Afrikaans Grammatika


92. Die belang van kontrole

Ek stap onlangs in die nuwe hoëprestasie-sportinstituut rond en merk toe op ’n kennisgewingbord die volgende op: eerstevloer. Daar onder staan ’n lys met name van personeel en hulle kantoornommers. Hiermee dan my probleem: soos eerstevloer geskryf is, is dit duidelik verkeerd, en dit nogal in twee opsigte. Eerstens, die korrekte(r) vorm vir die Engelse floor is in Afrikaans verdieping, (of as alternatief vlak) en nie vloer nie. Tweedens, word eerste en verdieping los van mekaar geskryf. Dis werklik nie nodig om te verduidelik hoekom nie. Dit behoort dus eerste verdieping te gewees het.

Wat probeer ek hiermee sê? Dat ’n mens met baie min moeite kan seker maak wat die korrekte skryfvorme is as jy met die publiek wil kommunikeer. Dan vermy jy glipse en verleenthede soos die foutiewe skryfvorm hier bo. (Die bogenoemde een behoort reggestel te word en dit gaan seker nogal heelwat kos – wat vermy kon gewees het as daar voorafkontrole was.) Skakel gewoon die universiteit se taalpraktisyns (018 299 2618) en vra wat die korrekte vorm is. Kan dit makliker wees?

Wenk 2007-1, 23/01/2007

93. L
ugreëling of lugversorging?

Soos seker ander mense het ek al by tye gewonder wat is die korrekte Afrikaanse weergawe van die Engelse air conditioning, veral in die warm dae wat ons nou ervaar. Is dit lugreëling/lugreëlaar (ek sien dit naamlik heel dikwels in skryfstukke raak) of lugversorging/lugversorger? Kontrole in ’n goeie woordeboek (Pharos se Afrikaans-Engels-woordeboek van 2005) los die probleem op. Die voorkeurvorm is naamlik lugversorging. Lugreëlaar word slegs gebruik as ’n mens praat van ’n lugbeheerder (air regulator). Verdere kontrole in die argief van Media24 (gebaseer op gebruiksvorme van sprekers en skrywers van Afrikaans) dui ook op ’n duidelike voorkeur vir lugversorginglugreëling. Kom ons vestig dus maar hierdie vorm in ons eie taalgebruik. Ek hoop dit help om verdere verwarring uit te skakel.

Wenk 2007-2, 23/01/2007

94. Nuwe Kuberwoordeboek

Daar is pas ’n nuwe woordeboek gepubliseer wat vir diegene wat daagliks met rekenaars werk, van waarde kan wees, veral wat betref die invoer van talle Afrikaanse ekwivalente vir die Engelse weergawes. So kom ons agter die Afrikaans vir “bit map” is ’n bispatroon, ’n “password” is ’n wagwoord, “surf” op die internet is swerf, ’n “blog” is ’n werfjoernal, ens. Hiermee word Afrikaans as taal verryk. Koop gerus die woordeboek as die talle Engelse terme jou pla en jy graag eerder die Afrikaanse terme sou wou gebruik! Dis beslis wat ek gaan doen – om die boek aan te koop en te gebruik en sodoende te help om ’n tradisie van Afrikaanse terme in ’n Engelse konteks te help vestig.

Viljoen, HC (red.). 2007. Kuberwoordeboek: Afrikaans – Engels / English – Afrikaans. Protea-Boekhuis. R250,00.

Wenk 2007-3, 26/03/2007

95. Woonwa en karavaan

Sommige ouer bronne dui aan dat karavaan in die betekenis van ‘woonwa’ hoegenaamd nie aanvaarbaar is nie. LW Hiemstra (1980) se Die juiste woord sê bv. “’n Karavaan is ’n stoet en nie ’n voertuig nie. Daarom kan ’n woonwa in Afrikaans nie soos in Engels met dié naam aangedui word nie.” Die WAT (Deel V, 1968) gee wel hierdie betekenismoontlikheid aan. Moderner bronne is ook teenstrydig. In Prinsloo & Odendal se Afrikaans op sy beste (1995) word aangedui dat karavaan in die betekenis van woonwa gebruik kan word. Müller se Afrikaans van A-Z (2003) sê weer dat dit nie aan te beveel is nie. Wat moet ons dan doen as gerespekteerde bronne mekaar weerspreek?

