Mangaungprogram vir strykers - J.J. Spies

Kobus Spies is ’n professionele rekenmeester en mede-trustee van die Mangaungprogram vir Strykers, Bloemfontein.

Die Mangaungprogram vir Strykers is in 1997 begin as deel van die Vrystaat Musicon wat oorspronklik deur die eertydse Provinsiale Onderwysdepartement gevestig is.  Hierdie strykersprogram is veral gerig op kinders uit informele nedersettings en die platteland.  Benewens die gemeenskap van Bloemfontein word die gemeenskappe van Springfontein, Philippolis, Fauresmith, Jagersfontein, Trompsburg, Edenburg, Thaba ’Nchu, Mangaung asook Kroonstad onder andere betrek.

Daar is tans ongeveer 500 leerders in die program vanaf ouderdom 5 tot graad 12 skoolgaande. Kinders ontvang individuele onderrig in die program self, ’n paar van hulle kry ook onderrig deur die Universiteit van die Vrystaat en by verskillende musiekakademies by Bloemfonteinse skole.  Aangesien die program al 17 jaar aan die gang is, word van die eerste lede as onderwysers gebruik.  Ses van hulle is pas deur die Vrystaatse regering “amptelik in diens geneem.”

Orkesspel is egter die kern werksaamheid van die program.  Elke kind is verplig om in ’n orkes te speel.  Daar bestaan vyf orkeste waarvan die jongste voorskools is tot die senior orkes wat meestal uit gevorderde studente bestaan.  Die orkeste word almal gelei en afgerig deur “produkte” van die program.

Peter Guy

Die stigter van die program, die Amerikaanse kontrabasspeler Peter Guy, rig die senior orkes, die Bochabela Strykorkes, af.

My samewerking met Peter Guy gaan terug tot 1990/91 toe hy met instrumente van sy familie in Amerika met ’n klein strykersprogram by die Musicon begin het waar ek die voorsitter van die ouer-dosentekomitee was.

Dié orkes wat vandag kortweg die “Bochies” genoem word, is bekend daarvoor dat hulle sonder dirigent optree – tot in die Mozarteum in Salzburg!  Shostakovitch se ongelooflik moeilike kamersimfonie is by die geleentheid uitgevoer.

 ’n Treffer op die Europese toere is onder andere ’n weergawe van die Afrikaanse volksliedjie “Suikerbossie” waar ’n tipiese Afrika-aanslag met ’n Westerse strykersidioom gekombineer word.

Die senior orkes was al vier keer in Europa. Tydens die tweede besoek in Desember 2010 was die twintig konserte almal uitverkoop. By een van die vier verskynings op Europese televisie het ’n speler uit ’n plakkerskamp soos volg getuig:

“It’s very hard work, I love it, it's worth it.  It makes people happy and we can work for a better life in our country.”

In Desember 2012 het die Bochies groot lof ontvang in Duitsland en Oostenryk. Op 27 Desember skryf Peter Guy soos volg aan my:

“The Violet Orchestra organizers are having an urgent meeting to consider the legal and insurance ramifications of hosting and promoting a concert with us that is OVER SUSCRIBED!!!  Nice problems.  Thanks for believing in us for all these years.  It is a thankless job you do, but I really value you commitment and support.”  

In Junie 2013 was die orkes in België en dit word gevolg deur ’n Oostenrykse besoek in Desember 2013.

Peter Guy en die orkes by Vorarlberg, Oostenryk in 2011

Bochabela String Orchestra

Suikerbossie

In September 2013 is meestersklasse aangebied deur professor Leonid Kerbel van die Konservatorium vir Musiek in Brussel (viool) en professor Klaus Christa van die Vorarlberg Landeskonservatorium, Feldkirch in Oostenryk (altviool). Carmen Galt, kontrabasspeler en eienaar van die Galt String Gallery in Billings, Montana (VSA) is wyd bekend as instrumenthersteller en het opleiding gegee sodat spelers leer om self hulle instrumente in stand te kan hou.  Hierdie drie persone kom vir twee tot drie weke op eie koste na Bloemfontein en bied hul dienste en kundigheid gratis aan.  Dit volg op ’n soortgelyke besoek verlede jaar.

