Afrikaans Grammatika
Wenke 2008
104. Vertaalde term: ERP word OHB
105. Kreatiwiteit van Afrikaans
106. Rimpeleffek
107. Onigofagie
108. Stokkies draai
109. -stander vs -staande
110. Statistiek Suid-Afrika
104. Vertaalde term: ERP word OHB
Iemand vra onlangs waar kry ek al die idees vir hierdie rubriek. Dis redelik maklik, het ek geantwoord. Ek hou gewoon my oë en ore oop as mense op die kampus skryf en praat!
So sit ek onlangs in ‘n opleidingsessie oor finansiële bestuur en dr. Maarten Venter sê hy kry nie ‘n ‘lekker vertaling’ vir die Oracle ERP nie en dat hy daarom aanhou om die ERP te gebruik. Dit word ‘n uitdaging om hom dan wel ‘n geskikte Afrikaanse term te gee. Met die hulp van kollega Johan Blaauw word so ‘n term geskep.
ERP staan vir Enterprise Resource Planning. My voorstel van ondernemingsbronbeplanning (OBB) word deur Johan aangepas. Hy sê dat dit eerder (al is dit langer) ondernemingshulpbronbeplanning (OHB) moet wees. “Resource in finansiële sin word meestal met hulpbron vertaal.” Hy voeg hierby: “My ou mentor by die SABS, Nic Vlok, het altyd gesê as die samestelling vierledig begin raak, moet 'n mens 'n koppelteken oorweeg, maar ek kan nie sien waar nie, want Onderneming-hulpbronbeplanning werk nie ('n mens wil die -s- hê), en die hulpbronbeplanning kan nie verdeel word sonder om die betekenis geweld aan te doen nie.”
Dus: daar het Maarten sy term en kan ons voortaan met verwysing na Oracle die ERP vervang met OHB. Die ander euwels van Oracle is egter nie my en Johan se skuld nie!
WAMC & JWHB
Wenk 2008-1, 28/01/2008
105. Kreatiwiteit van Afrikaans
Mense sê dikwels dat die een of ander woord nie in Afrikaans voorkom nie omdat dit nie in 'n woordeboek of selfs die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) voorkom nie. Dis nie heeltemal so eenvoudig nie. Die feit dat 'n woord nie in 'n erkende bron opgeneem is nie, impliseer nie dat dit nie 'n aanvaarde Afrikaanse woord is nie. Bronne neem naamlik lank om gepubliseer te word en dit word redelik wyd aanvaar dat woordeboeke en dergelike bronne 'n drie tot vyf jaar agterstand het op die werklike woordeskat van 'n taal. Dit geld ook vir Afrikaans. Die jongste verklarende woordeboek vir Afrikaans (die vyfde uitgawe van die HAT) dateer byvoorbeeld uit 2005. As ons opname in 'n taalbron as die kernfaktor vir die bestaan al dan nie van 'n Afrikaanse woord of uitdrukking moes beskou het, sou Afrikaans soveel armer gewees het omdat ons daagliks talle nuwe woorde maak om ons ervarings mee uit te druk.
In die onlangse tyd is woorde soos walgvideo en gruvideo skielik gebruik na aanleiding van die voorval op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat. Dan is daar ook beurtkrag n.a.v. die ESKOM-flaters. In koerante sien ek woorde soos kruipsuier (vir 'n swembadskoonmaker), borsgleuf (vir cleavage), krytstaking (staking deur onderwysers), en dwaalstorie (vir urban legend). Dit dui op die skeppingskrag van Afrikaans en dis onmoontlik om dit onmiddellik in Afrikaanse bronne, soos woordeboeke en speltoetsers, te weerspieël. Dus: wees kreatief met Afrikaans en moet jou nie laat beperk deur weerspieëling in bronne nie. So help ons die taal om te groei.
Wenk 2008-2, 01/04/2008
Ek sit onlangs in 'n inligtingsessie en hoor die spreker praat van die rippeleffek van iets. Dis iets wat maklik gebeur: jy is onseker oor die korrekte Afrikaanse woord en verafrikaans dan sommer die Engelse weergawe (ripple effect). Die korrekte Afrikaanse ekwivalent is naamlik rimpeleffek. Die meer korrekte weergawe sal waarskynlik uitkringende gevolg wees, maar so pedanties wil 'n mens darem ook nie wees nie.
Die probleem met 'n woord soos ripple is dat dit so bekend is (dit word eintlik 'n soort modewoord in 'n sekere tydvak) dat dit mettertyd 'n Afrikaanse status kry en dan kort voor lank as 'n Afrikaanse uitdrukking beskou word. Hierdie soort probleme word op die ou manier opgelos: as jy enigsins twyfel oor die korrektheid van iets in Afrikaans, gaan kontroleer (dabbeltjek soos ek aan my studente sê!) in 'n goeie Afrikaanse bron.
