'n Bekendstelling van die Sanmense

 

Oerbewoners van 10 000 jaar gelede

Die Sanmense (jagter-versamelaars) is heelwaarskynlik die oudste menslike ras in die wêreld, beslis so in Suid-Afrika, Namibië en Oos-Botswana. Ook in Zimbabwe, Lesotho, Mosambiek, Swaziland en Angola is hulle deel van die geskiedenis van inheemse bevolkingsgroepe.

Hulle is stelselmatig deur die Khoikhoi, Bantoes en Europeërs verdring. Sedert ongeveer 1950 is hulle, as gevolg van modernisering, eintlik geen ander keuse gelaat as om na boerdery om te skakel nie. Vandag is hulle 'n bedreigde ras.

Benaming

Die name Boesman, San, Sho, Basarwa, Kung, of Khwe is name wat verband hou met hierdie groep mense in Suider-Afrika. Die term 'San' beteken 'buitestander' in Nama, dus 'n term wat iets van die historiese lot van die San te kenne gee. Vóór 1970 is die term 'Boesman' gebruik. Steeds is daar diskussie oor watter term neerhalend of minder neerhalend is.

Jagter-versamelaars

Die mans het gejag en moes die groep beskerm terwyl die vrouens vir die kinders sorg en veldkosse soek. Die Sanmans is vandag nog bekend vir hulle uitstekende jagtersvernuf met pyl en boog waarvan die pylpunte met die senuweegif van larwes voorberei is. Hulle spoorsnyvernuf is legendaries.

Wonings

Hulle het geen vaste woonplekke gehad nie en agter die wild aangetrek. Klein groepies het dus in tydelike kampe onder windskerms van blare en stokke gewoon.

Kleredrag

Hulle het dierevelle vir klere gedra.

Voedsel

Eet wild, veldkosse, knaagdiere, slange. Hulle het uitgebreide eetrituele.

Godsdiens

Die gode is mengsels van goed en kwaad. Ritmiese danse en beswymings vorm deel van rituele (bv die reëndans). Die toordokters vorm ’n skakel met bonatuurlike magte.

  • 'n Groot god woon in die ooste.
  • 'n Mindere god in die weste.
  • Hishe/Huwe woon in die noorde en is die skepper van reёn, die gewer van voedsel en goeie gesondheid.
  • Die be­drieёr­figuur/Kaggan kom uit die Suide en is die oor­sprong van die toordokters. Hy kan die vorm van ´n Hottentotsgot of Mantis aanneem en speel ´n belangrike rol in die skeppingsverhale van die San.

Rotskuns (bv in Drakensberge, Soutpansberge, Sederberge)

Dié tekeninge is tot 26 000 jaar oud. Die primêre doel daarvan was om die voorvaders te beïndruk. Ook gee dit ons 'n idee van die San se antieke geskiedenis, hulle vlug- en jagtogte, hulle godsdiens met beswymings van toordokters en verering van reëndiere. Ook dansrituele word uitgebeeld. Ons leer hulle sieninge oor die dood ken en sien die krag wat vanaf die eland uitgaan.

Santale

Hierdie tale is baie ingewikkeld. Daar is vyf verskillende klap-, suig- en klikklanke. Waardevolle navorsing is deur dr Wilhelm Bleek en dr Lloyd gedoen.

Lewensbeskouing

Sanmense het groot respek vir die natuur en kan die eerste natuurbewaarders genoem word. Grond is allemansbesit en iets wat mens met ander deel om te kan oorleef.

 

Lees meer uitvoerig oor die San in:
1. Giliomee, Hermann and Mbenga, Bernard. New History of South Africa.
2. Pretorius, Fransjohan. Die geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag.


Bronnelys
Catharina Loader, Werkboek Afrikaanse taal en kultuur II, Universiteit van Wenen, 2012.
www.nieu-bethesda.com/af/history/san-a-khoi.html (Julie 2013).

Gepubliseer Julie 2013
Hersien Januarie 2016