Afrikaans Grammatika

Wenke 2006

85. Die Australianers gee ons (weer) pak op die krieketveld
86. Dit doen!
87. Woordeverwarring: klaarblykbaar vs. Blykbaar
88. Pleks naas in plaas van
89. Kongres vs. Konferensie
90. Bydra naas bydra
91. Live’ naas regstreeks, lewend, direk ­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­


85. Die Australianers gee ons (weer) pak op die krieketveld

Die Aussies is weer op besoek aan Suid-Afrika – dis Super -14- en krieketwedstryde wat plaasvind. Ek hoor mense verwys dikwels na die mense wat uit Australië kom as Australianers. Dis gewoon fout! Die Engelse voorbeeld word duidelik hier nagevolg – Australians. Ons noem hierdie verskynsel analogie, d.w.s. na die mag van die voorbeeld, en in hierdie geval na die mag van die anglisistiese voorbeeld.

Die korrekte afgeleide vorm van die bewoners van Australië is naamlik Australiërs. Volgende keer as die radio- of televisiekommentator weer na die Australianers verwys, kan u maar weet dat hy die Australiese kat aan die stert beet het...

23/03/2006

86. Dit doen!

Japie Spoelstra het ’n (lang) tydjie gelede gevra wat ek te sê het oor die “dit doen”-verskynsel in Afrikaans. Dis daardie gevalle waar ’n mens iets aan iemand verduidelik en die persoon op ’n vraag of dit so verstaan word, die antwoord kry: “Dit doen.” My vrou het bv. onlangs aan my oudste seun se vriendin Lani vertel dat sekere voedsel ’n mens vet maak waarop Lani toe sê: “Dit doen”, m.a.w. in ’n bevestigende verband. Dit kom deesdae baie algemeen onder jonger mense voor.

Waar kom dit vandaan? Dis (al) weer die mag van die Engelse voorbeeld (dis dan daagliks om ons, veral op TV), waar so geredelik in so baie kontekste gesê word: “It does”. In hierdie verband tree die uitdrukking dan op as ’n verkorte vorm van die oorspronklik bedoelde reaksie. Afrikaans het nie ’n parallel hiervoor nie. ’n Mens sou in Afrikaans in so ’n geval eerder kon sê: “Ja, dit is so”, “Ek stem saam”, ens.

23/03/2006

87. Woordverwarring: klaarblyklik vs. blykbaar

Ek sit onlangs in ’n vergadering en hoor ’n spreker gebruik die woord klaarblyklik waar hy eintlik blykbaar bedoel het. Waar lê die verskil? Blykbaar word gebruik as ’n mens redelik seker is van iets, maar wel tog ’n mate van twyfel het; dus as ‘waarskynlik’ bedoel word. ’n Goeie voorbeeld: Die voorsitter het blykbaar bedoel om te sê dat hy nie saamstem met die vorige spreker nie – m.a.w.: die voorsitter het dit waarskynlik nie gesê nie, daar is dus ’n mate van twyfel of hy wel ’n bepaalde punt gestel het.

As klaarblyklik gebruik word, word daarmee bedoel: duidelik, ongetwyfeld, vanselfsprekend, onmiskenbaar, volkome sekerheid. “As iets klaarblyklik is, bestaan daar geen twyfel meer nie”, sê Dalene Müller in haar boek Skryf Afrikaans van A-Z (2003). Voorbeelde: Hy het hom klaarblyklik verslaap (bedoelende: hy is nie daar nie en sal dus laat wees); Hy lieg klaarblyklik soos ’n tandetrekker (bedoelende: dis so duidelik soos daglig dat hy leuens vertel, daar is nie twyfel daaroor nie).

Hoop dit help volgende keer as u tussen blykbaar of klaarblyklik moet besluit!

09/05/2006

88. Pleks naas in plaas van

Ek gaan deur my korrespondensie en kom af op ’n navraag oor die gebruik van pleks naas in plaas van. Die navraer (het reeds die diens van die PUK verlaat) vra hoe korrek is pleks in Afrikaans? Hy sê: “”Dit klink na iets waarmee jou jou tande skoonmaak (sic)!” Die woordeboek gee weer hier die nodige leiding. Die HAT (2005) sê pleks is ’n geselstaalterm en dat dit die ‘minder deftige’ weergawe is van in plaas van. Heel eenvoudig.

