Waar speel Afrikaans ´n rol?

Afrikaans word hoofsaaklik in Suid-Afrika asook in Namibië, Lesotho en Swaziland gepraat. Met die toenemende globalisering is daar vandag egter ook verskillende enklaves van Afrikaanssprekendes in Europa (veral in London), Amerika en Australasië te vinde. Tel mens lande soos Nederland, België, Suriname en Indonesië by kan Afrikaans wêreldwyd deur ongeveer 38 miljoen mense verstaan word. Selfs in klein dele van Argentinië (waar die nageslag van´n groep Afrikaanses hulle ná die Tweede Anglo-Boere-oorlog gevestig het) is Afrikaans bekend.

Afrikaans in Suid-Afrika

In Suid-Afrika is Afrikaans, Engels, isiXhosa, isiZulu, isiSwazi, isiNdebele, Setswana, SeSotho, Sesotho sa Leboa, Tsivenda, Xitsonga die elf amptelike tale in die land. Soos in die onderstaande lysie gesien kan word, is díe oordra van kersgroete in Suid-Afrika nie so eenvoudig nie:

  • Vrolike feestyd en ´n voorspoedige Nuwejaar
  • Amaholidi amnandi nonyaka omusha onempumelelo
  • Iiholide zolonwabo nonyaka omtsha onempumelelo
  • Malatsi a boikhutso a a monate le mathlongonolo a ngwaga o moswa
  • Maikhutso a mabose le mahlogonola a ngwaga o mowsa
  • Bophomolo bo monate le mahlohonolo a selemo se setjha
  • Dziholdidi dza vhudi na mashudu a nwaha muswa
  • Maholido lamniandzi nemnyaka lomuhle lonempumelelo
  • Tikolideyi ta ntsako na mikateko ya lembe lerintshwa
  • Liholidi zelithabo nonyaka omutiha o karisako
  • Compliments of the season and a prosperous new year

Van die bostaande elf Suid-Afrikaanse tale is Afrikaans die derde grootste taal wat, net soos Engels, deur verskillende kulturele groepe as moedertaal gepraat word. Volgens die Suid-Afrikaanse Taalwebwerf (18 Mei 2005) word Afrikaans deur ongeveer 5 811 547 mense gepraat. Hier onder volg vergelykende statistieke van die webwerf met Suid-Afrika Statistieke wat wys hoe die taalpatrone in 1996 en 2001 3n 2011 gelyk het.

Taal (eerstetaalsprekers)

1996 (uitgedruk in %)

2001 (uitgedruk in %)

2011 (uitgedruk in %)
Zoeloe (isiZulu) 22,9 23,8 22,7
Xhosa (isiXhosa) 17,9 17,4 16,0
Afrikaans 14,4 13,3 13,5
Engels 8,6 8,2 9,6
Noord-Sotho (Sepedi/ SeSotho sa Leboa) 9,2 9,4 9,1
Tswana (Setswana) 8,2 8,2 8,0
Suid-Sotho (Sesotho) 7,7 7,9 7,6
Tsonga (Xitsonga) 4,4 4,4 4,5
Swati (Siswati) 2,5 2,7 2,6
Venda (Tshivenda) 2,2 2,3 2,4
Ndebele (isiNdebele) 1,5 1,6 2,1
Ander 0,6 0,5 2,1
Totaal 100 100 100

In totaal spreek 13,5 % van 51,8 miljoen inwoners Afrikaans as eerste taal, meer as in 2001. In die laaste volkstelling (2011) het Afrikaans met 800.000 moedertaalsprekers gegroei terwyl in daar in die afgelope vyftien jaar een miljoen Afrikaanstaliges die land verlaat het. Die verklaring moet sekerlik te doen hê met die feit dat soveel diverse groepe Afrikaans as moedertaal gebruik:

  • 602 166 Swartmense
  • 3 442 164 Bruinmense
  • 58 700 Indiërs
  • 2 710 461 Witmense
  • 41 591 ander groepe

Dié diversiteit van Afrikaanssprekendes is alreeds destyds in die Nasionale Beraad van die Afrikaanse Skrywersvereniging op 5 November 1999 deur Matthews Phosa (Premier van Mpumalanga) op die voorgrond geplaas. Hy het gemeen dat hierdie mengelmoes van sprekers ´n belangrike faktor is wat die groei van Afrikaans verseker. Dit lyk asof sy standpunt deur die laaste sensus gestaaf is omdat heelwaarskynlik meer mense vry voel om Afrikaans as hulle moedertaal te erken (anders as gedurende die Apartheidsjare).

