Algemeen

Afrikaans is ‘n taal wat reis – tot in die verre Parys (Frankryk s’n, bedoel ek). Dit het ek met plesier agtergekom in my meer as ses jaar lange verblyf in dié mooi ou stad: nie net deur my studies nie, maar ook deur ‘n uiters suksesvolle Suid-Afrikaanse letterkundekring wat ons die afgelope drie jaar al heelwat stof tot denke en prettige byeenkomste verskaf het.

Al is die Afrikaanssprekendes maar min hier tussen die Galliërs, hoef ‘n mens nie jou moedertaal te laat verroes nie. Ek het selfs Afrikaans gepraat gekry in die Franse regsfirma waar ek vroeër sekretaresse was: My kollega, Wilma Margono, ‘n Indonesiër van Jakarta, Java, het aan moedersknie Nederlands geleer in dié eertydse Nederlandse kolonie.

Wat my aanvanklik die hele pad van die Paarl na Parys gelok het, was my doktorale studie aan die Sorbonne universiteit oor die invloed van die twintigste-eeuse Franse letterkunde op die Afrikaanse Sestigers: Breyten Breytenbach (wat nog steeds ‘n woonstel het in ‘n skilderagtige ou straatjie hier), André P. Brink (wat nogal bekend is in Frankryk, die land gereeld besoek en uitstekend Frans praat), Jan Rabie (wie se wonderlik insiggewende Paryse Dagboek verlede jaar verkyn het), Chris Barnard, en so meer. Veral die eerste drie het ‘n goeie aantal van hul jong jare in Parys deurgebring, en dit was vir my ‘n opwindende ervaring om self te gaan kyk na plekke waar hulle gewoon het of wat hulle in hul werk beskryf.

Mettertyd het ek agtergekom dat ‘n mens ook aan die Sorbonne Afrikaans kan praat. Ek het ingeskryf vir ‘n meestersgraad in Nederlands, en ‘n jaar lank kon ek in ons groepie van agt studente in Afrikaans aan die besprekings deelneem, en al my werkstukke in Afrikaans inlewer! My jaarskripsie het gehandel oor Elisabeth Eybers se vertalings van Franse sonnette deur die negentiende-eeuse José Maria de Heredia. Ons taalkundedosente, mnr. Pekelder, het my ‘n kas vol Afrikaanse boeke in sy kantoor gewys wat deur sy voorganger, ‘n vurige belangstellende in ons taal, aangekoop is.

Die dosent in letterkunde, prof. Johanna Stouten, het ‘n baie interessante kursus aangebied oor die Nederlandse skrywer F. Springer, wat self in die tweede deel van die jaar op besoek daar was en ons besprekings van sy werk bygewoon het. Springer, wat jare lank diplomaat was en afgetree het as ambassadeur in Berlyn, was baie geïnteresseerd om met my oor Suid-Afrika te gesels, en het vertel dat hy voor die 1994-verkiesing ‘n paar maande lank as lid van die VN-waarnemingspan in Pretoria was. Die daaropvolgend jaar van die meestersgraadkursus was die besoekende skrywer Adriaan van Dis, wat nóg nouer bande met Suid-Afrika en Afrikaans het: Hy praat Afrikaans vlot, vertaal onder andere Breytenbach se gedigte in Nederlands, en het al by verskeie geleenthede lesings by Suid-Afrikaanse universiteite aangebied.

Met al die lekker Afrikaans praat en boeke lees, besluit ek toe om begin 1997 ‘n Suid-Afrikaanse letterkundekring op die been te bring, onder aanmoediging en beskerming van die Club d’Amitié franco-sud-africaine (Frans-Suid-Afrikaanse vriendskapsklub), wie se destydse voorsitter, Lynn van der Merwe-Chaulieu, ook hard gewerk het om ons landgenote en belangstellendes in Suid-Afrika byeen te bring. Ons byeenkomste was aanvanklik, so in die eg Franse tradisie, in ‘n kafee aan die oewer van die Seine. Mettertyd het ons getalle so toegeneem dat ons uit die kafeetjie se nate gebars het en nou aan huis van lede met groot blyplekke bymekaar kom – of selfs ‘n litterêre piekniek in ‘n park hou as die weer dit toelaat. Soms word nie net die gees nie, maar ook die vlees gevoed met bobotie, of pap en wors (gepaak deur ‘n Paryse slagter aan wie Lynn die resep verskaf het).

