Rensburg (red.) Afrikaans – lewende taal van miljoene (2004). Soortgelyke temas as hierbo kom in hierdie bronne aan die orde, net uit ’n resenter hoek. Die Afrikaanse mense wroeg en worstel dus reeds lank en voortdurend oor hulle taal, oor die taal wat hulle hele wese verteenwoordig. Dit doen ons vandag (2012) nog steeds op talle forums. Ons durf natuurlik ook nie ophou hiermee nie, want dan gee ons spreekwoordelik boedel oor.

In hierdie lesing wil ek u egter nie verveel met verdere gedagtes op dieselfde deuntjie nie, maar ek wil u eerder op ’n reis neem wat kardinaal is vir wat hierbo genoem is – hoe ons wel ons taal se toekoms kan verseker, maar dit hierdie keer te doen deur die volle inklusiewe Afrikaanse gemeenskap hierby te betrek. Dit gaan egter van elkeen van u iets verg. Hierdie keer kan u nie maak soos talle Afrikaanse mense so dikwels maak nie. Hulle neem afstand en is tevrede as ‘iemand’ namens hulle vir Afrikaans ‘veg’. Ek tree dikwels as spreker by groepe en verenigings op en hoor dan naamlik gereeld: “Ek is bly dat daar mense soos jy is om vir Afrikaans te werk!”, maar as ek ondersteuning vra (soos geld, tyd) vir wat ek doen, is die ondersteunende skare maar yl gesaai. Dan raak dit ’n alleenpad. Nee, u sal moet hand uit die mou steek en saam met my en ander werk aan die pad wat voorlê.


2. Versoening en Afrikaans


2.1 Waar ons moet begin

Die tema van wat ek vandag met u wil deel, kan saamgevat word in Jaap Steyn se profetiese woorde van 1984 in die bundel van Prinsloo & Van Rensburg (reds.) 1984. In die hoofstuk getitel “Die oorlewing van Afrikaans” sê hy (1984: 19-20) naamlik:

Afrikaans kan dit nie bekostig dat dit (’n deel van) sy blanke sprekers of (’n deel van) sy bruin sprekers verloor omdat sy kultuurskeppings, as geheel genome, nie genoeg verskeidenheid vertoon nie. Afrikaans moet iets beteken vir sowel die konserwatiewe as liberale deel van sy gemeenskap; dit moet, sy dit in verskillende publikasies, draer bly van die ideale, belange en strewes van wit en bruin.

In hierdie lesing wil ek u vertel van ’n proses wat al sedert die laat 1990’s aan die gang is en ’n proses waarby ek self betrokke kon wees. Hiermee neem ek u dan terug na die titel van die lesing: “Versoening in Afrikaans – is dit haalbaar?”


2.2 Op pad na versoening: van ’n verdelende na ’n gedeelde verlede

’n Belangrike voorwaarde vir die versoeningsproses van Afrikaans is die strewe na die ontpolitisering van Afrikaans, die strewe om Afrikaans ’n waarlik getransformeerde taal van die nuwe SA ná 1994 te maak. Of ons dit gaan regkry, is natuurlik ’n ope vraag Dit is inderdaad in die hoogs gepolitiseerde omgewing van die nuwe SA nie heeltemal so maklik om te praat oor 'n onderwerp soos die ‘ontpolitisering’ van Afrikaans nie. As Afrikaans as sodanig by hierdie onderwerp betrek word, word dan by implikasie gesê dat die gebruik van Afrikaans deur sommige mense reeds as 'n politieke daad beskou word. Dit het in 2008 duidelik na vore gekom in die staat se reaksie op mnr. Cerneels Lourens, 'n prokureur van Brits in die Noordwes-Provinsie, se aansoek om die nasionale talewet ingestel te kry. Die direkteur-generaal van die nasionale Dept. Kuns en Kultuur het in sy hofstukke gesê dat die staat nie verkwalik kan word as Afrikaans nie dieselfde status as Engels het nie. Dr Danny Titus (2009) haal mnr. Wakashe soos volg hieroor aan:

Government has taken notice of the dominance of English, particularly in the business and scientific community, and has recognised that for the development of the people of the country it is in the best interest that English be used as one of the official languages for government purposes. The applicant is essentially seeking for government to elevate Afrikaans to the level of English even though Afrikaans has not been able to establish a wider usage by the business and scientific community. Government cannot be held responsible for the fact that Afrikaans has failed to achieve a status equivalent to that of English.

Dit is interessant dat dit die standpunt is van ’n senior regeringsamptenaar. En diegene van u wat die huidige debat en woelinge oor die pogings om die nasionale taalwet te laat goedkeur, dophou en volg, sal weet waarvan ek praat (vgl. hieroor o.a. Cornelius 2012; De Stadler 2012; Du Plessis 2012a, 2012b; Le Cordeur 2012a; Lloyd 2011; Malan 2008, 2010, 2012; October 2012a, 2012b; Redaksioneel Beeld 2012; Steenkamp 2012). Die punt is juis dat die nienakoming van die staat se grondwetlike verpligting – om naamlik 'n konteks te skep waarin meertaligheid kan gedy en waarin tale in die land (ook Afrikaans) gerespekteer en bevorder moet word (vgl. De Stadler 2012, Le Cordeur 2012a) – tot hierdie soort uitspraak lei. Dit is ook interessant dat Afrikaans hier by name genoem word en nie ook die Afrikatale nie, want dit is juis hierdie soort siening wat daartoe lei dat Afrikatale nie soos verwag is, groei nie. De Stadler (2012) vat dit soos volg saam:

Of jy nou ’n pleitbesorger vir Afrikaans is of nie, die feit bly dat die verlies van hierdie taal as gevolg van ’n onverstandige, ongevoelige wetsontwerp uiteindelik ook vir die ander tale van Suid-Afrika ’n slag sal wees.

In hierdie verband is dit tog opvallend dat die Minister van Hoër Onderwys onlangs gesê het Afrikatale moet by Afrikaans leer “hoe dié taal dit reggekry het om so te ontwikkel” (vgl. Joubert 2012a) – dus: gebruik Afrikaans as voorbeeld vir julle eie ontwikkeling. Reeds in 2010 het Monde Makhanya ook gesê “Afrikaners set a fine example championing their language” (Makhanya 2010). Wat hier dus op die spel is, is welwillendheid, naamlik welwillendheid om ook ander tale en kulture in SA se ruimte te akkommodeer (De Stadler 2012, Makhanya 2011, Redaksioneel Beeld 2012). Die gebrek aan welwillendheid kan lei tot wrywing en konflik – en dit werk juis versoening en die deel van ’n gedeelde nasionale visie teen. Prof André Duvenhage van die NWU druk hom soos volg hieroor uit (vgl. October 2012a):

Die ANC maak dieselfde fout as die apartheidsregering om sekere groepe hul taal en kultuur te ontneem en iets anders op hulle af te dwing. Wat versoening betref, sal dit beter wees om die taal eerder sterker te maak om Afrikaanses te laat voel hulle is ook belangrik.

Prof Ampie Coetzee (2009), vroeër van die UWK, het onlangs ook gesê dit kom vir hom voor asof die dood van Afrikaans voor hande is. Die openbare reaksie was dat dit nie waar is nie en ook nie sal kan gebeur nie, want daar is dan grondwetlike waarborge vir tale. Die dilemma is dat die grondwetlike waarborge nie nagekom word nie, soos duidelik blyk uit talle hofsake sedert 1995 waarin Afrikaans en ook ander tale se taalregte geskend is. Ampie vra heel tereg hoekom moet daar elke keer hof toe gegaan word as 'n reg vir Afrikaans opgeëis wil word?

Maar wanneer 'n organisasie 'n klag lê oor die ondermyning van Afrikaans, moet die klag hof toe gaan, en dan waarskynlik ook appèlhof toe. Wie betaal? Ons kla dan maar net. Ons oueres is ook klaar baklei: vanaf 1875 was dit opdraand vir die erkenning van Afrikaans.

Prof Vic Webb wys in 'n vroeë artikel (1997: 227) daarop dat die taalsituasie in SA al lank gepolitiseerd is:

Dit geld veral vir Afrikaans wat onder die vorige bewind sterk bevoordeel is, en wel in so 'n mate dat dit geassosieer is met apartheid en dat dit beskou is as taal van die onderdrukker.

Die geskiedenis is hieroor ook duidelik en wys uit dat Afrikaans die stigma dra (gedra het?) van die onderdrukkende taal, en hiermee is 'n mens pens en pootjies in die politiek van SA. 'n Joernalis, J Rantoa, het in 2005 in die Cape Times gesê Afrikaans verdien geen spesiale behandeling nie:

So, what is special about Afrikaans? Why is this language being treated as something special and accorded a status higher than the other 10 official languages of this country? The truth is that there is nothing special about Afrikaans. It is a language like any other. The only ‘special’ thing about it is that it was the official language of a racist regime which tried, unsuccessfully, to ram it down the throats of all South Africans. Other than this infamous historical significance, Afrikaans is not special and should be treated as such.

Prof Christo van Rensburg het wel reeds in 1989 uitgewys dat 'n taal nie die gevolge kan dra vir die foute van sy sprekers nie. 'n Taal kies nie sy sprekers nie, maar die mense wat dit gebruik, kies dit omdat daar kommunikasie onder hulle as groep moet wees (vgl. ook De Stadler 2012). Dit geld vir enige taal. Ampie Coetzee sluit weer hierby aan:

In Afrikaans is daar dinge gesê, en Afrikaners het dinge gedoen, in die verlede wat afskuwelik was. Maar dis nie Afrikaans die taal nie. Hoeveel keer moet dit gesê word? Ek is seker van die aggressie teen Afrikaans bestaan uit onkunde oor 'n taal. As daar ideologieë ontstaan in 'n spesifieke taal, is dit nie die taal self wat dit doen nie. Daar kan dus geen diskriminasie teen enige taal wees nie. As Afrikaans gesien is as die taal van die onderdrukker, dan is Engels, Duits, Frans, Russies ens ook die tale van onderdrukkers. Dít is ook al oor en oor gesê.