Kontrole in die elektroniese databasis van die WAT dui daarop dat woonwa en karavaan albei gebruik word vir die betekenis van ‘woonwa’, maar woonwa wen beslis die getalle-oorlog met opgawes. Om te beweer dat karavaan nie in die betekenis van ‘woonwa’ gebruik kan word nie, is dus gewoon fout. Die databasis dui egter duidelik aan dat woonwa se gebruiksfrekwensie beduidend hoër (4:1) as karavaan is. My raad is daarom dat ons in ons eie gebruik maar voorkeur gee aan woonwa bo karavaan.

Wenk 2007-4, 27/03/2007

96. Kassier of teller

Ek staan onlangs by die tak van die bank waar ek sake doen en sien die term “cashier” bokant die toonbank waar transaksies afgehandel word. Daar was natuurlik nie ’n Afrikaanse ekwivalent daar nie en voordat ek stof opskop, wou ek eers net seker maak wat die korrekte Afrikaanse vorm is. Is dit kassier of teller? Die eerste antwoord is: kassier. Kontrole in sommige bronne dui naamlik aan dat teller nie gebruik word in hierdie verband in Afrikaans nie, wel in die verbinding outomatiese tellermasjien (OTM). In ander opsigte is ’n teller “iemand of iets wat tel, wat aantalle optel en opteken” of “die boonste deel van ’n breuk” (HAT 2005), maar dan erken die HAT tegelykertyd ook teller in die betekenis van ‘kassier’.

Kollega Johan Blaauw wys verder daarop dat sommige bronne dit wel weer opneem, soos Pharos se Groot Woordeboek (1997) wat “cashier” aandui as kassier en teller, terwyl Pharos se nuwe tweetalige woordeboek (2005) weer net kassier gebruik. WAT sluit die betrokke betekenis in onder die inskrywing bankteller, wat die rekenaar of die mens kan wees wat geld by 'n banktoonbank uittel. Die verskillende sake- en ekonomiewoordeboeke (soos die Nuwe Sakewoordeboek van Geldenhuys en Viljoen) erken dit ook as vakterm. Dis dus verwarrend! Dit kom derhalwe voor asof ons maar vrede sal moet maak met teller naas kassier. Niks keer ons egter om in ons eie taalgebruik voorkeur te bly gee aan kassier nie. Dis wat ek doen.

Die les is maar net weer: as jy twyfel, gaan kontroleer ter wille van sekerheid, al kry jy nie altyd sekerheid nie!

Wenk 2007-5, 27/03/2007

97. Opdateer?

Ek gebruik onlangs in ’n interne berig in die Skool vir Tale die woord opdateer, verwysende na studiegidse wat ‘op datum gebring’ moet word. Kollega Gerhard van Huyssteen (lid van die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en kuns) vestig toe my aandag daarop dat die gebruik van hierdie woord in die teenwoordigheid van ’n mede-Taalkommissielid dalk kan lei tot die vroeë beëindiging van ’n lang vriendskap. Ek heg te veel waarde om my vriendskap met hierdie persoon om so iets te laat gebeur en volg toe die saak op.

Kontrole in woordeboeke lei tot die ontdekking dat my ou vriend (en Gerhard wat natuurlik ook ’n vriend is) inderdaad reg is. Waar in Engels “update” gebruik word, gebruik ons in Afrikaans eerder “bywerk, hersien, aanvul, moderniseer”. ’n Mens sal daarom eerder praat van hersiene of bygewerkte studiegidse as opgedateerde studiegidse.

’n Mens verval so maklik in die gewoonte om terug te val op die Engelse patroon en doen dan nie die moeite om te gaan kyk of daar nie dalk beter Afrikaanse alternatiewe beskikbaar is nie. Die ou les geld maar steeds: as jy twyfel, gaan kontroleer in goeie bronne.

Wenk 2007-6, 03/08/2007

98. ´n - die regte skryfwyse

’n Navraag oor die “regte spelling van die lidwoord ’n” (vraag: “Is daar ’n reël wat sê na watter kant die kommatjie moet wys?”) het aanleiding gegee tot hierdie taalwenk. Kollega Johan Blaauw van die Direktoraat Taalsake se antwoord hierop word hier onder aangegee.

“Jy word tereg deur dié probleem geïrriteer. Dit omdat Bill Gates se mense namens ons probeer dink, maar hulle dink in Engels en neem nie ander tale in ag nie.

