Afrikaans Grammatika
Wenke 2001
19. Gesin vs. familie
20. Gereelde spelfoute: hoe nou gemaak?
21. Gereelde vs gereëlde
22. Die komma (1): maar en want
23. Die komma (2): tussen werkwoorde
24. Huistoe of huis toe? Binnetoe of binne toe?
25. Weer eens of weereens?
26. Afrikaans vir “bullets”?
27. Stippels…
28. Wie en wat
29. Ekwivalente vir Benchmark
30. E-Pos of e-pos of epos
31. Herkoms van stokkiesdraai
32. U of u
33. You vs. jy of u
34. ‘n Mens spreek nie ‘n probleem aan nie!
Tydens die onlangse voorlegging vir ‘n nuwe mediese fonds vir PUK-personeel is by herhaling gepraat van die verskil in tariewe vir ‘n familie en ‘n enkellid. Dis nogal problematies as familie hier in die volle sin van die woord beskou word (vader, moeder, kinders, ouers van vader en moeder, broers en susters van vader en moeder, ens.), want dan word die las op die arme hooflid geweldig swaar! Vermoedelik is hier ‘n gesin (vader, moeder, kinders) bedoel. Die invloed van die Engelse woord family is hier duidelik merkbaar. Dit wys net weer dat presiese woordkeuse belangrik is vir effektiewe kommunnikasie
14/02/2001
20. Gereelde spelfoute: hoe nou gemaak?
Nettie Redelinghuys het my aandag gevestig op ‘n woord wat gewoonlik verkeerd gespel word: akkommodasie. Dit word naamlik dikwels gespel met slegs een ‘m’. Dis moeilik om hieraan ‘n spesifieke rede toe te skryf, omdat in Engels die woord ook met twee c’s en twee m’e gespel word: accommodation. Engelse invloed geld dus nie. Die vernaamste rede is waarskynlik onsekerheid oor spelling en die gevolg is die intuitiewe gebruik van die foutiewe vorm.
Die les hier is maar weer: as jy onseker is oor die spelling van ‘n woord, gaan kontroleer dit in die bestaande bronne, soos woordeboeke of die Afrikaanse woordelys en spelreëls.
02/03/2001
Gereelde en gereëlde is tipiese voorbeelde van homofone, d.w.s. woorde wat dieselfde klink, maar glad nie dieselfde betekenis het nie. Gereeld word gebruik in die waarde ‘volgens ‘n vaste tyd of patroon; nie aan verandering onderhewig nie’ in bv. Johan besoek ons gereeld op ‘n Saterdagmiddag. Daarenteen impliseer gereëld weer ‘wat gereël is, waarvoor reëlings getref is’ in bv. Dit was werklik ‘n goed gereëlde konsert.
02/03/2001
22. Die komma (1): maar en want
Maar en want is voorbeelde van neweskikkende voegwoorde, d.w.s. voegwoorde wat sinne met ‘n ooreenstemmende status verbind. Dis egter nie die doel van hierdie taalwenk om u met taalkunde te verveel nie, maar eerder die belang van die gebruik van die komma te beklemtoon as dit saam met hierdie twee voegwoorde gebruik word. As u dus sinnne met mekaar verbind en u gebruik maar en want om dit te doen, kom daar ‘n komma voor dié woorde.
As voorbeeld: Die studente glo nie in harde werk nie + As eksamentyd aanbreek, moet jy hulle reaksie sien. Dit word dan: Die studente glo nie in harde werk nie, MAAR as eksamentyd aanbreek, moet jy hulle reaksie sien.
Dis miskien ‘n klein kwessie, maar in die wêreld van reg skryf, maak dit ‘n groot verskil!
02/03/2001
23. Die komma (2): tussen werkwoorde
Dis standaardpraktyk in skryfwerk dat daar ‘n komma gebruik word tussen werkwoorde, veral as die werkwoorde komponente is van afsonderlike sinsdele. Kyk na die volgende voorbeeld: Toe ons by die vergadering aankom, was dit al ’n halfuur aan die gang. Hier kom die komma tussen aankom en was – hierdie twee werkwoorde word gereken tot afsonderlike sinsdele en die komma word dan gebruik as skeidingsteken.
Probeer dit gerus in u eie skryfwerk toepas. Dis iets waaraan ‘n mens maklik gewoond raak as jy daarop ingestel is.
02/03/2001
24. Huistoe of huis toe? Binnetoe of binne toe?
Wat is die korrekte vorme hier bo? Word dit los of vas geskryf? Daar is eintlik baie eenvoudige reëls onderliggend aan die skryfwyse hiervan:
- As toe verbind met ‘n selfstandige naamwoord, word dit los geskryf, m.a.w. huis toe, dorp toe, strand toe, fliek toe, Kaap toe, ens.