Miskien moet ons nou 'n slag hierdie saak agter ons kry en aangaan met dit wat ons as sprekers van die taal met die taal wil doen in die post-1994 Suid-Afrika (vgl. De Stadler 2012). Danny Titus sê in hierdie verband in ’n onderhoud aan Van Wyk (2012b): “Afrikaans is nie meer gekoppel aan mag nie en ons moet daardie gevoel uit ons koppe kry” – ons moet dus anders na Afrikaans en die sprekers van Afrikaans begin kyk. Die gevaar is dat ons so verstrik kan raak in die verlede dat ons nie die moontlikhede van die toekoms eens begin ontgin nie. Ons haak dus te vas in ons eiesoortigheid en sien nie die groter prentjie van Afrikaans nie, die prentjie van verskeidenheid wat wel ’n eenheid uitmaak (vgl. Van Wyk 2012b). In ’n debat oor die term “ras’ druk prof Amanda Gouws van US druk haar soos volg hieroor uit (A Gouws 2012):

Almal bring hulle eie geskiedenis na die situasie en ons moet probeer om te verstaan hoekom wit en swart mense optree soos hulle optree.

By 'n 2009-konferensie oor sosiale samehorigheid op Stellenbosch het prof Russel Botman, rektor van US, gewaarsku teen die neiging om vas te val in die verlede omdat ons so vasgevang is tussen twee lande, te wete die ‘land van die verlede’ en die ‘land van die more’:

Ons stry met die verlede en die toekoms. Ons hoor so baie van die land in die verlede, tog so min oor die land van more. Ons kan nie voortbeweeg as ons nie tussen dié lande vassit nie. (Vgl. Venter 2009)

Tydens dieselfde geleentheid het dr. Mamphela Ramphele gesê dat ons wel op 'n manier van die 'psigologiese littekens' van die verlede (bedoelende apartheid en die skade wat dit in die land en in menseverhoudinge veroorsaak het) ontslae behoort te raak en ons kan dit doen deur te praat oor die verlede:

Om oor dié spoke te praat, is 'n essensiële stap om hulle te laat rus. Gesprekke is nodig.

Op hierdie wyse begin ons die foute van die verlede verwerk en kan ons aanbeweeg sonder om regtig die verlede agter te laat.

Saam hiermee gaan natuurlik ook luister – die luister met ’n oop gemoed na mekaar. Ons moet naamlik sonder vrees vir mekaar kan vertel hoe ons uit ons eie hoek die verlede beleef het, en wat ons drome vir die toekoms is, maar dan moet ons ook luister na elkeen se storie daaroor en hoor wat die ander sê. Ons moet die unieke werklikhede van SA in die oë staar sodat dit ons kan rig op die pad hoe die verlede onthou moet word. Op hierdie wyse kweek ons begrip vir mekaar se stories en standpunte (“myne” en “joune” sodat dit “ons s’n” kan word) en hoeke op die werklikheid en sodoende beweeg ons in die rigting van versoening. Dit is wat ek vandag vir u kom vra: kom ons begin na mekaar luister sodat ons ophou om as bevolkingsgroepe by mekaar verby te beweeg en te leef. Beweeg uit jou gemaksone en omarm die volle Afrikaanse gemeenskap. Het u al gaan sit en hoor wat u huishulp se storie is? Of u bruin of swart kollega?

In 2000 het ek by 'n kongres in Berkeley in die VSA voorgestel dat ons behoort te begin beweeg in die rigting van 'n objektiewe geskiedenis van Afrikaans – 'n geskiedenis waarin ons die volle verhaal van Afrikaans moet vertel (met sy vratjies en vrot kolle en al) – soos Grobler 2012) sê: “so volledig, korrek en betroubaar moontlik”. Dit sal inhou dat ons ook gebeure in perspektief begin plaas en ook moet begin wegbeweeg van die persepsie dat Afrikaans 'n verdrukkende taal is. Ons weet van Soweto 1976, maar die vraag is altyd of Afrikaans werklik die druppel was wat die spreekwoordelike emmer laat oorloop het? Toe ek by die bogenoemde kongres sê dat ons die volle verhaal van hierdie tragiese gebeure moet vertel, naamlik dat hoofsaaklik aspekte soos o.a. Bantoe-onderwys en die paswette (vgl. Steyn 1980, 2000; Pienaar 2004) as gevolg van apartheid (vgl. Jackson 2012 oor die vernietigende gevolge van apartheid), ook daartoe bygedra het, is ek daarvan beskuldig dat ek politiek praat.

Hierbo is pas gesê – en dit is elders al by herhaling gesê – dat 'n taal nie die skuld kan dra vir die foute van sommige van sy sprekers nie. Om die skrywer Jeanne Goosen aan te haal: “Ons is nie almal so nie”. Gerrit Brand het in 'n meningstuk gesê dat daar ook onthou moet word dat nie alle 'blankes skuldig was aan apartheid nie' (Brand 2009). Die feit dat 'n destydse minister gesê het dat Afrikaans gebruik moet word as medium van onderrig in Soweto in 1976 (vgl. Steyn 2000, Pienaar 2004), impliseer nie dat alle Afrikaanse sprekers so dink nie en dat alle Afrikaanse sprekers noodwendig onderdrukkers – of rassiste – is nie. Dit was wel die vonk wat die politieke kruitvat laat ontplof het en die geskiedenis wys wat die uitkoms van die hele proses was. Die woede was toe gemik teen die wit sprekerskorps van Afrikaans. Daar was dus kollektiewe woede teenoor alle wit mense wat Afrikaans praat (Brand 2009). Afrikaans is wel ook gebruik om SA te bevry – die geskiedenis wys dit ook uit (vgl. ook Steyn 1980, Brand 2009, Van Wyk 2012b). Michael le Cordeur sê hieroor in 2011:

Dit is 35 jaar later, en baie water het in die see geloop. Afrikaans het sy beeld verander van ’n taal wat wil verdruk tot ’n taal wat wil bemagtig en versoen. Ironies genoeg sou juis die gebeure 16 Junie Afrikaans van sy bagasie bevry. (In Le Cordeur e.a. 2012: 70)

Mnr. Mandela het in die publikasie Reflections from Prison aangetoon dat ons onmoontlik die taal van die aardbol kan vee. Dit word deur die meerderheid bruin mense gepraat, talle Indiërs en heelwat swart mense. Juis daarom moet 16 Junie in die teken staan van die vermoë van taal om ons land en sy mense, eens so verdeeld, te verenig. Laat ons hierdie dag só vier dat alle jeugdiges welkom sal voel by die fesvieringe, maar meer belangrik, welkom in die land van hulle geboorte. Laat ons wegbeweeg van die blameer-taktiek sodat ook wit jeugdiges by 16 Junie sal aanklank vind en nie langer skuldig hoef te voel oor iets waaraan hulle geen deel gehad het nie. Terloops, om voortdurend daaraan herinner te word dat jou voorvaders apartheid beoefen het, doen niks vir nasiebou nie en lei daartoe dat talle talentvolle jongmense hulle rug op SA keer. (In Le Cordeur e.a. 2012: 71)

Dr. Ronel van Oort, 'n doktorale student van my, het in 2008 'n studie hieroor voltooi, 'n studie oor die verdelende, maar ook gedeelde verlede van Afrikaans en hoe ons te werk kan gaan om nou na die toekoms te begin kyk. Oor hierdie studie is ek opgewonde, want hierin kry ons 'n aanduiding van hoe ons vorentoe kan gaan. ’n Gesprek wat die ATR in Maart 2011 gereël het oor die gebeure rakende Soweto 1976 dui daarop dat die Afrikaanse jong mense al begin het om hierdie stuk verlede te verwerk – nie te vergeet nie, maar te verreken in hoe hulle die geskiedenis van Afrikaans beleef (vgl. Le Cordeur e.a. 2012). Op hierdie wyse leer hulle ‘om hulle eie geskiedenis te skryf’ – soos verwoord deur mev. Helen Zille tydens ’n Vryheidsdaggeleentheid op 27 April 2012 in Pretoria:

Ons het die verantwoordelikheid om ons eie storie te skryf. Ons moet eienaarskap neem vir ons toekoms deur dit stukkie vir stukkie uit te kerf. (Vgl. Essop 2012)

Wat probeer ek dus vir u sê? Ek sê dat Afrikaans se verlede nie altyd ewewigtig geoordeel word nie en dat ou koeie nog konstant uit die sloot gehaal sal word (vgl. Carstens 1994), soos in die woorde van Rantoa en van mnr. Wakashe hier bo. Die tyd is waarskynlik nou ryp om hierdie verlede agter ons te begin sit sodat ons kan aangaan om te besin oor Afrikaans én in die besonder Afrikaanssprekendes se rol in die SA van 2012, oor die Afrikaans van 2060, soos in die studie van Ronel van Oort (2008) uiteengesit. (Vgl. ook Carstens 2010b, Steyn & Duvenhage 2011.) Willemse (2011) sê hieroor:

Vir solank as wat ons toelaat dat slegs een kant van Afrikaans vertel word, solank sal daardie sprekers nie bemagtig word nie. Trouens, wanneer ons nie ons storie vertel nie, werk ons mee aan die vernietiging van ons geskiedenis.

Dit is so dat die storie van hierdie meerderheid Afrikaanssprekers nog nie na behore vertel is nie. Daar is ’n rede daarvoor. En dit is dat hierdie sprekers nie genoeg doen om hul storie te vertel nie. Ons moet onthou: niemand gaan ons storie vertel nie.

Ek wil daarom vir die res van die lesing kortliks verslag doen oor 'n proses waarby ek betrokke is en wat ten doel het 'n inklusiewe Afrikaans, 'n Afrikaans wat verteenwoordigend is van sy volle sprekerskorps.


2.3 ’n Nasionale strategie vir Afrikaans: van ’n droom tot by die ATR

Hierdie proses, wat bekend staan as 'n Nasionale Strategie vir Afrikaans, het 'n aanvang geneem in September 2003 en nou, bykans nege jaar later, kan met vrymoedigheid gesê word dat daar reeds ver op hierdie pad gevorder is. Ons is natuurlik nog nie daar dat ons kan sê hierdie beweging betrek die volle sprekersgemeenskap van Afrikaans nie, maar daar is besonder goeie vordering in daardie verband. Eers as die regses van ons tyd spontaan hierby betrokke raak en glo aan ons doelwitte en meewerk aan die waarmaak van ons inklusiewe strewes, kan ons praat van ware versoening.