Die klem val op Suid-Afrikaanse letterkunde in die algemeen. Wat Afrikaans betref, het ons byvoorbeeld al ‘n staproete op die spore van Rabie, Brink en Breytenback in die Latynse buurt gedoen, en gassprekers genooi soos Jean Guiloineau, vertaler van Brink se boeke in Afrikaans, en Dennis Hirson, vertaler van Breytenbach se gedigte in Engels. Die Suid-Afrikaanse skrywer en filmmaker Rina Sherman, wat lank in Parys gewoon het, het kom praat oor haar debuutroman, Uitreis. Sy is sedertdien Namibië toe om onder die Himba-stam te gaan woon en hul mondelinge kultuur op film vas te lê noudat die beplande bou van ‘n opgaardam hul tradisionele woogebied en die voortbestaan van hul tradisies bedreig.

Ons is ook toegespreek deur me. Maha Bulos van Unesco, wat verantwoordelik is vir ‘n tweejaarlikse prys vir kinder- en jeugboeke wat handel oor verdraagsaamheid en waarvoor verskeie Suid-Afrikaanse boeke ook ingeskryf word. Laas keer het ‘n Suid-Afrikaanse boek onder die eerste drie in die afdeling vir ouer kinders gekom. En ‘n bespreking is gehou oor Antjie Krog se Country of my skull, met as gas mnr. Georges Lory, Franse vertaler van haar gedigte en eertydse kulturele attaché in Suid-Afrika, wat vlot Afrikaans praat en boeke oor die land se politieke geskiedenis geskryf het. Vrolikheid is verskaf deur ons Madam and Eve-aand saam met die vertaler van dié gewilde strokie, Marc de Hutten. Vyf volumes het al in Frans verskyn!

Een van ons hoogtepunte was ‘n uiters suksesvolle woonstel-teater-aand. ‘n Jong toneelgroep het ‘n roerende opvoering van Athol Fugard se Hello and Goodbye in Frans vir ‘n veertig-tal toeskouers aangebied.

Tussendeur ontvang ek interessante navrae van mense wat meer ons oor letterkunde wil weet, byvoorbeeld die bibliotekaresse van die Sorbonne se dramadepartement wat voorstelle gesoek het om hul versameling oor die Suid-Afrikaanse toneelwêreld uit te brei. Daar was ook iemand wat ‘n bloemlesing saamstel van literêre verwysings na wyn, en wat – volkome korrek – gemeen het so ‘n werk kan nie volledig wees sonder bydraes uit Suid-Afrika met sy mooi wingerde en lekker wyn nie.

Vroeër was ‘n sterk bindende faktor vir Afrikaanssprekendes in Parys die gereelde kerkbyeenkomste in die Suid-Afrikaanse ambassade en die weeklikse biduur wat deur Suid-Afrikaanse vroue bygewoon is. Daar kon almal dan lekker Afrikaans praat en mekaar emosioneel onderskraag so in die vreemde. Met die stuk-stuk vertrek van die ouer garde het die byeenkomste geleidelik tot ‘n einde gekom. Die paar van ons wat oorgebly het, kom nog nou en dan saam om te kuier en nuus uit te ruil.

Hoewel ons almal so ‘n bietjie wêreldburgers word, kom ‘n mens tog agter hoe nou taal aan jou kultuur en identiteit verbonde is. En hoe verskillende tale jou ook help om ander se kulture te verstaan. Daarom het ek en ‘n mede-Suid-Afrikaner, Jaco du Toit, ‘n ruk gelede ondernemend besluit om te gaan Zoeloe leer in die taallaboratorium van die openbare biblioteek in die Georges Pompidou-sentrum. Met genoegdoening het ons gesien dat hulle omtrent elke denkbare taal in hul alfabetiese katalogus het – beginnend by Afrikaans en eindigend by Zoeloe!

Sonya van Schalkwyk

 

2002

© Catharina Loader 2001