Leesstukke

Stofvretersfontein - Rina Loader

Foto´s en eenvoudige aantekeninge oor die tema het as agtergrond vir die ontwikkeling van hierdie eksperimentele kinderteks gedien. Die uitgangspunt is opvoedkundige drama. Al spelenderwys word woordeskat en detailfeite tot die leerders se verwysingsraamwerk toegevoeg.

Agtergrondstudie

Kieme (bv. aan vuil hande) is dikwels die begin of verborge oorsaak van siektes. Ons praat dikwels van “bakterië” en “virusse” as ons aan “kieme” dink.

Bakterië

  • Bakterië bestaan uit enkelvoudige selle, en dit is lewensvorme wat wêreldwyd in oorvloed voorkom - in die lug, grond, mere, waterpanne, riviere en seë, op die vel, binne in die liggaam).

Bakterië het vele vorme: [1]

A. Spiesvormig

B. Rond of sferies.

C. Rond in bondels.

D. Rond in pare.

E. Spiraalvormig.

F. Komma-vormig.

  • Op grond van hulle vorm (bv. rond, spies- en spiraalvorming) word bakterië in verskillende groepe ingedeel: bacilli, cocci, spirille, ens.
  • Sommige bakterië is onskadelik en goed vir die mens se gesondheid – hulle help bv. met spysvertering, plantverroting, met die maak van kaas, karringmelk en suurkool.
  • Ander bakterië is egter weer skadelik en kan tot die slagoffer se dood lei - bv. tuberkulose, cholera, melaatsheid, kinkhoes, buiktifus.

Virusse

  • ´n Virus is kleiner as´n bakterie.
  • Dit besit nie selle nie, maar bestaan uit´n kern van nukleoonsuur (hetsy DNS of RNS of beide) en ´n wand wat uit proteïnes opgebou is.
  • Virusse is afhanklik van gashere in wie se selle hulle ongenooid intrek waar hulle dan verwoestende monsters word wat die gasheer se selle oorneem om dit in hulle eie fabrieke te verander.
  • Op dié manier vernietig hulle die gashere se selle en veroorsaak ernstige siektes soos bv. pokke, masels, pampoentjies, verkoue, griep en vigs.
  • Soms val virusse ook bakterië aan.

Ons praat van´n rekenaarvirus - ´n ding wat alles op die rekenaar kan besmet.

Die rol van muskiete

  • Muskiete is draers van meer as honderd virussiektes (bv. malaria en geelkoors).
  • Hulle maak ongeveer 300 miljoen mense per jaar siek.
  • Die muskietvirus val sy slagoffer se rooibloedselle aan deur die hemoglobien te verteer.
  • Malaria die een van die dodelikste siektes wat bekend is. Meer as een miljoen slagoffers sterf jaarliks daaraan - meer mense is dus al aan malaria dood as in alle oorloë saamgetel.

Malariamuskiet

Bron: Wikipedia, openbare domain

Foto: Photo Credit: James Gathany

Geelkoorsmuskiet – Aedes Aegypti[2]

Bron: Wikipedia, openbare domain

KARAKTERS

Die bakterië

Streptokokki (lank en ongeskik)
Basilletjie (dik en bedruk)
Spiraaltjie (senuagtig en verstrooid)

Die virusse

Wille-wirrie (wild en wakker)
Giffie (katterig en sarkasies)
Griepie (koorsagtig en klaerig)

Die muskiete

Hulle is gefrustreerde oujongnooiens opsoek na mensebloed:

  1. Anopheles, ´n wyfiemuskiet (draer van malaria)
  2. Aedes Aegypti, ´n gespikkelde wyfiemuskiet (draer van geelkoors)

Pandora (speel ook Anopheles se rol)
Die Goeie Fee (speel ook Aedos Aegypi se rol)
Tannie (nie antie!) Biotika[3]
Penissilien

Kostuums

Oorgelaat aan die idees van die regisseur en die kinders self. ´n Basiese swart leotard en voetlose swart langkouse kan as uitgangspunt gebruik word.