Dat hierdie proses en ook die swaar verworwe eenheid tot op hede besonder broos is, is pas weer bewys toe ek in ’n onderhoud in ’n artikel (vgl. Marais 2012) my steun uitgespreek het vir gesprekke ook met regse rolspelers, soos die Nederlandse politikus Martin Bosma. Christo van der Rheede, ’n goeie vriend van my, het my daarop ’n “taalprostituut” genoem omdat ek bereid sou wees om geld uit daardie hoek vir Afrikaanse bemagtiging te ontvang. Hy sê hy sal weier om die geld in ontvangs te neem en te gebruik (vgl. ook Titus 2012 hieroor). Ons is derhalwe “heeltyd besig om ’n balanseertoertjie op ’n baie dun draad te doen” (die woorde van WAMC – vgl. Marais 2012). ’n Mens kan maklik die ‘verkeerde’ ding uit iemand se hoek doen (selfs sonder bedoeling) en dan wag daar weer werk agter die skerms om oor die slaggat in die pad te kom. Prof Pierre de Vos druk hom soos volg uit oor die prosesse waardeur ons moet gaan om die land te maak werk (en ook hoe om deur hierdie soort slaggatprosesse te kom):

Om jou sê te sê, gaan nie altyd sonder risiko of maklik wees nie. Dit sal van ons verwag word om kanse te waag en om konflik te verduur, ook om te erken hoe ingewikkeld en verskriklik die lewe in hierdie vreemde plek soms kan wees. Maar dít is wat van ons verwag word in ’n demokrasie-in-wording. (Vgl. De Vos 2012)

Ons gaan dus by tye verskil (selfs heftig verskil) van mekaar oor die hoe en nou van die werklikheid, maar dit is deel van die prosesse waardeur ons sal móét werk.

Dr. Christa van Louw het in September 2003 tydens 'n FAK-simposium in Pretoria gesê dat so 'n nasionale strategie kan dien as instrument van versoening in die histories verskeurde Afrikaanse gemeenskap. Dit moes nie net 'n strewe bly om Afrikaans te bevorder nie, maar dit moes 'n strewe word wat die Afrikaanse gemeenskap sou saamsnoer om die ideaal van 'n waarlik inklusiewe liggaam wat Afrikaans se belang die beste sou dien.


Daar is in die proses geredeneer dat ’n neutrale stem, ’n stem wat kan aanspraak maak dat ‘namens Afrikaans’ gepraat word, in die belang van Afrikaans dalk sal kan bydra tot ’n waarlik getransformeerde Afrikaans, oftewel ’n Afrikaans wat voorsiening maak vir al sy sprekers. Dit is wel ’n voldonge feit dat sekere Afrikaanse organisasies nie ruimte bied (of histories beskou: ruimte gebied het) vir alle sprekers van Afrikaans nie en dat die taal Afrikaans daardeur benadeel is / word. Apartheid het inderdaad grense tussen Afrikaanssprekende landgenote kom oprig (vgl. Jackson 2012). Slegs as ons kan sê dat al Afrikaans se stemme verteenwoordig word, kan ons werklik van ’n getransformeerde Afrikaanse gemeenskap (en by implikasie van ’n getransformeerde Afrikaans) praat.

Hierdie sentiment kom ook sterk deur in ’n brief – getitel “Op pad na ’n Afrikaanse forum” – wat dr. Gerrit Brand in 2004 aan Litnet gerig het. Dit gaan pertinent om die idee dat ’n forum geskep word waar Afrikaanssprekers met mekaar in gesprek kan tree sonder dat hulle geïntimideer voel met wie en waaroor hulle in gesprek tree. Dit op sigself is nie so maklik nie omdat daar ’n historiese skeptisisme is teenoor die intensies van bepaalde Afrikaanse organisasies. Organisasies soos die ATKV, FAK, die (destydse) Groep van 63, Praag, Afrikanerbond, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, e.s.m. dra nie altyd die soort legitimiteit wat ’n mens graag hier sou soek nie – of dit nou waar en korrek is, maak nie juis saak nie, want persepsies is ’n vreemde ding! In die lig hiervan is die pogings tot die erkenning van een stem namens Afrikaans tog van belang.

Hier onder word vervolgens kortliks verslag gedoen oor pogings in hierdie verband sedert die middel 1990’s. In vroeëre lesings en redes van my (Carstens 2006b, 2007, 2009a, 2009b, 2010a, 2010b, 2010c, 2011) het ek die proses beskryf oor hoe die pad geloop kan word. Die proses is ook deeglik gedokumenteer in publikasies van die Afrikaanse Taalraad (ATR) – vergelyk: Prinsloo 2006; Prinsloo (red.) 2006, 2007, 2008a, 2008b. Ek sal kortliks vryelik hieruit aanhaal om sake in perspektief te plaas en daarna sal ek prosesse beskryf wat sedert die laat 1990’s aan die gang gekom het om hierdie pad te verduidelik. Daar is ’n paar fases op hierdie pad wat uitgelig moet word:

  • Die pogings tot die totstandkoming van 'n Afrikaanse oorlegplatform (1996-1998)
  • Die Nasionale Strategie vir Afrikaans (2003)
  • Die Eerste nasionale Afrikaanse Taalberaad (2004)
  • Die Nasionale Forum vir Afrikaans (2005)
  • Die Tweede Nasionale Taalberaad (2007)
  • Die Afrikaanse Taalraad (2008)
  • Die pad vorentoe (2009 -)

Ter wille van die ontwikkeling van die argument sal ek meer aandag gee aan die begin van die proses as die verdere verloop daarvan, gewoon omdat die begin die rigting aandui.


Eerstens dan oor die Afrikaanse Oorlegplatform (AO):

Jaap Steyn (1998) doen in ’n artikel getitel “Nuwe aktiwiteite rondom Afrikaans: die totstandkoming van ’n ‘Afrikaanse Oorlegplatform’” verslag oor die redes en motivering agter die totstandkoming van die AO. Vir die doel van hierdie gesprek verwys ek ruim na hierdie artikel.

  • Die aanleiding tot die AO was ’n toespraak van prof. Herman Giliomee op die ATKV se jaarkongres in Augustus 1996 op Rustenburg. Hy stel naamlik daar voor dat ’n “soepele Afrikaanse Raad van Afgevaardig­des waarin wit, bruin en swart Afrikaanstaliges hulle ewe tuis voel” (Steyn 1998: 253) tot stand kom. So ’n liggaam sou dan oor die potensiaal beskik “om met ’n magtige stem oor sake soos die verontregting van Afrikaans ... te spreek”.
  • In hierdie tyd het die skrywer Breyten Breytenbach (Die Burger, 5 Oktober 1996) ’n artikel geskryf oor “Mondvol: gedagtes oor Afrikaans en saamstaan” waarin hy “die noodsaaklikheid uitlig van ’n organisasie wat verteen­woor­digend van alle Afrikaanssprekendes kan wees”. Hy stel ’n “koördinerende liggaam” voor, ’n “saamstaan”,

’n ‘adres van uitklaring’ waar aangeklop kan word vir inligting en raad en bystand. So ’n ‘adres’ moet die belange van swart en bruin en wit Afrikaners kan artikuleer en verteenwoordig. Maar die inisiatief moenie van politieke partye en ou patriargale bonde en koukusse en klieks kom nie.

  • Mnr. Ton Vosloo, voorsitter van Naspers, steun so ’n inisiatief en dit lei tot verdere gesprekke met ’n verskeidenheid ander rolspelers, o.a. uit die sakesektor. Dit lei uiteindelik daartoe dat daar op Saterdag 30 November 1996 ’n openbare gespreks­byeenkoms met meer as 200 aanwesiges oor hierdie saak op Stellen­bosch plaasgevind het. Genooides het ingesluit mense uit ’n breë spektrum van die sake- en beroeps­wêreld, die skryf- en skilderkuns, die akademie, ens. (Steyn 1998: 254). Volgens Steyn (1998: 254) het ’n verkennings­komitee (Giliomee, Breytenbach, Vosloo) aangedui die doel van die byeenkoms was om ’n “oorkoepelende Afrikaanse organisasie” te stig, ’n ‘saambreelorganisasie’ wat “hoofsaaklik ’n taal- en kulturele inslag sal hê en nie-polities van aard sal wees”. Hierdie organisasie sal dan ‘krag en kohesie’ kan verleen “aan die dikwels versplinterde aksies van ’n magdom Afrikaanse organisasies”, “sal voorspraak vir Afrikaans doen en dit versterk”. Die organisasie moes ook ‘die welsyn van die deel van die Afrikaanse gemeen­skap wat histories benadeel is, probeer bevorder, asook bondgenootskappe met ander minder­hede probeer sluit’.
  • Die gesprek op 30 November 1996 het wel nie gelei tot die totstandkoming van die AO nie, weens kritiek op die proses en die doel van die beoogde struktuur. Die skrywer Antjie Krog het o.a. gesê sy wil nie staan “onder ’n sambreel waarvan die kleure sê: anti-regering, anti-ANC, anti-WVK, anti-Engels, anti-nasiebou nie” (Steyn 1998:255). Die uiteinde is dat ’n verkenningskomitee wel aangewys is om vas te stel “wat die behoefte aan (so) ’n organisasie is, hoe dit moes lyk, en wat die doelwitte daarvan moes wees”. Die komitee moes “met Afrikaanse organisasies en belangegroepe beraadslaag om almal se behoeftes te peil.”
  • Daar is ’n versoek gerig op ’n meningspeiling oor hoe Afrikaanssprekendes self Afrikaans se toekoms beskou. Dit is gedoen onder leiding van prof. Lawrence Schlemmer en die uitkoms hiervan (Rapport, 11 Mei 1997) het gedui op pessimisme onder sprekers van Afrikaans oor ’n verskeidenheid aspekte, o.a. oor die organisasies wat Afrikaans se belange moes uitdra. Daar is wel ’n behoefte geïdentifiseer om op ’n manier ‘openbare protes’ uit te spreek teen die manier waarop Afrikaans in die nuwe bedeling gehanteer is. Kort hierna het Ton Vosloo geskryf,

Afrikaanssprekendes moet as ’n blok opkom vir hulle staanplek en nie struikel voor eksklusiewe verdelingslyne nie. In onderhandeling met die owerheid moet die blok uit één keel kan praat as een van die grootste taalblokke in die land.

      Volgens hom was die tyd ryp vir die gedagte van ’n ‘oorleg­sentrum vir die heterogene Afrikaanspraters’ (Steyn 1998: 256).

  • Die AO is uiteindelik gestig op 29 Junie 1998 in Rosebank. Ton Vosloo het dit benadruk dat die klem “op ’n ‘saambindende proses eerder as ’n struktuur moet val’. Om uit ‘die slagyster van die verlede’ te ontsnap, is ‘nuwe denke en die bou van vertroue tussen Afrikaanssprekendes as deel van die burgerlike gemeenskap noodsaaklik” (Steyn 1998: 260). In die gesprekke was dit duidelik dat inklusiwiteit ’n kernrol sal moet speel in die ontwikkelende proses.
  • Steyn (1998: 262) sluit sy artikel af deur te wys op die denkverskuiwing wat plaasgevind het sedert die idee van so ’n AO die eerste keer in 1996 genoem is: Maar bloot die totstandkoming van die AO dui op ’n mate van eenheid wat in 1996 nog nie bestaan het nie. Die ander groot voordeel was dat rolspelers wat aanvanklik los van die proses gestaan het, wel by die proses  betrokke geraak het  – Mense met uiteenlopende sienings oor die kultuur en politiek vind dat hulle soveel gemeen het dat hulle gesamentlik kan beplan vir Afrikaans. Vir Ton Vosloo self was die inisiatief ’n sukses omdat “mense van soveel uiteenlopende rigtings, ook aanvanklik antagonistiese mense betrek kon word” by ’n breë proses in die belang van Afrikaans.

