Fotobeeld

Onder die ongeveer 507 voëlspesies wat in die Kruger Nasionale Wildtuin aangetref word, tel die sogenaamde "Groot Ses", naamlik die bromvoël, breëkoparend, swartaasvoël, visuil, gompou en die saalbekooievaar.

Die bromvoël (Bucorvus leadbeateri / southern ground hornbill)

Volgens ´n artikel in die plaaslike koerant van Thabazimbi, die Kwêvoël, heers daar groot kommer oor die drastiese afname in die aantal Bromvoël-getalle. Daar word gereken dat die maksimum aantal bromvoëls in Suid-Afrika tussen 1500 en 2000 is. Die diep roep van die bromvoël kan tot 4 km ver gehoor word. Die mannetjies het  ‘n rooi gesig, nek en keelsak en die wyfies het ´n blou merk op die keel. Hulle is karnivore.

Die breëkoparend (Polemaetus bellicosus; martial eagle)

Die breëkoparend kom wydverspreid in Suid-Afrika voor. Hy is lief vir ´n omgewing met groot bome vanwaar hy sy jagveld kan bespied en waarin hy sy yslike groot nes bou - 2 meter breed en 2 meter hoog.

Die swartaasvoël  (Torgos tracheliotus; lappet-faced vulture / Nubian vulture)

Dié aasvoël maak nie baie lawaai nie maar tree erg dominant op wanneer daar aan ´n karkas gevreet word. Sy nes is breër as dié van die breëkoparend (3m in deursnee) maar nie so diep nie (wissel van 50cm tot 1m).

Die visuil (fish owl)

Die visuile lewe graag naby water en in groepe van twee tot drie. Hulle is nagvoëls en kan tot 2kg per dag verorber. En, natuurlik, waterdiertjies is hulle lieflingsdisse - selfs ´n klein krokkodilletjie is nie te versmaai nie. Die glibberige diertjies kan hulle gemaklik vang omdat hulle kloue met hakies toegerus is wat hulle gemaklik in die prooidier kan inkap.

Die gompou (Ardeotis kori; Kori bustard)

Die gompou is ´n groot en indrukwekkende voël - hy het ´n wit maag en ´n grysbruin rug. As hulle nie broei nie vorm hulle groepe van ongeveer 40 lede. Behalwe sade, insekte, klein diertjies en oorskietvleisies by ´n vangs is hulle baie lief vir die gom van die Akasiabome. Dit verklaar ook die woord 'gom' in hulle naam.

Die saalbekooievaar (saddlebilled stork)

Die langbene en die rooi snawel en statige houding  is opvallende kenmerke van dié spesie.

´n Bromvoëlmannetjie in die omgewing van die boskamp, Bateleur, in die noorde van die Nasionale Kruger Wildtuin.

(Foto: Catharina Loader)

Alet Steyn het dié foto gestuur en skryf: "Kyk sy wimpers!"

Vandag is hierdie aasvoël 'n bedreigde spesie.

'n Pragtige visuil in die Kruger Nasionale Park

(Foto: Gwendolen, Groningen, Nederland, 2006)

´n Pragtige gompou al wou hy nie sy voorkant vir die kamera wys nie.

(Foto: Alet Steyn)

Saalbekooievaar in die Nasionale Krugerwildtuin, 1993.

(Foto: Reg Gush, kopiereg SAT)

Geraadpleegde bronne:

Science in Africa - Africa´s first online science magazine

*Dié afkorting SAT staan vir Suid-Afrikaanse Toerisme (South African Tourism) wat ´n foto-biblioteek gratis beskikbaar stel om SA toerisme in nie-kommersiële en opvoedkundige verband te bevorder.

Dawid van Lill, Van Lill se Suid-Afrikaanse Trivia, Zebra 2004.

ISBN: 9781868729272

Gepubliseer: 2009


© Catharina Loader 2001