Afrikaans Grammatika

Wenke 2002

35. Bylaag vs. bylae
36. Afrikaans vir attachment?
37. Contact en kontak
38. Internet of internet
39. Inteendeel en trouens
40. Skrei teenoor skry
41. ‘n Nuwe voorsetselwoordeboek
42. Dieet of dieët?
43. Weer: Internet of internet
44. Hoe sic(!) ek?
45. Opmerking vs. aanmerking
46. Te wyte aan en te danke aan
47. Hoe spel ek dit: ongeruimdheid of ongerymdheid?
48. Grootte en grote
49. Die nuwe AWS 2002
50. Tweede vloer of tweede verdieping?
51. Sake vs. besigheid
52. Skryfwyse van getalle, syfers en simbole

 

35. Bylaag vs. bylae

Kollega Kobus Bergh doen navraag oor bylaag vs. bylae. Wat is die korrekte vorm vra hy? Dis maklik: beide is korrek.

Bylaag (en sy meervoudsvorm bylae) asook bylae (en sy meervoudsvorm bylaes) word altwee gebruik – en ook erken in standaardbronne – om aan te dui dat ‘n stuk, geskrif of dokument bygevoeg word by ’n ander dokument, dus as Bylaag A of Bylae A, ens. As sodanig is hierdie vorme dan wisselvorme.

Gebruikers van hierdie vorme maak dit moeilik vir hulleself deur nie konsekwent te wees in hulle eie gebruik van dié vorme nie. My raad is daarom: kies een vorm en bly konsekwent daarby. Dan sal daar nie verwaring ontstaan nie.

04/02/2002

36. Afrikaans vir attachment?

Ons stuur daagliks boodskappe met attachments op die kampus en na buite die universiteit rond. Die vraag is: wat is ‘n goeie Afrikaanse ekwivalent vir hierdie veelgebruikte Engelse term? Wyle prof. Johan Combrink, voorsitter van die Taalkommissie, het die term aanhegsel verkies en dit ook sterk bevorder. Rekenaarlyste gee aanhegsel asook aanhangsel aan. Navrae elders dui ook op hierdie twee moontlikhede asook ‘n paar ander minder lewensvatbare terme. Dit skyn asof aanhegsel die hoogste gebruiksfrekwensie het en ek raai dan ook die voorkeurgebruik van hierdie term aan. Kom ons stuur daarom voortaan eerder aanhegsels as attachments kruis en dwars oor die kampus, die land en die wêreld.

04/02/2002

37. Contact en kontak

Die Engelse gebruik die woord contact met gemak as werkwoord, bv. in ‘n sin soos Please feel free to contact me regarding your problem of selfs Contact me by telephone. In Afrikaans skram bronne nog steeds weg van die ooreenstemmende gebruik van die werkwoord kontak (alhoewel een redelik resente een die moontlike gebruik daarvan teensinnig erken), want daar is vermoedelik beter Afrikaanse ekwivalente daarvoor, bv. in verbinding tree, skakel met, in aanraking kom, nader (my), kontak maak, kontak opneem.

Die taalwerklikheid toon egter duidelik dat kontak as werkwoord (in die betekenis ‘in aanraking kom’, bv. in Ek kontak jou more per telefoon of Moenie huiwer om my te kontak nie) al hoe meer in Afrikaans as ekwivalent vir die bogenoemde vorme gebruik word. Dit kom voor asof hierdie woord sy anglisistiese betekeniskonnotasie afgeskud het (ten minste in die spreektaal) en die pad begin loop van volwaardige aanvaarding in Afrikaans (dis nog nie heeltemal so vas in die formele register nie). Daarmee kan ek saamgaan.

Onthou wel net as u die woord uitspreek dat die klem in Afrikaans op die tweede deel van die woord val en nie soos in Engels op die eerste deel nie; dus wel kon-TAK in Afrikaans.

04/02/2002

38. Internet of internet

Ek is al telke male gevra hoe word internet/Internet geskryf, d.w.s. met ‘n hoofletter of ‘n kleinletter. Rekenaarlyste gee voorkeur aan die vorm met die kleinletter en dis ook die patroon by talle koerante en tydskrifte, veral in rekenaarrubrieke. Die jongste uitgawe van die HAT (2000) gebruik ook die kleinlettervorm. Die rede vir die aanvanklik voorkeur lê waarskynlik daarin dat geredeneer is dat die internet ‘n eienaam is, wat dit wel nie is nie – dis naamlik eerder ‘n soortnaam. Dus: internet met ’n klein i. In ooreenstemmende verband word die vorm web ook met ’n kleinletter geskryf.

