Afrikaans Grammatika

Wenke 2005

75. Gebruik kundiges om jou taal te versorg!


75. Gebruik kundiges om jou taal te versorg!

Dis weer daardie tyd van die jaar dat dienste op BBS aangebied word vir die versorging van die taalgebruik in verhandelings en proefskrifte. Diegene wat professioneel in die taalpraktisynsbedryf werk, is besorg daaroor dat personeel en studente wat van hierdie ‘dienste’ gebruik maak, nie waarde vir hulle geld kry nie. Hoekom nie? Omdat die meerderheid van hierdie persone nie die nodige ervaring en agtergrond het om die werk behoorlik te doen nie en dan dikwels ook nog meer vra as die geldende tarief in die taalpraktisynsbedryf. Onlangs het iemand by ons kerk my gevra of ek nie weet van ’n student wat ‘gou ’n stukkie vir my kan vertaal nie?’. Ek kan dit werklik nie waag om sommer net so ’n student se naam te noem wat dit kan doen nie – dis onverantwoordelik van my as taalpraktisyn om willens en wetens die naam van iemand deur te gee wat duidelik nog nie die ervaring het om behoorlike teksversorging of vertaling te doen nie. Opgeleide en geakkrediteerde taalpraktisyns (geakkrediteer by die SA Vertalersinstituut as vertaler, tolk, teksversorger) weet wat dit behels om taalwerk te doen en kan dit ook met die nodige vaardigheid en professionaliteit doen. Nader eerder Johan Blaauw (Hoof: Taalpraktyk op die PUK-kampus) om ’n verwysing ter gee na iemand wat opgelei en bevoeg is om die betrokke skryfproduk die afronding te gee wat dit verdien. Andersins gaan jy die produk kry waarvoor jy betaal – onafgerond met die moontlikheid dat dit oorgedoen moet word en jy dan wéér moet betaal...

02/03/2005

76. In lyn met

Die wonderlikste van die skryf van die taalwenkereeks is dat ek selde hoef te soek na iets om oor te skryf. Die personeel en studente op die kampus dien as heerlike fouteterrein.

Een so ’n geval is: hierdie beslissings is in lyn met wat nog altyd hier gegeld het. Soos in lyn met hier gebruik word, is dit nie goeie Afrikaans nie. Die invloed van Engels (‘in line with’) is baie duidelik en dit kan as ’n anglisisme beskou word. Die korrekter Afrikaanse vorme is: in ooreenstemming met of ooreenkomstig of stem ooreen met. Dus: hierdie beslissings is in ooreenstemming met wat nog altyd hier gegeld het, of: hierdie beslissings stem ooreen met wat nog altyd hier gegeld het.

02/03/2005

77. Ons unieke Afrikaanse spreekwoorde

Die Afrikaanse spreekwoordeskat is ’n aanduiding van hoe Afrikaanse mense oor die jare gelewe het. Ons het ons eie unieke spreekwoorde en idiome geskep om uitdrukking te gee aan ons leefwêreld. In die verlede het daar al heelwat boeke verskyn oor die betekenis van Afrikaanse spreekwoorde, maar daar is nou in Oktober ook een gepubliseer wat ten doel het om ook die herkoms van spreekwoorde in Afrikaans te verklaar. In hierdie boek, Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom (2004; Kaapstad: Pharos-Uitgewers) deur dr. Anton Prinsloo, oudomroeper van RSG, word 8 000 Afrikaanse uitdrukkings met Engelse ekwivalente aangegee en van ongeveer 1 000 word daar ’n verklaring van hulle herkoms gegee. In die voorwoord van die boek word gesê dat spreekwoorde en uitdrukkings “die siel van ’n taalgemeenskap” openbaar en dan word in hierdie proses iets te kenne gegee oor waar die betrokke taalgemeenskap vandaan kom. Enkele voorbeelde ter illustrasie: van meet af aan (betekenis: van die begin af) hou verband met die streep wat in Nederlands gebruik is om die punt aan te dui vanwaar speletjies begin het; die rondte van vader Cloete (betekenis: by almal aangaan en niemand oorslaan nie) gaan terug op regter Cloete wat in 1812 een van die regters van die rondgaande hof in die omgewing van Graaff-Reinet, Uitenhage en George was.  

Gaan soek gerus self na verklarings vir vat jou goed en trek Ferreira, ipekonders , jou gat sien, iets met vers en kapittel bewys, ens. Dis dalk selfs ’n handige Kersgeskenk!

02/03/2005

78. Word my hart nou -omlyn of -omlei?

Daar is nogal onsekerheid oor wat die regte skryfvorm is daar gepraat word van daardie operasie waar iemand se hart aanpassings (“bypass”) kry om beter te funksioneer. Het so ’n persoon nou ’n hartomleiding of hartomlyning gehad?

Die HAT (2000, 4de uitgawe, bl. 364) sê duidelik dat dit hartomleiding is: “Operasie waarby die bloedsomloop na die hart deur ’n alternatiewe gang gelei word. Opmerking: die foutiewe vorm hartomlyning word dikwels gehoor.”

Deur kontrole in goeie naslaanbronne word hierdie soort onsekerheid maklik oopgeklaar.

24/05/2005

79. Emigreer en immigreer

Ons hoor so baie van mense (familielede, vriende) wat die land verlaat en in ’n ander land gaan bly. Aan die ander kant is daar weer mense wat ons land binnekom en hier kom bly. Wat is die korrekte terme vir hierdie aktiwiteite: emigrante of immigrante?

Mense wat uit een land (soos Suid-Afrika) na ’n ander land (soos Australië, Kanada, ens.) gaan en daar permanent gaan woon, is emigrante (dus uitgaande uit een land). As hulle arriveer in die land van hulle keuse, word hulle daar as immigrante (dus inkomende in ’n nuwe land) beskou .

