Algemeen

Die ou Paarliete het altyd gesê: “Mens kry die Kaap; en dan kry mens die Pêrel; en die res kom nie op aan nie”. So hoor mens deesdae van dié wat op die literêre bustoere was: “Daar is John Kannemeyer, en daar is Wium van Zyl, en die res is van minder belang.” Want met die Derde Afrikaanse Taalbeweging wat tans spontaan aan die opvlam is, is daar seker nie twee meer bekende, geesdriftige en produktiewe taalmanne as dié twee nie - met die verskil dat hulle eerder taalgenieters as taalstryders is.

Wium, hoofkokkedoor van Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het al oral in ons land, sowel as aan etlike Europese en selfs Oos-Europese universiteit lesings gegee het oor Afrikaans. Beskeie taalambassadeur wat hy is, verstewig hy betrekkinge met een en almal in die omtes. Min mense weet dat hy een van die stille werkers is wat weer die pad vir oorsese uitruilstudie en dosente-uitwisseling oopgekap het, en steeds in stand hou. Maar behalwe dat dié akademikus-digter-resensent nog ‘n menigte ander taalfunksies verrig, is hy saam met John Kannemeyer een van die “voorwiele” wat die gewilde literêre bustoere laat draai – selfs deur die Lae Lande, soos verlede jaar, en hopelik later weer.

En van onse John gepraat, dis nou daardie onblusbare literêre geskiedskrywer en skrywersbiograaf wat die lewens en werk van mense soos C.J. Langenhoven, C. Louis Leipoldt, Peter Blum, D.J. Opperman, en so pas Uys Krige te boek gestel het, kan ’n mens maar net kopskud: sy biografie oor Jan Rabie is alreeds “onder konstruksie”! John Kannemeyer is die toer- en taalgids onder wie se kundige en boeiende leiding binne- en buitelanders die weelde van literêre reise onder kan meemaak – en moenie dink dis alles doodernstig nie! Ook nie net vir geleerdes, literêr ingeligtes of “groepmense” nie! Boonop klim jy van daardie bus af met soveel geografiese, geskiedkundige, geologiese, en ander soorte kennis, want dié bobaasgeselser lei jou in in veel meer as die wonderwêreld van die taal- en letterkunde. Elke stukkie natuur, elke monument, elke lekker stop vir wyn- of biltongkoop herskep hy en Wium tot ’n nuwe avontuur.

Op die afgelope vierdaagse Kaapse suidweskus- en Boland/Klein Karoo-reis in die voetspore van Uys Krige, Jan Rabie en D.J. Opperman bring die dwing dié gidse jou om die beurt tot trane - beurtelings van bewoënheid en van lag. Hy is al gekonfyt in die hantering van “al die soorte”. Met die alleenlopers karring hy nie onnodig nie; en allespraters en die narre kry by hom hul oomblikke, maar word taktvol deur hom tot bedaring gebring. Die geleerdes mag ’n woord van wysheid spreek waar John dit goeddink, mits hulle gouspeel. En: diegene wat nog nooit ’n boek gelees het nie, lyf John diplomaties in, maar nou nie so dat hulle dit agterkom nie.

Wat nou eintlik op sulke toere gebeur is nogal moeilik te omskrywe, want daar is verskeie toere, elk met ’n betowering van sy eie – Sutherland se wêreld van N.P. van Wyk Louw; deur die Ceres-Karoo, oor Clanwilliam en tot by Calvinia op die spore van Boerneef en Leipoldt; Kalahari toe agter die stories van Sangiro, P.J. Schoeman en die Hobson-broers; en natuurlik na die Oudsthoorn van Langenhoven en etlike ander skrywers langs die pad, en nog meer.

Elke toer het sy tema, en dis nog lekkerder as mens al vooraf iets uit die pen van die gekose skrywer(s) gelees het. John en Wium werk die reisplan besonder sorgvuldig uit. Genoeg geleentheid om binne en buite die bus te luister na die interessante stories wat John oor die skrywers van die bepaalde kontrei te vertelle het; om na uittreksels uit hul werk te luister, en hulle woon- en werkplekke te gaan besigtig. Water aardigheid was dit byvoorbeeld nie om in Jan Rabie-hulle se huis op Vermont rond te dwaal, begelei deur ’n goeie vriendin van die egpaar, en genoeg tyd in sy kunstenaresvrou, Marjorie Wallace se ateljee deur te bring nie. Hoe kan ’n mens ooit die ontroerende skildery van Jan op sy sterfbed vergeet wat langs die esel op die vloer staangemaak is – sommer asof hy nog netnou geskilder is; met buite die see, die wind, die rotse, en die verbytrekkende wolke. En om te vertoef op al die plekke waar Jan en Uys eenmaal was; en by hulle grafte tussen die fynbos teen die berg by Onrus. Slegs enkele meters uit mekaar lê dié twee ongekunstelde wêreldburgers wat tuis was in vele tale, maar boorlinge van die Afrikaanse taalwêreld gebly het; buurmanne, ook in hul laaste aardse rusplek.

Een van die verrassings van hierdie reis was dat Dirk Opperman se jarelange argiteksvriend, Hannes van der Merwe en sy vrou, ook op die bus was. Onderhoudend en met mededoë kon Hannes op Franskraal vertel hul eerste selfgeboude houthuisies, in die dae toe die wêrled daar nog leeg en woes was – met net hulle en hulle gesinne, die see, die veld, en mekaar se kosbare geselskap.

Maar daar is ook tyd genoeg vir bene-rek, gesels en redekawel, koffiedrink in die klowe, stap langs kus- of veldpaadjies, baie lekker eet en drink, stilwees in jou eie stiltes, of sommer net wees, foto’s neem, of mekaar se siel uittrek. En dit alles terwyl Afrikaans gedy en groei in die samesyn van nuutgevonde maters wat weet dat hulle met iets kosbaars besig is: die naspeur van en die inkyk in die werkswinkel van ’n taal en sy letterkunde wat nêrens anders beslag gekry het nie as hier, reg voor ons oë. Waar daar ookal raakpunte met die taal of die wêreld van die boek is, hou die bus stil. Soms is dit ook die heimat van ons ander skrywers, of waar hulle een of ander tyd ’n draai gemaak het. Hiér het dit gebeur en bly dit bewaar in dieselfde ligval en soms nog ongerepte omgewing: ’n geboorteplaas soos Bontebokskloof; ’n rivier van menige vlotrit van broers by Riethuiskuil, ’n gedig eenmaal geskryf oor ’n meklhoutboom; ’n klip gepak aan die kop van ’n graf wat wag. Dit is, om by Petra Müller te leen, ook die omtes van ons harte, ons wat die taal nie net per geleentheid besoek nie, maar goddank, elke dag praat. Dit leef, gebruik, en die mooiste dinge daaruit maak.

Bel gerus vir Wium van Zyl by 021 976 5755 – hy kan u alles vertel en ’n pamflet aanstuur. Gaan gerus alleen saam; dis ’n heel besondere ervaring wat met niks anders vergelyk kan word nie; en een van Afrikaans se besbewaarde geheime.

November 2005

© Catharina Loader 2001