Fotobeeld
Suid-Afrika in beeld
Suid-Afrika in beeld
Suid-Afrika is ryk aan kontraste - polsende stede, uitgestrekte plattelandse gebiede, ryk kulturele tradisies, imposante bergreekse, woestyne, watervalle, natuurparke, boesmantekeninge, dobbelpaleise, savannavelde, strande, plante en diere -´n fees vir enige nuuskierige gewapen met ´n kamera.
Op die volgende bladsye vind u dus kort inleidende aantekeninge oor verskillende streke in Suid-Afrika, begelei van´n kaleidoskoop merkwaardige foto´s wat uit alle windrigtings afkomstig is.
Baie dankie vir die lesers van Afrikaans in Europa vir hulle toesendings. U kan die onderstaande forum gebruik indien u kommentaar of voorstelle wil lewer.
In Nederlands: Bezienswaardighede in Zuid-Afrika
In Duits: Reiseführer
Die Groot Vyf
Die Groot Vyf
Suid-Afrika is bekend vir die groot verskeidenheid diere wat in die verskillende wildreservate aangetref word.
Hiervan is die sg. 'Groot Vyf' miskien die bekendste en word beskou as van die gevaarlikste diere in Afrika.
Die leeu (Panthera leo)
Leeus is die enigste van die sowat 38 katagtige spesies wat daarvan hou om in troppe te lewe.
Foto 1:
Hier sien u ´n indrukwekkende leeumannetjie in die Kgalagadi Grenspark, ´n foto geneem deur Nigel Dennis (1998). Hy kan tot 250 kg weeg en is die hoof van 'n harem: ´n klomp wyfies en kleintjies.
Foto 2:
Dit wys drie leeuwyfies wat deur Anette Kellerman iewers by 'n watergat in die Noordkaap gefotografee is. Tydens paartyd kan daar tot 30 keer per dag gepaar word. Die wyfie sonder haar af van die trop as sy geboorte gee. Wanneer die kleintjies kan loop, gaan sy terug na die trop. Tydens jagsessies kan 'n wyfie tot 60 km hardloop. Leeus brul geweldig hard (ná sononder, ná 'n vangs en as hulle klaar geëet het). Hulle het ook 8 verskillende bromgeluide en verskeie tjirp-, tjank- en spingeluide.
Die olifant (Loxodonta africana)
Die Afrika-olifant kom suid van die Sahara voor en is deesdae tot sekere tropiese woude, savannas, woestyne en riviervalleie beperk. Hulle eet tot 200 kg voer en drink 190 liter water per dag. Hulle is in konstante gevaar omdat wilddiewe agter hulle enorme ivoortande (oogtande wat deur die vel groei) aan is.
Foto 3:
Twee volwasse bulle groet mekaar in die Sabi Sabi Wildtuin in Mpumalang
Foto 4:
Dis ´n Olifant naby Orphen in die Kruger Nasionale Park in Mpumalange.
Die renoster (familie: Rhinocerotidae)
Van alle soogdiere is net olifante en die seekoeie groter as renosters. Hulle kan meer as 2500 kg weeg.
In Suid-Afrika kry ons twee soorte:
1. Die swartrenoster (Diceros bicornis)
2. Die witrenoster (Ceratotherium simum)
Beide renosterspesies het swak sig maar 'n besondere skerp reuksintuig.
Beide soorte het twee neushorings maar hulle lipvorm verskil.
Die swartrenoster wat vanaf die savannas en berghange suid van Ethiopië tot in Suid-Afrika voorkom, het 'n lang, gepunte, ''grypende'' bolip.
Die witrenoster is baie skaars en word meestal nog net in Suid-Afrika aangetref.
Hierdie diere is eintlik nie wit nie. Die benaming is 'n volksnaam wat as gevolg van ´n taalfout ontstaan het. Die boere het die Nederlandse "wijde" (wat na die wye vorm van dié tipe renoster se onderlip verwys) verkeerd gehoor en na "wit" vervorm.
Foto 5:
`n Swartrenoster wat in die Lapalala Wildtuin in die Limpopo provinsie gefotografeer.
Foto 6:
´n Swart renoster deur ´n onbekende fotograaf.
Foto 7:
´n Witrenoster en haar kalfie in die Nasionale Krugerwildtuin.
Die luiperd (Panthera pardus, Leopard)
Die luiperd ('leopard') moet nie verwar word met die jagluiperd ('cheetah' of in Duits bekend as 'Gepard')) nie. Laasgenoemde is ’n heeltemal ander katspesie.
Die luiperd se pels het swart vlekke in die vorm van rosette en hy het ´n bonkige, stewige liggaamsbou.
Luiperds is kranige klimmers wat in droogtetye ook veldmuise, ystervarke en selfs vrugte sal vreet.
Die jagluiperd se vlekke is rond en sy liggaamsbou is baie meer vaartbelyn.
Hy het ook ´n prominente traanstreep langs die oë wat by die luiperd ontbreek.
Foto's 8 & 9 :
Links´n luiperd en regs´n jagluiperd in die Mala Mala Wildtuin in Mpumalanga
Foto 10:
Luiperd in die Sabi Sand Wildtuin in die Mpumalanga provinsie (2005)
Die buffel (Syncerus caffer)
Die buffel het ´n reputasie onder jagters as een van die gevaarlikste diere om te jag.
Buffels is ook tropdiere en die leiding by 'n trop word uitsluitlik deur die alfakoei geneem.
Buffels is 'n ook tropdiere en die leiding by 'n trop word uitsluitlik deur die alfakoei geneem.
As daar 'n gevaarlike situasie dreig, kom die koeie en die kalwers in die middel van die trop bymekaar en word deur die bulle omring wat dan die koeie en die kalfies beskerm.
Foto 11:
Tipies van die buffel is dat sy horings 'n helm oor sy kop vorm.
Foto 12:
Buffels lewe in indrukwekkende troppe.
Bronne:
SAT: Dié afkorting staan vir Suid-Afrikaanse Toerisme, in dié geval ook vir hulle foto-biblioteek waar die SAT foto's gratis beskikbaar ge stel word om SA toerisme in nie-kommersiële en opvoedkundige verband te bevorder.
Die webwerwe van mieliestronk en SA Tourism Photo Library.
Soogdiere van die Krugerwildtuin en ander Nasionale Parke (1979). Saamgestel deur Die Nasionale Parkeraad. 'n Publikasie van die Raad van Kuratore vir Nasionale Parke van die Republiek van Suid-Afrika. ISBN 0 86953 027 5.
Publikasie: 2009
© Catharina Loader 2001