Tot sover die AO. Oor die langtermynsukses van die AO is daar nog onsekerheid, maar ’n mens kan dalk tog sê dat daar slegs beperkte sigbare sukses was. Dit was eerder die begin van ’n proses as die resultaat van die proses self. Wat hieruit wel duidelik word, is dat daar bepaalde vereistes is waaraan hierdie soort inisiatiewe moet voldoen (vgl. Carstens 2006a, 2006b):

  • Iemand moet die proses dryf.
  • Daar moet ’n gedeelde langtermynvisie wees.
  • Daar moet eenheid ontwikkel in die geledere van die inisiatiefnemers.
  • Antagonisme en wantroue moet besweer word.
  • Inklusiwiteit is die anker in hierdie proses.
  • Mense moet mekaar leer vertrou.
  • Die nastreef van eie belange is nie noodwendig fout nie, net solank daar wel ’n gesamentlike visie ontwikkel.
    Daar moet ’n plan wees – wat moet die uitkoms wees en hoe moet daarby uitgekom word.

Dis opvallend dat hierdie aspekte ook voorkom in Jaap Steyn se sienings oor die verloop van ’n taalstryd (1980: 74 e.v.). Hy sê naamlik dat daar drie voorwaardes is vir enige vorm van ’n taalbeweging (dis in wese waarmee ons in Afrikaans te doen het):

  • Daar moet heelwat mense wees wat die taal in hulle huise gebruik.
  • Daar moet intellektuele (mense met ‘propaganda­waarde’) wees om die voortou te neem en mense te mobiliseer om betrokke te raak.
  • Daar moet ’n reeks gebeure of prosesse wees om die massa te prikkel tot optrede.

Ek kom aan die einde weer hierop terug.


Tweedens die ontwikkeling van ´n nasionale strategie:

’n Mens sou hierby seker nog sake kan voeg, maar met hierdie aspekte in gedagte kan daar ook na ’n ander meer onlangse inisiatief gekyk word, t.w. die pogings om ’n nasionale strategie vir Afrikaans ontwikkel te kry (vgl. Carstens 2006a).

In die bogenoemde Litnet-rubriek van Gerrit Brand (2004) maak hy melding van pogings om ’n Afrikaanse Forum gevorm te kry. Na aanleiding van die beplande stigting van ’n Afrikanerraad (waarvoor daar skynbaar onder beide wit en bruin Afrikaanssprekendes nie besondere entoesiasme bestaan nie om ’n verskeidenheid van redes) stel hy (Brand 2004: 2) voor dat daar eers begin word

deur ’n forum te skep waar almal wat belang by Afrikaans het met mekaar in gesprek tree. Die bedoeling van so ’n forum moet juis wees om aan almal die geleentheid te gee om hulle standpunt te stel. Die forum moet dus nie pro- of anti-Afrikanerraad wees nie. Voor- en teenstanders van so ’n raad moet hulle sprook kan spraak. Swart, wit en bruin Afrikaanspraters, sowel eerste- as tweedetaal­sprekers, moet daar hul mening kan lug. Die hele kleurvolle spektrum van standpunte, belange en voorgestelde strategieë moet daar die podium kan betree.

En verder:

Die voordeel van so ’n gespreks­forum met ’n leë agenda is dat dit almal kan betrek sonder om enige spesifieke groepering uit die staanspoor te marginaliseer of hulle aktiwiteite in die wiele te ry. Alle organisasies en individue wat op een of ander manier met Afrikaans gemoeid is, kan nog steeds rustig (of onrustig) voortgaan met dit wat hulle doen, maar terselfdertyd kan hulle begin om gemene grond te verken en stadig maar seker ’n mate van konsensus rondom bepaalde sake te stig. Hardnekkige verskille in standpunt of strategie hoef nie in so ’n forum te verdwyn nie, maar kan juis duideliker aan die lig kom terwyl daar besluit word om op daardie punte ‘to disagree to agree’. Onderlinge misverstande en wanpersepsies kan egter ook uit die weg geruim word.

Brand (2004: 4) verwys ook na pogings deur Afrikaanse organisasies of strukture om so ’n inisiatief aan die gang te kry. Pogings van o.m. die Groep van 63, FAK, ATKV, die Taalsekretariaat, Praag se Konfederale Afrikaner­forum, e.a. het nie die beplande sukses gelewer nie en wel om ’n goeie rede:

Die probleem is eenvoudig dat elke organisasie wat tans met Afrikaans gemoeid is net ’n deel van die Afrikaanse gemeenskap verteenwoordig en daarom in die oë van sommige ander Afrikaans­spreken­des ‘bevlek’ of ‘gestigmatiseer’ is.

Daar is wel ’n ander poging wat weens besondere omstandighede ’n kans op sukses in hierdie verband het – en uiteindelik kan lei tot die vestiging van ’n saampraatforum vir en namens Afrikaans. Hierdie forum het met die verloop van tyd die naam Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA) gekry – en dit het weer mettertyd oorgegaan in die Afrikaanse Taalraad (ATR). Hier onder word vervolgens kortliks hieroor berig. In Prinsloo (red.) 2006 en Carstens 2006a is hierdie proses volledig gedokumenteer en daarom word slegs enkele hoofpunte uitgelig.

Die proses is vorentoe geneem deur 'n Voortsettings­komitee, wat in die loop van 2004 die historiese Eerste Nasionale Afrikaanse Taalberaad (in Augustus 2004) op Stellenbosch gereël het. Die vertrekpunt vir die beraad was 'n taalbestekopname (algemeen bekend as die taaloudit) wat gegewens versamel het oor Afrikaans se sterk en swak punte en aan die hand waarvan gepraat en besin is (vgl. Prinsloo (projekleier) 2004).

Die beraad self was 'n sukses, maar dit was duidelik dat die verlede nog nie begrawe was nie toe daar wrywing ontstaan het aan die einde, en dit was tussen wit en bruin. Agterna beskou, was dit waarskynlik die keerpunt in die proses wat ons gebring het tot waar ons vandag met die Afrikaanse Taalraad (ATR) is. Daar is hard met mekaar gepraat en dit was duidelik dat daar agter die skerms hard gewerk sou moes word om verskille uit die weg te ruim (vgl. Carstens 2006a).

  • Die beraad het goed afgeloop, maar spanning onder die oppervlak was tog merkbaar. Die rede: spanning tussen wit en bruin oor ’n strategie om die proses vorentoe te neem.
  • Reaksie in die pers op die beraad was uiters positief. Die beraad is in die algemeen beskou as ’n sukses en ’n groot stap vorentoe vir Afrikaans. Dr. Neville Alexander, die voorsitter tydens die afsluitingsessie, het die beraad beskou “as ’n besinning oor Afrikaans as taal in ’n veelrassige post-Suid-Afrika” (Rapport, 29/08/2004, bl. 18). Dr. Alexander het ook gemaan teen ’n te haastige spoed om die proses verder te voer:

... ek waarsku teen oorhaastigheid. Ons moet stadig oor die klippertjies en nie te haastig wees om mekaar om die hals te val nie.

  • Daar was kritiek oor ’n gebrek oor ’n gebrek aan behoorlike verteenwoordiging van alle groepe Afrikaans­sprekendes (deur o.m. mnr. Elias Nel en prof. Jonathan Jansen). Jansen (2004) sê die beraad was aanvanklik vir hom ’n aangename verrassing omdat daar die

mees diverse groep Afrikaanssprekendes – ten opsigte van ras en godsdiens – bymekaargetrek (was) wat ek nóg bymekaar gesien het.

      Hy het die belang van Afrikaans as toenaderingstaal beklemtoon

deur dit te stel dat die toekoms van Afrikaans afhang van die oopstel van hierdie taal en sy sprekers vir diskoerse met ander tale en sprekers.

  • Die feit dat Afrikaanssprekendes – gesien teen die lig van die geskiedenis van versplintering in Afrikaanse geledere – wel drie dae lank kon bymekaar bly en kon volhou om saam te praat (ten spyte van groot meningsverskille) is as van groot belang vir die toekoms beskou. Dawie (Die Burger, 28/08/2004, bl. 22) het gesê die uitdaging vir die beraad­gangers en die organiseerders is om die geesdrif tydens die beraad oor te dra na die praktyk.
  • Opsommend: Die beraad kan sonder twyfel beskou word as een van die pilare in ’n nuwe inisiatief om Afrikaans se posisie in die jare vorentoe te verstewig. Dat alles nie voorspoedig verloop het nie, was waarskynlik nie ’n verrassing nie, maar dis duidelik dat die proses rakende ’n nasionale strategie vir Afrikaans hiermee ’n eerste groot tree gegee het op ’n lang pad.
  • Die belang van versoening het telkemale ter sprake gekom. Dawie (Die Burger, 28/08/2004. bl. 22) het hom soos volg hieroor uitgedruk:

Die beraad het opnuut die klemverskil tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes blootgelê. Die wittes neig om die taalkwessie as ’n saak van identiteit en regte te sien; die bruines as ’n saak van bemagtiging.

  • Die joernalis Annie Olivier (2004b) het ook besondere klem op hierdie aspek gelê in haar oorsigberig oor die beraad: Versoening gaan tyd neem en is iets wat gekoester moet word alvorens daar werklik ’n volwaardige Afrikaanse gesprek onder alle Afrikaanssprekendes sal kan plaasvind.
  • Lloyd (2005) het duidelik gesê “wit, bruin Afrikaanses is nog maar apart”. Volgens hom was daar nog baie kwessies wat

... in die pad (staan) van die realisering van die ideaal van een Afrikaanse taalgemeenskap . Op die oomblik is daar twee Afrikaanse gemeenskappe: die een wit en meestal ryk, die ander bruin en oorwegend arm. Voordat ons dus praat van een Afrikaanse gemeenskap, moet wit en bruin onderling begin praat oor hoe om gestalte te gee aan dit waarvan Du Plessis skryf. (Verwysende na ’n berig wat Tim du Plessis, redakteur van Rapport (02/01/2005a, bl. 20) geskryf het oor die strewe om ’n hegter binding onder die Afrikaanse taalgemeenskap te kry.) Want een Afrikaanse gemeenskap bestaan tans eenvoudig nie.

