Leesstukke

By die tandedokter - 'n Toneelstuk van Melt J Brink (1842-1925)

'n Verwerking deur Rina Loader

Die volledige drama is waarskynlik te kry by NALN (Nasionale Afrikaanse letterkundige museum en navorsingsentrum)

´n Figuur uit die Eerste Afrikaanse Taalbeweging

 

Leentjie en Teuns in die tandedokter se spreekkamer.

Leentjie
(steun geweldig en hou haar wang vas, verkeer duidelik in groot pyn) Teuns, as die tandeman ons roep, moet jy tog maar praat – my tand is heeltemal te seer!

Teuns
Toemaar, Leentjie. Ek het nog oorle ma se medisynetrommeltjie en die testament vir ingeval saamgebring.

Dokter
Goede morgen ... wat kan ik voor u doen?

Teuns
Is u die dokter wat tande uittrek?

Dokter
Zeker. Gaat maar daar op die stoel zitten. Wijs mij welke tand u zeer doet!

Leentjie
(steun) Ag toggie, Teuns! Voor ek myself op daardie stoel begewe moet jy eers vir my ´n paar druppels oliekolonie op my sakdoek gooi ... jy weet ... vir die naarheid en die floute ...

Dokter
Kom, mevroutje! Kom doe nu af die hoed en zo maar ook de doek om je kakebeen en kom nu achterover hier op de stoel liggen. Niet bang zijn. Dis gouw klaar.

Leentjie
(gryp haar hart vas) Teuns, gou! Vyftien druppels witdulsies vir my hart!

Teuns
Goed, my lam!

Leentjie
Teuns! Jy het twee druppels gemis! Nou's daar weer drie te veel!

Teuns
As jy minder praat sal ek kan tel hoeveel vervlakste druppels in die glas val. Ek sal nou net 'n bietjie meer water bygooi! Hier, sluk!

Leentjie
Dankie, tog! Nou voel ek klaar beter!

Dokter
Mevroutje, wijs me even uit welke tand het is.

Leentjie
Dis hier aan die linkerkant, derde van agter. Daar's 'n verskriklike gat in. Elke keer as ek 'n lemoetjie eet, glip daar ´n lemoenpit in en nou die dag het die hoender se wensbeentjie daarin vasgesit en asof dit nie genoeg was nie het daar anderdag 'n stuk skaapstertbeentjie ingeglip. Ek het al my haarnaalde krom gebuig om dit uit te grou, maar tevergeefs. En soos die duiwel dit wil hê, het ek dit dié nag ingesluk met die verskriklikste gevolge vir my ingewande. Sien jy iets, dokter? 

Dokter
Ja, die tand moet eruit. Maar zit toch nou even op het stoel, en maak uw mond goed open zodat ik die tand met dit instrumentje kan pak.

Leentjie
Dokter, wil jy dié vreeslike ding in my mond steek?

Dokter
Hou toch moed, mevroutje. Dis werkelijk niet zo erg!

Leentjie
Dokter, as jy so benoud soos ek hier sit, dan sweet jy verseker dwarsdeur jou broekspype. Teuns, nou´t ek twintig druppels versterkdruppels nodig en gou ook! Weet, dokter, versterkdruppels is te wonderlik vir woorde. Ek het eenmaal 'n vraatjie aan my voorvinger gehad en dit was net versterkdruppels wat my aan die lewe gehou het. (neem die medisyne by Teuns) Dankie, mens. Dis net betyds. Teuns, is ons testament reg?

Teuns
Ja, vrou. Wil jy hê ek moet nog iets by noteer?

Leentjie
Nee, man! Kyk net of ek op elke bladsy geteken het anders smyt die hof nog die ding uit en hoe dink jy moet ek van daar anderkant af nou eers weer als kom oorteken, hê? Ek wil gerus sterwe. Jy weet wat het tant Susara se onrustige gees als aangevang nadat ou Jors haar verkul het met Miemie Swaerwater, nê!  Hulle moes naderhand selfs die dominee ...

Dokter
U moet zich niet zo gaan ontstellen, zit maar gerust stil en doet uw mond open.

Leentjie
Hemeltjie, help! Ek is in 'n vreeslike nood! Teuns, jy moet sing!

Teuns
Goed, my lam. (sing) Uit dieptes gans verlore, van redding ver vandaan ...

Dokter
Houd je mond maar, Meneer! Hier is niks verloren. Zeg jij liever je vrouw moet stil zitten.

Teuns
Ag, vroutjie, sit tog nou stil. Dis vir jou eie beswil!

Leentjie
Vir my eie beswil? Jy bedoel vir jóú beswil! Want dan hoef jy nie meer in die nag op te staan om warm water te maak of kamfer op wattetjies te gooi of  ...

Dokter
(ongeduldig) Als u de tand wil laten trekken, zit dan alsjeblief stil, maak uw mond open en steekt uw tong vooruit!

Teuns
Dis regtig nie maklik om te sê wat my op die hart lê met 'n tong wat op my bors sleep nie. En hoe dink jy moet ek skree as jy die tand eers met daardie tang van jou beetgepak het?

Dokter
Nou, als u zo bang is voor pijn, kan ik met deze pyp aan de gastoestel maken dat u niks zult voelen. Nieuwe uitvinding uit Europa. U houdt dit net voor uw mond, en haalt uw asem vinnig op, en binne een minuut voelt je geen pijn als ik de tand trekt.

Leentjie
Die ding stink! Sies! Maar wat verwag ... mens ... anders ... (bewusteloos)

Teuns
Dokter! Nou't jy my vrou kapot! Hiervoor sal opgehang word!

Dokter
(pluk die tand uit) Zo, ja! Uit is het verdraaid ding!

Leentjie
(word wakker) Teuns! Ai, toggie! Kyk hoe bloei my mond! Waar's my tand?

Dokter
Daar neffens u op het tafelje. Hier spoel uw mond uit.

Leentjie
(kyk in die spieël) Maar, Dokter! Daar sit die tand met die gat dan nog ewe grand vir my en smile! Jy't so waar as donderweer die verkeerde tand uitgepluk!

Dokter
Dis nauw ongelukkig! Moet m'n ogen zijn, Mevrouw. Sien, ek heb mijn bril per abuis verknoeid ...

Leentjie
Kan julle mans niks reg doen as 'n vrou net 'n oomblik haar oë sluit nie! Waar het jy jou job geleer? Kom, Teuns, ons het werk! Los die testament, man – ons het dit nie nou nodig nie. Nou het ons ´n Court of Law nodig ... 'n lasbrief ... 'n sipier ... wag, maar mannetjie ... as ek met jou klaar is sal jy wens ek het nie één tand in my mond gehad nie!

Gordyn.