Heelwat van die opstelle wat hier bymekaargebring is, het oorspronklik verskyn in die rubriek "Prosakroniek" wat ek sedert 1971 vir die Tydskrif vir Geesteswetenskappe behartig. Vandaar, ten dele, die titel van hierdie bundel.

By dié kronieke is ander stukke gevoeg waarin fragmente van die verhaal van die Afrikaanse prosa vertel word vanuit verskillende hoeke. Daarby hoort ook´n paar nabetragtings oor die prosa van ouer skrywers. Huldigingsgeleenthede word meestal herwaarderingsgeleenthede, en dikwels word dit dan duidelik hoe hierdie oueres nog tot in ons eie tyd meeskryf aan ons literatuur. Aan die begin van die versameling het ek´n opstel geplaas waarin ek probeer het om na die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde oor vyf-en-sewentig jaar heen te kyk. So kan die plek van die prosa naas en teenoor die ander literêre genres afgeteken word.

Uit´n vorige bundel, Oor die Afrikaanse prosa e.a. opstelle, is drie oorsig-opstelle oorgeneem: "Afrikaans en die prosa", "Die Afrikaanse prosa 1900-1965" en "Die moderne Afrikaanse prosa teen die agtergrond van die Afrikaanse prosatradisie". Alles bymekaar genome, word dus verskynsels uit die kroniek van die Afrikaanse prosa beskryf van 1652 af tot 1984, al word daarmee glad nie beweer dat hier´n volledige geskiedenis van die Afrikaanse prosa aangebied word nie. Die opstelle is trouens ook kroniek van hoe Afrikaanse prosawerke oor twintig jaar heen deur een leser gelees is.

Elize Botha
Pretoria, Januarie 1987

© Catharina Loader 2001