Algemeen

Gent in Vlaandere

Ernst van Heerden-versameling van Afrikaanse poësie in België

Danksy die inisiatief en harde werk van ‘n klomp Afrikaanse akademici asook van Vlaamse belangstellendes in die Afrikaanse taal pryk prof. Ernst van Heerden, Afrikaanse digter en akademikus, se uitgebreide poësieversameling nou in die grootste Afrikaanse poësieversameling in die Nederlandse taalgebied. Die Ernst van Heerden-versameling van Afrikaanse poësie bevat tans bykans 900 Afrikaanse bundels, bloemlesings en kritiese werke, maar sal gereeld opgedateer word. Hierdie versameling is op 27 November 1998 in Gent, Vlaandere, amptelik tydens ‘n geselligheid in ‘n historiese gebou op die Vrijdagmark aan die Poëziecentrum oorgedra.

Dié versameling is aanvanklik deur Van Heerden aan die Suid-Afrikaanse digter, dr. Lucas Malan, nagelaat, maar dr. Malan het dit goedgunstelik geskenk vir opname in die Poëziecentrum (wat die grootste en mees geraadpleegde poësieversameling in die Nederlandse taalgebied is). Toe prof. Van Heerden voor sy dood in September 1997 gepols is oor die moontlikheid om sy poësie-versameling te laat opneem in die Poëziecentrum in hierdie kultuurryke Belgiese stad was hy heel inskiklik aangesien hy sy doktorale studie aan die RU Gent gedoen het.

Die Poëziecentrum het in 1980 tot stand gekom as 'n dokumentasie-, inligting-, en studiesentrum vir Nederlandstalige poësie en buitelandse poësie wat in Nederlands vertaal is. Die byvoeging van die Afrikaanse poësieversameling dien aan die een kant as groot stimulus vir vergelykende letterkundestudies. Aan die ander kant help dit om ‘n groter bewuswording van die Afrikaanse poësie in die besonder en die Afrikaanse taal in die algemeen in die Lae Lande te skep.

Die personeel van die Poëziecentrum stel die versameling via ‘n uitstalling en toegang tot die bronne beskikbaar vir gebruik deur belangstellendes in die Afrikaanse poësie. Die Nederlandse digter Gerrit Komrij, wat ‘n uitgebreide bloemlesing Afrikaanse poësie saamgestel het, het byvoorbeeld ook gebruik gemaak van die Afrikaanse bronne in die Poëziecentrum. Die hoop is ook al uitgespreek dat deur die maklike beskikbaarheid van hierdie versameling die Afrikaanse letterkunde moontlik ‘n plek sal vind in Nederlandse literatuurgeskiedenisse – ‘n plek wat dit al geruime tyd verdien.

Die idee vir die hele projek het ontstaan in Junie 1997 tydens ‘n besoek aan die Poëziecentrum deur Suid-Afrikaanse deelnemers aan die Nederlandse Taalunie (NTU) se tweejaarlikse Gent/ Boswell-projek. In terme van hierdie projek is groepe Suid-Afrikaanse akademici en onderwysers die geleentheid gebied om opknappingskursusse in die Nederlandse en Vlaamse taal en kultuur by te woon in sowel Gent, Vlaandere asook Utrecht, Nederland.

Die Suid-Afrikaanse digter Johann Lodewyk Marais het tydens die besoek in Junie 1997 die behoefte aan ‘n versameling Afrikaanse poësie op die Nederlandse taalgebied eksplisiet uitgespreek. Die Poëziecentrum het toe by monde van mnr. Willy Tibergien, direkteur van die Centrum, te kenne gegee dat hulle graag so ‘n versameling in hulle eie versameling sou wou opneem as dit beskikbaar sou wees.

Deur die samewerking van 'n klompie Suid-Afrikaanse digters en universiteitsdosente, onder andere Marais self, prof. Wannie Carstens, professor in Afrikaanse taalkunde aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (die voormalige PU vir CHO), mnr. Anton Basson, vroeër dosent in Afrikaanse letterkunde aan die Vista-Universiteit, en die Neerlandikus prof. Dorothea van Zyl van die Universiteit van Stellenbosch, het die idee uiteindelik prakties vrugte afgewerp toe die Ernst van Heerden-versameling amptelik in November 1998 in die Centrum se versameling opgeneem is. Mnr. Basson se ouers het vir etlike maande die versameling in hulle Randburgse huis gestoor en dit ook uiteindelik help verpak.