- As toe verbind met ‘n bywoord, word dit vas geskryf, m.a.w. agtertoe, binnetoe, boontoe, buitetoe, ondertoe, soontoe, vorentoe.
02/03/2001
U sien waarskynlik in skryfwerk dat die bostaande spelvorme gebruik word en dan wonder u dalk wat die korrekte vorm is. Die patroon in die verlede was dat slegs die losgeskrewe vorm weer eens aanvaarbaar was, maar in die 1991-uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls is besluit dat beide die los en vasgeskrewe vorm aanvaarbaar is hoofsaaklik omdat daar so ‘n uiteenlopende gebruikspatroon tot stand gekom het. Hierdie gebruik word voortgesit in die beplande nuwe uitgawe van die AWS (wat waarskynlik in 2002 gepubliseer sal word).
Die goue skryfreël in so ‘n geval is: wees konsekwent met jou keuse. Dus weereens of weer eens. Moet hulle net nie meng in dieselfde skryfstuk nie.
Die interessantste hier is dat slegs by weer eens en nog eens word die los skryfwyse naas die vaste skryfwyse erken. In alle ander gevalle word verbindings met eens vas geskryf, bv. ineens, meteens, opeens.
02/03/2001
Daar skyn ‘n behoefte te wees aan ‘n goeie Afrikaanse term vir die Engelse vorm “bullets”, bedoelende daardie simbole wat in drukwerk gebruik word om kategorieë ter onderskeiding aan te dui. Dis beslis nie “koeëls” wat hier bedoel word nie – daarvoor is dit darem te letterlik uit Engels oorgeneem. Navraag by die Nasionale Terminologiediens het opgelewer dat die term kolkarakters daarvoor gebruik word. Kolkarakters klink heel goed as ‘n beskrywende term en dis waarskynlik so dat kolparagrawe as gevolg van die gebruik hiervan ontstaan.
Wat dink u daarvan? Stuur gerus u voorstelle aan my by sktwamc.
23/03/2001
In skrif kom dikwels ‘n aantal kolletjies voor. Hierdie ‘kolletjies’ staan bekend as stippels en die funksie hiervan is tweeledig:
- Om weggelate woorde of woorddele aan te dui, bv. in ‘n langer aanhaling wat ‘n mens nie volledig wil weergee nie (dis nogal algemeen in akademiese geskrifte), bv. Dit is ‘n feit dat leerders deesdae nie meer oor die vermoë tot spelling … beskik nie (waar dan uitgelaat word: of effektiewe woordgebruik)
· Om ‘n onvoltooide sin aan te dui, bv. Ek hoop nie jy is vir my kwaad nie…
Hierdie inligting is seker vir u ou nuus. Die belangrikste punt hier is dat dat slegs drie stippels gebruik word en nie vier of meer soos so dikwels in drukwerk voorkom nie. Hierdeur word ‘n konsekwente patroon geskep, een van die belangrikste eienskappe van goeie taalgebruik.
23/03/2001
‘n Advertensie gemik op Plaaswerkers wie al die afgelope twintig jaar op ‘n plaas werk… word deesdae gereeld oor die radio uitgesaai. Die gebruik van wie as betreklike voornaamwoord in hierdie verband is gewoon foutief. Die korrekte Afrikaanse vorm hiervoor is Plaaswerkers wat al die afgelope twintig jaar op ‘n plaas werk…
Die reëls hier is heel eenvoudig:
- In Afrikaans is wat die mees gebruikte betreklike voornaamworod by mense, diere en dinge; dus: Die man wat…, Die hond wat…, Die stoel wat gebreek het… Wie word nooit alleen hier gebruik nie, maar slegs in kombinasie met die woord se, bv. Die vrou wie se kind sien is…, of in kombinasie met ‘n voorsetsel, bv. Die meisie op wie hy verlief is…
Met ‘n bietjie sorg kan u maklik hierdie patroon in u skryfwerk toepas.
23/03/2001
Kollega Pierre Volschenk het onlangs navraag gedoen oor Afrikaanse ekwivalente vir die term benchmark. Navrae by taalpraktisyns en die Nasionale Taaldiens se databank het die onderstaande opgelewer.
benchmark, adj.: norm-, riglyn-
benchmark, n. {engineering}: norm
benchmark, v. {engineering}: normtoets
benchmark, v. normeer
benchmarking: bereiking van die norm
benchmarking: nastrewing van die norm
benchmarking: stel van die norm, normstelling
benchmark job: bakenpos, normpos
benchmark price: bakenprys, normprys
performance benchmark: prestasienorm of prestasieteiken
salary benchmark: vergoedingsnorm of vergoedingsteiken
Dalk help hierdie moontlikhede ook iemand anders.