Hoop nou jy weet of jou familie of vriende emigrante of immigrante is.

02/03/2005

80. Wat van franchise? 

Kollega Anet Smit vra my onlangs of die woord franchise al in Afrikaans aanvaarbaar is. Volgens Prinsloo & Odendal se Afrikaans op sy beste (1995) is daar verskeie moontlike ekwivalente vir hierdie term in Afrikaans, soos bedryfsreg, alleenreg, agentskap, konsessie en produksiereg. Hulle sê wel eksplisiet dat dit ’n term is wat moeilik vertaal en daarom skyn die neiging in ‘nuwer bronne’ om dit gewoon te leen as franchise, die ‘beste uitweg’ te wees. Ook die nuwe uitgawe van die Handwoordeboek van Afrikaans (HAT; 2000) neem franchise as woord in die lys op.

Ek stem 100% hiermee saam. Franchise het as woord reeds so ’n gebruiksfrekwensie in Afrikaans soos poster, steak, township en ander (almal reeds in die 1991-weergawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls) opgeneem – elkeen van hierdie woorde is opgeneem as leenwoorde in Afrikaans omdat daar nie ’n geskikte ekwivalent vir die Engelse term na vore gekom het nie. Dus: aanvaar franchise as ’n leenwoord in Afrikaans en gebruik dit waar dit nodig is.

07/07/2005

81. Eventueel en uiteindelik

’n Mens sien dikwels dat die woord eventueel (n.a.v. die Engelse woord eventual) gebruik word met die betekenis “uiteindelik”. Dis verkeerd, want eventueel beteken iets anders, t.w. “waarskynlik, moontlik, gevolglik”. Beslis nie uiteindelik nie. Hierdie soort foutiewe woordgebruike word maklik opgelos deur van goeie naslaanbronne gebruik te maak vir kontroledoeleindes.

Daar is volgens bronne wel ’n besliste verskuiwing aan die gang, naamlik dat eventueel al hoe meer voorkom in die betekenis van uiteindelik. Dis helaas nog nie veelvoorkomend nie.

07/07/2005

82. Alweer aanspreek

Ek sit onlangs in ’n werkswinkel omring deur hooggeleerde doktore en professore (en dan noem ek nie eens die talle Senaats- en fakulteitsraadsvergaderings nie.) Ek hoor aanmekaar hoe die probleem waarmee ons sit, “aangespreek” moet word deur sus en so te maak. Dit bevestig net weer eens die patroon: woorde wat ‘hoog klink’, kom voor in hoë kringe! Een so ’n voorbeeld is aanspreek. ’n Ander een is huidiglik (waaroor ek nou niks sê nie).

Kom ek sê dit weer duidelik: Ons spreek nie ’n probleem aan nie, ons pak naamlik die probleem aan, hanteer dit, gee aandag daaraan, hanteer dit, bespreek dit, ondersoek dit, los dit op, pak dit uit, staan daarby stil, gaan daarop in, ens. ens. Daar is talle ander baie beter woorde in Afrikaans as die drogwoord aanspreek. Ons spreek wel iemand aan as hy/sy betig moet word. Die arme probleem kan regtig nie ‘betig’ word nie!

Soms gaan mense nog verder en praat van die adresseer van ’n probleem. Dis nog erger as aanspreek!

07/07/2005

83. Ikon of ikoon

Daar word heel dikwels na oudpresident Nelson Mandela as ‘n ikon (Engels icon) verwys. Wat word hiermee bedoel? Die HAT (2000) verklaar ikon as “gewyde portret, beeld van Christus, ‘n engel of heilige”. Ek het nog nie ‘n kopie van die 2005-uitgawe van die HAT nie en weet dus nie wat daar staan nie. Die South African Concise Oxford Dictionary (2002: 572) gee egter ‘n addisionele waarde aan, nl. “a person or thing regarded as representative symbol or as worthy of veneration (d.i. verering)”. Die duidelik dat hierdie betekenis bedoel word as gepraat word van iemand wat ‘n ikon van sy/haar tyd is.

Die spelvorm ikon is ook van belang. Mense praat naamlik heel dikwels van iemand wat ‘n ikoon is. Is dit iets anders as ‘n ikon? Naslaanbronne dui aan dat dit inderdaad wisselvorme is (die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (2002) bevestig dit ook) en dat die rede vir die gereelde gebruik van ikoon naas ikon lê in die meervoudsvorm van ikon (ikone) wat daartoe aanleiding gegee het dat die taalgebruikers groter voorkeur gee aan die uitspreekvorm ikoon. Dus: gebruik die een wat jou die beste pas, alhoewel die meer korrekte een wel ikon sal wees.

31/10/2005

84. Van akademiese belang...

‘n Mens hoor so dikwels iets is ‘van akademiese belang’. Wat word bedoel hiermee? Bloot dat so ‘n saak van teoretiese belang is en dus in die oë van diegene buite die akademiese kring van mindere belang, dus van min praktiese waarde. Dis natuurlik nie lekker om op hierdie wyse agter te kom wat mense van ons daaglikse aktiwiteit (waarmee ons baie groot erns maak) dink nie!

Reeds in die eerste deel van die omvattende Woordeboek van die Afrikaanse taal (1956: 127) word ‘akademie’ se betekenis 3 aangegee as “suiwer teoreties en nie van praktiese belang nie“ en as voorbeeld hierby staan: “Suiwer akademiese beskouings, wat nie rekening hou met die werklikheid nie”. Eisj! Dit kom dus al van ver af.

01/11/2005

© Catharina Loader 2001