Fotobeeld

Die Kaapse skiereiland

Die Kaapse Skiereiland (Peninsula, Kaap van Storms, Kaap van Goeie Hoop) is sinoniem met:

  • Die Tafelberggroep (Tafelberg, Leeukop, Duiwelspiek, Twaalf Apostels)
  • Kaappunt in die Kaap van Goed Hoop Natuurreservaat
  • Die Kaapse vlakte
  • Botaniese tuin, Kirstenbosch
  • Skilderagtige dorpies en strande

 

'n Oriëntering

Vir Europese seevaarders is die Peninsula reeds sedert die dae van die Portugese seevaarders van Suid-Afrika se bekendste landbakens. Dit staan as die Kaap van Storms bekend en vir miljoene jare bied hierdie soliede granietmassa weerstand teen die aanslag van die elemente en die twee oseane wat dit omring.

Volgens oorlewering (vasgevang in die digwerk van die Portugese digter Luis Vaz de Camoes) is die Kaap van Goeie Hoop die tuiste van die wrede en barbaarse reus Adamastor. Hy het teen die gode gerebeleer en is vir sy straf na die einde van die Afrika-kontinent verban.

Adamastor se lyf is daar met geweld neergegooi om die rotsformasies van die Peninsula of Kaappunt te vorm. Tafelberg is die merkteken vir sy graf.

Sy ongelukkige en opstandige gees sweef egter vandag nog steeds tussen die groot sandsteenrotse rond en kom elke dan en wan tot uitbarsting in die dodelike Kaapse storms wat al menige skip laat sink het. Hy heers oor die suidelike seё en rebelleer in orkane, stormagtige winde en donker wolke. Met woedende branders slaan hy gate in die rotse.

Ook die Arabiere in die dae van Sindbad het van Tafelberg as 'n magneet gepraat wat hulle skepe inge suig het in 'n onontkombare doodsrit. Die Portugese skeepsvaarders het sulke erge storms beleef dat hulle stories aanleiding gegee het tot die legende wat Wagner in die verhaal van Die Vliёnde Hollander vasgevang het – die verhaal van die kaptein wat verdoem is om vir ewig deur die wind in die diepsee ingejaag te word sodat hy nooit die Kaap kan bereik nie.

Dit is stories wat mens maklik kan glo as jy daarmee reken dat die wind in hierdie gebied van 40  tot 120 km per uur kan wissel. Die Suidooster is oral bekend. Hy waai nie alleen die bome skeef nie maar bring ook reёn vir die binneland en sorg vir die nodige saadverspreing van die duisende Kaapse blomme. Hy werk lugbesoedeling en peste so goed teё dat hy bekendstaan as die 'Kaapse Dokter'.

 

Tafelberg

Tafelberg is deel van 'n berggroep oor die lengte van die Kaapse Skiereiland. Sover bekend was die Portugees Antonio de Saldanha en sy makkers die eerste Europeërs wat die berg besigtig het en daaraan die naam Taccoa do Cabo (Tafelkaap) gegee het. Die berg is 1 086 m hoog en het aan weerskante twee pieke: in die ooste, Duiwelspiek (1 007 m) en in die weste, Leeukop (663 m). Tafelberg lyk egter massief omdat sy hange direk in die see in verdwyn.

Die foto hieronder is vanaf Bloubergstrand deur Alet Steyn geneem.

Foto´s: Nóg meer dramaties is die toneel wanneer 'n unieke miskleed oor die berg hang. Die foto's hieronder is deur Hayley Richards, 'n inwoner van Kaapstad,  in 2005 tydens 'n 'sunset cruise' geneem.

Die indrukwekkende 'tafeldoek'  is 'n natuurwonder waaroor Boesmans, Hottentotte, en Europeёrs deur die eeue almal gespekuleer het.

 

Die legende van Ort van Hunks

Een van die mees bekende legendes vertel van Ort van Hunks, 'n afgetrede seerower. Nadat hy genoeg geld op sy rooftogte gemaak het, het hy in die Kaap gaan woon. Hy het grond gekoop net agter die Kompanjietuin. Daar het hy in weelde gewoon. Hy is deur slawe bedien en al wat hy gedoen het, was om te sit en rook.

En rook kon hy in vrede rook totdat hy die dag 'n vrou getrou het. Sy kon Van Hunks se rokery nie verdra nie. Van Hunks moes maar teen Tafelberg opklim tot by Duiwelspiek. Dáár kon hy in vrede rook. Niemand het hom ooit daar gepla nie.