Die kontak- en skakelwerk in Vlaandere is gedoen deur welwillende taal- en kultuurinstansies soos De Orde van de Princen en die Gentse tak van die Marnixring. Mev. Marleen Couteur, ‘n voormalige dosent in die Talencentrum aan die Universiteit van Gent, was die Gentse skakelpersoon en sy het baie daartoe bygedra om organisatoriese drade aan mekaar te knoop.

Die PUK-Kanselierstrust van die Noordwes-Universiteit (voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys) het finansiële steun verskaf om die vervoer van die versameling asook gereelde aanvulling van die versameling moontlik te maak. Prof. Dorothea van Zyl het met die hulp van lede van die bestuur van die Algemeen Nederlands Verbond (ANV) in Kaapstad dit bemiddel dat die versameling na Gent geneem kon word. Die vervoermaatskappy Grindrod het teen ‘n verlaagde tarief die versameling per lugvrag na Brussel gebring vanwaar dit deur personeel van die Poëziecentrum na Gent vervoer is.

Die versameling bevat baie bundels wat mededigters aan Van Heerden geskenk het met handtekeninge en handgeskrewe opdragte voor in. Van dié werke is eerste drukke. Die versameling is uiters omvangryk en beslaan byna die hele Afrikaanse poësiegeskiedenis. Bundels van onder andere Boerneef, Eitemal, Peter Blum, D.J. Opperman, W.E.G. Louw, T.T. Cloete, I.D. du Plessis, Ingrid Jonker, Breyten Breytenbach, Elisabeth Eybers, N.P. van Wyk Louw, Van Heerden self, Antjie Krog, Peter Snyders, Adams Small, Daniël Hugo en talle ander is opgeneem en kan nou met relatief min moeite op die Vlaamse en Nederlandse taalgebied gelees word. In die destydse verpakkingsproses is afgekom op talle resensies en besprekings van digbundels en dit is deur Anton Basson opgeneem in ‘n plakboek wat saam met die versameling versend is. Sedertdien word op ‘n vaste basis resensies oor poësiebundels aangestuur na die sentrum ten einde meer inligting oor bundels aan die publiek beskikbaar te stel. Hierdeur word die versameling reeds op ‘n wyse ontsluit vir potensiële lesers.

Prof. Carstens het sedert 1998 op ‘n gereelde basis die versameling bly aanvul met aankope van nuwe bundels en die versending daarvan na die sentrum. Personeel van NALN (die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum wat in Bloemfontein gevestig is) het in hierdie tyd aan hom lyste verskaf van nuwe bundels op grond waarvan bundels aangekoop is. Hierdie taak is sedert 2006 oorgeneem deur mnr. Louis Esterhuizen, bestuurder van die tak van Protea-boekwinkel op Stellenbosch en self ‘n erkende digter. Hy het die versameling met die hulp van personeel van die Poëziecentrum gekontroleer en dit daarna so volledig as wat prakties moontlik is op datum gebring. Uitgewers soos Protea-Uitgewers (in die besonder die hoof mnr. Nicol Stassen) en NB-Uitgewers (danksy mnr. Kerneels Breytenbach) stel bundels beskikbaar vir hierdie versameling, Protea gee naamlik ‘n gratis kopie van elke nuwe bundel aan die sentrum en NB-Uitgewers verskaf dit teen kosprys. Afrikaanse digters doen gereeld by die sentrum aan – soos prof. Ronel Forster van die Universiteit van Stellenbosch, Charl Pierre Naude, Henning Pieterse, e.a. Dus: samewerking oor ‘n breë front in die belang van Afrikaanse poësie!

Die vestiging van hierdie versameling in die buiteland kan beskou word as een van die grootste prestasies van die Nederlandse Taalunie se projek om die Neerlandistiek in Suid-Afrika uit te bou. In hierdie geval was dit net die omgekeerde, want Afrikaans is via die versameling in die Poëziecentrum ook uitgevoer na die Lae Lande. Sodoende word sowel die Neerlandistiek as Afrikaans bevorder.

Die feit dat die 10de herdenking van die versameling in 2008 plaasvind, is 'n baken vir Afrikaans in Europa. Ons het klein begin (ong. 600 bundels), maar die versameling word net groter – waarskynlik al bykans 1 000 bundels. Wonderlik! Dit bly ook nie net by poësiebundels nie, maar al hoe meer werke en artikels oor poësie vind hulle weg deesdae na Gent. 'n Regte navorsingsentrum kom dus stadigaan in plek.

Prof. Wannie Carstens
Direkteur, Skool vir Tale
Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit
POTCHEFSTROOM 2520
Suid-Afrika

Gepubliseer: Februarie 2009


© Catharina Loader 2001