Die toneel

Die gordyn gaan oop op ´n stil en stowwerige verhoog. Omgekeerde asblikke en rommel is oral te sien. Voor links staan´n asblik baie prominent regop met´n deksel op. Die beligting skep´n atmosfeer van onheil. Maak van skerms en rostrums gebruik om ´n woonbuurt voor te stel en verskillende vlakke op die verhoog te skep. Eenkant´n paal met die naam van die dorp daarop aangebring: Stofvretersfontein.

STEM (oor klankversterker)

Dames en here, welkom in Stofvretersfontein waar dinge gebeur wat u net kan glo omdat u dit met u eie oë gesien het.

(Die vuilisblik se deksel word stadig opgelig en Griepie se kop verskyn oor die rand. Hy loer versigtig rond. Die asblik se deksel val dawerend. Die virus skrik en duik terug in die vullisdrom. Hy verskyn weer na ´n rukkie en klim met groot omsigtigheid uit die drom, sit die deksel weer terug op die blik en gaan daar bo-op sit.)

’n Kluisenaar met die naam Simon Stylites (=die een wat op die pilaar sit), wat sy tyd bo-op ’n pilaar deurgebring het, het toegelaat dat maaiers sy liggaam vreet en hulle aangemoedig om te “eet wat die Here voorsien het”. Maaiers word inderdaad vandag nog op sekere plekke gebruik om wonde skoon te maak.

GRIEPIE (sing op die wysie van “On top of old smokey”)
Op die top van ´n asblik
Daar sit ek en nadink
Aan ´n tyd toe ´n virus
In vrede kon stink

Toe Simon Stylites
Die maaiers genooi het
Kom eet tog my lyf op
En julle mae propvol

Toe bloedsuiers daagliks
Slegs bloed nog kon opdrink
Ons ´n dolleë pens
Kon verander in ´n spens

Ja, ´t was toe nog duid´lik
´n kiem is ´n sleg ding
Maar deesdae is algar
Anti-bio-ti-ka-mal!

TANNIE BIOTIKA (verskyn tydens die laaste reël)
Watse Engelspratery is dit hier met jou? Skaam jy jou nie! Ek´s g´n “antie“ nie! Dis “tannie Biotika“ vir jou!

GRIEPIE
Praat van die duiwel ...

TANNIE BIOTIKA
En moenie daar staan en gaap soos ´n vis op droë grond nie! Terug in jou asblik of jy het moeilikheid met my! Mens weet nooit wat jy kan aanvang as jy losloop nie! Dit kan pokke, masels, pampoentjies, verkoue of griep wees!

GRIEPIE (spring terug in die asblik)
Ek belowe ek sal net hier bly sit, antie!

TANNIE BIOTIKA
Tannie, stommerik! (aan gehoor) As ek nou nie so verskriklik haastig was nie, het ek nou eers met hierdie DNS-proteïn-goggatjie afgereken. Maar ek is vandag so opgewonde, want ek ontvang oor presies tien minute die erepenning van die VOTKBV, of te wel die Vereniging vir Oorlog Teen Kieme Bakterie en Virusse!

GRIEPIE
Ag, behoede ons! Nou gaan sy éérs op ons inzoem!

TANNIE BIOTIKA
(gaan onverstoord voort) Ek het myself vir die laaste dekade of wat onvermoeid beywer om dié onmoontlike pestelensies een na die ander nek om te draai. (aan Giepie) En jy bly in jou asblik tot ek terugkom – dan is dit jou beurt!

GRIEPIE
Goed, antie! Seker antie!

TANNIE BIOTIKA
(vir gehoor) Toedeldoe!