Groot was sy verbasing dus eendag toe hy gegroet word deur 'n plomp klein mannetjie met ´n stertjie. Hy was deftig aangetrek met 'n swart keilhoed op sy kop, 'n rooi lyfband om sy middel, swart kouse met groen strepe en 'n broek en skoene wat daarby pas. Die mannetjie se naam was "ou Niek" - niemand minder as die duiwel self nie! Groot was Van Hunks se vreugde toe ou Niek hom vir 'n dobbelspel uitdaag!

Tot hulle verbasing het die Heilige Petrus ook daar opgedaag om die twee dobbelaars teen die kwade gevolge van die dobbelspel te waarsku. Die einde van hierdie pastorale gesprek was egter dat Petrus besluit het om saam te speel omdat daar op dié oomblik nie veel in die hemel aangegaan het nie.

Die spel het begin en terwyl hulle gespeel het, het die drie met oorgawe gerook. Hulle het gespeel en gerook en gespeel en gerook. Later het daar 'n dik rookwolk oor hulle koppe gehang en stadig teen Duiwelspiek opgestoot. Die dassies het verstik en die akkedisse het verskrik weggehardloop. Selfs die vet kobras het in hulle ou afgewerpte velle gaan wegkruip.

Naderhand kon Petrus nie meer die nommers op die dobbelsteentjies sien nie. Hy het sy vlerke begin klap om die rookwalms te verdryf. Hoe meer hy sy vlerke geklap het, hoe meer het die wind die wolke in die lug opgejaag.

Onder in die Kaap moes die mense hulle deure sluit en hulle vensters toemaak. Die blou seewater het in groen, onstuimige golwe verander. Die rookwolke het gedraai en gekolk en die ganse bergtop toegevou in 'n wit kleed.

Vir Van Hunks was dit alles groot pret! Hy het 'n klomp geld asook die duiwel se stert én Petrus se stralekrans gewen! Die nederlaag het die duiwel en Petrus sommer erg ontstel en tot vandag toe nog kan hulle so 'n uitslag nie aanvaar nie. Elke keer as Tafelberg dus onder sy tafeldoek verdwyn, weet die Kapenaars dat Van Hunks, die duiwel en Petrus weer besig is om die dobbelsteentjie te gooi en hulle pype aan te steek.

Wat gebeur regtig as die mis so skielik oor die berg opstoot?

In leketerme kan die proses as volg verduidelik word: Lug van die binneland word oor die see uitgewaai waar dit goot hoeveelhede vog versamel. Dan word dit weer oor die land teruggewaai. Oppad terug na die binneland bots hierdie vogbelaaide lug met die berge van die Peninsula. Die enigste ontsnappingsroete daarvoor is om  bo-oor die bergkruine te probeer uitstyg. Juis waar Tafelberg staan veroorsaak die veranderde lugtemperature dat die vog tot 'n dik wit wolk kondenseer, oor die berg ooprol, teen die hange aftuimel en weer algaande verdwyn.

Kaappunt

Kaappunt, ook die Peninsula genoem, is die perfekte teksboekvoorbeeld van dié tipe verskynsel – 'n lang, smal rotsformasie met 'n ruggraat van skerp gedefinieerde bergpieke wat soos 'n vinger tussen die Atlantiese en Indiese oseane ingekrul lê. Agter die hoë rotsformasies kan die Vishoekvallei in die agtergrond gesien word.

By die suidelikste punt van hierdie formasie trek geoloё 'n denkbeeldige lyn tussen die Indiese en die Atlantiese oseaan omdat dit hier is waar die aard van die seё verander. In die somer is daar bv aan weerskante van die Skiereiland 'n 6 grade verskil in temperatuur.

Die Kaapse Vlakte

Vroeёr was die Skiereiland geskei van die res van die land met ´n smal spleet in die Vishoekvallei. Vandag is dit gekoppel aan die hoofland deur die Kaapse Vlaktes - 'n laagliggende deel wat vroeёr deel van die seebodem was en later drooggelê is.

 

Foto van Wikipedia - kliek hier om verder oor die verskillende voorstede te lees

 

 

Bronne

http://myfundi.co.za/a/Tafelberg,_Kaapstad

Foto's gratis beskikbaar gestel deur South African Tourism

Die kaart van die Cape of Good Hope se oorsprong kon ek ongelukkig nie meer naspeur nie ... hoor graag as iemand my kan help.

http://de.wikipedia

 

Catharina Loader
November 2011

 © Catharina Loader 2001