Dit kom ook voor asof die term internet selde sonder die bepaalde lidwoord die gebruik word. As die verskynsel internet bedoel word, is dit dus die internet.

28/02/2002

39. Inteendeel en trouens

Karen Jooste het navraag gedoen oor die gebruik van die woorde inteendeel en trouens. Skryfwerk hier op die kampus laat blyk dat daar verwarring heers met die gebruik van hierdie woorde. Bronne gee die volgende maklike gebruiksonderskeid aan: inteendeel word nie in die betekenis van ’om die waarheid te sê’ gebruik nie, maar wel in die betekenis van ‘teenstelling’ soos in Die krieket was nie baie opwindend nie; inteendeel dit was uiters vervelig. (Let hier op na die voorkoms van die kommapunt voor inteendeel.) Na trouens volg weer ‘bevestiging, instemming, versterking’ van die vorige soos in die volgende sin: Ek was nie net gelukkig met sy optrede nie’; trouens ek was opgewonde oor die sterk leiding wat hy neem. In hierdie opsig beteken trouens dan wel ‘om die waarheid te sê’. Ek vertrou hierdie gebruiksleiding sal van nut wees.

26/03/2002

40. Skrei teenoor skry

Beide woorde hier bo val in die kategorie ‘deftig’ en word nie so dikwels gebbuik nie. Juis daarom kom daar maklik betekenisverwarring in skryfwerk voor en word dié woorde dikwels foutief gebruik. Skrei as werkwoord beteken ‘ huil, ween, trane stort, skreeu of roep’ en kom voor in uitdrukkings soos die onreg skrei ten hemele of dit skrei om wraak. Dit kom ook voor in: Dis ‘n skreiende skande dat jy so iets eens oorweeg!

Skry beteken weer ‘statig loop; met vaste, waardige stappe loop; voortstap’, maar word selde alleen as werkwoord gebruik. Dit kom eerder voor in verbinding met oor-; dus oorskry, in bv. Iemand se drumpel oorskry of Die grens van ‘n land oorskry. Dit het ook die betekeniswaarde van ‘te ver gaan; te buite gaan; meer wees as’ in bv. Jou magte/perke oorskry, Sy laste oorskry sy bates, Die inskrywings vir ‘n kursus oorskry.

Dus: maklik om te verwar, maar ook maklik om te onderskei.

26/03/2002

41. ‘n Nuwe voorsetselwoordeboek

Voorsetsels lewer heel dikwels taalgebruiksprobleme op. Sê ‘n mens iemand is op/met vakansie, of dien op/in ‘n komitee, of word in/onder kruisverhoor geneem, ens.? Ten spyte van drilwerk op skool is daar onsekerheid onder Afrikaanse taalgebruikers oor wat die korrekte vorme hier bo (en ook by ander soortgelyke vorme) is. Daar het onlangs (2001) ‘n hersiene en volledig bygewerkte uitgawe van PJ Taljaard en WK Smit se uiters bruikbare Tweetalige Voorsetselwoordeboek verskyn. Skaf dit gerus aan om u te help met u eie voorsetselprobleme.

Bestel die boek by: PJ Taljaard, Posbus 7773, BIRCHLEIGH 1621 en die koste is: CD alleen R150 + R10 posgeld en verpakking; harde kopie R200 + R26 posgeld en verpakking; CD + harde kopie R225 + R26 posgeld en verpakking. Die skrywer se E-pos-adres is: pietertal@icon.co.za

Nota: Die vetgedrukte vorme hier bo is die voorkeurvorme vir Afrikaans alhoewel in die eerste twee gevalle die alternatief ook aanvaarbaar is.

26/03/2002

42. Dieet of dieët?

Die korrekte spelling van woorde soos dieet, essensieel, finansieel, kommersieel, offisieel, seremonieel, substansieel en ander soortgelykes is duidelik nie bekend aan heelwat Afrikaansgebruikers nie, ook nie hier op die kampus nie as ek moet oordeel aan skryfstukke wat ek sien. So dikwels word dieët of finansieël geskryf – dis egter foutief. Die reël vir hierdie soort gevalle in Afrikaans is duidelik: Die deelteken word naamlik nie gebruik by woorde wat op -ieel, -ieer of -ieet eindig nie. Die deelteken word wel gebruik by afgeleide vorme van woorde wat op -ieel, -ieer of ‑ieet eindig, soos: diëte; essensiële, finansiële, kommersiële, offisiële, seremoniële, substansiële; kopiëring, lisensiëring.

