Die Musikhane Gemeenskapsprojek van die Noordwes-Universiteit

Bertha Spies, Dirkie Nell en Annette Massyn

Summary
The Musikhane Community Project was established in 1994 by Bertha Spies in collaboration with Dirkie Nell in the School of Music at the North-West University (then Potchefstroom University). The main objective was to introduce learners who do not have access to music education to the experience of music making. A secondary aim was to provide students of music education with the opportunity to develop teaching skills on a weekly basis. Non-music students who are proficient in an instrument as well as visiting students from abroad also take part in the programme. Singing, dancing, playing music instruments, performing on stage and acquiring basic music literacy skills form the foundation of this programme. Various kinds of ensembles, such as Basupi Brass, the Mini Maestros (violins), marimba players and a recorder ensemble perform regularly in concerts. The Musikhane orchestra played music from Africa, the Western classical repertoire, popular music and jazz. Participants in the Musikhane programme who went on to tertiary study now form part of the corps of music teachers in this country.

In various ways the Musikhane Community Project provides a fertile ground for postgraduate research and results have also been reported in papers presented at national and international conferences. In 2009 Musikhane formed part of the North-West University’s external evaluation by the Higher Education Quality Committee who concluded its report as follows: “The scope and variety of the Musikhane Community Project is impressive. It is an example of how a university music department can render invaluable community service through the medium of music.”

 

 

Orkesgroep, 2004

Die Musikhane[1] Gemeenskapsprojek is in 1994 deur Bertha Spies in samewerking met Dirkie Nell in die Skool vir Musiek by die Noordwes-Universiteit (toe nog die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys) begin. Die heelhartige ondersteuning van die musiekpersoneel, die Dekaan van Lettere en Wysbegeerte, asook die harde werk van studente in die projek en die finansiële ondersteuning van talle borge het gemaak dat Musikhane vanjaar nog steeds help om kennis en vaardighede oor te dra aan leerders wat nie toegang tot musiekopvoeding het nie. Musikhane se bydrae tot die gemeenskap sal waarskynlik versterk word deur die Noordwes-Universiteit se nuwe “Gee om”-veldtog want navrae ten opsigte van deelname aan die projek word reeds vanuit Klerksdorp ontvang.

Tans word ongeveer 45 leerders deur voorgraadse en nagraadse studente onderrig. In die meeste gevalle vorm hierdie onderrig deel van die student se opleiding in musiekopvoedkunde. Daar is egter talle studente, ook van buite die Skool vir Musiek en buite die grense van ons land wat in die afgelope twintig jaar bloot uit empatie met die missie ook in die projek werk. Na aanleiding van twee musiekstudente uit Rostock, Duitsland, wat gehelp het met musiekonderrig aan Musikhane-leerders, Christian Paplowski en Jochen Aschinger, het Kathrin Geisemeyer en Fabian Sitte op 1 Augustus 2003 uit Berlyn ook aansoek gedoen om as deel van hulle musiekopleiding in Musikhane te werk:

“We would like to continue the work of Christian and Jochen, if possible, because we are planning to write an exam paper which is about musical learning and teaching in Africa focusing on examples from schools and universities in several African countries (South Africa, Swaziland, Tanzania and Ethiopia). The experience of the Musikhane Project would be the basic foundation for our exam paper because, as it seems, Musikhane not only means musical education but also musical socialization which will be an important aspect in our research.” ’n Student van Daystar Universiteit in Nairobi en twee uitruilstudente van Finland het in 2009 ook in die projek gewerk.

Musikhane het al baie leerders in staat gestel om met musiekstudie op tersiêre vlak voort te gaan om die BMus, die Musiekdiploma en BA (Musiek en Samelewing) by die Skool vir Musiek te voltooi. Hulle vorm nou deel van die musiekonderwyserskorps in verskeie dele van die land.

Die kern van Musikhane is die Musiekopvoedingsprogram wat konsentreer op sang, dans, luister, perkussie-instrumente (soos Afrika-tromme en marimbas) en musiekgeletterdheid (note lees en skryf). Onderrig in strykinstrumente, koper- en houtblaasinstrumente en klavier word ook verskaf. Die eerste kennismaking met klavier was tydens groepklasse wat twee klavierdosente gegee het op ’n stel elektroniese klaviere wat deur die destydse Potchefstroom Onderwyskollege aan Musikhane beskikbaar gestel is (1998). Hoewel Afrika-musiek (sang, dans en instrumentale spel) ’n belangrike rol speel, word die opleiding in Westerse musiek nie afgeskeep nie. Die Unisa-eksamens (skriftelik en prakties) wat geslaag is, is bewys hiervan.