GRIEPIE
Te verskriklik! Te verskriklik! (klim uit die asblik) Ag, kon ons tog nog in die oertyd lewe, soos toe ons lank, lank gelede vir die eerste keer in die wêreld losgelaat is. Ons geboorte, om dit nou maar so uit te druk, was die gevolg van die ou gode se malligheid om vroumense op aarde toe te laat!

(PANDORA verskyn, GRIEPIE kyk vies na beligtingsentrum, skree dan kwaai op operateur)

Kollig, asseblief, of ek sit´n hele army virusse op jou! (kollig gaan aan en belig PANDORA) Aha, dis beter! Waar was ek nou weer? O ja, by Pandoratjie! Sy was heeltemal in die war ...

PANDORA
(aan gehoor) Vir maande moet ek nou al hierdie vreemde kis oppas. Ek sou darem só graag wou weet wat daar binne-in is!

STEMME UIT KIS
Van nuuskierigheid is die tronke vol ... kerke leeg ... galgtoue moeg .... moeilikheid ...

(die stemme bly hoorbaar en met mor sonder ophou, PANDORA luister met een oor teen die kant van die kis en praat met die gehoor)

PANDORA
Hoor julle dit ook? Daar praat stemmetjies hier binnekant! Maar ek mag nie die deksel oplig nie. (moedeloos) Ai, toggie, ek is darem nou so vrek nuuskierig oor wat hierbinne aangaan! (vertwyfeld, dan word die versoeking te groot). Eintlik kan daar mos niks gebeur as ek die deksel effentjies oplig nie. Ek sal net so´n klein bietjie loer ...

(Sy lig die deksel stadig op, STREPTOKOKKI stamp dit dan hardhandig van binne af oop, spring dan saam met BASILLETJIE, SPIRAALTJIE, WILLIE-VIRRIE en GIFFIE met wilde krete uit kis uit en voer uitbundige danspassies uit. PANDORA gil en plak die deksel weer toe, gaan dan bo-op die kis sit in´n poging om diegene wat nog binne is, binne te hou.)

PANDORA
(baie ontsteld) Wat het ek nou aangevang? Ek het´n spul monsters op die wêreld losgelaat! Dis´n resep vir super chaos en dood en verwoesting! Ek dink ek moet my sommer dadelik doodhuil en dit agter die rug kry! (sy voeg die daad by die woord en bars in trane uit)

GOEIE FEE
(nog binne-in die kis hamer sy teen die deksel) Pandora! Pandora! Jy MOET my ook uitlaat. Ek kan jou help! Maak oop, asseblief! Moenie my hier binne los nie! Ek móét uit! Anders is alles verlore! Maak oop!

GRIEPIE
(gaan moedeloos op´n omgekeerde asblik sit) En die simpel vroumens het so warempelwaar die deksel weer gaan staan en oopmaak ...

(PANDORA maak die deksel weer oop terwyl die kieme probeer om dit toe te hou, die GOEIE FEE, met ´n kroon op die kop, spring eindelik onder luide simbaalslae uit die kis uit, die bakterië en virusse skree en soek verskrik skuiling)

GOEIE FEE
Whalla!!

GIFFIE
(aan die gehoor) En Pandora vra die verspotte ou feetjie toe ewe verbaas:

PANDORA
Wie is jy?

GOEIE FEE
Ek is die Goeie Fee wat hoop vir die wêreld bring. Van die Noordpool tot by Stofvretersfontein sal ek reis om teenspoed te bekamp. My reise sal ongeluk vir elke skurk, vir elke skelm bring. Om ´n terminator te wees is my lot - elke slegte virus of bakterie, elke slegte humeur of siekte of hartseer moet ek van die aardbol af wegvee.

KIEME IN BEURTSPRAAK
O, hartseer, treurige, droewe, kwade, ongelukkige dag ...

GOEIE FEE
Ek gaan hulle ...

PANDORA
(opgewonde) ... uitroei?