     Slabbert (2005:10) voeg hierby:

Daar is meer mense wat Afrikaans praat wat nie sogenaamd ‘wit’ is nie as wat daar is wat wit is. Vir hulle is Afrikaans nie ’n luukse nie, dis ’n daaglikse noodsaaklikheid.” (Vgl. ook Van Rheede 2005 in hierdie verband.)

     Die betrokke Afrikaanse gemeenskappe moet dus beweeg en dan in die besonder nader aan mekaar.

  • ZB du Toit (2005) het hieroor in gesprek getree met twee prominente akademici, t.w. prof. Jaap Steyn en dr. Neville Alexander, en dit het hieruit geblyk dat die saak van Afrikaans­wees en die identiteit wat wit en bruin daaraan koppel nog ver van deurgepraat is (vgl. ook Du Plessis 2011b, Willemse 2011). In hierdie verband was Hein Willemse (2005b: 9) van oordeel dat die grootste bedreiging vir Afrikaans lê

in die voortgesette pogings om Afrikaans so nou te koppel aan Afrikaner etniese identiteit (sic) (of dan ten minste Afrikanerbelange). Vir so lank as wat Afrikaans slegs ’n kodewoord vir die Afrikaner sal bly en daar nie daadwerklike pogings is om die taal in sy Suid-Afrikaanse diversiteit uit te bou en te koester nie, sal daardie pogings minder suksesvol wees.

     Hy (Willemse 2005b:10) voeg dan verder by as oplossing:

... ons (sal) nuwe, gedeelde simbole, helde, rituele, waardes en praktyke (...) moet vestig om die ideaal van ’n ruim Afrikaans te bewerkstellig.

  • Prof. Willie Esterhuyse (2005) het daarop gewys dat

die liefde vir Afrikaans by voorheen-onderdruktes een van die wonders van Afrikaans (is). Dit maak Afrikaans inderdaad ’n pêrel van groot waarde.

      Hy voeg hierby:

Die normalisering van verhoudinge het op mikrovlak reeds ver gevorder. Maar dit moet verder gevoer word.

  • Hierdie saak, d.w.s. versoening tussen die uiteenlopende Afrikaanse gemeenskap, was dus van die begin af die fokus in die hele proses en dit gee ’n mens moed dat daar wel op ’n uitkoms gemik kon word. Die hoe moet net waar gemaak word.


Ek kan self getuig van 'n uiters openbarende gesprek met Christa van Louw in November 2004 wat aan die een kant my eie skromelike onkunde oor die gevolge van apartheid openbaar het en my beskaamd gelaat het oor die aandeel wat ek daaraan gehad het, maar wat ook gehelp het om mekaar reguit in die oë te kyk. Ek moes leer om te luister oor watter gevolge apartheid vir haar en haar mense ingehou het (vgl. ook Jackson 2012):

  • Dat apartheid mense van hulle menswaardigheid ontneem het.
  • Dat mense minderwaardige burgers in hulle eie land van geboorte was.
  • Dat mense daagliks verneder is.
  • Dat sy as jong swanger vrou aangerand is deur lede van die veiligheidsmagte.
  • Dat gedwonge verskuiwings haar familie ontwrig het.
  • Dat mense mekaar nie mag liefhê oor kleurgrense nie.

Dit het my ook gebring by die punt wat Pakendorf (2012) so goed stel:

(Dat) (..) dit tyd (is) om nederiger en eerliker teenoor ons rol in die geskiedenis en die behandeling van mede-Suid-Afrikaners te wees.

Deur my eie luister kon ek daarna die boodskap uitdra: kom ons praat oor die verlede en probeer sodoende mekaar verstaan deur te luister na standpunte, wrewel en ervarings. So bou ons op individuele vlak ook versoening en hiervandaan kan dit uitsprei na ander, na die wyer gemeenskap (vgl. Brand 2009). Dit sluit aan by dr. Ramphele se siening dat ons moet volhou om oor die spoke, soos oor rasseverskille en rassevooroordele, te praat, want dit is reeds 'n belangrike stap om hulle te laat rus. Ons moet soos McKaiser sê (vgl. Joubert 2012b)

... uitdagings en vooroordele oor ras erken en takel eerder as om dit ontkennend onder die tapyt in te vee.

Twee jaar lank het ons hard gewerk om die klowe te oorbrug en 'n mens kan waarskynlik sê dat daar met die aanbied van die Tweede Nasionale Afrikaanse Taalberaad (in Februarie 2007) in Pretoria al 'n mate van versoening plaasgevind het. In hierdie proses is 'n taalplan (2005) opgestel wat as riglyn gedien het vir die bestuur van die proses. Uit die taalplan het die interimliggaam, die Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA), ontwikkel wat die proses bestuur het tot en met die uiteindelike stigting van die Afrikaanse Taalraad (ATR) as koördinerende liggaam vir Afrikaans op 24 Mei 2008 in Wellington.

Sedertdien is die statuur van die ATR as bedingingsliggaam vir Afrikaans deeglik gevestig en word die ATR wyd erken as dié rolspeler oor sake van belang vir Afrikaans, ook met die regering. Wat onmiddellik uitstaan, is die sake en aktiwiteite waarby die ATR sigbaar betrokke was. Ek kan wel sê dat die ATR se infrastruktuur nou goed gevestig is (’n eie kantoor is in die proses), dat die ATR sukses behaal het met ’n klompie sake (maar dat dit ook nie oral ewe suksesvol was nie) en dat die ATR se sigbaarbaarheid beduidend verhoog is (die ATR se logo is bekend in die Afrikaanse organisasiewêreld, en die slagspreuk van Bemagtig, bevorder, beskerm is nie meer net leë woorde nie), die ATR se webblad (www.afrikaansetaalraad.co.za) word goed besoek deur belanghebbendes by die Afrikaanse gesprek, en die nuusbrief (die ATR-Koker) word wyd versprei en gelees in die Afrikaanse gemeenskap en begin ook reeds die koördineringsrol vertolk wat beplan is dit moet hê.

Die pad wat in hierdie proses geloop is om uit te kom waar die ATR vandag is, is gekenmerk deur ’n paar oorwoë vertrekpunte:

  • Die besef dat die Afrikaanse gemeenskap met ’n proses besig is wat gaan tyd neem. In die loop van die tyd is hierdie uitgangspunt opnuut beklemtoon – dinge neem tyd om te ontwikkel en dit kan nie aangejaag word nie omdat ons met mense werk wat uit soveel hoeke op die saak aan die proses deelneem. Prof Neville Alexander se wyse woorde tydens die Eerste Nasionale Afrikaanse Taalberaad op Stellenbosch het in die praktyk geblyk waar te wees: “Wees bereid om voetjie vir voetjie vorentoe te gaan en wees ook bereid om soms selfs ’n tree terug te gee om vordering te kry.” Dit was wyse woorde – dit is deeglik in die ontvou van die proses geleer.
  • Die geduld om die proses kans te gee om te ontwikkel. Die produk sal hieruit volg. (In private gesprekke moes die lede van die ATR hulself dikwels daaraan herinner om geduldig te wees met die proses én met mekaar.)
  • Die bereidwilligheid om baie hard te werk (veral ágter die skerms’). Praat, praat en nogmaals praat om misverstande te voorkom. En omdat die lede van die ATR uit verskillende historiese hoeke na die proses kyk, gebeur misverstande en miskommunikasie so maklik! Voorbeelde daarvan is legio.
  • Die nastreef van 'n gesamentlike visie op die toekoms: eenheid onder die inklusiewe Afrikaanse taalgemeenskap. Dit bly die ATR se droom en strewe.
  • Die geloof dat die Afrikaanse taalgemeenskap die vermoë het om homself te organiseer. By tye is die lidorganisasies wel geneig om so van mekaar te verskil dat die groot doel soms maar op onvaste pote staan. ’n Klaarblyklike doring in die vlees skyn die term “Afrikaner” te wees, maar ons sal as taalgemeenskap daarby verby moet kom.
  • Toewyding tot en 'n strewe na versoening en inklusiwiteit binne die Afrikaanse gemeenskap.
  • Die bereidwilligheid om aanpassings te maak soos die proses vorder, en die besef dat daar by tye selfs kompromisse aangegaan moet word. Die proses het laat blyk dat kompromisse van kernbelang is sodat daar nooit ’n verloorsituasie vir enigiemand ontstaan nie.
  • Die samewerking met die breë burgerlike gemeenskap – dus 'n soort vennootskap. By tye was (en is!) hierdie vennootskap maar broos, maar gelukkig is die ATR nog steeds op die regte koers.
  • Die benut van die infrastruktuur van bestaande organisasies om take gedoen te kry. Eers van die FAK (2003-2007) en daarna van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (2007-2012) wat die ATR se sekretariaat behartig. Die werklikheid wat bestuur moet word, is dat die SA regering nie werklik daarop ingestel is om Afrikaans (soos ook die SA swart tale) te bevorder nie en dat hierdie gemeenskappe dit sélf sal moet doen. Dit is dan inderdaad ook wat die ATR doen: koördineer en organiseer op so 'n wyse dat Afrikaans bevorder kan word. Hopelik word die Afrikaanse taalgemeenskap in hierdie proses ook ’n voorbeeld vir ander taalgroepe hoe om hulself te organiseer.

 

Die ATR het in November 2011 sy derde algemene jaarvergadering in die Paarl gehou en daar kan gerapporteer word dat die ATR stewig op koers is om die taak te verrig wat aan hom opgedra is deur meer as 40 Afrikaanse organisasies – word 'n liggaam wat die volle Afrikaanse sprekersgemeenskap verteenwoordig en praat dan namens die versoende Afrikaanse gemeenskap. Op die laaste bestuurs­vergadering van die ATR is indringend besin oor hoe die ATR as liggaam die versoening sigbaar gestalte kan gee en ek kan vandag berig dat op verskeie positiewe stappe in hierdie verband besluit is. Die lede van die ATR glo dit sal help om politieke grense te help oorbrug en die fondament van versoening te bou. Die hoop is dat deur die lede van die ATR se beskeie individuele bydraes daar 'n heelmaakproses sal plaasvind in eie geledere. Ons kan nie en gaan ook nie vergeet wat in die verlede skeefgeloop het nie – soos prof Nico Botha, teoloog van UNISA, sê (Botha 2009): ons moet nie toegee aan die versoeking om óf net in die verlede te leef óf net na die toekoms te kyk nie. Die vraag is hóé ons die verlede onthou sodat ons dit as basis kan gebruik vir 'n toekomsvisie. Ons moet dus waak teen verknegtende herinnering en eerder fokus op verlossende herinnering. Dit het die potensiaal om mense te bevry en te verander "as hulle begin onthou wie hulle eintlik met mekaar en vir mekaar kan wees in Suid-Afrika".