Wenk 2008-3, 01/04/2008
Die taal bly maar wonderlik, want daar is daaglik iets nuuts om te ontdek as jy jou oë oophou. Ek sien onlangs die woord onigofagie in 'n koerant raak en wonder wat dit beteken. Naslaan in standaardwoordeboeke los nie my probleem op nie, maar verdere navraag by die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) op Stellenbosch gee wel die antwoord: onigofagie is naamlik die verskynsel dat mens jou naels eet. Onig-/onigo- is die voorvoegsel (prefiks) wat dui op die naels, en faag/fagie is afgelei van fagein = om te eet.
Ek moet erken ek is ook skuldig aan die siekte van naelkouery. Gelukkig het ek nou 'n groot naam daarvoor: ek is naamlik lid van die klub van onigofage! Nou wonder ek: Sal ons so 'n vereniging op die kampus tot stand laat kom om mekaar te leer hoe om minder onigofagies te wees?
As toegif: die WAT-navraag lewer ook die volgende op. Geofage is mense wat grond eet en igtiofage is mense wat vis eet. Groot name vir eenvoudige goed.
Wenk 2008-4, 01/04/2008
Elize Schutte het so 'n tydjie gelede navraag gedoen oor die herkoms van die uitdrukking stokkies draai in Afrikaans. Naslaan in Anton Prinsloo se boek Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom (Pharos, 2004) lewer die volgende op: volgens verskeie bronne kom dit uit Nederlands "stukjes draaien" wat die betekenis het van "bedrieg". Volgens Prinsloo (bl. 357) het die uitdrukking wel in SA 'n meer praktiese herkoms. Kinders het naamlik die gebruik gehad om uit die skool te bly "om in die wingerd te gaan help om die wingerdstokkies vas te draai waar dit op die stamme geënt is". Weer eens 'n eenvoudige verklaring vir 'n mooi uitdrukking wat mettertyd in Afrikaans die betekenis gekry het van 'sonder verlof wegbly'.
Koop gerus hierdie boek as u ook nuuskierig waar ons spreekwoorde vandaan kom. Gaan kyk byvoorbeeld waar 'die strydbyl begrawe', 'op jou stukke wees', 'tjok en blok', 'van toeka af', ''n twisappel', en andere vandaan kom.
Wenk 2008-5, 01/04/2008
'n Navraag op 'n e-poslys oor die korrekte spelvorm van buitestander het onlangs 'n praktiese resultaat gehad. Tom McLachlan, een van die lede van die Taalkommissie, het die saak soos volg saamgevat en ek gee dit graag met sy toestemming hier deur: Die Taalkommissie – dus die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls – handhaaf ’n onderskeid tussen -stander en -staander: enige samestelling met -stander wat op ’n mens dui, word met een a gespel (dus buitestander, omstander, voorstander, ens.), terwyl meubels, toerusting, ens. (dus nielewend) wat op -staander eindig, almal met dubbel-aa gespel word (boekestaander, hoedestaander, voëlhokstaander, lampstaander, ens.)
Daar was in die verlede groot wisselvalligheid en verwarring oor wanneer dit een a en wanneer twee a's is ("buitestaander" was vroeër in veral die letterkunde die standaardvorm), en dit is nou deur die Taalkommissie finaal gestandaardiseer. Ondanks die spellings in woordeboeke, speltoetsers e.s.m. bly die AWS die hoogste gesag wat Afrikaanse spelling betref, en daarin word dié soort gevalle beslis nie as wisselvorme aangegee nie.
Wenk 2008-6, 12/05/2008
Toe ek 'n tydjie gelede werk toe ry, hoor ek oor die radio die omroeper praat van Statistieke Suid-Afrika. Dis naamlik die vermeende Afrikaanse weergawe van die Engelse Statistics South Africa. Die Afrikaanse vorm wat wyd gebruik word in die media, is helaas verkeerd. Die korrekte Afrikaanse vorm is naamlik Statistiek Suid-Afrika, dus 'n enkelvoudsvorm. In ooreenstemmende gevalle word in Engels die meervoudsvorm verkies. Ons het hier gevolglik te doen met 'n klakkelose vertaling van die Engelse vorm. Ander soortgelyke voorbeelde in hierdie verband is: Studente skryf eksamen (nie *eksamens nie); studente sit hulle studie (nie *studies nie) voort; die uitslag (nie *uitslae nie) van die toets is reeds bekend; Johannes woon op die hoek van Kerk- en Retiefstraat (en nie *-strate nie).
Afrikaans as taal het sy eie struktuur en patrone en dit stem nie noodwendig ooreen met dié van ander tale nie.
Wenk 2008-7, 12/05/2008
© Catharina Loader 2001