Wie Afrikaans leer ken laat haar nooit weer los nie!

Carina Claassens het die feeslogo ontwerp. Die logo gee uitdrukking aan die gevarieërde herkoms van Afrikaans en die stempel wat Nederlands daarop gedruk het.

Na die sukses van die eerste fees in 2011, vind die tweede Afrikaanse Fees (oftewel Festival voor het Afrikaans) in Nederland plaas op 13 Junie in De Melkweg in Amsterdam en van 14 tot 16 Junie 2013 in die Theater aan het Spui in Den Haag.

Daar is ’n sterk program met volop musiek, toneel en poësie, alles in Afrikaans, en waar moontlik, voorsien van Nederlandse ondertitels. Die verrassende Radio Kalahari Orkes, bekendes soos David Kramer, Gert Vlok Nel en Helena Hettema sal te sien wees. Die beroemde Nederlandse sangers, Stef Bos en Gerard van Maasakkers, sal ’n musikale ode aan Afrikaans bring.

Met hoog aangeskrewe digters en skrywers soos Antjie Krog, Etienne van Heerden, Ena Jansen en Ronelda Kamfer uit Suid-Afrika is die literêre wêreld weereens goed verteenwoordig.

’n Boekemark van Naspers/NB-uitgewers is ook aanwesig om Nederlanders die kans te bied om self te ervaar dat Afrikaans glad nie moeilik is om te lees nie, en bovendien ’n besondere taal is.

Bo en behalwe ’n aantal uitsonderlike toneelstukke, soos My Naam is Ellen Pakkies, sal daar ook ’n kabaretvertoning wees van die komediant Emo Adams.

’n Paar nuutjies tydens die fees is die Afrikaanse en Nederlandse gedigtewedstryd wat vooraf geloods word, en deurlopende vertonings van  Suid-Afrikaanse films tydens die fees.

Die doel van die fees is om meer Nederlanders en Vlaminge entoesiasties te maak oor Afrikaans en hulle te verlei tot ’n taal wat sowel ’n unieke historiese as taalkundige band met Nederlands het.

Afrikaans is bovendien ‘n springlewendige taal in meertalige Suid-Afrika: ‘n taal wat deur miljoene Suid-Afrikaners en Namibiërs, met liefde gepraat word, en deur vele as tweede of derde taal.

Die Fees wil voorts vir Afrikaanstalige kunstenaars en skrywers  ‘n podium bied waar hulle buite hul eie land kan optree, in hul eie taal: Afrikaans.

Die fees word voorafgegaan deur ’n egte (Afrikaanse) rock- en danskonsert by die Poppodium De Melkweg op 13 Junie in Amsterdam. ’n Vertoning wat jou sintuie sal prikkel. Verrassing is die sleutelwoord en Afrikaans vertoon homself in ’n heel ander soort gedaante. Kyk maar na die Suid-Afrikaanse groepe wat gaan optree: Bittereinder en Van Coke Kartel, Jack Parow en uit Namibië, die rapper Wambuseun. Die kaartjieverkope vir die Melkwegkonsert begin vanaf 15 Maart bij die Melkweg: www.melkweg.nl.

Die fees word moontlik gemaak deur verskeie borge uit Suid-Afrika en Nederland. Die hoofborge uit Suid-Afrika is: Die Dagbreek Trust, die Afrikaanse TV-kanaal Kyknet, die Naspers-Voorsitterfonds, die Jan Marais Nasionale Fonds en First Cape Wines. Ook Zuid-Afrika Huis en die Nederlandse Taalunie in Nederland ondersteun die fees finansieël.

 

April 2013

© Catharina Loader 2001

 

 

 

Etienne van Heerden

Radio Kalahari Orkes by die Afrikaanse Fees