3. Samevatting: Die pad vorentoe

Ek het vandag aan u iets probeer vertel van die (soms) hartseer verlede van Afrikaans, van die stigma wat steeds daar lê, maar ek het ook vertel van wat die ATR gaan doen om seker te maak dat daar werklik versoening in eie geledere plaasvind. U mag dalk vra hoekom die ATR dan so belangrik is en waarom die ATR sukses behaal het terwyl die vroeëre poging tot die Afrikaanse Oorlegplatform nie geslaag was nie? Die twee instansies se vertrekpunte verskil tog nie so baie nie. Die antwoord is eenvoudig: die tydsgees (bedoelende die politiek van die dag) was reg vir die ATR-proses (vgl. Steyn 1980: 49-51, 54).

Ek is van oordeel die ATR doen goed vir die kort tyd van sy bestaan, en ek is seker u sal dalk ook so dink na aanleiding van wat ek vandag oorgedra het. U sou waarskynlik ook agtergekom het dat ek baie klem lê op die PROSES agter die produk. Dit is helaas die enigste manier om te werk te gaan sodat ons stukkie vir stukkie ons eie nuwe geskiedenis kan oopkap. In ’n onderhoud met Cilliers (2011) is Carstens soos volg hieroor aangehaal:

Alles is die resultaat van ’n lang proses van harde werk. Ons wil nie net praat oor samewerking nie, ons wil dit demonstreer en ’n omwenteling in die Afrikaanse gemeenskap bewerk – dat mense ’n versoende Afrikaanse gemeenskap sal nastreef.

Die verlede sal altyd met ons wees en ons sal moet leer om dit te hanteer. My pleidooi namens die ATR is dat ons nie noodwendig die onregte moet vergeet nie (ons kan en durf ook nie, want dit het ons verdeel as taalgemeenskap), maar die ATR glo ook dat ons ook vorentoe moet kyk en gefokus moet bly op ons rol in die SA van vandag, en die SA van 100 jaar vorentoe. Scholtz (2012) sê daar is ’n voorwaarde hiervoor:

Afrikaans se redding lê in oopmaak, in grense afbreek, en inklusiwiteit, nie in toemaak en afskerm nie. Afrikaans is groter as die Afrikaners, want laasgenoemdes deel hulle moeder met die meeste bruin mense en selfs sommige swart mense en Indiërs. ... Afrikaans moet die instrument van aanvaarding en transformasie wees ...

Ons moet aan Ampie Coetzee bewys dat hy verkeerd is dat die einde van Afrikaans in sig is en dat dit moontlik is om in Nico Koopman (2009) se woorde 'n waarlik "transformerende Afrikaans" tot stand te bring. Kom ons lééf dus die politiek reg! Kom ons maak elkeen 'n bydrae om die Afrikaanse taalgemeenskap weer heel te maak.
Wat is die ‘telkaart’ as ons terugkyk op die tyd wat sedert 2003 verloop het? Hoe het ons gevorder op die saamwerkpad?

VereisteStand van vordering?
Iemand moet die proses dryf.Die direksie van die ATR verrig hierdie funksie (verteenwoordigend van 40 Afrikaanse lidorganisasies)
Daar moet ’n gedeelde langtermynvisie wees.
Daar is so ’n visie en dit word gereeld krities geëvalueer.
Die ATR se statuut bly die vertrekpunt: het ten doel koördinering en netwerkskepping.
Alle aksies word gemeet aan:
  • Bemagtig
  • Bevorder
  • Beskerm
Daar moet eenheid ontwikkel in die geledere van die inisiatiefnemers.Daar is goeie vordering (maar ook telkens haakplekke waardeur gewerk moet word).
Antagonisme en wantroue moet besweer word.
Dit verg konstante harde werk aan verhoudinge.
Die geskiedenis maak ons nog verdelend, maar ons fokus is ’n gedeelde verlede én toekoms.
Inklusiwiteit is die anker in hierdie proses.Dit bly die fokus van die proses en is ononderhandelbaar.
Mense moet mekaar leer vertrou.Goeie vordering, maar steeds ook dorings in die pad.
Die nastreef van eie belange is nie noodwendig fout nie, net solank daar wel ’n gesamentlike visie ontwikkel.Dit bly die konstante strewe: ’n verteenwoordigende stem vir Afrikaans.
Daar moet ’n plan wees – wat moet die uitkoms wees en hoe moet daarby uitgekom word.Uitgespel in die statuut asook in die rigtinggewende taalplanne (2005, 2012).
Streef voortdurend versoening na
Praat met mekaar.
Luister en hóór.
Ontwikkel begrip vir mekaar se eiesoortige kontekste.
Identifiseer misverstande en ruim dit uit die weg.

En dan rakende die nakom van die voorwaardes vir ’n taalbeweging (Steyn 1980):

VoorwaardeVordering?
Daar moet heelwat mense wees wat die taal in hulle huise gebruik.
6,4 miljoen mense gebruik tans Afrikaans as eerste taal in SA.
Afrikaans is die derde grootse groep moedertaalsprekers in SA.
Hiervan is ruweg 55% bruin moedertaal­sprekers van Afrikaans.
Bykans 15 miljoen mense kan Afrikaans op die een of ander wyse in SA gebruik (eerste- tweede-, derde- en vreemdetaalsprekers).
Daar moet intellektuele (mense met ‘propaganda­waarde’) wees om die voortou te neem en mense te mobiliseer om betrokke te raak.
Daar is geïdentifiseerde persone uit ’n wyduiteenlopende spektrum wat die leiding neem in die taaldebat.
Burgerlike organisasies speel ’n kardinale rol .
Daar moet ’n reeks gebeure of prosesse wees om die massa te prikkel tot optrede.
Die afskaal van Afrikaans in verskeie sektore: staatsdiens, howe, media, skole, universiteite, taal van ekonomie, ens.
Die nienakoming van die taalbepalings in die SA Grondwet.

Flip Buys het by geleentheid gesê (2004):

Die Afrikaanse gemeenskap moet verantwoordelik­heid aanvaar vir sy eie toekoms en self aktief daaraan begin werk. Nie in isolasie nie, maar saam met geleentheids­vennote waar nodig en waar moontlik. Dit help nie om aan 'n afhanklikheids- of onttrekking­sindroom te ly nie. Die verlede gaan nie terugkom nie, die hede gaan nie weggaan nie en die toekoms laat nie op hom wag nie.

Daar wag dus werk op ons as lede van die Afrikaanse taalgemeenskap as ons die gesamentlike toekoms vir ons almal wil waar maak. Die ATR pak hierdie uitdaging moet erns en met oortuiging aan en vra die lede van die Afrikaanse gemeenskap om dit sáám met hulle te doen. Kom ons werk saam aan ’n stem wat kan aanspraak maak dat ‘namens Afrikaans’ gepraat word, en wat in die belang van Afrikaans dalk sal kan bydra tot ’n waarlik getransformeerde Afrikaans, oftewel ’n inklusiewe Afrikaans wat voorsiening maak vir al sy sprekers. Slegs as ons kan sê dat al Afrikaans se stemme verteenwoordig word, kan ons werklik van ’n getransformeerde Afrikaanse gemeenskap (en by implikasie van ’n getransformeerde Afrikaans) praat.


So ’n inisiatief kan net slaag as dit ondersteun word deur die breë Afrikaanse gemeenskap en eers indien dit gebeur, sal ’n mens werklik kan begin praat van ’n geïntegreerde Afrikaanse gemeenskap, wat almal eerder insluit as uitsluit. Van der Rheede (21012) sê die tyd het daarom aangebreek


... om ’n omvattende studie te doen en aan die hand van wetenskaplik nagevorste uitkomste ’n plan van aksie van stapel te stuur om Afrikaans in diens van sy totale sprekersgemeenskap te posisioneer en seker te maak dat dit waarde op elke terrein toevoeg. Vir so ’n aksie word die toewyding en ondersteuning van die totale Afrikaanse gemeenskap benodig.


Slegs langs hierdie weg lê die pad vir Afrikaans vorentoe – daar moet sáám gedink en sáám gedoen word en in hierdie proses moet dieselfde visie vir Afrikaans as taal van Suid-Afrika ontwikkel word. Afrikaans is nie net ’n taal vir een groep sprekers nie – daarvoor is die inherente verskeiden­heid te groot (vgl. Van Wyk 2012b). Slegs as ons doelbewus almal in die Afrikaanse gemeenskap insluit in prosesse en verwik­ke­linge, sal daar ’n gedeelde Afrikaanse visie ontwikkel kan word en slegs as daar ’n gedeelde Afrikaanse visie is, kan daar gepraat word van die Afrikaanse gemeenskap wat homself waarlik aangepas en verander het in die nuwe SA ná 1994 (vgl. Cilliers 2012, J Gouws 2012). Die ATR het duidelik in die uitvoer van sy take gehelp om die padkaart vir die proses uit te spel, maar harde werk lê nog voor en wel op ’n verskeidenheid vlakke.


Die eindvraag is: Is versoening in Afrikaans haalbaar? Die antwoord is: Ja, mits Afrikaans, in die woorde van Jaap Steyn (1984: 19-20), “iets beteken vir sowel die konserwatiewe as liberale deel van sy gemeenskap; (en as dit) ... draer bly van die ideale, belange en strewes van wit en bruin”. Dan sal ons Afrikaans kan heel maak. Die rubriekskrywer Wilhelm Jordaan (2012) gee hier waarskynlik die model om dit reg te kry – dit is na aanleiding van die bydrae wat Emily Hobhouse gelewer het om versoening tussen Boer en Brit na afloop van die Anglo-Boereoorlog te bewerkstellig. Dit behels ruweg die volgende aspekte/stappe:

  • Vereenselwig jou “volledig en empaties” met die lot van die onderdrukte mense.
  • Raak betrokke in “intens persoonlike kommunikasie” met die ‘lydendes’.
  • Raak betrokke by projekte “wat selfstandige eiehulp en die belewenis van selfbevoegdheid te midde van ellende bevorder”. Doen dus iets om die omstandighede van die lydendes te verbeter. Doen dus bemagtigingswerk.
  • Die lydendes is geregtig op “menswaardige behandeling”. Optredes moet daarom gekenmerk word deur “uiterste deernis en respek”.
  • Aanvaar “namens haar volk morele verantwoordelikheid vir die oorlog en vra om vergifnis”.


