'n Pragtige spreuk wat deur Pretorianers geverf is, Sien AShooP Arts and Crafts

Die verrekening van taalvariasie in die prosawerk van Elias P. Nel - Frank Hendriks

Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Wes-Kaapland
LitNet Akademies Jaargang 11(2).
ISSN 1995-5928

Opsomming

In hierdie artikel val die soeklig op twee streeksliteratuurbundels van Elias P. Nel, naamlik Iets goeds uit Verneukpan? en Mafoiing en annerlike gelofietjies, wat onderskeidelik in 1998 en 2001 gepubliseer is. Gesamentlik beslaan die twee werke altesaam 35 kortkunstekste wat ten opsigte van literatuursoort primêr vertellings en/of anekdotes is. ’n Prominente kenmerk van die twee bundels is die bymekaarbring van ’n aantal Afrikaanse variëteite, naamlik Standaardafrikaans, Oranjerivierafrikaans, Kaapse Afrikaans en Swartafrikaans, en wel as konstituerend deel van die epiese aanbod. Vanuit ’n wesenlik variasietaalkundige perspektief, maar ook ’n letterkundige gesigspunt, word daar geredeneer dat die tekstuele integrasie van Oranjerivierafrikaans (as dominante variëteit in die bundels), Kaapse Afrikaans en Swartafrikaans as vertel- en/of sitaatkodes, die outentieke verrekening van die talige aard en die kulturele geladenheid van hierdie variëteite en die betroubare sosiolinguistiese inkleding van die vertellinge implisiet in diens staan van die demarginalisering en/of destigmatisering van Afrikaanse regiolekte en sosiolekte.

Lees verder ...

Annerlike Afrikaans: Woordeboek oor kontreitaal

Hennie Aucamp skryf oor dié publikasie wat by Protea Boekhuis verskyn het en met die ATKV-Sanlamtoekenning vir die beste taalkundepublikasie in 2009 bekroon is:

"... Ons gesin, Pa vooraan, het Griekwa-uitdrukkings in ons spraak opgeneem, van ʼn uitroep soos "Aits-erre-etse!" af tot "Staan troei!" en "Ietsegeit" toe ....

En nou het dr. Anton Prinsloo ʼn uitgebreide bydrae tot herinneringsliteratuur in Afrikaans gelewer met sy dik boek kontreiwoorde getiteld Annerlike Afrikaans.

Wat deurentyd opval by Prinsloo se verklarings, is die plesier wat hy aan sy taak gehad het.

Kontreitaal, soos byvoorbeeld plekname, en die volksname van plante en diere, kan na die noemer nostalgie herlei word; ja, ook disse soos slinger-om-die-smoel, skilpad, skaap-se-kluitjies, pofadder, haksel, en talle ander.

Kontreitaal, het Boerneef ons geleer, is "troostaal van gister", en is ʼn stuwal teen die "trap- en vertrappers" van kosbare erfgoed ... "

"... maar daar is ook etniese uitdieping in Annerlike Afrikaans; vir my die mooiste, en ook ontroerendste, voorbeeld staan op bl 128 onder die lemma heitsi-eibib, met ʼn string variante van dié woord daarnaas. Kliphope langs die pad in Namaland, Hereroland, Namibië sou die graf van die god Heiseb kon wees, en wie verbystap, plaas ʼn klein offerande op dié graf, ʼn takkie, die blare van ʼn boom, ʼn bietjie twak ..

Enkele voorbeelde uit die boek:

aamborsie (s.nw.) - aborsie (Griekwaland-Wes)
aandblom, aandblommetjie (s.nw.) - 1. soort tjienkerientjee (Springbok). 2. soort blomplant met dikwels grasagtige blare en tregtervormige blomme; sommige soorte gaan teen die aand oop, ander bly oop, maar versprei hul geur veral teen die aand (Bredasdorp, Fraserburg, Humansdorp, Roggeveld)
aandgonna (s.nw.) - klein struik met silwerige, leeragtige blare en wit blomme wat teen die aand hul geur versprei (Riversdal)
aanstallageit (s.nw.) - in die uitdrukking aanstallageit maak: aanstaltes maak (Griekwaland-Wes)
aantrek, sensitief wees vir iets, byvoorbeeld n slegte tyding, jou iets maklik aantrek (Griekwaland-Wes)
[...]

Titel: Annerlike Afrikaans
Subtitel: Woordeboek van Afrikaanse kontreitaal
Skryver: Anton F. Prinsloo
Uitgewer: Protea Boekhuis
Pretoria, 2009
ISBN: 9781869192655
Sagteband, 15x22 cm, 536 bladsye, Afrikaans

 

Junie 2014