Let egter daarop dat spieël om historiese redes wel met ’n deelteken geskryf word.

26/03/200

43. Weer: Internet of internet

Kollega Riaan van Niekerk van ITB was in ‘n BBS-brief (18/03/2002) heel ontstig oor my taalwenk dat die term internet hoofsaaklik met ’n kleinletter geskryf word. Riaan het heelwat bewyse gaan aanhaal dat die voorkeurterm eintlik die hoofletterskryfvorm Internet moet wees. Hierdie bewyse is ook nie noodwendig ongeldig nie omdat elkeen van die argumente waarskynlik aanvaar sal kan word en ek wil nie daaroor in stryd met hom tree nie.

My taak as taalkundige is om waar te neem hoe taal gebruik word en dan patrone daarvoor op te teken. Dit het ek ook gedoen t.o.v. internet vs. Internet en daarom dan my wenk dat die voorkeurvormin koerante en tydskrifte die kleinletterweergawe skyn te wees. Taalkundekollegas is dit met my eens dat hierdie begrip eintlik 'n unikum verteenwoordig (soos radar, radio, telefoon, ens.) wat naamlik aanvanklik die hoofletterskryfvorm vereis, maar mettertyd weens bekendheid neig om eerder met die kleinletter geskryf te word, m.a.w. die aanvanklike nuutheid gaan verlore. Mede-Taalkommissielid prof. Ernst Kotze van UPE sê hieroor dat die “uniekheid van die begrip binnekort sal vervaag, en daarmee saam ook sy eienaamkarakter”. Daarom dan my pro-aktiewe wenk dat internet en web met ‘n kleinletter geskryf (kan) word. Juis om hierdie oorgangsfase te weerspieël sal beide vorme (internet en Internet) in die volgende uitgawe (September 2002) van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls opgeneem word.

Ek vertrou my argument is nou duideliker.

27/04/2002

44. Hoe sic(!) ek?

Die woordjie sic kom dikwels in tekste voor. Nie almal weet noodwendig wat dit beteken nie en wonder dan watter vreemde woord staan daar tussen hakies. Sic (ontleen aan Latyn) beteken letterlik “so; aldus; net so; so is dit; so staan dit woordelik” en word tipies gebruik wanneer daar aangedui word dat dit wat jy nou skryf, presies is (wat ook al die fout) wat ‘n aangehaalde skyrwer geskryf het, bv. as iemand ‘n woord soos onmiddellik geskryf het as onmiddelik in ‘n opmerking soos “Hulp is onmiddelik (sic) ontbied”. Op die venster van ‘n blomwinkel hier op die Bult word aangedui dat daar by hulle vehuurings (sic) aangegaan kan word.

Die woord sic word altyd gekursiveer en word ook tussen hakies geplaas onmiddellik na die woord wat uitgelig word. Sommige bronne dui aan dat sic gevolg moet word deur ‘n uitroepteken terwyl ander bronne weer sê dat om ‘n uitroepteken te gebruik is soos om vir jou eie grap te lag. Dit skyn dus ‘n geval van persoonlike voorkeur te wees, maar dit lyk vir my asof die graad van die fout bepaal of ‘n uitroepteken gebruik word of nie. So sal onmiddelik (sic) hierbo waarskynlik nie ‘n uitroepteken kry nie, maar vehuuring (sic!) beslis een.

11/05/2002

45. Opmerking vs. aanmerking

Hierdie twee woorde word maklik verwar. Aanmerkings word gemaak wanneer ‘n mens opinies of menings van ‘n onvleiende aard uitspreek. Van die bronne dui aan dat aanmerking meestal in ‘n ongunstige betekenis gebruik word, dus ‘n soort onvriendelike opmerking oor iets of iemand, bv, aanmerkings in die kantlyn van ‘n verhandeling skryf (in die betekenis van vind fout daarmee, lewer kommentaar daarop) of aanmerkings maak oor iemand se gedrag of houding (in die betekenis van ‘kapsie maak’ daaroor). Aanmerking kom darem ook in ‘n meer gunstige bedoeling voor: hy kom in aanmerking vir ‘n pos of Dit is iets om in aanmerking te neem.

‘n Opmerking daarenteen is ‘n meer neutrale of gunstige waarneming oor ‘n saak en word meestal met goeie bedoelings gemaak, bv. die skare het kort-kort opmerkings geskree tydens die konsert (in die betekenis van geestig of skerpsinnig). Opmerkings dui ook op skerp waarnemings of op die handeling van opmerk of bespeur, bv. sy opmerkings in die veld het ons navorsing baie vergemaklik.