Jordaan (2012) sê dit is nodig om te besin oor die regte vorm van versoening in die nuwe SA ná 1994:

Van 1994 tot nou word sporadies geteoretiseer, gepraat, geskryf en gestry oor die gepaste vorm van en inhoud van versoening in Suid-Afrika.

Hoe raak hierdie stappe versoening van vandag in SA, veral versoening tussen die wit en bruin sprekers van Afrikaans? Weer eens is die proses wat verloop moet word van groot belang: die luister met ’n oop gemoed, die aanhoor van slegte ervarings, die oopstel vir en die skep van kommunikasie tussen wit en bruin sprekers, die gelyke behandeling van mense (die menswaardigheid waarvan die Grondwet melding maak) en ook boetedoening deur bemagtigende optredes by die voorheen benadeeldes. Dit is al ’n stap in die regte rigting. Dit mag ook nie paternalisties wees nie, dit moet spreek van eerlikheid en opregtheid, van ’n erns om ’n verskil te wil maak. Dit is ’n lang en soms moeilike pad (met baie dorings en slaggate daarop) om te loop, maar die Afrikaanse gemeenskap sal in sy totaliteit wel hierdie pad móét loop – individueel sowel as groep. Dr Michael le Cordeur, voorsitter van die ATR, het in ’n persoonlike e-pos aan my hieroor gesê (Le Cordeur 2012b):

Aan die einde van die dag is ons almal in dieselfde bootjie, en ons sal mekaar moet help om daardie bootjie te maak roei, as ons die ander kant wil haal.

Japie Gouws van die ATKV spreek moontlike die verlossende woorde in hierdie hele proses (J Gouws 2012):

Afrikaans is ’n inklusiewe instrument wat die vermoë het om te sorg dat mense vanuit verskillende kulture mekaar beter kan verstaan. Daarom moet ons nie skaam wees om Afrikaans juis oor kultuurgrense heen te gebruik en te bemark nie.

Deur ’n inklusiewe benadering met taal en kultuur te volg, verseker ’n mens goedgesindheid, begrip en kommunikasie wat nie so maklik met ander middele bereik kan word nie.

Miskien moet ek afsluit met die woorde van biskop Desmond Tutu toe hy onlangs in die Groote kerk in Kaapstad gepreek het (vgl. Gerber 2012):

Moenie op die kantlyn staan nie. Raak betrokke. Help hierdie land, jóú land – help dat dit die soort land word wat God wil hê dit moet wees.

Vir ons almal lê die taak nou voor om ’n persoonlike en groepsversoeningsprojek “in die straatjies en gangetjies van die alledaagse lewe tot wasdom te bring” (Redaksioneel Die Burger 2012). Die resultaat van ’n onlangse markondersoek toon dat Afrikaanssprekendes hulle tog nie as ontnugter, pessimisties of sonder ’n tuiste in Suid-Afrika beskou nie (vgl. Van Wyk 2012a). Hulle is mense wat eerder fokus op oplossings as op die probleme, solank as hulle taal en kultuur gerespekteer en waardeer word. Dan raak hulle raakvatters en bydraers tot die skat van Suid-Afrika.

 

Bronnelys

Botha, N 2009. Om weer heel te maak. Beeld, 28/09/2009, bl. 12.

Brand, G 2004a. Op pad na ’n Afrikaanse forum. Plasingsdatum 26/04/2004. Beskikbaar op www.litnet.co.za/taaldebat/forum.asp. Gebruik op 27/05/2004

Brand, G 2009. Het verzoeningsdiscours in Zuid-Afrika. www.litnet.co.za Onttrek 07/09/2009.

Brink, C 2006. Nasionale strategie vir Afrikaans ’n goeie idee. In Prinsloo (red.) 2006: 7-11.

Buys, F 2004. Afrikaners moet hul toekoms help vorm. Rapport, 20/06/2004, bl. II (Perspektief).

Carstens, A & H Grebe (reds.) 2001. Taallandskap. Pretoria: JL van Schaik.

Carstens, WAM 1994. Om ou koeie uit die sloot te grawe: is daar lesse te leer uit die verlede? Enkele kantaantekeninge. Literator 15(2): 16-33.

Carstens, WAM 2003. ’n Afrikaanse taalinstituut – Ja of nee? Teks van referaat tydens FAK se ope gespreksforum oor “’n Groter voetspoor vir Afrikaans”, op 13/09/2003, Pretoria

Carstens, WAM 2004a. Afrikaans – tien jaar later (1994-2004). Referaat gelewer tydens simposium van SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, 25/06/2004 te Potchefstroom.

Carstens, WAM 2004b. Die ontwikkel van ’n nasionale strategie vir Afrikaans – enkele gedagtes en wenke. Referaat gelewer tydens simposium van PanSAT met as tema “Innovation, good practice and relevance in language research”, 29/09/2004 te WNNR-konferensie­sentrum, Pretoria.

Carstens, WAM 2005. En nou Afrikaans? Resente verwikkelinge in die Afrikaanse debat. Referaat gelewer tydens simposium van SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, 24/06/2005 te Pretoria.

Carstens, WAM 2006a. Die breë Afrikaanse debat (1994-2005): enkele temas en inisiatiewe. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 48(2): 1-19. Supplement Moedertaalonderrig.

Carstens, WAM 2006b. Praktiese meertaligheid in Suid-Afrika – feit of fiksie? Tydskrif vir Taalonderrig, Julie 2006.

Carstens, WAM 2006c. Waarom ’n Nasionale Forum vir Afrikaans? Op pad na ’n getransformeerde Afrikaans. Referaat gelewer tydens jaarsimposium van die SA Akademie vir Wetenskap en kuns, Bloemfontein, 23-24 Junie 2006.

Carstens, WAM 2007. Op pad na ’n getransformeerde Afrikaanse gemeenskap – die rol van die Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA). Referaat gelewer tydens MIDP-colloquium, Universiteit van Antwerpen, Antwerpen, België, 26-28 November 2007.

Carstens, WAM 2009a. Eerste voorsittersrede van die ATR. Augustus 2009, Pretoria.

Carstens, WAM 2009b. Die ontpolitisering van Afrikaans deur 'n Nasionale Strategie vir Afrikaans. Lesing gelewer tydens Roots-konferensie by Universiteit van Wes-Kaapland, 22-23 September 2009.

Carstens, WAM 2010a. Die rol wat die Afrikaanse Taalraad speel tot die bevordering van Afrikaans as universiteitstaal. Marie Luttig-gedenklesing op Vrydag 13 Augustus 2010 by die Hugenote-Gedenkskool te Kleinbosch, Daljosafat, Paarl.

Carstens, WAM 2010b. Waarheen met Afrikaans? – My droom vir Afrikaans.Lesing gelewer tydens die Jaarsimposium van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, 30 September – 1 Oktober 2010, Universiteit van Pretoria.

Carstens, WAM 2010c. Tweede voorsittersrede van die ATR. 26 Augustus 2010, Kunstekaap, Kaapstad.

Carstens, WAM 2011. Derde voorsittersrede van die ATR. 19 November 2011, Afrikaanse Taalmuseum, Paarl.

Cilliers, S 2011. Een van daardie ‘wow’-oomblikke. Afrikaanse organisasies deel nou hulle kennis. Beeld, 03/02/2011, bl. 11.

Coetzee, A 2009. Minderheidstale – verdwynende take. Die gedagtes van 'n bittereinder. www.litnet.co.za Onttrek 15/05/2009.

Cornelius, S 2012. Reaksie op artikel van Malan 2012. www.litnet.co.za Onttrek 27/02/2012.

De Freitas, M 2012. Modelle se berou eggo deur nasie. Die Burger, 16/05/2012.

De Stadler, L 2012. Mense verdruk, tale nie. Beeld, 21/03/2012, bl. 9.

De Vos, P 2012. Wie noem jy wit? ’n Les vir ‘lefties’. BY, byblad in Beeld, 20/04/2012.

Du Plessis, H & LT du Plessis (reds.) 1987. Afrikaans en Taalpolitiek: 15 Opstelle. Pretoria: HAUM-Opvoedkundige Uitgewery.

Du Plessis, Theodorus 2010. ’n Taalwet vir Suid-Afrika? Die rol van sosiolinguistiese beginsels by die ontleding van taalwetgewing. LitNet Akademies 7(2).

Du Plessis, Theodorus 2012a. Reaksie op artikel van Malan 2012. www.litnet.co.za Onttrek 27/02/2012.

Du Plessis, Theodorus 2012b. ’n Kritiek op ’n normatiewe vergelyking van die 2003- en 2011-weergawes van die South African Languages Bill aan die hand van sosiolinguistiese beginsels van taalwetgewing. LitNet Akademies 9(2). Mei 2012.

Du Plessis, Tim 2011a. Hoe ons klink en lyk in 2011. Nuus, Rapport, 02/10/2011, bl. 2.

Du Plessis, Tim 2011b. Afrikaanses aan’t uitsterf. Nuus, Rapport, 11/12/2011, bl. 2.

Du Toit, ZB 2005. Bruin en wit verskil oor Afrikaans. Perspektief, Rapport, 24/07/2005, bl. 2.

Essop, P 2012. Zille het opdrag vir land wat nou mondig is. Beeld, 28/04/2012, bl. 2.

Esterhuyse, W 2005. Afrikaners moet weer vóórtrekkers word. Perspektief, Rapport, 10/07/2005, bl. 2.

Gerber, J 2012. Tutu sê God omhels Verwoerd én Hani. Die Burger, 23/04/2012.

Giliomee, HB & L Schlemmer (reds.) 2001. Kruispad. Die toekoms van Afrikaans as openbare taal. Kaapstad: Tafelberg.

Gouws, A 2012. Verstaan ander se ras-ervarings. Die Burger, 22/04/2012.

Gouws, J 2012. Kultuur wat uitnooi. Taalgenoot, Herfs 2012, bl. 9.

Grobler, J 2012. Sê waar Voortrekkers oor moord spog. Beeld, 18/02/2012, bl. 10.

Jackson, N 2012. Was apartheid rêrig verkeerd? Beeld, 09/02/2012, bl. 14.

Jansen, J 2004. Vyande van Afrikaans doem op by Taalberaad. Die Burger, 21/09/2004, bl. 10.

Jordaan, W 2012. ’n Model in die plek van futlose versoening. Beeld, 02/05/2012, bl. 10.

Joubert, J 2012a. ‘Afrikatale moet leer by Afrikaans’. Beeld, 25 April 2012, bl. 4.

