Algemeen

Reza de Wet inspireer die Tsjegge

Hoe is dit moontlik? Zlin is ‘n klein provinsiale dorpie in Moravië in Tsjeggië. “Drie Susters Twee” is Reza de Wet, ‘n Afrikaanse dramaturg, se opvolgdrama van Tsjechof, ‘n Russiese dramaturg, se beroemde drama “Drie Susters”. “Drie Susters Twee” in Zlin is ‘n perfekte voorbeeld van hoe wyd Afrikaans sy vlerke sprei.

Reza de Wet het ons in Olomouc in Tsjeggië besoek in 1997 en was so ‘n inspirasie vir ons Afrikaanse studente dat ‘n student, Sylva Hulová, besluit het om haar drama “Drie Susters Twee”  in Tsjeggies te vertaal. Vir ‘n lang tyd was daar stilte en hierdie jaar hoor ek dat die drama wel in Zlin opgevoer is.

Sylva vertel dat sy die drama  uit Afrikaans in Tsjeggies vertaal het en dat ‘n vriend, Petr Štindl, die Engelse vertaling wat deur Reza de Wet self gedoen is, as basis vir sy vertaling gebruik het. Hulle het toe hierdie twee vertalings bymekaargevoeg en die drama is vir ‘n seisoen in Zlin opgevoer en ook ‘n keer in Praag gesien.

Alle Tsjegge ken Tsjechof goed en “Drie susters” is deel van die dramatiese stapelvoedsel van die land. Daarom was Sylva verbaas om te hoor van ‘n Afrikaanse dramaturg wat ‘n vervolg op “Drie Susters” geskryf het. Sy het gevind dat Reza de Wet die Slawiese siel goed begryp, iets wat haar nogal verbaas het. Die details in die drama is eg Russies, vind sy. Die toneelopvoering beskryf Sylva as iets besonders, aangesien die naakte gestrooptheid van die karakters, deur die verhoog wat al hoe leër word, verbeeld word.

Sylva is nou van plan om ‘n gedeelte uit “Diepe Grond” te vertaal vir ‘n amateur-opvoering by ‘n Fees van Afrikakultuur wat jaarliks in Hradec Kralove plaasvind. Afrikaanse studente van Palacky Universiteit sal daarin optree en ook met die vertaling help.

Lianne Barnard

2003