Hopelik help hierdie uiteensetting u om die volgende keer te weet of u ‘n opmerking of aanmerking maak!

06/06/2002

46. Te wyte aan en te danke aan

Mense verwar maklik hierdie twee uitdrukkings. Daar is egter ‘n duidelike betekenisverskil tussen die twee. Te wyte aan kom in ‘n ongunstige of negatiewe betekenis voor, bv. sy teenspoed is te wyte aan sy luiheid of sy dood is te wyte aan die vlieënier se nalatigheid.

Te danke aan word weer net in ‘n gunstige of positiewe sin gebruik, bv. die boere se goeie oes is te danke aan die goeie reën van die afgelope tyd of Jan se sukses is te danke aan sy harde werk.

Ek hoop dit maak die onderskeid duideliker.

06/06/2002

47. Hoe spel ek dit: ongeruimdheid of ongerymdheid?

Ek merk (ook in skryfwerk op die kampus) dat daar onsekerheid is oor die korrekte spelling van ongerymdheid/ongeruimdheid. Die antwoord hierop is maklik: Daar is nie ‘n vorm soos ongeruimdheid in Afrikaans nie. Die korrekte spelvorm is dus ongerymdheid. Dié woord word gewoonlik gebruik in die betekenis van “dwaas, in stryd met” in bv. Talle ongerymdhede in die finansiële beheer van die departement is uitgewys in die verslag van die ouditeure.

Die les hieruit bly maar: as jy twyfel oor ‘n woord se spelling (en betekenis), gaan slaan dit na in ‘n goeie woordeboek.

07/06/200

48. Grootte en grote

Die skryfvorme grootte en grote word soms met mekaar verwar in skryfwerk in Afrikaans. Dis ook te verstane dat so iets kan gebeur. Grootte het hoofsaaklik te doen met “afmetings, omvang” in bv. Die grootte van die plaas, of Watter grootte hemp dra jy? Grote daarenteen het die waarde van “belangrike persoon” soos in Nelson Mandela word as een van die grotes van ons tyd beskou, of ook “volgroeide mens of dier” in Hier is die grotes en daar die kleintjies. Grote word ook gebruik in die waarde van “iets wat groot of groots is”, in bv. Die grote het ongelukkig weggekom. Dis veral hierdie waarde wat verwar word met grootte.

Hopelik help hierdie uiteensetting om die volgende keer die korrekte skryfvorm te kies. Onthou net weer die goue reël vir goeie taalgebruik: as jy enigsins twyfel oor ‘n woord se spelling (en betekenis), gaan slaan dit na in ‘n goeie woordeboek.

07/06/2002

49. Die nuwe AWS 2002

Na meer as 11 jaar verskyn daar in September vanjaar ‘n nuut hersiene uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS). Hierdie uitgawe – die 9de uitgawe – is ‘n volledig hersiene weergawe van die AWS van 1991. Verskeie aanpassings en byvoegings is gemaak: die spelreëls is gebruikersvriendeliker geformuleer in ‘n nuwe formaat (alfabeties en numeries), die woordelys is hersien en bygewerk, daar kom ‘n lys woorde uit die Omgangsafrikaanse woordeskat (bv. die spelwyse van koebaai, oukei, ens.), daar is ‘n lys met afleidings van buitelandse geografiese name, die afkortingslys is aangepas, e.s.m.

Dit sal egter ‘n fout wees om te sê die reëls van Afrikaanse spelling het ‘al weer verander’. Dis nie waar nie, want die basiese reëls bly dieselfde – dis nou net aangebied op ‘n wyse wat vinnige inligtingsontsluiting moontlik maak. Sodoende sal die bron werklik wees wat dit bedoel is om te wees: die bron wat gebruik behoort te word vir die maklike oplos van spelprobleme in Afrikaans.

Verskeie bekendstellingsgeleenthede sal landwyd plaasvind. Op Potchefstroom self is daar die loodsingsgeleentheid op Vrydag 27 September tydens Aardklop in die Boekeparadys, gevolg deur ‘n besprekingsessie hierna in die Frans du Toitgebou. Hopelik sal die boek dan teen ‘n kortingsprys beskikbaar gestel word. Die Oktober-vergadering van die Potchefstroomse werksgemeenskap van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns sal volgens beplanning ook hieraan gewy word.

Koop gerus hierdie boek aan as dit beskikbaar word – dis glo ook Leserskring se kroonboek later in die jaar – en gebruik dit gereeld ter oplossing van u spelprobleme.