Verder word Afrikaans as tweede taal gebruik deur ´n klein hoeveelheid Asiërs, ´n magdom Swartmense (Afrikane) en die meerderheid van Engelsprekendes.

Afrikaanssprekendes word oor die lengte en breedte van Suid-Afrika aangetref – in sommige dele meer as in ander dele. Die meeste moedertaalsprekers kom voor in die Wes-Kaap, Noord-Kaap en die westelike gedeelte van die Oos-Kaap, Gauteng, Vrystaat en Noord-Wes. In die ander dele van Suid-Afrika kom Afrikaans in minder sterk getalle voor. Pretoria, Bloemfontein en Kaapstad is van die groot stede wat meer Afrikaans georiënteer is as byvoorbeeld Johannesburg en Durban.

 

Afrikaans buite Suid-Afrika

Buiten Afrikaanse enklaves in Argentinië, Europese, Amerika en Australasië word Afrikaanssprekendes (dikwels ook “Afrikaanses” genoem) in verskillende dele van Suidelike Afrika aangetref.

In Namibië word Afrikaans orals as omgangstaal gebruik. Die grootste plaaslike dagblad, die Republikein, is 'n oorwegend Afrikaanse koerant en die Afrikaanse Radiodiens van die Namibiese Uitsaaikorporasie (NBC) het die grootste aantal luisteraars in die land.

'n Joernalis in die Die Burger (7/2/2000), 'n Suid-Afrikaanse koerant, het die volgende oor die taalsituasie in Namibië aangevoer: Ofskoon bier waarskynlik weens die warm, dorre klimaat in Namibië dié land se gemeenskaplike "taal" is, is Afrikaans kort op dié lafenissie se hakke.

Dis 'n merkwaardige prestasie as mens onthou dat daar 11 etniese groepe in Namibië woon (Baster, Caprivi, Bruinmense, Damara, Herero, Kavango, Nama, San, Tswana, Wambo, Wittes) en die taal, anders as in Suid-Afrika, nie deur die grondwet beskerm word nie.

In Namibië was (en is) Afrikaans minder onder politieke druk geplaas as in Suid-Afrika en dit word spontaan geleer en gelees. Ten spyte van die feit dat Engels die lingua franca is, is Afrikaans die vierde sterkste taal en, net soos in Suid-Afrika, die enigste taal wat noemenswaardige groei vertoon.

  • Die meeste moedertaalsprekers daarvan word in die suidelike en sentrale dele aangetref.
  • Ongeveer 75% van die bevolking verstaan Afrikaans alhoewel dit nie hulle moedertaal is nie omdat dit die gemeenskaplike taal is vir die verskillende etniese groepe om onderlinge kommunikasie moontlik te maak.
  • In die Caprivi-strook is Afrikaans egter so skaars soos hoendertande.

Ook in die Republieke van Swaziland en Lesotho is Afrikaans nie onbekend nie terwyl die Afrikaanssprekende gemeenskap in Zimbabwe as gevolg van die onlangse politieke omstandighede in die land drasties verminder het.

Afrikaans as lingua franca in Namibie, ca 1800-1920 - Gerard Groenewald op LitNet: http://www.litnet.co.za/afrikaans-as-lingua-franca-in-namibie/

Die resultate van die 2022-sensus sal eers in 2023 beskikbaar wees.

Gepubliseer 2005: Hersien 2022


© Catharina Loader 2001