Kanselierstrust van die Noordwes-Universiteit

Die PUK-Kanselierstrust van die Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit dra vanaf 2006 vir ses jaar daartoe by om sekere lopende kostes van hierdie webblad op te vang en akademiese publikasies te bevorder. Die taak van die Afdeling Nederlandistiek, verbonde aan die Fakulteit vir Filologiese en Kulturele Studies aan die Weense Universiteit wat as gasheer vir Afrikaans in Europa optree, word met hierdie vriendelike ondersteuning´n hupstoot gegee.

Dié toekenning sal dit vir die redaksie moontlik maak om die Europese student meer bloot te stel aan die sienings van verskeie Suid-Afrikaanse vakkundiges. Dit beteken aktuele artikels oor Afrikaans, resente Afrikaanse letterkunde en die leefwêreld van Suid-Afrikaners.

Boonop is hierdie finansiële steun voorafgegaan deur 'n toesending van die nuutste woordeboeke, taal- en letterkundige standaardwerke en enkele eksemplare van die nuutste fiksie in Afrikaans.

 

Die PUK-Kanselierstrust het in 1994 tot stand gekom en het as primêre doel die bevordering van Afrikaans. Sedert sy bestaan is heelwat lofwaardige projekte aangepak.

Die onderstaande blik op enkele projekte waarby die Trust reeds betrokke was, kom uit prof. W.A.M. Carstens en prof. H.G.W. du Plessis se verslag (2000/2001).

1. Bemagtigingsprojekte

Hierdie projekte het ten doel die bemagtiging van persone om deur middel van Afrikaans aan die aktiwiteite van die Suid-Afrikaanse gemeenskap deel te neem. Die volgende kan hier uitgesonder word:

  • Geletterdheidsprogramme is in samewerking met die Sentrum vir Afrikaanse Geletterdheid (SAG) van die Universiteit van Pretoria en die Stigting vir Afrikaans aangepak. Onder leiding van prof. Maritha Snyman van UP was SAG betrokke by geletterdheidsopleiding in die Eersterust-gemeenskap net buite Pretoria. Aan die een kant is broodnodige kursusmateriaal (lees-boekies) aan die leerders verskaf terwyl daar aan die ander kant konstant aandag gegee word aan die opleiding van geletterdheidsfasiliteerders, d.w.s. die mense wat betrokke is by die aanbieding van die klasse self. Die feit dat die nuwe leerders deur middel van Afrikaans toegang gekry het tot geletterdheid is belangrik vir die uitbreiding van die potensiaal van Afrikaans.
  • Bemagtigingsprogramme is finansieel gesteun deur die Trust. Een so ‘n projek is aangepak by die Sendinggemeente in Hotazel waar dr. Sarel van der Merwe en sy eggenote, dr. Belia van der Merwe, hard gewerk het om onder die vaandel van die College ya Mojadi kursusse in Afrikaans aan te bied. Waarskynlik die suksesvolste Kanselierstrustprojek is die een wat aangepak is op Potchefstroom (dit staan bekend as die skolebemagtigingsprojek op Potchefstroom). Hierdie projek het sy ontstaan gehad toe die hoof van die Hoër Tegniese Skool op Potchefstroom by die plaaslike universiteit (die PU vir CHO) se Departement Afrikaans en Nederlands kom aanklop het om hulp vir ‘n aantal swart leerlinge wat Afrikaans nie so goed magtig is nie en probleme ervaar het om Afrikaans in die klasse te volg. Die projek is mettertyd uitgebrei om nog hoërskole en selfs laerskole in te sluit. Vreemdetaalsprekers van Afrikaans het hierdeur die kans gekry om onder die leiding van ‘n bekwame fasiliteerder, mev. Quinta Banghart, hulle vaardighede in Afrikaans as kommunikasietaal te slyp en selfvertroue op te bou t.o.v. Afrikaans as onderrigmedium.
  • Die Trust ondersteun jaarliks skryfkursusse vir skoliere as deel van ‘n bemagtigingspoging om skryfwerk onder die jeug aan te wakker. Die ATKV-Skryfskool van die PU vir CHO onder leiding van prof. Hans du Plessis bied tans onderskeidelik op Calvinia, Montagu en Oudsthoorn naweekkursusse aan vir skoliere wat wil leer prosa skryf. In die verlede is soortgelyke kursusse ook op Potchefstroom en Springbok aangebied. Die koste vir die leerders is minimaal weens Die PUK-Kanselierstrust se bydrae. Die doel van die kursusse is juis om die kundigheid oor skryf na die jongmense te neem. Hierdie Kanselierskursusse is dieselfde soort kursus as wat die Skryfskool jaarliks in Oudtshoorn aanbied, en die kursusse het al gepubliseerde en bekroonde jong skrywers vir Afrikaans opgelewer.