Verder het twee Belge die hele 2012 vrywillig opgeoffer en kom help met musiekonderrig en het op hulle koste ’n kenner gebring om van ons senior persone die kuns van instrumente herstel te leer.  Ons het twee “voormalige” orkeslede semi-voltyds in diens wat al ons instrumentherstelwerk hanteer.

Van die lede en oudlede het verteenwoordigende musiekkompetisies hier en oorsee gewen en sewe speel gereeld in die Vrystaatse Simfonieorkes.  Die volgende vyf studente studeer tans met merietebeurse in Amerika en Europa: Thapelo Masita (tjello) by die Eastman School of Music in Rochester (New York), Sehle Mosole (viool) in Los Angeles, Ruan Baartman (kontrabas) by die Royal College of Music (Londen), Reggie Teys (tjello) en Mookho Rankhala (altviool) albei by die Konservatorium in Feldkirch (Oostenryk).

Die Trust van die Mangaungprogram vir Strykers handhaaf ’n gesonde verhouding met die Departement Kuns en Kultuur van die Vrystaat, die Universiteit van die Vrystaat, al die skole en veral skole se musiekakademies en met die gemeenskap as sodanig.  Die Bochabela-orkes tree gereeld op tydens openbare funksies en is al vereer as Bloemfontein se instansie van die jaar.  In 2013 het die orkes op TV2-nuus verskyn tydens die ATKV muziq finale rondte in Bloemfontein.  Peter Guy het self verskeie toekennings uit verskillende oorde van die gemeenskap ontvang.

Die program is bevoorreg om ruim finansiële ondersteuning te ontvang vanuit plaaslike bronne maar ook van oorsee, hoofsaaklik van musiekkenners en -liefhebbers wat kennis neem van die orkes en die program.

Skakeling met die “voedingsgemeenskap” is van groot belang.  Daarom het die Bochies ’n ou bus wat nog in goeie bruikbare toestand is, aan die gemeenskap van Springfontein geskenk vir gebruik deur die drie skole aldaar.

Die Bochies handhaaf ook ’n gesonde verhouding met vriende in Europa. Die kinders geniet veral hulle verblyf saam met gasheer-gesinne en wedersydse vriendskappe is algemeen. Europese televisie skenk ruim blootstelling en ’n Belgiese TV span was pas in Suid-Afrika vir die vervaardiging van ’n program oor die Bochies.

Lees meer: english.cntv.cn/program/facesofafrica/20121001/100224.shtml

Die Bochabela Strykorkes voor hulle toer na België in 2013

Thapelo Masita, Lofentse Lekalake, Refiloe Olifant en Stella Benbooi in ’n fondsinsamelingskonsert vir die Mangaung Strykersprogram gedurende hulle toer in België

Japie Ngqonda wat sy musiekopleiding by die Mangaung-program vir Strykers gekry het, maak gereed om in die Vrystaatse Simfonie-orkes in die Sand du Plessisteater op te tree

By die Sand du Plessisteater neem Derek Ochse Refiloe Olifant deur moeilike passasies in die voorbereiding vir ’n konsert later die week

Gift Hess het vroeër in die Strykersprogram ook geleer om instrumente te herstel. Hy dirigeer nou een van die orkeste, is die amptelike busbestuurder en herstel instrumente

Tsholofelo Sereeco wat haar musiekopleiding in die Mangaungprogram vir Strykers gekry het, leer nou self die kleintjies

Die Bochabela Strykorkes speel in ’n voetganger-winkelpad saam met die Violet Nasionale Jeugorkes van België wat hulle in 2013 uitgenooi het.

Click here for more photos

Ook gepubliseer in: Tydskrif van die SA Musiek Onderwysers, 2013--2014, vol. 148. en in Afrikaans in Europa opgeneem met toestemming van die redakteur, John Roos.


Junie 2014

 

© Catharina Loader 2001