Joubert, J 2012b. ‘SA moet openlik oor rassevooroordele praat’. Beeld, 21/05/2012, bl. 4.

Koopman, N 2009. Transformerende Afrikaans. Die 3de Mathews Phosa-lesing by die Afrikaanse Taalmuseum, 12 Augustus 2009.

Le Cordeur, MLA; R Olivier, D Prinsloo & J van der Elst (redaksionele komitee) 2012. 16 Junie 1976. 35 jaar later. Jeugberaad aangebied deur die Afrikaanse Taalraad as deel van die US Woordfees 11 en 12 Maart 2011. Pretoria: SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Le Cordeur, M 2012a. Jou taal is jou reg. Beeld, 28/02/2012, bl. 15.

Le Cordeur, M 2012b. Persoonlike mededeling per e-pos. 03/05/2012.

Lloyd, J 2005. Wit, bruin Afrikaanses is nog maar apart. Rapport, 16/01/2005.

Lloyd, J 2011. Nuwe wet eerste stap om verengelsing te keer. Weekliks, Rapport, 31/10/2011.

Makhanya, M 2010. Afrikaners set a fine example championing their language. The Sunday Times, 24/01/2010, bl. 6.

Makhanya, M 2011.Will this nation allow its languages to die out – from sheer neglect? The Sunday Times, 01/05/2011.

Malan, K 2008. Observations and suggestions on the use of the official languages in national legislation. SA Public Law/Publiekreg 23(2): 59-76.

Malan, K 2010. Die Grondwet, onderwysowerhede en die pad vorentoe vir Afrikaanse skole. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 50(20: 261-284.

Malan, K 2012. ’n Oorweging van die sosiopolitieke kragte wat inwerk op die betekenis en toepassing van die diskresionêre taalklousule van die Suid-Afrikaanse grondwet. Litnet Akademies 9(1). Januarie 2012.

Marais, D 2012. Tussen die harpoen en die rubberboot lê die duiwel én die diep blou see? BY, byblad by Beeld, 28/04.2012, bl. 5.

Muller, PJ 2000. DF Malherbe as taalstryder. Gedenklesing 19. Acta Varia 2000. Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

NTLA 2003. Mediaverklaring deur die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans op 21 November 2003 – “’n Nasionale strategie vir Afrikaans in wording”. Plasingsdatum 09/12/2004. Beskikbaar op www.litnet.co.za/taaldebat/nta.asp. Gebruik op 27/05/2004.

October, A 2012a. ‘Staan op vir Afrikaans’. Beeld, 03/03/2012, bl. 6.

October, A 2012b. Taalwet-wending. Beeld, 08/03/2012, bl. 4.

Olivier, A 2003a. Skep ’n manier vir kinders, nuwe praters om Afrikaans te leer, sê taalmense. Plant nou, oes later. Beeld, 12/08/2003, bl. 11.

Olivier, A 2003b. Taalinstituut vir Afrikaans kry wye steun. Beeld, 18/08/2003, bl. 9.

Olivier, A 2003c. Afrikaans los kokon. Organisasies span saam om taal te bou en te bevorder. Beeld, 05/12/2003, bl. 17.

Olivier, A 2003d. Praat uit een mond. Pansat vra roetekaart vir Afrikaans. Die Burger, 09/12/2003, bl. 17.

Olivier, A 2004a. Beraad gaan Afrikaans help. Beeld, 21/06/2004, bl. 4.

Olivier, A 2004b. Saam deur pyn – wit en bruin moet eers harte oopmaak. Beeld, 03/09/2004.

Pakendorf, G 2012. Tyd om nederiger oor wittes se rol te wees. Die Burger, 21/05/2012.

Pienaar, L 2004. Die Soweto-onluste van 16 Junie 1976 en die gevolge daarvan vir Afrikaans, in: Van Rensburg, FIJ (red.) 2004: 133-141.

Prinsloo, KP & MCJ van Rensburg (reds.) 1984. Afrikaans: stand, taak, toekoms. Pretoria: HAUM Opvoedkundige Uitgewery.

Prinsloo, Karel (Projekleier) 2004. Verslag van 'n taaloudit oor Afrikaanse taalprojekte, verenigings en energieë, 2004. Verslag gereproduseer deur Rapport en versprei tydens die Afrikaanse Taalberaad in Stellenbosch, 25-27 Augustus 2004.

Prinsloo, Karel (red.) 2006a. Op pad na 'n Taalstrategie vir Afrikaans. Verslag gereproduseer deur Content Solutions en versprei deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, Maart 2006.

Prinsloo, Karel 2006b. Towards a language strategy for Afrikaans: the process before, during and after the Afrikaans Language Indaba of 2004 in Stellenbosch, in: Webb, Vic & Theodorus du Plessis (eds.) 2006.

Prinsloo, Karel (Projekleier) 2007. Opname oor Afrikaanse projekte en aktiwiteite op ‘n plaaslike munisipale vlak in Suid-Afrika, 2006. Ongepubliseerde navorsingsverslag versprei by die Tweede Afrikaanse Taalberaad, gehou in Pretoria op 23 en 24 Februarie 2007.

Prinsloo, Karel (red.) 2008a. Die Afrikaanse “ons’’ en die nodigheid van 'n Afrikaanse Taalraad. Verslag gereproduseer deur CRINK en versprei deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, April 2008.

Prinsloo, Karel (red.) 2008b. Die Afrikaanse Taalraad kom tot stand. Verslag gereproduseer deur CRINK en versprei deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, November 2008.

Rantoa, J 2005. Government should do away with Afrikaans medium schools. Cape Argus, 23/02/2005.

Redaksioneel, Beeld, 05/03/2012, bl. 10: ANC moet weer dink oor taalwet.

Redaksioneel Die Burger, 27/04/2012: Vryheidsdag vra baie van ANC en SA.

Slabbert, Van Zyl 2005. Kô lat ôs dink! Insig, November 2005, bl. 10.

Steenkamp, L 2012. ‘Snert’ dat ANC Afrikaans haat.Rapport, 11/03/2012, bl. 7.

Steinmar, D 2004. Vrae aan rolspelers in die Taalberaad. www.litnet.co.za/heupvuur/taalberaad.asp Gebruik op 04/10/2004.

Steyn, JC 1980. Tuiste in eie taal. Die behoud en bestaan van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg.

Steyn, JC 1984. Die oorlewing van Afrikaans. In: Prinsloo, KP & MCJ van Rensburg (reds.) 1984: 3-29.

Steyn, JC 1998. Nuwe aktiwiteite rondom Afrikaans: die totstandkoming van ’n ‘Afrikaanse Oorlegplatform’. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 38(4): 253-264.

Steyn, JC 2000. As jy op my liddoring trap, gaat ek jou slaat, vir ou goete ook. Beeld, 16/06/2000, p. 11.

Steyn, JC & A Duvenhage 2011. Taalverskuiwing en taalhandhawing in die Afrikaanse gemeenskap: tendense en toekomsperspektiewe. LitNet Akademies 8(3), Desember 2011.

Titus, D 2009. Reaksie op Nico Koopman se "Transformerende Afrikaans". www.litnet.co.za Onttrek 18/09/2009.

Titus, D 2012. Sal ons by een wêreld uitkom? Beeld, 03/05/2012.

Van der Berg, S 2003. Taalverskuiwing in Afrikaans. ’n Ontleding van die sensusdata. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 43(3 en 4): 177-187.

Van der Rheede, C 2005. Afrikaans ’n brug tussen ryk en arm. Rapport, 30/10/2005, bl. IV Nuus.

Van der Rheede, C 2012. Afrikaans: probleme en oplossings. maroelamedia.co.za/blog/die-groot-debat/afrikaans-probleme-en-oplossings Onttrek 11/04/2012.

Van Louw, C 2005. Afrikaans: ’n tuiste vir almal. www.litnet.co.za/seminaar/afrikaans_van_louw.asp Gebruik op 01/11/2005.

Van Oort, CP 2008. Die ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans: 'n inklusiewe perspektief en implementering in 'n lesreeks. Ongepubliseerde Ph.D.-proefskrif. Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus.

Van Rensburg, FIJ (red.) 2004. Afrikaans – lewende taal van miljoene. Pretoria: JL van Schaik.

Van Rensburg, MCJ 1989. Oor die depolitisering van Afrikaans: vertrekpunte vir 'n gesprek. Tydskrif vir Letterkunde XXVII (2): 42-47. Mei 1989.

Van Rensburg, MCJ 1992. Die demokratisering van Afrikaans, in: Webb, VN (red.) 1992: 181-199.

Van Rensburg, MCJ 1999. Afrikaans and Apartheid. International Journal for the Sociology of Language 136.

Van Rensburg, MCJ e.a. 1997. Afrikaans in Afrika. Pretoria: JL van Schaik.

Van Wyk, A 2012a. SA nie so sleg, sê hulle. Beeld, 16/03/2012, bl. 13.

Van Wyk, A 2012b. ‘Jy behou jou identiteit’. Onderhoud met dr Danny Titus. Beeld, 28/04/2012, bl. 11.

Vosloo, J 2004. Taalberaad: Dis nog ’n wonder van Afrikaans. Rapport 29/08/2004, bl. 18.

Venter, M 2009. Laat die spoke nou met rus. Die Burger, 18/09/2009, bl. 13.

Webb, VN (red.) 1992. Afrikaans ná Apartheid. Pretoria: JL van Schaik.

Webb, VN 1997. Afrikaans in een democratiserend Zuid-Afrika. Ons Erfdeel 40(2): 225-236.

Webb, VN 2001. Die bevordering van Afrikaans, in: Carstens, A & H Grebe (reds.) 2001: 164-176.

Webb, Vic & Theodorus du Plessis (eds.) 2006. The politics of language in South Africa. Pretoria: Van Schaik.

Willemse, H 2005a. Afrikaans-stryd bly etniese stryd. Beeld, 11/10/2005. Bl. 10.

Willemse, H 2005b. Taal, identiteit en Suid-Afrika: Op soek na ’n ruim belewing van Afrikaans. Voordrag gelewer tydens 3de Swart Afrikaanse Skrywersimposium, Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville, 20-22 Oktober 2005. www.litnet.co.za/seminaar/afrikaans_hein_willemse.asp Afgetrek 01/11/2005.

Willemse, H 2011. Toespraak tydens die 1ste Jaarvergadering van die Kaapse Kunste- en Uitsaai-assosiasie (KKUA) en Radio Kaapse Punt, Morawiese kerksaal, Albertweg, Landsdowne, Kaapstad. 16 Julie 2011.

 

22/05/2012

 

Gepubliseer op Afrikaans in Europa, Junie 2012

 © Catharina Loader 2001