Die wêreldpremière van Bongani Ndodana-Breen se Credo

Op 18 Julie 2013, Nelson Mandela se 95ste verjaardag, is Bongani Ndodana-Breen se Credo: A Musical Testament to the Freedom Charter vir die eerste maal uitgevoer. Die werk is in opdrag van die Universiteit van Suid-Afrika gekomponeer om die universiteit se 140ste bestaansjaar te vier. Hierdie multi-media oratorium vier nie net die lewe van Nelson Mandela nie maar ook dié van ZK Matthews en vele ander “struggle” veterane wat in 1955 by Kliptown die Vryheidsmanifes opgestel het.

Die Johannesburgse Filharmoniese Orkes onder leiding van die Duitse dirigent, Jonas Alber, en die Gauteng Choristers wat deur Sidwell Mhlongo afgerig is, het in Unisa se ZK Matthewssaal opgetree. Die soliste in hierdie produksie van Pina Ya Thari, wat oorspronklike musiek en opera bevorder, was Sibongile Khumalo, Monika Wassung en Otto Maidi.

Die Vryheidsmanifes is vir artistieke doeleindes deur Brent Meersman verwerk. In die program skryf hy soos volg:

In the poem, I set myself the task to attempt to distil in the simplest and fewest words, in the clearest human terms, in words as uncluttered as possible, some essence of the Freedom Charter.”

Andrew Black het die oudiovisuele aspek (foto’s en grepe uit toesprake) van die produksie behartig.

Hierdie oratorium bevat volgens tradisionele modelle vokale solo’s, ensembles, en koorstukke wat die inhoud van die woordteks op musikale wyse uitbeeld. Die eindproduk is hoofsaaklik eklekties van aard, nie net weens die kombinering van klank, visuele beelde en die gesproke woord nie maar ook weens die kombinasie van ’n hoofsaaklik Westerse idioom met melodiese gestaltes en ritmes uit Afrika-musiek.

Lees die resensie by:

www.beeld.com/vermaak/2013-07-19-di-oproep-sou-credo-verryk

 

Gepubliseer: Augustus 2013

© Catharina Loader 2001