Leesstukke

Kersfeesboom

Ek het die gedig in 1981 in die Maandblad (250) van die NG Gemeente Universiteitsoord gelees.

Een van Florence se kunsskatte

(Foto: Rina Loader 2012)

In die hoogtyd van Rome,
in die jaar van Augustus se sensus
met sy galeie en legioene
baas van die wêreld

in die tyd toe Herodes se spioene
met die swaard gemaai het
onder die malse, bang
seuntjies van hulle eie volk;

in die tyd het God ´n ster
bokant ´n skemer stal gehang
en sy Kind teen
die bors van ´n vrou gelê.

In dié tyd, êrens in die veld
het God sy son en reen
ook oor ´n boom gestort
wat eenmaal ryp
en sterk genoeg sou wees
om tot ´n kruis gesaag te word
wat die stom Lam van God
in die dor wind oor Golgota,
sonder te buig of kraak, tot
in die Ewigheid sou dra.