Algemeen

Wenen is die hoofstad van 'n vergange Ryk wat regoor Oos-Europa gestrek het. Ryke, soos rykes, oorlog en armes sal glo altyd met ons wees. Eerste en Derde Wêreld, Ontwikkeldes en Ontwikkelendes, oftewel Noord en Suid, soos die nuutste politieke korrektheid dit wil hê, ontmoet in Wien onder die ruim woordsambreel van "Migration."

Drie van die bekende outeurs wat by die simposium oor migrasie opgetree het:

Henk van Woerden, Etienne van Heerden en Marita van der Vyver

Ek is die afgelope vyf jaar al 'n trekarbeider in Tsjeggië. Ek het getrek agter 'n universiteitspos in Olomouc. Daar onderrig ek Nederlandse letterkunde en Afrikaans. Migrasie het veroorsaak dat die "onse" in my "ek" vermenigvuldig het. Ek sê in dieselfde sin soms: "Ons, die Tsjegge," en "Ons, die Suid-Afrikaners." Maar ek gaan onwillig na Wenen, want my proefskrif is in sy proefleesstadium, my studente word afgeskeep en my huis is chaoties en vol stof. Tog is ek bly dat ek gekom het, nie net vir die ryk intellektuele stimulasie nie, maar ook vir die ontspanning en ontsnapping van toeris-speel.

Wenen is 'n ryk stad, ryk is al die betekenisse van die woord. Ek ontmoet die wonderskone Keiserin Sissie. Sy het glo hare gehad wat tot haar enkels gehang het. In die Keiserlike skattekamer, tussen al die porseleinskatte, is 'n eenvoudige stel wasskottels wat tydens die jaarlikse voetewas-seremonie gebruik is. Die keiser en keiserin het dan die voete van 10 (20?) armes gewas. Baie bewonderenswaardig dink ek, maar toe lees ek verder. Ander werkers het die voete gewas en die keiserlike egpaar het net simbolies die eerste een se voete afgedroog. Ek wonder wat die moderne ekwivalent hiervan is. Die natuurskilderye van Gustav Klimt, saamgebring in die Upper Belvedere, is ryk aan 'n stille heiligheid van balans en skoonheid. As ek maar elke dag op een van die skilderye kon mediteer, wenssug ek.

Tussen die keiserlike ryk en die ryk van die Kuns, is die aardse ryk van politieke protes. 'n Kleinerige optog van raserige Palestyne loop ordelik deur die middestad van Wenen. Anti-Apartheid optogte het plek gemaak vir simpatie met die Palestynse saak. Plakkate soos "Zionisme ist rassismus" en "Sharon ist un fascist" toon die migrasie van woorde van protes.

Die eerste sprekers by die Simposium, Helmuth Niederle en Walter Sauer, is veterane van die Anti-Apartheidstryd. Hulle is op soek na 'n manier om die probleme van 'n post-Apartheid Suid-Afrika, weer 'n publieke dringendheid te gee. Maar Europers sukkel met hulle eie groot Europese Renaissance: die integrasie van Oos- en Midde-Europa, in die Europese Unie, dink ek.

Luc Renders se bewysmateriaal vir die ontgogeling van sekere blanke Afrikaanse skrywers na die euforie van 1994, laat my depressief en laat my wens ek kan bewys dat die prentjie nie so donker is as wat hy dit teken nie.

Die onvermydelike metaforisering van die migrant vind plaas in die voordragte van Ena Jansen en Marita van der Vyver. Elisabeth Eybers is besig om na die dood te migreer en omtrent alle vroue en Swartes is migrante in die chauvinistiese Blanke Afrikaner canon / kanon. 

Relevant anekdotes, blinkglad gepoleer met raak woorde en lokale kleur, oorheers die verdere akademiese diskoers. Johnny Masilela lag lekker vir sy mense se kinderlike liefde vir gangsterbooks en picturebooks in die 1960's. Henk van Woerden se waarskynlik Europese vrou versteur 'n paradyslike toneel van weidende zebras deur 'n appel as 'n geskenk te gooi. Achmat Dangor praat 12 ure lank nié met 'n mede-passasier in die ekonomiese klas van 'n vlug na New York nie. Die storie is eksemplaries van 'n kultuur van swye na 9/11. Alfred Schaffer stel ons aan sy Kaapse Bergies voor en wonder waarom Nederlandse skryfkuns so steriel en onpolities is. Etienne van Heerden, vermoedelik ernstig tong-in-die-kies, wonder of ons skrywers se fiksie oor die verlede kan vertrou. Skrywers lieg om die stories interessant te vertel: die giraffe se lang nek moet ter wille van die verleiding van die storie net 'n bietjie langer. Natuurlik wonder ek hoeveel centimeter by die anekdotes gevoeg is, maar ek kla nooit oor 'n lekker storie nie.

Die gesprekke gaan voort in my kop.

"Nee, Henk. Ek dink nie skuld kan oorgeërf word nie. Kapitaal wel. Tien jaar van 100% boedelbelasting in Europa, sal ver gaan om Afrika te voed."

"Haai, Etienne, ek het nie besef jy het so 'n slim sin vir humor nie. Ek sal my interpretasies van jou boeke moet hersien."

"Ai, Alfred. Hoe klein laat jy my nie voel nie - om te dink ek beskou Zwagerman, wat jy verkleineer as 'n massaskrywer, as 'n slim postmoderne genie!"

Dis soos 'n simposium moet wees - intellektuele stimulering en net die begin van 'n gesprek. Pouses is gebruik vir gesprekke, vir die uitruil van biografie en epos-adresse en die ontmoet van fassinerende mense.

Marianne Hakl sing Adam Smal se gedig.

Die grootste bonus van die kongres was 'n Weense student, Marianne  Hackl, wat nie net musiek vir Adam Small se "What about the law?" gekomponeer het nie, maar die lied dan met 'n wonderlike stem en raak emosie kon sing en dit met die selfvertroue van ervare nagklubsangeres.

Ek wil Rina Loader en haar helpers innig bedank vir hierdie verskoning om te reis. Reis is altyd verrykend.

Lianne Barnard

 

2002

© Catharina Loader 2001