'n Na-doktorale genoot by die NWU Skool vir Musiek, dr. Ockie Vermeulen, het op Sondag 13 April 2014 'n Ghoema-toekenning ontvang vir sy derde instrumentale CD, Obsession. Dit bevat musiek wat gekomponeer en geïnspireer is deur die ontslape Christa Steyn. Die opname is ook genomineer vir 'n South African Music Award (SAMA) in die kategorie Beste Klassieke en/of Instrumentale Album. Dr. Vermeulen is bekend as orrelis en kurator van die Rieger-Orrel by Unisa.

Luister op YouTube
Vrygestel op 29.08.2013
Music composed by Christa Steyn.
Produced and arranged by Ockie Vermeulen.

Lees ook die volgende artikel: Rondo as metafoor vir Christa Steyn se lewe
(´n
Opsomming)

Dr. Vermeulen het ook 'n artikel oor Christa Steyn in 2013 by LitNet Akademies gepubliseer: Na ’n jaar lange stryd teen terminale bors- en lewerkanker sterf Christa Steyn op 11 Junie 2012. In die media word sy as ’n Afrikaanse ikoon beskryf en medekunstenaars en aanhangers is dit eens dat Suid-Afrika een van die grootste musiekgeeste van die afgelope 30 jaar verloor het. As liedjieskrywer, komponis en kunstenaar het sy ’n onmiskenbare bydrae tot toeganklike musiek in Suid-Afrika gelewer. Steyn bestempel haar komposisie Rondo as een van haar suksesvolste komposisies, maar die verband tussen komponis en komposisie is selfs meer betekenisvol. In hierdie interpretatiewe studie, gegiet in die vorm van ’n gevallestudie, word Rondo ontleed om hierdie betekenisvolle verband te beskryf. In die ontleding word hoofsaaklik van primêre bronne gebruik gemaak: onderhoude met Steyn, haar ouers en eerste klavieronderwyseres, asook die manuskrip van Rondo in haar handskrif. Die gevolgtrekking word gemaak dat Rondo as metafoor vir Steyn se lewe gesien kan word. Die voortdurende herhaling van ’n hooftema in die rondo-musiekvorm is simbolies van die sirkelgang in Steyn se loopbaan, waarin sy telkemale na die basis van haar klassieke opleiding terugbeweeg. Veral die melodiese interval van ’n tweede is opvallend in Rondo en kan as verteenwoordigend van die twee invloede in Steyn se loopbaan geïnterpreteer word: haar liefde vir klassieke musiek en haar toewyding om dit in eietydse styl vir ’n groter gehoor toeganklik te maak.

Vir die volledige artikel kliek hier.

Berig saamgestel uit:
Noordwes Universiteit, School of Music & Conservatary, 2014-04-22, www.nwu.ac.za/music
LitNet Akademies