Afrikaans Grammatika

Die weetgierige en die fynproewer vind op die bladsye wyduiteenlopende wenke oor die moets en moenies van die Afrikaans, ingestuur deur ´n bekende taalkenner in Suid-Afrika:

Prof WAM (Wannie) Carstens het voor- en nagraads aan die Universiteit van Stellenbosch studeer waar hy die M.A.-graad (1977) en die DLitt-graad (1985) verwerf het. Hy was ook dosent aan die Universiteite van Stellenbosch (1977-1979) en Kaapstad (1980-1991). Sedert Julie 1991 was hy verbonde aan die PU vir CHO as dosent in die Afrikaanse taalkunde. Hy is sedert 1 Januarie 2001 Direkteur van die PU vir CHO (sedert 2004: Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit) se Skool vir Tale.

Hy het twee akademiese handboeke, t.w. Norme vir Afrikaans. Riglyne by die gebruik van Afrikaans (1989, 1991, 1994, 2003; Pretoria: JL van Schaik) en Afrikaanse tekslinguistiek. ‘n Inleiding (1997; Pretoria: JL van Schaik Akademies) asook talle artikels in vaktydskrifte gepubliseer. Hy is lid van verskeie vak-verenigings (nasionaal en internasionaal). Sedert April 1992 was hy ook lid van die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en as lid van hierdie kommissie is hy mede-outeur van die jongste uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (2002). Die Taalkommissie het in 2003 die CJ Langenhoven-medalje vir Taalwetenskap vir hierdie boek ontvang. Hy is tans voorsitter van die Provinsiale Taalkomitee van die Noordwes-Provinsie, ondervoorsitter van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (en was in hierdie hoedanigheid betrokke as sameroeper van die komitee wat die Afrikaanse Taalberaad in Augustus 2004 op Stellenbosch gereël het) en dien ook as direksielid van die Buro van die WAT asook van die Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (2002-2005).

Hy dien op die redaksies van verskeie nasionale vaktydskrifte en lewer gereeld referate by nasionale en internasionale kongresse. Hy is eksterne eksaminator vir verhandelinge en proefskrifte van ander SA universiteite en was lank ook eksterne moderator vir etlike SA universiteite se Afrikaans-vraestelle. Prof Carstens is 'n gereelde deelnemer aan radioprogramme oor radiosondergrense.

Op universiteitsvlak was prof Carstens lank hoof van die Vakgroep Afrikaans en Nederlands, en hy is lid van verskeie komitees in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte. Hy het ook gedien as huisvader van WANDA-dameskoshuis vir die tydperk 1994 tot Julie 2001. Sedert 1 September 2003 is hy weer huisvader van ’n nuwe damesdorpskoshuis (Bellatrix) op die PUK-kampus. Hy was tot einde Maart 1999 ook ondervoorsitter van die Personeelvereniging van die PU vir CHO.

Hy is getroud met Wilma (van Jaarsveld) en hulle het drie kinders: Ihan (tans besig met sy internskap as apteker), Rikus (honneursstudent op die PUK-kampus van die NWU) en Annari (tweedejaarstudent in opvoedkunde op die PUK-kampus).


© Catharina Loader 2001