Peter Klatzow wen Helgaard Steyn-toekenning vir komposisie ´n tweede keer

Persverklaring, Oktober 2014

Die Helgaard Steyn-toekenning het ten doel die bevordering van die kunskultuur in Suid-Afrika, en is een van die mees omvangryke pryse op die kunstoneel. Dit word sedert 1987 in ’n vierjaarlikse siklus toegeken, en roteer tussen die dissiplines van Afrikaanse letterkunde, komposisie, beeldhoukuns en skilderkuns.

In 2014 was komposisie weer aan die beurt en die beoordelaars het besluit om die toekenning van ongeveer R500,000 aan Peter Klatzow van Kaapstad te maak vir sy komposisie “LIGHTSCAPES vir marimba en klein ensemble”. Hy was ook twintig jaar gelede, in 1994, die wenner van hierdie toekenning vir sy klavierwerk “From the Poets”.

Die Helgaard Steyn Trust het tot stand gekom vanuit die boedel van wyle dr. J.H. Steyn (1902–1983) en is vernoem na sy vader, eertydse LPR vir Bloemfontein en jongste broer van die laaste republikeinse president van die Oranje-Vrystaat, M.T. Steyn.

Die plek waar die toekennings gedoen word alterneer tussen Bloemfontein en Potchefstroom, gegrond op vroeëre affiliasies van die familie Steyn. Die rektore van die universiteite in hierdie twee stede word jaarliks daarmee getaak om elk ’n beoordelaar aan te stel om die wenner te kies. Ter wille van sowel ’n breër inspraak as deursigtigheid word ’n derde eksterne beoordelaar aangewys.

Die beoordelaars vir komposisie in 2014 was prof. Henk Temmingh, voormalige hoof van die Departement Musiek aan die destydse PU vir CHO; mnr. Noël Stockton van die Odeion Skool vir Musiek aan die Universiteit van die Vrystaat; en prof. Jeanne Zaidel-Rudolph, emeritus professor in musiek aan die Wits Skool vir die Kunste. Die administrasie is behartig deur die Skool vir Musiek op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit.

Om in aanmerking te kom vir die toekenning, moes komposisies vanaf 2010–2013 gekomponeer en in dieselfde tydperk in die publiek uitgevoer, of uitgesaai, of opgeneem wees. LIGHTSCAPES was ’n opdragwerk vir die World Marimba Competition in Stuttgart, Duitsland in 2012 en is daar deur al die deelnemers uitgevoer.

Die beoordelaars het die komponis geprys vir sy ontginning in hierdie werk van verskeie harmoniese lae in ’n multi-tonale taal wat kontemporêr is, maar steeds heel toeganklik. Die klankwêreld wat Klatzow skep is vars en ‘magies’. Die melodiese kontoere en subtiele ritmiese patrone is pragtig gevorm en die vorm goed gekonstrueer. Die komponis se vakmanskap, gekombineer met sy inherente musikaliteit, maak hierdie werk besonder aantreklik en hou die aandag van die luisteraar tot die einde.

Die toekenning sal amptelik aan Peter Klatzow oorhandig word by ’n spesiale seremonie op Dinsdag 28 Oktober 2014 in Potchefstroom.

www.helgaardsteyntrust.co.za

Junie 'n besige maand in die musiekwêreld

Die groot nuus in SA is die afsterwe van Stefans Grové. Bertha het 'n huldeblyk vir LitNet geskryf. Sy het 'n hele klompie mense gevra om insette te lewer want hy was so 'n besondere mens wat soveel mense se lewens aangeraak het.

Die befaamde violis, Pinchas Zukerman en sy bekende tjellis-eggenote Amanda Forsyth besoek Suid-Afrika in die tweede helfte van 2014. Benewens die feit dat Zukerman ook as dirigent sal optree, sal Amanda Forsyth onder andere haar pa, Malcolm Forsyth (1936-2011), se Electra Rising vir tjello en orkes uitvoer. Hierdie komponis wat in Pietermaritzburg gebore is, het in 1968 na Kanada geëemigreer waar hy in 1989 as die Kanadese komponis van die jaar bekroon is.

www.artlink.co.za/news_article.htm

nac-cna.ca/en/bio/pinchas-zukerman 

www.allmusic.com/artist/malcolm-forsyth-mn0001318228/biography

Johann Sebastian Bach se Mis in B mineur is in Mei 2014 in Kaapstad en Stellenbosch met, onder andere, die wêreldbekende Andreas Scholl as solis uitgevoer. Dit is die resultaat van ‘n samewerkingsooreenkoms tussen Stellenbosch Universiteit se Eenheid vir Vroeë Musiek en die Johannes Gutenberg Universiteit in Mainz, Duitsland. Die kunstenaars sal Bach se grootse komposisie later in Mainz en Frankfurt herhaal waar werke van Suid-Afrikaanse komponiste ook in ander konserte uitgevoer sal word.

www.sun.ac.za/afrikaans/Lists/events/DispForm.aspx

 

 

© Catharina Loader 2001