Uit Asië

Die Indiërs

Al vorm hulle net sowat 2,6 persent van die Suid-Afrikaanse bevolking, is die Indiërs ’n belang­rike komponent van die Suid-Afrikaanse samelewing. Presies hoe het hierdie mense uit die verre Asië dan in hulle hartland, KwaZulu-Natal, beland?

In die 1800’s het die boere in die Britse Natalse kolonie met hulle hande in die hare gesit. Hulle het nie genoeg werkers vir hulle suikerrietplantasies gehad nie. Om in landerye of plantasie te werk word in die Zoeloe-kultuur as 'vroue-werk' beskou. Mans is die soldate en jagters en het dus niks in suikerplantasies te verloor nie.

Tussen 1860 en 1911 word baie dus Indiërs na Suid-Afrika ingevoer om hierdie plantasies te bewerk. Só lekker was dit vir hulle in Suid-Afrika dat die gasarbeiders ten spyte van beloofde finansiële steun vir die terugreis, geweier het om na Indië terug te keer as hulle kontrakte uitloop.

Die aankoms van 'n onbekende groep Indiërs in Durban, Suid-Afrika.

(Foto: South African History Online)

Ander het ook op eie inisiatief die land binnegekom en teen die einde van die 19de eeu het hulle 'n toenemende rol in handelsaangeleenthede gespeel. Hulle is baie bekwame verkoopsmense. Verskeie van hulle het hul merk in die landsbestuur, die sakewêreld en ook op ander terreine gemaak.

Dié bevolkingsgroep is baie tradisievas en eerbiedig 'n streng klassestelsel (kastestelsel) asook streng godsdienstige kodes. So ongeveer driekwart van die groep is Hindu's en die ander meestal Moslems. Hulle eie kultuur, woongebiede (bv Laudium naby Pretoria) en Indiese markte (bv in Durban en Johannesburg) is nie onbekende verskynsels nie.

Hulle moedertale (Hindi, Urdu, Tamil, Gujarati) funksioneer as huistale terwyl Engels as lingua franca gebruik word.

Regsgedinge oor veral grondbesit het die beroemde Indiese advokaat, Mahatma Gandhi wat hom in Londen as regsgeleerde bekwaam het, in 1895 na Suid-Afrika gelok. Hy bly vir 21 jaar in die land. Ghandi het hom vir meer vryheid vir sy volk beywer, lydelike verset gepropageer, sy pasboekie verbrand, stakings by die steenkoolmyne in Noord-Natal gereël asook 'n optog van 2 000 volgelinge oor die Transvaalse grens. Ghandi het die land in 1914 verlaat.

Spanning met die Nasionale Party (ná 1948) aan die een kant en met die Swartmense aan die anderkant, het  tot opstand in 1949 gelei. Onvergenoegdheid het daartoe bygedra dat Indië diplomatieke betrekking met Suid-Afrika verbreek het.

Ná onderhandelinge in 1984 het die Indiërs en die Bruinmense beperkte politieke regte gekry, anders as die Swartmense wat tot die 1ste Algemene Verkiesing in 1994 moes wag.

Catharina Loader

 

Bronnelys

Loader, C., Afrikaanse taal en kultuur, Werkboek Nederlandistiek Universiteit Wenen, 2013.

 

Meer feite te lees in:
1. Giliomee, Hermann and Mbenga, Bernard. New History of South Africa.
2. Pretorius, Fransjohan. Die geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag
3. South Africa history online


Gepubliseer Julie 2013


 © Catharina Loader 2001

 

 

Bronne:

http://www.southafrica.info/cm_pics/ess_info/690-1823-2661-0_457097.jpg