GOEIE FEE
Reg! Uitroei, vermorsel, verbrysel! Hulle oumas gaan hulle vir eendvoëls aansien! Nêrens sal hulle kan wegkruip nie. Niks sal hulle kan beskerm nie. Nooit sal ek toelaat dat skurkery die oorhand kry nie! Ek gaan nou om my planne agtermekaar te sit, my kragte op te bou ...

(die GOEIE FEE verdwyn in ´n rookwolk, en verklee dan in ANOPHELES se kostuum)

PANDORA
Wonderlik! Nou voel ek nie meer so depressief nie. Nou kan ek weer my vader in die oë kyk!

(PANDORA hardloop van die verhoog af, verklee dan in AEDES AEGYPTI se kostuum)

STREPTOKOKKI
En van daardie dag af is ek as streptokok uiters sleg behandel, en Basilletjie daar ...

BASILLETJIE
... is skandelik verneder, om dit sagkens te stel.

SPIRAALTJIE
Onder mikroskope is ons almal ... ge ... konfiskeer ...

ALMAL (ongeduldig)
Gedissekteer, Spiraaltjie!

SPIRAALTJIE
O, ja! Gedissekteer! Nou onthou ek, maar ek was so kwaad dat ek hulle almal kon-ve’-skeur!

WILLE-VIRRIE
Dis nog niks! Ek en Giffie is eers gekook en toe gevries! Ons het ter nouer nood van die lys vir bedreigde spesies ontkom.

GIFFIE
En Louis Pasteur het Wille-virrie se oupagrootjie so mishandel dat hy byna sonder ´n nageslag uitgesterf het!

BASILLETJIE
Ek weet dit sal dalk nie eers help nie, maar ek wil amptelik voorstel dat ons iets aan die saak moet doen!

GRIEPIE
Só moet ´n bek mos praat! Ons moet wys dat kieme ook van woede kan oorkook!

SPIRAALTJIE
Té lank word ons nou al onderdruk, onderdompel, onderskat ... of so iets ...

WILLE-VIRRIE
Roep ons prokureurs! Daardie twee befoeterde muskietwyfies sal weet hoe om met ou antie Biotika se siel en liggaam te werk!

ALMAL
(roep herhalend totdat muskiete ligvoets op die verhoog verskyn) Anopheles! Aedes Aegypti!

ANOPHELES EN AEDES AEGYPTI
Goeiemôre, goeie-middag, goeiedag en goeienaand
Die twee bloeddorstiges is daar
Met kele skor en droog en maer
Soek oujongnooiens oud en soms ook stout
op die daad´n lekker repie sagte jonge boud

Laat dit tog net vry wees van besoedeling
Deur Malaprim en Deraclor en Deltaprim
Geelkoors en malaria is ons spesialiteit
Ons gee vir pa en ma en sus en boet´n harde tyd ....

GRIEPIE
(vanuit die asblik) Genoeg, dankie! Ons het ons eie probleme en kan nie nog na julle stories ook luister nie!

ANOPHELES
(sarkasties) Julle het probleme? Ag, nê! Het ou Biotika miskien júlle aanstaandes met haar plathand teen die muur vasgeslaan? Is julle miskien nou oujongnooiens?

GIFFIE
Nee, maar sy´s op pad om Griepie se nek te kom omdraai as hy sy voet uit daardie asblik sit.

AEDES AEGYPTI
(selfversekerd) Ons moet haar maar net eerste bykom. Haar bloed is nou wel galbitter, maar dis ten minste beter as niks.

WILLE-VIRRIE
Miskien kan julle´n ou virussie of iets in haar pomp, haar rooibloedselle lekker op koffie!

(Agter die gordyn begin TANNIE BIOTIKA, op ‘ken gij dat volk’ se wysie, sing)

TANNIE BIOTIKA
Ek is ´n vrou vol heldemoed
En nou met eer bekroon

SPIRAALTJIE
Dis sy! Ou Biotika! Nou gaan ons bars!