Van die begin af is daarna gestrewe dat leerders doelgerig werk en by Musikhane was die duidelikste doel vir die leerders die konsert aan die einde van elke semester. Hier speel ensembles ’n belangrike rol want dit bevorder die konsep van saam musiek maak en om verantwoordelikheid te aanvaar vir die sukses van die groep. Nadat die Musikhane-orkes einde 1999 gestig is, het dit by verskeie geleenthede opgetree, byvoorbeeld by die Aardklop Nasionale Kunstefees as deel van die ATKV se gemeenskapsprogram (2000). Die orkes het ook saam met die orkes van ISSA (International School of South Africa) in Mafikeng onder leiding van Liesl van der Merwe gespeel wat ’n totaal van 47 orkesspelers tot gevolg gehad het.

Die Musikhane-projek het oor twee dekades verskillende soorte ensemble-groepe gehad. Maar twee daarvan word hier as voorbeeld gebruik, naamlik Basupi Brass en die Mini Maestros. Basupi Brass wat in 1996 begin is en wat bestaan het uit tien spelers, was gesetel in Basupi Secondary School in Ikageng. Die insette van Nesco du Toit, hoof van die Musikon (by die Hoër Tegniese Skool Klerskdorp) en dirigent van die Zephyros blaasorkes, was van onskatbare waarde om hierdie ensemble op die been te bring. Van hierdie spelers het reeds in 1997 aan die jaareindkonsert van die Noordwes-Jeugorkes onder leiding van prof. Fanie Jooste deelgeneem. Hierdie groepie het ook sakgeld verdien deur by die krieketwedstryd van die wêreldbeker in Potchefstroom (2003) en in inkopiesentrums te speel.

Die Mini Maestro-ensemble het in 1997 deur bemiddeling van die South African Music Education Trust (SAMET) klein viole gekry as deel van Yehudi Menuhin se Violins for Africa Project. Hierdie subprojek is onder leiding van Esmie Koornhof op die been gebring en is gesetel in Potchefstroom Primary School. Benewens die feit dat hierdie groepie van 14 spelers aan skoolkonserte deelgeneem het, was hulle ook “gaskunstenaars” by ’n besoek van die Noordwes Provinsie se Minister van Gesondheid. In 2011 en 2012 het die Mini Maestros musiekkampe in Pretoria bygewoon wat gereël is deur SASA (South African Suzuki Association) en waartydens hulle vir ’n naweek saam met ander jong spelers kon musiekmaak. In 2011 het alle leerders in die Musikhane Projek aan die Potchefstroomse Kunsfees deelgeneem en elkeen het ’n sertifikaat ontvang.

Die Musikhane-orkes het in 2001 op uitnodiging van die Colla Voce Jeugkoor in ’n konsert in die Linder Ouditorium in Johannesburg opgetree. Die volgende jaar het die orkes saam met ISSA se orkes by die World Summit on Sustainable Development in Johannesburg in die Water Dome, soos dit toe genoem is, gespeel.[2] In 2002 en 2003 het die orkes deelgeneem aan die Orchestra Rave wat vir die Jeugdag feesvierings deur The Orchestra Company georganiseer is (Linder Ouditorium). Vir Musikhane se tiende verjaardag het die orkes saam met die PUK-Stix Marimba Ensemble by die Noordwes-Universiteit se Amfiteater opgetree en in Oktober van dieselfde jaar saam met die ISSA-orkes by UNISA (2003). ’n Groot verskeidenheid musiek, van Beethoven tot die Beach Boys en van Afrikaliedere tot jazz is gespeel.

Nadat Musikhane gevestig is, het dit ook deel geword van die Skool vir Musiek se navorsingsaktiwiteite. Referate by internasionale kongresse is aanvanklik gelewer deur Petri van der Merwe (1998: International Society for Music Educators in Pretoria) en Bertha Spies (2000: World Education Fellowship by Sun City). In 2003 het Marita Groenewald, een van die eerste werkers in die projek, ’n doktorsgraad behaal met die titel Die verband tussen musiekbeoefening en intelligensie waarin haar resultate gebaseer is op ’n kwantitatiewe en ’n kwalitatiewe ondersoek wat die Musikhane-leerders betrek het (Groenewald 2003; Spies en Groenewald 2005).