Omdat Engels nie 'n afkappingsteken aan die begin van 'n woord ken nie, word enige sodanige afkappingsteken as 'n foutiewe sogenaamde "straight quote" beskou. Microsoft Word se verstekstelling onder Tools > Auto Correct is sodanig dat enige sogenaamde "straight quotes" vanself deur "smart quotes" vervang word. Die afkappingsteken aan die begin van die woord word dus outomaties na 'n openingsaanhalingsteken van die "smart quote"-tipe verander. Kyk maar fyn (in 'n dokument wat byvoorbeeld in Times New Roman en in 'n lekker groot lettertipe getik word), jy tik die korrekte afkappingsteken, en dan word dit onmiddellik outomaties verkeerd "gekorrigeer".

Mense weet meestal nie hoe om hierdie probleem reg te stel nie. Klik op Tools, daaronder op Auto Correct, en klik dan op die lysies wat verskyn by al die opsies waar jy kan die "Change straight quotes to smart quotes"-keuse af. So terloops, daar is in hierdie opsielyste onder Auto Correct ook 'n hele aantal ander irritasies wat afgeskakel kan word, onder andere die outomatiese numering of kolpunte wat Word soms so uit die bloute in 'n mens se tekste aanbring.

Ek hoop dit help jou om ten minste wat jou eie werk betref, hierdie lastigheid uit te skakel - en nou kan jy sommer ook vir van die mense wat jou met hul verkeerde afkappingstekens irriteer, sê hoe om dit te doen!”

JWHB

Wenk 2007-7, 06/08/2007

99. Weer opdateer

In ’n vorige taalwenk het ek aangedui dat die woord opdateer eerder vermy behoort te word en dat voorkeur gegee behoort te word aan “bywerk, hersien, aanvul, moderniseer”. Vriend en kollega Tom Larney meen ek maak Afrikaans daarmee darem te eng omdat opdateer volgens hom ’n gepaste alternatief is vir dit waarvoor in Engels “update” gebruik word.

Omdat ek nie ons vriendskap wil skend nie (en self ook nuuskierig is), doen ek toe navraag by die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) op Stellenbosch oor die gebruikspatroon van die woord opdateer naas bywerk. Die uitvoerige elektroniese databasis van die WAT toon aan dat opdateer slegs 92 keer voorkom teenoor bywerk se 316. My interpretasie hiervan is dat opdateer as ’n gebruiksalternatief van bywerk, hersien, aanvul, moderniseer beskou kan word, maar dat Afrikaanssprekendes nog steeds voorkeur gee aan dié vorme bo opdateer.

Opdateer is hier ’n soort donshaelwoord, d.w.s. ’n woord wat meer as een gebruikstoepassing het, en die gebruik daarvan sal nie noodwendig verkeerd wees nie, maar my raad is weer eens: gee eerder voorkeur aan die ander alternatiewe as om bloot opdateer te gebruik as jy meer spesifiek kan wees met bywerk, hersien, aanvul, moderniseer.

Weer eens: ’n Mens verval so maklik in die gewoonte om terug te val op die Engelse patroon en doen dan nie die moeite om te gaan kyk of daar nie dalk beter Afrikaanse alternatiewe beskikbaar is nie. Dis duidelik hier die geval. Die ou les geld maar steeds: as jy twyfel, gaan kontroleer in goeie bronne.

Wenk 2007-8, 28/08/2007

100. Netwerk as werkwoord

Die woord netwerk as selfstandige naamwoord, in bv. Die universiteit se netwerk is onder druk, of: Hy het ’n uitgebreide netwerk van akademiese vriende regoor die wêreld is bekend aan almal. Die gebruik van netwerk as werkwoord skyn egter nog nie gevestig te wees nie en ’n onlangse navraag hieroor het van my kant af ’n navraery ontlok en ’n gesoek afgegee.

Dit laat blyk dat netwerk glad nie as werkwoord voorkom in woordeboeke nie – beide die HAT (2005)sowel as die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT, deel XI, 2000) gee nie een netwerk in hierdie verband aan nie. Dit kom ook nie in hierdie funksie in naslaanbronne voor nie. Wat maak ’n mens dan? Jy toets dan jou netwerk kennisse in die taalwêreld...

Hieruit blyk dit dat netwerk al as werkwoord sy pad begin vind het na die taalgebruik van sprekers van Afrikaans. Voorbeelde is: Die rekenaars by die skool is genetwerk, of: Ek gebruik altyd die geleentheid om tydens kongresse te netwerk. ’n Verdere navraag toon dat netwerk in hierdie funksie al in databasisse begin voorkom. Ek sou dus sê dat ons moet vrymoedigheid netwerk in sy werkwoordfunksie kan gebruik. Die woordeboeke en naslaanbronne sal dit mettertyd so opneem. Netwerk dus gerus verder!

