Oor die skrywer

Hêppie Krismis - Krismiswense vanne straatkind

Chileab C. Bruintjies, oftewel Chilli soos hy alombekend is, is in 1966 te Mosselbaai gebore. Hy het ook hier opgegroei en dis meesal oor die gemeenskap se lief en leed wat hy graag skryf. Dis ook hier waar hy sy  skoolopleiding voltooi, eers by All Saints Primêr en Ridgeview Primêr, toe by Hoërskool Sao Bras. Hy verwys altyd spottenderwys daarna dat hy sy verdere opleiding aan die Universiteit van die lewe gedoen het.

Chilli, ook in die Suidkaap bekend as die straatdigter, is die tweede jongste van tien kinders en is gebore vir ôm Boetie, ʼn trokdrywer en an’ Dollie, ʼn huisbe­diende. Hy noem sy ouers, naas God, as die grootste invloede op sy lewe, juis vanweë die voorbeeld wat hulle gestel het in hul Christelike leefwyse. Volgens hom was hulle baie arm, maar sy ouers het hulle ‘n rykdom aan goeie waardes geleer wat hulle weer kon aanwend om andere mee te seën. Chilli het in n beskeie drie vertrek huisie, in die Valley, soos sy woonarea bekend was, grootgeword.

Van kleins af het Chilli ‘n besondere voorliefde vir lees, skryf, kerktoegaan, die natuurlewe, gemeenskapwerk en kuns- en kultuur en dit alles vat hy kreatief saam in sy letterkundige werke. Chilli is baie geliefd onder Mosselbaai se mense vanweë sy opheffingswerk in die gemeenskap en hy werk ook met verskeie organisasies in dié verband.  Hy het van nature ʼn meëlewendheid met mense wat swaarkry en ly; en het nog altyd sy lewe aan diensbaarheid teenoor sy medemens gewy.

Hy werk al etlike jare om veral sosiale kwessies soos drank-en dwelmgebruik, miv/vigs, kindermishandeling, misdaad en armoede aan te spreek en sy gedigte en dramatekse is veral op bewusmaking en opvoeding gemik.

Dan is daar ook sy treffende drama oor Saartjie Baartman en komedies wat hy vir kunstefeeste voorberei, maar vir eers is hy opgewonde oor die feit dat hy sy pennevrug uiteindelik kan boekstaaf. Met die digbundel, Hêppie Krismis, Krismis­wense van ‘n straatkind maak hy sy debuut.

Chilli sê altyd die skrywersink vloei uit sy siel uit in sy sweet, trane en bloed en kry dan uitdrukking in woorde.

 

Oor die gedigte

Dié bundel van Bruintjies het in 2012 die lig sien en daar is 34 gedigte in opgeneem. Die digter probeer om kersfeeswense vanuit die oogpunt van straatkinders saam te vervat.

Krismistyd

Dis weereens krismis
Daar’ie special tyd vannie jaar
'n Tyd wat soveel good memories inhou
en ook 'n tyd van great expectations

Dis
'n tyd met ʼn jolly good atmosphere
'n Tyd van great hêppiness
'n Tyd wanneer emotions usually hoog loop
'n Tyd met baie sentimental value

Dis 'n tyd met die beste spirit ooit
'n Tyd vir groot feesvier
'n Tyd wanner alles op sy grêndste lyk
'n Tyd met die nicest  kos
Dis 'n tyd van loving samesyn
'n Tyd met lotsa wishings
'n Tyd van oorvloed
'n Tyd van gifts gee,   Bigtime!

Watte blessed tyd!
Ja, almal het 'n wonderful tyd
But weet straatkinners dis Krismistyd?

Die gedigte wil uitbeeld dat daar te midde van al die gelukkige kersfeesvieringe, ook hartseer en ellende bestaan.

Dit is juis in hierdie spesiale tyd dat straatkinders hoë verwagtinge van hul medemens koester. Dit is ook die beste tyd om die kersboodskap van omgee en mededeel­saamheid in perskektief te plaas. Krismiswense vanne straatkind bestaan uit 8 dele waarvan ek een in die bekendstelling insluit:

Krismiswense vanne straatkind deel 1

Onse Hemelse Vader vannie Krismis
Dis ekke, ekke man! Die straatkind
Van g’n permanent address
iewers innie Mosselbaai
Ek is seke’ die laaste persoon
wat U expect om van te hoor oppe Krismis
Surprise huh?
Nogááls vanne ʼn sweetboggerol soos ek
Ek try maa’ liewer vi’ U innie hanne kry
Want Krismis wys nooit gesig hiersô nie
Miskien ken U my darem van êrens
Maybe, ʼn  mens weet nooit
Sê somma vi’ my Hêppie
Dis hoe mense my call,
Alhoewel ek hier’ie Krismis anything but hêppie is
Net ʼn remainder, onthou
As U nie hierdie Krismis by my kan uitstiek nie
Dan is Krismis net so goed as verby vi’ my

Dit is juis in hierdie spesiale tyd dat straatkinders hoë verwagtinge van hul medemens koester. Dit is ook die beste tyd om die kersboodskap van omgee en mededeel­saamheid in perskektief te plaas.

Die gedigte is in lekkerlees streetwise-taal geskryf. Sommige gedigte is uit n komiese oogpunt geskryf, ander ontlok weer simpatie met straatkinders, dan is daar dié wat jou weer tot die ontdekking van die Bybelwaarheid skok.

Ingestuur deur Neil Edwin Carelse

 

Gepubliseer Julie 2013

 

© Catharina Loader 2001