15/08/2002

50. Tweede vloer of tweede verdieping?

op dat ‘n sekere vakgroep op die tweede vloer is. Ek merk onlangs in die J Chris Coetzee-gebou Dis een van die ou Anglisismes (d.w.s. die gebruik van ‘n woord of uitdrukking wat op die Engelse patroon gebaseer is) wat nog in Afrikaans oorgebly het. Vloer kan naamlik duidelik teruggevoer word na die Engelse vorm floor. Die meer korrekte Afrikaanse skryfvorm hiervoor is verdieping.

Daar is wel bronne wat sê dat vloer in hierdie betekenis al gevestig is in Afrikaans en dat dit nie meer geweer sal kan word nie. Dit is egter nie nodig om so ‘n opsigtelik Engels-verwante vorm in Afrikaans te gebruik nie. Ek stel daarom voor dat eerder voorkeur gegee word aan verdieping in hierdie soort gebruike. Die vorm vlak, bv. die kantoor is op die tweede vlak van die gebou, is ook ‘n goeie alternatief. Ek hoop net die talle vloere op die kampus sal nou verdiepings of vlakke word…

27/08/2002

51. Sake vs. besigheid

Ons is so gewoond om in Afrikaans business te vertaal met sake-onderneming (waar ons bedoel iemand het ’n onderneming wat sake doen). Dis ook op skool so aan ons geleer en soms selfs ingedril. Daar is egter van die meer onlangse bronne (soos Prinsloo & Odendal se Afrikaans op sy beste, 1995) wat meen dat die stryd in hierdie geval reeds verloor is. Die argument wat in hierdie bron gevoer word, is so oortuigend dat ek dele hieroor aanhaal: “Besigheid in die betekenis ‘saak, sake’ waar handel gedryf word (bv. sy het ‘n florerende besigheid in die middestad, my seun wil besigheid met ‘n buitelandse firma doen’) is dekades lank al ‘n twispunt onder taalmense. Die meeste kommentare maan nog steeds daarteen, of dan in bepaalde toepassings. Maar die stryd is verlore, die slag is gelewer, die koeël is deur die kerk. (Pragtig gestel! – WAMC) Die Komitee vir Taaladvies (van die ou SAUK) erken dit in al die gebruike (die AWS swyg asof dit nie sy besigheid is nie), dus ook in: ‘Dis nie jou besigheid nie’, ‘My besigheid (= werk) is polisse verkoop’, ‘Haar probleme is nie ons besigheid nie’.”

Hieruit blyk dit duidelik dat besigheid se gebruik al hoe meer aanvaarbaar is as alternatief vir saak. Dis ook reeds gevestig in gebruike soos besigheidsbrief, besigheidstransaksie, e.s.m. Hierdie soort gevalle kan slegs tot op ‘n punt bestry word en daarna is die ‘stryd’ verlore. Dit het skynbaar reeds hier ook gebeur. Self gee ek steeds voorkeur aan saak in hierdie soort kontekste, maar dis seker maar toe te skryf aan my puristiese neigings…

27/08/2002

52. Skryfwyse van getalle, syfers en simbole

Die nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) (9de uitgawe, 2002) het verskeie interessante vernuwings. Een daarvan is ‘n hoofstuk waarin inligting vervat word oor die skryfwyse van verbindings met getalle, syfers en simbole (Hoofstuk 7). Enkele interessante voorbeelde is:

  • Dit is die gebruik dat indien ‘n syfer, getal, letter, afkorting of simbool in ‘n samestelling of afleiding voorkom, dit met ‘n koppelteken met die res van die samestelling of afleiding verbind word, bv. 10-jarige, R50-noot, B-mol, Ó-teken, ens. (Reël 7.1).
  • Dis ook belangrik om te weet dat die komma die enigste wetlike erkende desimaalteken is wat vir getalle gebruik word (Reël 7.4), bv. 16,7 kg; 318,20 kW; R23,50, ens. (Enkele uitsonderings word ook wel bespreek.)
  • By getalle kleiner as 1 moet ‘n nul die desimaalteken voorafgaan (Reël 7.5), bv. 0,9 m of R0,25, ens.

Vir hierdie reëls en ook enkele toepassingsopmerkings oor skryfwyses met getalle, syfers en simbole, kan u gerus die nuwe AWS raadpleeg. Dit sal u help om ‘n beter skrywer in Afrikaans te wees. Dis dalk ook ‘n goeie idee om die nuwe AWS as Kersgeskenk te gee… (of selfs te skimp dat dit ‘n heerlike en welkome geskenk sal wees).

29/10/2002

© Catharina Loader 2001