2. Ondersteuningsprojekte

Hierdie projekte het ten doel om as steun te dien vir die uitbrei van die potensiaal van Afrikaans op verskillende vlakke. Voorbeelde hiervan is:

  • Talle kursusse vir onderwysers is al met die hulp van Die PUK-Kanselierstrust aangebied. Die doel met hierdie kursusse – hoofsaaklik onder die leiding van prof. Marlene Verhoef van die Skool vir Tale van die Vaaldriehoekse kampus van die PU vir CHO op Vanderbijlpark – is om onderwysers opnuut toe te rus vir die uitdagings wat die onderrig van Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika verg. Die afgelope paar kursusse het bv. sterk klem gelê op die uitdagings wat vreemdetaalonderwysers van Afrikaans in die gesig staar en hoe hierdie probleme in die klaskamer opgelos kan word.
  • Afrikaanse ondersteuningsprogramme (sg. Saterdagskole) is in die verlede met die steun van die Trust wyd in die Noordwes-Provinsie en die Vaal-driehoek aan skoliere aangebied ten einde hulle beter toe te rus vir hulle skoolkursusse.

3. Hoërfunksieprojekte

Die projekte wat hier ter sprake is, fokus op die uitbou van Afrikaans se hoë funksies. Van die projekte wat reeds aangepak is, is o.m.:

  • Die vestiging in 1998 van ‘n Afrikaanse poësieversameling in die Poëzie-centrum in Gent, België, is moontlik gemaak met die hulp van die Trust se finansiële ondersteuning. Die Afrikaanse digter Ernst van Heerden se volledige versameling Afrikaanse poësie is deur die erfgenaam daarvan, dr. Lukas Malan, oorgemaak aan die Poëziecentrum. In hierdie Centrum is daar reeds volledige versamelings Nederlandse en Vlaamse poësie en die byvoeg van die Afrikaanse versameling daar maak dat ‘n sinvolle nuwe navorsingsterrein vir vergelykende studie oopgaan. Hierdie versameling word jaarliks aangevul met nuwe publikasies – daar is sedert die amptelike tostandkoming van die versameling al meer as 70 bykomende publikasies aangestuur as aanvulling. 'n Belangrike byvoordeel van hierdie versameling is die gereelde verskyn van berigte oor die Afrikaanse poësie in die bekende poësietydskrif, Poëziekrant. Hierdie versameling word tans ook op die internet via die Poëziecentrum wyer bekend gestel. Hiermee het ’n belangrike deur vir Afrikaans in die Lae Lande oopgegaan.
  • Die PUK-Kanselierstrustprys vir Afrikaanse komposisie word sedert 1999 toegeken in die belang van die bevordering van oorspronklike Afrikaanse musiek. Die Inligtingsentrum vir Suider-Afrikaanse Musiek (ISAM) aan die PU vir CHO administreer hierdie kompetisie. Die kompetisie as sodanig bied ‘n unieke geleentheid vir die skep van nuwe Afrikaanse komposisies en die verwagting is dat dit op die lang termyn ‘n baken in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse musiekwêreld sal word.
  • Die Kanselierstrust het al versoeke ontvang om betrokke te raak by die publikasie van Afrikaanse vakwoordeboeke – voorbeelde in hierdie verband is die werk wat met die finansiële steun van die Trust tans aan ‘n Afrikaanse Biologiewoordeboek asook ‘n Afrikaanse Statistiekwoordeboek gedoen word.
  • Die Trust borg vir die volgende paar jaar die tweejaarlikse Poort-prys van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hierdie prys beloon jong skrywers van Afrikaans vir hulle letterkundige produkte (prosa en poësie).
  • Die Trust het fondse bewillig om in samewerking met die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein asook die Bibliografie van de Nederlandse Taal- en Literatuurwetenschap (BNTL) in Den Haag, Nederland bibliografiese besonderhede oor publikasies oor die Afrikaanse taal- en letterkundige terrein via die internet wêreldwyd beskikbaar te stel. Ook hiermee gaan internasionaal ‘n belangrike deur vir Afrikaans oop.
  • Die Trust raak vanaf 2002 aktief betrokke by die uitdra van Afrikaans in Europa deur op te tree as een van die hoofborge vir die jaarlikse Afrikaanse seminare wat oor die Afrikaanse taal- en letterkunde in Diepenbeek, België aangebied word. Hierdeur word studente en dosente in verskeie Europese lande (selfs Amerika) wat belang het by die Afrikaanse taal- en letterkunde die geleentheid gebied om hulle kennis van Afrikaans verder te slyp. Die waarde van hierdie seminare lê in die uitkringeffek wat dit het.
  • Die Trust was by geleentheid betrokke by die toeken van ‘n prys vir vertaalde werk in Afrikaans. Hierdie projek is bestuur deur die SA Vertalersinstituut.
  • Die Trust was in die verlede al betrokke by die publikasie van belangrike Afrikaanse vakbronne. So het die Trust deur borgskappe gehelp om Taalreis (1999), ‘n boek deur dosente van Vista-Universiteit en gemik op die vreemde-taalmark, gepubliseer te kry. In 2002 sal ‘n standaardnaslaanwerk oor die Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur, getiteld Die ABC van die Afrikaanse kinderliteratuur, met die steun van die Kanselierstrust op die mark kom.

´n Paar foto´s van die pryswenners van die PUK-Kanselierstrust in 2005.

Op aktiewe wyse werk die Trust dus mee aan die bevordering van Afrikaans – nasional sowel as internasionaal.


2006


© Catharina Loader 2001