(algemene konsternasie heers)

GiEPIE
O, malle duiwels! Nou gaan sy al my proteïne deurmekaar trek! (hy spring dadelik in die asblik terug en plak die deksel toe, loer so nou en dan wat aangaan)

TANNIE BIOTIKA
Orde oor chaos, dis my taak
Tra-la-la-la-la-laa (2x)

ANOPHELES
Ons kruip almal weg! En as sy mooi hier in die middel kom, dan gryp ons haar soos een insek!

AEDES AEGYPTI
Sy sal haar uit haar bloedgroep skrik!

(almal geniet die vooruitsig en kruip vinnig weg)

TANNIE BIOTIKA
(kom niksvermoedend en baie gelukkig ingestap met ´n groot medalje om haar nek) La-la-laa, la-la-la-laa, la-la-la-laa

GIFFIE
Nou!!

(die kieme storm op TANNIE BIOTIKA af, dit gil, stoei, praat deurmekaar, gee raad)

TANNIE BIOTIKA
Julle nuttelose selle! Los my! Julle besoedel die aarde! Julle bring peste en swere en ... !

BASILLETJIE
Keer voor! Gryp haar!

GIFFIE
Hou haar voete vas, Spiraaltjie, sy skop erger as´n dop brandewyn!

TANNIE BIOTIKA
As ek jou raak skop, skattie, trek al jou molekuletjies deur die lug.

(eindelik word TANNIE BIOTIKA vasgevat,´n paar booie klap om haar polse, SPIRAALTJIE en WILLE-VIRRIE hou haar voete vas)

GRIEPIE
(spring nou ewe dapper uit die asblik) So, ja! Nou hét ons jou, ou tannie!

STREPTOKOKKI
Dink julle nie ons moet haar bietjie aantas nie?

SPIRAALTJI
Goeie plan! Wat sal dit wees?

BEURTSPRAAK
Tering? Cholera? Melaatsheid? Kinkhoes? Geelkoors? Geheueverlies?

TANNIE BIOTIKA
Mors van tyd! Ek is immuun teen julle gespuis.

(BASILLETJIE krap in TANNIE BIOTIKA se handsak en bring die GOEIE FEE se kroon te voorskyn)

BASILLETJIE
En wat is dit dié?

WILLE-VIRRIE
Maar dis mos die Goeie Fee s’n!

(algemene pandemonium)

GRIEPIE
(verslae) Kan sy die Goeie Fee wees wat uit Pandora se boksie ontsnap het?

SPIRAALTJIE
Maar ... ek dog sy’s antie Biotika ... of so iets ...

TANNIE BIOTIKA
Julle kry niks uit my uit nie! Ek sê niks! My mond is gezip!

SPIRAALTJIE
Is dit nou wat mens ´n cheeky ouvrou noem, Wille-Virrie?

WILLE-VIRRIE
Ja, Spiraaltjie! Ek sê julle wat, kom ons hou tannie Biotika as gyselaar en laat ons prokureurs´n lasbrief opstel en dan stuur ons dit aan die Minister van Goeie Gesondheid!

ANOPHELES
´n Petisie, liefie! Prokureurs stel nie lasbriewe op nie! Wakker word!

AEDES AEGYPTI
Ek het dit klaar gedoen terwyl julle almal met rofstoei besig was. Ek´s nie´n muskiet wat my nagte omslaap nie. Luister: (al die kieme kom rondom Aedes Aegypti staan en lees oor haar skouer saam) Vir die lewe van tannie Biotika ... alias ...

ALMAL
(vermakering) ... die Goeie Fee ...

