Taalsekretariaat
Taalsekretariaat
Die taalsekretariaat in Stellenbosch het in 2002 aan verskeie universiteite in Europa boeke geskenk. In Wenen het dit gepaard gegaan met die geleentheid van die tienjarige bestaan van Nederlandistiek aan die Universiteit van Wenen. Dié organisasie bevorder Suid-Afrikaanse tale binne en buite die grense van Suid-Afrika.
Abraham de Vries oor die taalsekretariaat en taalbelang
Heroldstraat aan die Pappegaaisbergkant van Stellenbosch is ‘n smal, lowerryke straatjie, nommer 15 is ‘n woonhuis. Aan die uiterlike is daar niks wat vir jou vertel dis die plek waarvandaan die afgelope jaar (2002) ‘n breë stroom aksies geloods is ter bevordering van die taalbelange van ons samelewing nie. Heroldstraat 15 is die hoofkantoor van die onafhanklike en polities onverbonde burgerorganisasie wat bekend staan as die Taalsekretariaat.
"Kan ek nie maar skryf ter bevordering van Afrikaans nie?" vra ek vir mnr. André van der Walt, gewese lektor (sosioloog) en baie suksesvolle sakeman, die vader en die uitvoerende hoof van die Sekretariaat.
"Natuurlik Afrikaans ook," sê hy. "Afrikaans is ons sentrale fokus. Engels word nou eenmaal die taal van globalisering. Maar die regering kom ook nie sy pligte na vir die nege Afrika-tale nie. Dis hoekom dit toenemend die verantwoordelikheid gaan wees van burgerlike organisasies soos ons om nie net Afrikaans tot sy reg te laat kom nie, maar Afrikaans in vennootskap met die ander tale."
Op onderwysgebied het die Sekretariaat die afgelope jaar die veeltalige klaskamer-projek van die Lilwimi-sentrum aan die Universiteit van Wes-Kaapland befonds. By vyf primêre skole in die Hottentotshollandkom (Danie Ackerman, Somerset Wes Methodist, Sir Lowry’s Pass, Umnqopiso en ACJ Phakade) is werkswinkels aangebied en materiaal ontwikkel vir die uitruiling van taalvaardigheid, klaskamermetodiek en lesse in kulturele gebruike. Afrikaanse en Engelse kinders leer Xhosa; Xhosakinders leer Afrikaans en Engels. In April 2001 is die eerste veeltalige skoletydskrif, Academus, gepubliseer.
Aan die UWK het die Lilwimi-sentrum bowendien ‘n taalverwerwingslaboratorium van die Sekretariaat gekry (houtpanele teen die muur, ‘n moderne musieksentrum, de lot). Met die hulp van me. Annermari Zwarts en die akademiese beplanning van die departement Afrikaans en Nederlands kan anderstalige studente aan die UWK nou ook vorder tot die tweede- en derdejaarkursusse.
Las ook nog volwasse leerders ook by; in Milnerton het die Gemeenskapsontwikkelingprojek twee jaar gelede begin met leerprogramme vir volwassenes. In September 2001 is in die biblioteek, met steun van die Sekretariaat, ‘n Poësiefees, Groei met Woorde, aangebied om die sukses van dié volwasse leerders te vier.
"Tragies hoe uitstekende werk wat reeds gedoen is in ‘n doodloopstraat beland omdat ‘n Staatsdepartement net skielik alle steun onttrek,” vertel mnr. Van der Walt. “ SEPTSA (die Sentrum vir Politieke Terminologie in Suider-Afrikaanse Tale) se woordeboekie Staatkundige Terminologie/ Political Terminology is in 1989 al deur die Staatsdrukker gedruk maar nooit juis bemark nie. In 1990 is die 5000 terme na 15,000 uitgebrei. Toe, in 1997 onttrek die Departement van Kuns, Kultuur en Wetenskap alle finansiële steun. In November 2000 het ons toe behoorlike rekenaar- en kommunikasiefasiliteite vir SEPTSA geskenk en ‘n samewerkingsooreenkoms aangegaan. Die hersiene uitgawe van die tweetalige politieke woordeboek behoort vroeg in 2002 persklaar te wees. Nou kom die verklarende vééltalige woordeboek, die aanvoorwerk is al gedoen."