Later het Dirkie Nell, die projekleier, gekonsentreer op die spirituele en sosiale transformasie van leerders en musiekstudente wat as onderwysers in die multikulturele omgewing van die Musikhane Gemeenskapsprojek funksioneer. Deur middel van kwalitatiewe aksienavorsing wat in ’n interpretivistiese raamwerk gesetel is, is die effek van die projek geëvalueer. Die resultate het aangetoon dat deelname in die multikulturele omgewing van ’n musiekgemeenskapsprojek soos Musikhane betekenisvolle transformasie by die leerders en die onderwysers bevorder. Hierdie positiewe bewyse van sosiale welstand (“well-being”) en spirituele opheffing van gemeenskappe het sy as referate by nasionale en internasionale kongresse aangebied, soos byvoorbeeld in Bologna (2009), Birmingham (2010), Granada (2011), Barcelona (2012), Budapest (2013), Vilnius (2013) en Praag (2013).

Op 7 Augustus 2013 het die Musikhane Gemeenskapsprojek sy twintigste bestaansjaar gevier met ’n konsert wat aangebied is tydens ’n internasionale kongres by die Noordwes-Universiteit. Die tema van die kongres wat gereël is deur prof. Hetta Potgieter by die Skool vir Musiek, is Music and Well-Being. Dirkie Nell het ’n konsert aangebied wat bestaan het uit inheemse sang en dans, asook items deur groepe laerskoolkinders wat blokfluite, koper- en houtblaasinstrumente, tromme en viole gespeel het. Daar was selfs twee klavieritems wat elk deur “ses hande” gelewer is!

Annette Massyn, die huidige organiseerder, rapporteer dat die Musikhane Gemeenskapsprojek in Augustus 2008 deel was van die eksterne evaluering van die Noordwes-Universiteit en daarna in 2009 ook van die HEQC (Higher Education Quality Committee) se oudit. Hierdie kort oorsig oor die Musikhane Gemeenskapsprojek word afgesluit met ’n aanhaling uit die evalueringsverslag:

[A]s a whole, this project is well researched and carefully structured and implemented – clearly geared to the specific needs of the youth from disadvantaged and different backgrounds. It is heartening to confirm that the general aim of the Musikhane is met in most of the specific aims also involving full-time students completing music degree courses at the university … The scope and variety of the Mushikane Community Project is impressive. It is an example of how a university music department can render invaluable community service through the medium of music.

 

 

Bibliografie

Groenewald, M. 2003. Die verband tussen musiekbeoefening en intelligensie. Ph.D.-proefskrif. Potchefstroom: PU vir CHO.

Nell, D. 2009. ‘Music for Africa!’ ISME World Conference in Bologna, Italië.

‒‒. 2010. ‘Spirituality in Music Education: The Musikhane Community Project’. 1st International Conference of Spirituality and Music Education (SAME), Birmingham, Engeland.

‒‒. 2011. ‘Spirituality in Music Education: The Musikhane Community Project’. 9th International Conference on New Directions in the Humanities in Granada, Spanje.

‒‒. 2012. ‘Experiencing the Musikhane Community Project: A Vehicle to Spiritual Enhancement’. 7th International Conference on Interdisciplinary Social Sciences, Barcelona, Spanje.

‒‒. 2013. ‘Singing my Past for the Future: Revitalizing Indigenous Traditional Setswana Songs’. The 11th International Conference on New Directions in the Humanities, Budapest, Hongarye

‒‒. 2013. ‘Playing the Violin: A Vehicle to Spiritual Well-Being’. 2nd International Conference of Spirituality and Music Education (SAME), Vilnius, Lithuanië.

‒‒. 2013. ‘Playing the Violin: A Vehicle to Spiritual and Social Well-Being’. 8th International Conference on Interdisciplinary Social Sciences, Praag, Tsjeggiese Republiek.

Spies, B.M. en Groenewald, M. 2005. 'Musiek in diens van menslike kapasiteitsbou'. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Vol. 45(3): 412-421.

 

BYLAE 1: Borge

Die volgende borge het op verskillende tye en op verskillende maniere uiteenlopende bydraes tot die Musikhane-projek gemaak.