Wenk 2007-9, 12/10/2007

101. Neologisme: ’n Afrikaanse ekwivalent vir ‘rat race’

’n Onskuldige taalnavraag het onlangs tot ’n heerlike taalspel onder lede van die Taalkommissie gelei. Die aanleiding hiertoe is ’n universiteitsvriend (verbonde aan ’n ander noordelike SA universiteit) wat my so ’n tydjie gelede gebel het en gevra het wat ’n ‘goeie Afrikaanse ekwivalent’ vir die Engelse “rat race” (d.i. daardie dikwels genadelose en meestal sinlose soort ‘resies’ waaraan ons almal so lustig meedoen om ons posisies in die samelewing te handhaaf) is. Soos met al hierdie soort navrae gaan kyk ek wat in my naslaanbronne staan. Pharos se nuwe tweetalige woordeboek lewer “dolle gejaag” op. Dis ’n onbevredigende ekwivalent. Dis waar die Taalkommissie inkom toe ek voorstelle vra vir meer gepaste en treffende teenhangers, soos iemand sê ’n ingangvindende term!

Die volgende voorstelle het uiteindelik na vore gekom: trapmeulbestaan, trapmeulgejaag, drukgangbestaan, rottegejaag, rotresies, rotteresies, mallemeulebestaan, wedyweringstryd, meedinggejaag. Die konsensus was dat trapmeulgejaag (die idee van iemand wat hardloop op ’n trapmeul, maar nie juis vorentoe kom nie en moet sukkel om net by te bly) die mees gepaste ekwivalent vir “rat race” is.

Dit hang nou van ons, die gebruikers van Afrikaans, en die woordeboek¬makers af of hierdie woord ingang gaan vind. Gebruik dit gerus as ’n neologisme, as ’n nuwe woord om iets bekends op ’n kreatiewe wyse betekenismatig saam te vat.

Wenk 2007-10, 15/10/2007

102. Neologisme: ’n Afrikaanse ekwivalent vir ‘rain check’

In die vorige taalwenk het ek geskryf oor ’n nuwe woordvorm vir die Engelse “rat race” en daaruit het na vore gekom dat trapmeulgejaag ’n beskrywende en vars Afrikaanse weergawe hiervan is. In die proses waartydens met hierdie woord na vore gekom is, is die vraag ook gestel wat ’n goeie Afrikaanse ekwivalent vir die Engelse “rain check” is, bedoelende die uitstel van ’n aanbod of uitnodiging tot ’n ander geleentheid. Pharos se nuwe tweetalige woordeboek (2005) lewer die volgende op: “Ek sal anderdag (jou uitnodiging/aanbod aanneem); liewer(s) ’n volgende keer”. Weer eens ’n beskrywing in die plek van ’n naamwoord. Dis waarskynlik gangbaar as weergawe van “rain check”, maar nog steeds onbevredigend.

Die lede van die Taalkommissie het na vore gekom met die term uitstelafspraak, bedoelende die uitstel van die aanbod of uitnodiging tot ’n ander meer geleë tyd. Dit lyk na ’n goeie ekwivalent wat die kans verdien om ingang onder Afrikaanssprekendes te probeer kry.

Dit hang weer van ons, die gebruikers van Afrikaans, en die woordeboek¬makers af of hierdie woord (en ook ander Afrikaanse neologismes) ingang gaan vind. Gebruik dit gerus in jou daaglikse omgang en help sodoende die woord om inslag te vind.

Wenk 2007-11, 15/10/2007

103. benodig’

’n Onlangse navraag oor die gebruik van die woord benodig in ’n studiegids het die volgende opgelewer: Die woord benodig (as werkwoord) word dikwels naas “het nodig” / “is nodig” in Afrikaans gebruik. In ouer bronne is die gebruik van benodig in hierdie verband afgeraai, maar in nuwe bronne word dit as aanvaarbaar beskou, dikwels tog met die kwalifikasie dat benodig ’n meer formele weergawe van “nodig hê” of “nodig wees” is. In die jongste weergawevan die HAT (2005) word hierdie kwalifikasie nie eens meer aangegee nie. Ek self gee wel konstant voorkeur aan “is /het nodig”, ens. bo benodig; dus eerder: “Die studente het die volgende leermateriaal nodig om hierdie module te kan volg” in plaas van” Die studente benodig die volgende leermateriaal om hierdie module te kan volg.” Laasgenoemde is nie verkeerd nie, bloot maar net meer formeel.

Wenk 2007-12, 16/10/2007

© Catharina Loader 2001