Inmiddels het die Taalsekretariaat teen aansienlike koste ook ‘n databasis opgebou oor die regsposisie van tale volgens die Grondwet en ‘n ontleding is gepubliseer van die Taaldemografiese werklikhede in Suid-Afrika. Albei is van groot waarde in samesprekings soos met PANSAT, die SABC en in voorleggings soos dié aan die Gerwel-komitee en Parlementêre Portefeuljekomitees. (Die Taalsekeratriaat was die enigste om hul voorlegging oor Afrikaans as Tersiêre Onderrigtaal in vier tale aan die Gerwel-komitee te besorg. Sien hieronder die brief uit Wenen ter ondersteuning van die aksie.)
Die Taalkoerant, versorg deur dr. Helena Liebenberg en me. Naomi Maartens word maandeliks wêreldwyd aan die 1000 indiwidue en oor die 600 organisasies op die Sekretariaat se skakellys gestuur. Per epos. Die Sekretariaat is immers lank al doenig in die kuberrium, hulle is een van die grootste borge van die literêre en kulturele webruimte, LitNet.
Planne vorentoe?
"Plaaslike Owerhede is die ouens wat daagliks met die meeste praat of vir hulle skryf, rekeninge stuur, ens. As ons daarin kan slaag – die onderhandelings is al ver – om meertaligheid met ‘n taalverordening (‘n “language by law” soos dit in Engels heet) in die Metropole te vestig, gaan ons hulle help om 70% van hul kommunikasieprobleme op te los."
"En dan moet ‘n mens darem seker ook dink aan koördinering van al die taalaksies, anders word al die werk soos donshael wat nie die kol tref nie. Onses insiens moet ‘n Alliansie (of Forum) van Veeltaligheid vir Suid-Afrika tot stand kom. Ons is besig aan ‘n konsep konstitusie vir so ‘n liggaam."
André staan op en gaan haal ‘n CD uit die stinkhoutboekrak. Dis Om te Breyten, die CD met toonsettings van sy gedigte deur bekende Afrikaanse kunstenaars. Op die binneflap het Breyten geskryf: “Met opregte dank vir julle steun wat hierdie projek moontlik gemaak het. Die wonderlike komponiste en musiekmakers waardeer dit ewe-eens.”
“Jy’t nou byna als,” sê André. “Die Taalsekeretariaat ondersteun darem ook akademici wat hulle in die buiteland verder bekwaam. En daar is vir Arikaanse afdelings van Europese universiteite in Wenen, Nijmegen, Leipzig en Wracnac elk ‘n klein kernbibliotekie van boeke van hul eie keuse op die water. Warskou s’n het prof. Van Zyl in Desember self gaan aflewer.”
Vanjaar?
"Die belangrikste projek vanjaar is afgestem op die taalverwerwingsprojek," sê hy. "Die plan is dat leerders met ‘n Nasionale Taalvaardigheidseksamen getoets moet kan word en dat ‘n sertifikaat vir Taalvaardigheid in Afrikaans en daarna Xhosa, Zoeloe ens. uitgereik moet word. Ons praat van iets soortgelyk aan die internasionaal aanvaarde Taalvaardigheidsertifikaat van die Nederlandse Taalunie. Met hulp van die Taalunie, PANSAT en die onderwysmense het die Taalsekeratriaat ‘n span bymekaargemaak om vanjaar die kurrikulum vir hierdie projek saam te stel. Proff. Bertie Neethling (Xhosa) en Wium van Zyl (Afrikaans) van die UWK is die koördinerders wat die sertifikaateksamen moet onwerp.”
“"Dink so daaraan," sluit hy af. "Taalbelange, vrye assosiasie, eiendomsreg, dis die belangrike komponente in ‘n samelewing. Dit moet vir Woolworths of Shell of die Kaapse Uniestad moontlik wees om ‘n betrekking te adverteer en te sê dié betrekking vereis taalvaardigfheid in Afrikaans of Xhosa of Zoeloe. En dan moet so ‘n sertifikaat beskikbaar wees. Niemand moet ooit dink die taalbelange van ‘n gemeenskap is ondergeskik aan ander komponente nie. Ons kan vir ons kinders en vir ons tale nooit goed genoeg sorg nie."
Abraham H de Vries
Adres van Taalsekretariaat
Posbus 2000, Stellenbosch 7600, Suid-Afrika
Tel.: ++ (0)21 887 2713
Faks: ++ (0)21 887 2713
E-pos: taal@linguasek.co.za
2002
© Catharina Loader 2001