Dis tipies van taal: dat dit alternatiewe vorme het vir verskillende gebruike. Hierdie vorme het wel dieselfde betekeniswaarde, maar die gebruik daarvan in die onderskeie gebruikskontekste verskil – die een is bv. ‘deftiger’ as die ander (soos in plaas van in die plek van pleks, in bv. In plaas daarvan dat hy hom bedwing, praat hy al hoe meer onsin naas Pleks dat hy hom bedwing, praat hy al hoe meer onsin), of druk ’n saak meer eufemisties uit as die ander vorm (soos iemand het die tydelike met die ewige verwissel of het sag heengegaan naas hy is dood). Ons noem hierdie soort vorme stilistiese sinonieme. Dit maak die taal ryk en brei ons uitdrukkingsvermoë beduidend uit.

09/05/2006

89. Kongres vs. konferensie

Kollega Ewert Kleynhans vra onlangs waar lê die verskil tussen kongres en konferensie. In breë trekke kan ’n mens dit seker as sinonieme beskou, maar daar is tog ’n betekenisverskil. Die HAT (2005) verklaar ’n konferensie as: “Byeenkoms, vergadering deur verteenwoordigers of afgevaardigdes van liggame of lande om oorleg te pleeg oor bepaalde sake, dikwels ad hoc gereël wanneer daar behoefte aan ’n samespreking na vore kom”. Hierteenoor word kongres verklaar as: “Byeenkoms van afgevaardigdes van liggame of state vir gemeenskaplike oorleg of vir bespreking van wetenskaplike e.a. onderwerpe – soms sinoniem met konferensie, maar meestal op gereëlder tye gehou en van ’n meer formele aard.”

Hier het ons die antwoord: kongresse word op ’n reëlmatige en vaster basis (bv. jaarliks, tweejaarliks) gehou en word gekoppel aan ’n bepaalde instansie of vereniging (soos vakverenigings). Dus: Diegene van ons wat aan vakverenigings behoort en gereeld (jaarliks of wanneer ook al) die byeenkoms van hierdie verenigings gaan bywoon, gaan woon vak-kongresse by. Konferensies is meer ad hoc en word gehou as daar behoefte is om oor ’n bepaalde saak saam te praat, bv. oor vigs as probleem in die onderwys.

Hoop u weet volgende keer of u ’n kongres of konferensie gaan bywoon!

22/07/2006

90. Bydra naas bydrae

Dis nogal opvallend in skryfstukke hoe dikwels die skryfvorm van bydra en bydrae verwar word. Dis moeilik om te sê of dit toe te skryf is aan bloot spelonkunde of die gevolg is van skryfverwarring. Ek dink dis ’n kombinasie van dié twee aspekte. Ek gee in elk geval maar die onderskeid ter wille van duidelikheid: bydra is ’n werkwoord (soos in Ek hoop nie dit sal tot die probleem bydra nie) en bydrae is ’n selfstandige naamwoord (soos in Sy bydrae tot die oplos van hierdie probleem was van onskatbare waarde). Maklik!

Dink volgende keer mooi wat jy wil skryf: bydra of bydrae. Daar is wel ’n duidelike verskil tussen hulle.

11/09/2006

91. ‘Live’ naas regstreeks, lewend, direk

Ek hoor onlangs iemand praat van ’n lewendige uitsending oor die radio – waarskynlik gebaseer op die Engelse ‘a live broadcast’. Taalbronne (soos die nuwe Afrikaans-Engels/English-Afrikaans-woordeboek van Pharos, 2005) gee as Afrikaanse moontlikhede hiervoor aan: ‘regstreekse, lewende, direkte’ aan; dus glad nie eens ‘lewendig’ nie. Wat sou nou die mees korrekte een wees uit die aangeduide moontlikhede?

Kontrole in ander taalbronne gee nie duidelik uitsluitsel hieroor nie. Uit sitate by die onderskeie woorde in die bogenoemde woordeboek blyk dit dat hoofsaaklik regstreeks in die bostaande verband gebruik word, alhoewel die ander twee gebruike skynbaar nie foutief is nie, maar bloot minder frekwent voorkom. Kontrole in die argief van Media24 en die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal dui ook op ’n groot voorkeur vir regstreeks waar gepraat word van ’n uitsending (TV of radio). In die geval van ’n ‘live show’ of ’n ‘live performance’ kry lewend daarenteen weer die voorkeur, soos in ’n ‘lewende vertoning’ en ‘’n lewende optrede’. Ek vertrou daar is nou groter duidelikheid.

12/09/2006

© Catharina Loader 2001