Anglo-American & De Beers: Chairman’s Fund Educational Trust, Arts and Culture, Trust, Colla Voce koor , Credo-musiek, Duitse Ambassade, Kuns- en Kultuurraad van die Noord-Wes Provinsie, MMINO South African-Norwegian Education and Music Program, Nasionale Jeugorkes, Nasionale Kunsteraad, Nederlandse Ambassade, Noordwes-Universiteit, Noordwes-Jeugorkes, Rupert Musiekstigting, South African Lotto, South African Music Education Trust (SAMET): Yehudi Menuhin se Violins for Africa, Def Leppard en Carl and Emily Fuchs Foundation, SAMRO Endowment for the National Arts, Unisa Musiekstigting, Hans Weissenböck

 

BYLAE 2: Leerders van die volgende skole wat by die projek betrokke was/is:

Basupi Primary School, Basupi Secondary School, Boitirelo Primary School

Boitshoko High School, Ferdinand Postma Hoërskool, Potchefstroom Primary School, Potchefstroom High School for Boys, Potchefstroom High School for Girls

Promosa Primary School, Resolofetse High School, Tlokwe High School

 

BYLAE 3: Werkers in die projek

Benewens die studente wat as deel van die musiekopvoedkundeprogram elke week ‘n klas waargeneem het, het die volgende persone onder andere as onderwysers, dirigente en organiseerders, busbestuurders en adviseurs op verskillende maniere ‘n bydrae tot die projek gemaak:

Melissa Anderson, Freddie Annandale, Jochen Aschinger, Annette Baart, Jorien Barnard, Lucy Booysen, Derick Botha, Douglas Bull, Sandile Cele, Karin Cloete, Alicia Crous, Wynand de Villiers, Siphiwe Dhlamini, Nesco du Toit, Mduduze Dube, Jana du Plooy, Christine du Toit, Febe Eigner, Bongile Foloti, Lizette Fürstenberg, Christo Geringer, Anne Goosen, Lize Griffiths, Daleen Grobler, Sophia Grobler, Marita Groenewald, Eulalia Harwood, Danell Herbst, Lichelle Howard, Fanie Jooste, Katrien Jooste, Lientjie Jooste, Rina Kloppers, Esmie Koornhof, Dick Kruger, Jaco Kruger, Jacques le Roux, Jane Lerefolo, Junine Liebenberg, Cornelius London, Christine Lourens, Charl Louw, Riana Lundie, Peter Maboe, Phiwe Makaula, Tlale Masiu, Annette Massyn, Leslie-Ann Mathews, Pampa Moalosi, Josiah Modiakgotla, Thabo Mokuke, Maria Mosiane, Ada Motai, Elizabeth Mtshali, Catrien Mulder, Andrew Munro, Marisca Myburgh, Dirkie Nell , Erika Niehaus, David Nkosi, Duduzili Nxumalo, Nkagisang Nxumalo, Berdine Orffer, Christian Paplowski, Karabo Phosa, Tebogo Phosa, Lianie Pottas, Tina Preller, Jacomine Pretorius, Mzamo Qoshekile, Liesl Raath, Lindi Rabie, Urs Raubenheimer, Erika Rood, Hilde Roos , Elzna Roux, Esther Sebetlele, Motheo Seemane, Delrie Smuts, Bertha Spies, Maria Spies, Elizna Steenkamp, Joanita Stemmet, Anri Steyn, Peet Steyn, Dawid Stoltz, Bernarda Swart, Johan Swart, Hannes Taljaard, Tshidiso Tau, Robbert van den Brink, Anél van den Heever, Jaco van der Merwe, Lihana van der Merwe, Petri van der Merwe, Pierre van der Westhuizen, Zenta van Heerden, Yolandy van Jaarsveld, Jetty van Rensburg, Bennie van Rooy, Sinette van Rooy, Suerene van Tonder, Elize Verwey, Santisa Viljoen, Waldo Weyer, Marientha Wright, Henriette Zaaiman, Martinette Zaaiman


[1] Die naam van die projek is voorgestel deur Jaco van der Merwe na aanleiding van die woord “masakhane” wat “laat ons saam bou” beteken. Die afleiding kan dus gemaak word dat “Musikhane” beteken dat om saam musiek te maak, mense kan saambind.

[2] Na die konsert ontvang die spelers egter die volgende briefie van die eerste projekleier: “Congratulations! The performance at the World Summit was a huge success. The University is very proud of the Musikhane Orchestra. But we must get back to earth: The theory test was a disaster. We shall have to work hard so that we don't spoil our reputation. BM Spies.”

 

 

Ook gepubliseer in die Tydskrif van die Suid-Afrikaanse Musiekonderwysers, 2013--2014, vol. 148. en in Afrikaans in Europa opgeneem met toestemming van die redakteur, John Roos

 

April 2014


 © Catharina Loader 2001