Algemeen

Tydens ´n besoek aan Wenen eet Vadim en ´n mede-student heerlik bobotie ná ´n kerkdiens van die Afrikaanssprekende Gemeente in Wenen

In 2001 tydens sy voortgesette studie in Afrikaans aan die Universiteit van Wenen vertel Vadim Levitin die volgende oor die onderrig van Afrikaans in Usbekistan:

Afrikaans word in Tashkent, Uzbekistan sedert 1996 onderrig. Ek behoort aan die eerste generasie van studente wat Afrikaans begin leer het. Tans is daar twee groepe aan die Vertalersfakulteit van die Uzbek Staatsuniversiteit vir Wêreldtale. By die onderrig van die huidige vierdejaarsgroep is ek vir die afgelope twee jaar betrokke. In hierdie jaar, 2002, sal hulle´n Staatseksamen in Afrikaans aflê.

Daar is ook nog een tweedejaarsgroep wat hierdie vak slegs sedert September 2001 bestudeer. Solank ek in Oostenryk bly, word albei groepe deur Marelet Loots,´n dosent vanuit Suid-Afrika, waargeneem totdat ek weer in Februarie terug is op my pos.

Afrikaans geld aan ons universiteit as ´n "Tweede vreemde taal" en is een van 20 tale in die hierdie afdeling. Elke groep het hierdie vak drie keer per week. Ons het´n eie klaskamer - "Suid-Afrika sentrum". In die klas het ons die volgende leermateriaal: Woordeboeke (Afrikaans-Engenls en Engels-Afrikaans), koerante en tydskrifte van Suid-Afrika in Afrikaans, oudio- en videokassette met taal- en landkundige informasie. Ook het ons verskillende kaarte en plakkate wat tydens die periodes baie help.

Elke maand kry die studente´n nuwe tema. Die aantekeninge is op fotostate wat gebasseer is op die materiaal van Johan en Susie Brand en op die metodologie van Marelet Loots. Die temas is selfstandig deur huille uitgewerk met toevoegings uit Afrikaanse leerboeke. Elke tema bestaan ongeveer uit 12 lesse (periodes). Elke les is opgebou uit vier bestanddele: Taallleer, klankleer (vierdejaarkursus uitgesluit), mondelinge werk en leesstukke.

Die studente voltooi die mondelinge en skriftelike oefeninge, lees tekste, memoriseer gedigte, oefen die uitspraak van Afrikaanse letters en klanke en skryf toetse oor taalleer. Na elke tema het hulle´n kontroletoets (monkey-puzzle, of mondeling, of skriftelike werk). In die laaste tyd word ook vertalings gedoen uit koerante of van maklike sinne. Behalwe die oefeninge skryf ons studente opstelle, teken prente en versier die kamer met plakkate. Tydens die semester kyk die studente ook na films oor Suid-Afrika en luister na liedjies in Afrikaans. Aan die einde van elke semester lê hulle eksamen af en aan die einde van die vierdejaar (die laaste jaar van die BA-graad) word die Staatseksamen aangepak.

Die program van´n tweede vreemde taal (in ons geval Afrikaans) duur drie jaar: Die eerste twee jaar vereis 114 periodes p.j., die derde jaar 114 periodes p.j., die vierdejaar 69 periodes p.j. plus die Staatseksamen.

Sedert 1996 was daar 5 groepe tussen 9 en 15 studente wat Afrikaans bestudeer het. Vier groepe het Engels en net 1 groep het Duits as die eerste vreemde taal gehad. Ek het opgemerk dat die Duitse groep makliker sukses behaal het.

´n Bepaalde aantal punte word vir elke aspek van die mondelinge en skriftelike oefeninge asook die kontroletoetse en eksamens vasgestel wa die jaarpunt uitmaak.

Al die leermateriaal is deur onderwysers uit Suid-Afrika verskaf. Ons studente is´n paar keer deur medewerkers van Suid-Afrika se ambassade in Turkye, die Direkteur van CAFE (Central Asia Free Exchange), die konsul van Suid-Afrika in Usbekistan en dosente van Suid-Afrika besoek.

Van 1996-2001 het die volgende onderwysers Afrikaans aan die universiteit in Tashkent aangebied:

1996: Johan en Susie Brand

1997: Johan en Susie Brand, Marelet Loots, Ilse Koleski

1998: Marelet Loots

1999: Marelet Loots, Vadim Levitin

2000: Vadim Levitin

2001+: Marelet Loots, Vadim Levitin

Gedurende 2005 laat Vadim weet dat die kursus gestaak is deels agv die moeilike lewensomstandighede waarin baie mense hulle tans in die gebied bevind. Hopelik is dit net ´n tydelike terugslag en kan Afrikaans weer later in dié gebied kop uitsteek.

2005

© Catharina Loader 2001