Afrikaans Grammatika

Wenke 2004

67. na versus ná

67. na versus ná

Die woordjie na (wat as voorsetsel, bywoord en voegwoord kan optree) word algemeen gebruik in ‘n verskeidenheid funksies, soos om aan te dui dat ‘n mens van ‘n bepaalde rigting praat (bv. Johan stap na die motor toe), om die nabyheid aan iets of iemand aan te dui (bv. Jy staan te na aan die vuur – jy sal brand!), om ‘n verband aan te dui (bv. Johannes heet na sy pa of Hierdie saak is nie na my smaak gehanteer nie), om iets te wete te kom oor iets of iemand (bv. Ek sal hom vanaand uitvra na sy finansies), e.s.m.

Daar is egter ‘n funksie van na wat nie altyd behoorlik begryp word nie, naamlik die gebruik van na as woord om tydsverloop aan te dui, soos in Ek sal eers vanaand die vergadering by jou kan aankom. In hierdie soort gevalle word die dan beklemtoon om eksplisiet aan te dui dat tyd ter sprake is – dit maak dan ook dat die sin beter verstaan word. Dus: As u die volgende keer na gebruik, dink dan gerus oor in watter funksie u dit wel gebruik. Daar sit dikwels meer in klein woordjies as wat ‘n mens sou dink!

17/03/2004

68. Spelprobleme in Afrikaans: gebruik die speltoetser!

Dis ‘n aanvaarde feit dat min Afrikaansskrywers in staat is om goed te spel – die redes daarvoor is velerlei, o.a. dat sommige mense spelling as van belang ag nie of gewoon onkundig is oor spelwyses. Daar is nou ‘n hulp op die mark vir diegene wat graag goed wil spel, maar tog nie al die reëls onder die knie het nie en ook nie lus is om kort-kort na te slaan nie. Die nuwe Afrikaanse Speltoetser 2.0 en Woordafbreker (wat ‘n aanpassing is van die eerste Afrikaanse speltoetser wat enkele jare gelede deur ITB uitgegee is) is hier op ons kampus ontwikkel deur navorsers onder leiding van dr. Gerhard van Huyssteen in die subprogram Taal en tegnologie in die navorsingsfokusarea Tale en literatuur in die SA konteks.

Dié speltoetser is eintlik ‘n móét vir elke rekenaargebruiker wat op die kampus daagliks Afrikaans moet skryf. Dit help om probleme met tikfoute op te spoor, en bevat uitgebreide woordelyste (in totaal meer as 310 000 woorde!), kan help met die afbreek van woorde op die regte plekke, ens.

Vir besonderhede oor die aankoop van die speltoetser kontak verkope@spel.co.za of besoek www.spel.co.za. Tel. 018 297 0164 of 0860 103 533. Daar is ‘n spesiale prys van R275,00 vir PUK-personeel beding. Volg gerus hierdie gulhartige aanbod op!

23/04/2004

69. Afkortings aan die begin van sinne

In die 2002-uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) word daar ‘n klomp bladsye (bl. 32-41) gewy aan die korrekte skryfwyse van afkortings in Afrikaans. Gaan lees dit gerus weer ‘n slag deur om u op hoogte te bring van dit wat daar staan. Gebruik ook gereeld hierdie bron as u onseker is oor die spel of skryfwyse van afkortings.

Daar word ook ‘n hele aantal besonder praktiese wenke gegee oor wanneer en hoe afkortings gebruik behoort te word (of nie gebruik behoort te word nie). Een so ‘n aspek is die wenk dat afkortings nie aan die begin van sinne voorkom nie, soos bv. in: T.o.v. dit wat u sê, het ek die volgende op te merk. / T.s.v. wat jy glo, gaan ek tog more Johannesburg toe. / Bg. opmerking is nie hier ter sake nie. In hierdie soort gevalle word die afkorting altyd voluit geskryf in goeie skryfwerk. Daar is wel enkele gevalle waar afkortings wel aanvaarbaar is aan die begin van sinne, soos bv. die afkortings van titels (bv. Dr. PJ Steyn sal die hoofspreker tydens die simposium wees) asook die afkortings van grade en sertifikate (bv. BA-studente moet om 12:00 kom aanmeld).

Gaan kyk gerus weer na die afdeling in die AWS oor afkortings – u sal baie wys word!

23/04/2004

 

70. Die afkorting van die dae van die week

As ek so kyk na skryfwerk op die kampus, is dit duidelik dat min wense regtig weet hoe om die dae van die week af te kort. Maandag wissel bv. van *Maan. tot *Maand., Woensdag van *Woens. tot *Woen., ens. Die reël vir die afkorting van die dae van die week is eintlik heel eenvoudig: slegs die eerste twee letters van die dagnaam word gebruik om die betrokke woord af te kort. Dis dus: Ma. (Maandag), Di. (Dinsdag), Wo. (Woensdag), Do. (Donderdag), Vr. (Vrydag), Sa. (Saterdag) en So. (Sondag). Die reël werk derhalwe konsekwent en sodoende word spelling vergemaklik. Maklik!