AEDES AEGYPTI
... eis ons die volgende:

BEURTSPRAAK

  1. gesondheidstoestande moet versleg;
  2. immuniseringsmiddels, vitamienes en minerale moet verban word;
  3. dokters moet onopgelei aangestel word, verkieslik uit die buiteland;
  4. seep moet as onwenslik verklaar word;
  5. groente en vrugte moet belas word;
  6. tannie Biotika en familie moet as ongewensde organismes verklaar word;
  7. die UTH-proses moet uitgewerp word;
  8. Tabard-room en Peaceful Rest met die dood gestraf word;
  9. Mediese fondse opgeskort word.

(almal fluit en klap hande)

GIFFIE
Fantasties!

ANOPHELES
Tien uit tien!

WILLE-VIRRIE
Geen wonder julle muskiete maak 300 miljoen mense per jaar siek nie!

STREPTOKOKKI
Gee vir my die brief! Ek gaan dit sommer dadelik aflewer! (links af)

ANOPHELES
Daar gaan nou ´n dapper bakterie! Iemand met ...

ALMAL (spring op aandag)
´n oog wat nie wyk
wat ´n bars kan kyk
en ´n wil wat so vas
soos ´n klipsteen staan

(´n Gedoente breek agter die gordyn uit)

STREPTOKOKKI
Moenie! Los my, asseblief! Wil jy my vrek maak! Gaan weg!

(PENISILLIEN verskyn met ´n groot vlieëplak om sy nek en´n sproeibottel soos ´n rewolwer om sy heupe vasgegespe, hy hou STREPTOKOKKI se hande omhoog met ´n reuse spuitnaald wat hy dreigend in sy maag druk)

BASILLETJIE
Dis ons ander vyand! Penisillien!

SPIRAALTJIE
Moeilikheid!!

ALMAL
Mayday ... Mayday ... Mayday ... ! (Griepie spring weer terug in die asblik)

WILLE-VIRRIE
Ons moet hier wegkom! Hoër op in Afrika in verdwyn ...

PENISILLIEN
Staan almal net tjoepstil of ek pomp hierdie streptokok vol met ´n oordosis van my doepa! Streptokokki, as jy jou lewe lief het, doen jy wat ek sê. Verstaan jy my!

GRIEPIE
(lig die deksel van die asblik) Asseblief, Streptokokki! Luister vir die maniak! Ons het jou nodig ...

(PENISSILIEN haal die vlieëplak van sy nek af en stop dit in STREPTOKOKKI se hand)

PENISILLIEN
Dê, hier´s die plak. Daarmee slaan jy nou gou vir ons die twee lastige muskiete dood.

STREPTOKOKKI
Jy´s seker van jou kop af!

PENISILLIEN (moedig hom met die spuitnaald aan om die opdrag uit te voer)
Heeltemal! Òf jy slaan, óf jy´s heen!

MUSKIETE (beangs)
Nee!! Jou sadis!

(die muskiete vlug in alle rigtings, hardloop teenmekaar vas en word dan deur die kieme vasgegryp, STREPTOKOKKI slaan hulle elk´n hou oor die kop en hulle vou inmekaar – die kieme is nou rondom die muskiete saamgebondel)

TANNIE BIOTIKA
Die sproeibottel, Penisillien! Gebruik die sproeibottel! Gou!

(PENISILLIEN haal die bottel van sy nek af, spuit die kieme nat, hulle verloor stadig hulle bewussyn, lig hulle koppe so effens, almal sing die A-Team se kenwysie,  PENISILLIEN gaan by BIOTIKA staan met sy arm om haar skouers geslaan, die kieme lê leweloos)

PENISILLIEN EN TANNIE BIOTIKA
(baie trots en in hulle skik) “We love it when a plan comes together!”

(GRIEPIE loer skelm onder die asblik se deksel uit)

 

GORDYN

 


[3]Antibiotika (gemaak van swamme en kieme) en penisillien vernietig lewende organismus of rem hulle ontwik­keling. In Afrikaans is die Engelse “auntie” omvorm na “antie”. Suiwer Afrikaans is natuurlik “tannie”.