23/04/2004

71. Is dit nou komitee of kommittee?

Ek verwonder my daagliks aan die pogings tot die spel van selfs heel algemene en veelgebruikte Afrikaanse woorde op ons kampus. Een so ‘n woord is komitee – wat heel dikwels foutiewelik as kommittee geskryf word. Kommittee word duidelik geskryf na aanleiding van die Engelse skryfvorm committee. Hierdie verskynsel noem ons analogie en dit hou in dat daar na die mag van die voorbeeld ‘n ooreenstemmende skryfvorm gebruik word. Dis nog erger as daar na aanleiding van die voorbeeld in ‘n ander taal (soos Engels) ooreenstemmende vorme in Afrikaans geskep word. In Afrikaans is dit slegs komitee – met één m en één t.

Kommissie daarenteen is weer duidelik met twee m’e en twee s’e. Dus: ons skryf komitee en daarnaas weer kommissie.

29/05/200

72. Koppeltekens by afkorting

As ek soggens werk toe ry, kan ek nie help om die verkeerde skryfwyses op sekere naamborde op die kampus mis te kyk nie. Jammer as ek op tone trap, maar ek moet dit net sê: in die lig van die kundigheid wat op ons kampus beskikbaar is (ons het dan selfs ‘n taalpraktykskantoor op ons kampus!) om te help met die uitklaar van korrekte spelvorme op naam- en kennisgewingborde, is dit onverskoonbaar dat daar PUK Hokkie Akademie en PUK Rugby Instituut op van hierdie naamborde (wat dikwels met groot koste aangebring word) staan. Hierdie soort skryffoute is daar vir almal (personeel en publiek) om te sien!

Die korrekte skryfvorme hiervoor is PUK-Hokkie-akademie en PUK-Rugby-instituut. Reël 12.9 in die nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (2002) dui duidelik aan dat ‘n samestelling wat ‘n afkorting as eerste woorddeel het, met ‘n koppelteken met die daaropvolgende woorddeel verbind word (dus: PUK-Hokkie, PUK-Rugby). Reël 12.1 sê weer dat as dele van woorde wat ‘n samestelling vorm en waarvan die woorddele op vokaalletters eindig wat kan meebring dat die woord ‘verkeerd gelees kan word’, daar dan in so ‘n geval ‘n koppelteken gebruik word. Omdat hokkieakademie en rugbyinstituut dalk verkeerd gelees kan word, kan die koppelteken gebruik word. As dit nie verkeerd gelees kan word nie , dan kan die bg. vorme soos volg geskryf word: PUK-Hokkieakademie (of PUK-Hokkie-akademie) en PUK-Rugbyinstituut (of PUK-Rugby-instituut). Dis mos nie so moeilik om hierdie soort raad te gaan vra nie!

29/05/2004

73. epos en e-pos

Ek merk op dat die mense op ons kampus die besondere vermoë het om in digvorm met mekaar te kommunikeer. Hoe dan nou ook anders as daar daagliks eposse aan mekaar gestuur word? ‘n Epos (Grieks: woord, lied) is volgens sy woordeboekbetekenis ’n “verhalende gedig” of ’n “reeks grootse gebeure, gebeurtenisse” en beslis nie ’n e-pos (afkortingsvorm vir elektroniese pos) nie. Daar is derhalwe nogal ’n groot betekenisverskil in die gebruik van hierdie woorde.

Ons is so bevoorreg om in Afrikaans verskillende woorde vir verskillende betekenisse te hê en kan dit ook gerus so gebruik. Daarom: as jy die volgende keer epos skryf, dink weer aan wat jy wil doen: ’n gedig skryf (dan wel epos) of ’n boodskap met behulp van die elektronika te stuur (dan wel e-pos).

20/10/2004

74. Ons unieke Afrikaanse spreekwoorde

Die Afrikaanse spreekwoordeskat is ’n aanduiding van hoe Afrikaanse mense oor die jare gelewe het. Ons het ons eie unieke spreekwoorde en idiome geskep om uitdrukking te gee aan ons leefwêreld. In die verlede het daar al heelwat boeke verskyn oor die betekenis van Afrikaanse spreekwoorde, maar daar is nou pas ook een gepubliseer wat ten doel het om ook die herkoms van spreekwoorde in Afrikaans te verklaar. In hierdie boek, Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom (2004; Kaapstad: Pharos-Uitgewers) deur dr. Anton Prinsloo, oudomroeper van RSG, word 8 000 Afrikaanse uitdrukkings met Engelse ekwivalente aangegee en van ongeveer 1 000 word daar ’n verklaring van hulle herkoms gegee.

In die voorwoord van die boek word gesê dat spreekwoorde en uitdrukkings “die siel van ’n taalgemeenskap” openbaar en dan word in hierdie proses iets te kenne gegee oor waar die betrokke taalgemeenskap vandaan kom. Enkele voorbeelde ter illustrasie: van meet af aan (betekenis: van die begin af) hou verband met die streep wat in Nederlands gebruik is om die punt aan te dui vanwaar speletjies begin het; die rondte van vader Cloete (betekenis: by almal aangaan en niemand oorslaan nie) gaan terug op regter Cloete wat in 1812 een van die regters van die rondgaande hof in die omgewing van Graaff-Reinet, Uitenhage en George was.

Gaan soek gerus self na verklarings vir vat jou goed en trek Ferreira, ipekonders , jou gat sien, iets met vers en kapittel bewys, ens. Dis dalk selfs ’n handige Kersgeskenk!

20/10/2004


© Catharina Loader 2001