11/06/2001
Die kort skryfwyse vir elektroniese pos lewer nogal ‘n deurmekaarspul op ‘n mens so na skryfwerk op die kampus kyk. Is dit E-pos of e-pos of epos? Dit lei tot betekenisverwarring as epos gebruik word – dié term word gewoonlik gebruik in een van twee betekenisse (volgens die HAT): “Verhalende gedig waarin heldedade breedvoerig beskryf word: heldedig” of “Reeks grootse dade, gebeurtenisse”. Vermy dit dus as gebruiksterm vir elektroniese pos om verwarring met hierdie betekenisse te voorkom.
Die nuwe AWS stel voor dat dit geskryf kan word as óf e-pos óf E-pos. Die reël in hierdie verband is heel eenvoudig: “'n Samestelling met 'n letternaam of afkorting as eerste woorddeel word met 'n koppelteken aan 'n voorafgaande voorvoegsel verbind.” Die keuse word gelaat of dit met ‘n hoof- of kleinletter-e geskryf kan word. As ‘n mens kyk na vorme soos e-handel, e-bank, ens. is die kleinlettervorm dalk die mees frekwente een.
‘n Wenk is: kies een van hierdie vorme en gebruik dit dan konsekwent in u skryfwerk.
12/07/2001
Ek deel graag die volgende uitleg (ontvang van dr. Frikkie Lombard van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal) oor die herkoms van die idoom stokkies draai met lesers van hierdie rubriek:
"Dit verskyn in Nederlands stuttjes draayen in 1710. Die eerste Afrikaanse optekening is by ANE Changuion in 1848 (in die vorm stukjes draaijen) en daarna by Arnoldus Pannevis teen ongeveer 1872 (in die vorm stokkies draai).
Dit word gespekuleer dat die Nederlandse vorm stuttjes draayen van stutten loopen kom, en hieroor bestaan daar 'n paar hipoteses. Stutten kan afgelei wees van stu (= "kruk"), en dan sou stutten loopen min of meer beteken "gebrekkig loop", wat kon ontwikkel tot "te kort skiet" wat weer kon ontwikkel tot "pligsversuim". Die rede vir die gebruik van die verkleinwoord stutjes en die werkwoord draaien bly egter onseker, maar dit kan verband hou met stukjes draaien (= "bedrieg") en pijpjes draaien (= "in die geheim wegbly van die skool").”
Dis die interessantheid van etimologie (d.i. die dissipline vir die verklaring van die herkoms van woorde en uitdrukkings): agter elke woord en uitdrukking is daar dikwels ‘n mooi storie.
02/08/2001
So dikwels gebruik mense die hoflikheidsvorm u verkeerd – daarvoor is daar meer as genoeg voorbeelde in kommmunikasie op die kampus.
Die hoofletterweergawe U word naamlik slegs ingespan aan die begin van ‘n sin (bv. U word hiermee vriendelik uitgenooi om die funksie by te woon…) of as godsdienstige eerbiedsbetoning (bv. Vader, ek glo dat U my nie sal verlaat nie). In alle ander gevalle word in skrif die kleinletterweergawe daarvan gebruik, bv. Ons sal dit waardeer as u die funksie kan bywoon of: Mevrou, sal u asseblief aandag gee aan hierdie kwessie?
Let ook daarop dat die besitlike voornaamwoorde u en sy (as aanduiding van God) met ’n kleinletter geskryf word. Vergelyk bv.: God verwag dat ons op Hom sal vertrou, want sy almag is groot of: U verwag dat ons op U sal vertrou, want u almag is groot.
08/08/2001
Mense raak maklik deurmekaar met die stelsels van tale wat na aan mekaar leef. ‘n Tipiese voorbeeld hiervan is die gebruik van die Engelse aanspreekvorm you teenoor die Afrikaanse u/jy.
Engels is in ‘n sekere opsig baie gelukkig om net een vorm te hê, want die gebruikskonteks bepaal self hoe dit geïnterpreteer word, m.a.w. you geld as beide formele én informele aanspreekvorm (bv. Sir, would you mind if I take this chair? of: Tom, will you please give me the salt). In Afrikaans moet die gebruiker weer ‘n duidelike keuse uitoefen, want ‘n mens ‘behoort’ nie die informele vorm (jy) te gebruik waar die formele vorm (u) meer gepas is nie. As iemand bv. ‘n titel (bv. meneer, mevrou, doktor, dokter, professor, inspekteur, meneer die voorsitter) gebruik, dan is dit konvensie om daarmee saam die formele vorm u te gebruik. Dis egter hier waar die stelsels deurmekaar begin hardloop en word dikwels die meer informele jy ingespan – en dit is so dat almal nie daarvan hou om ‘n jy te wees nie.
Die aanspreekvorm in families en gesinne loop in Afrikaans hier ’n interessante pad omdat die direkte aanspreekvorm dan dikwels eerder herhaal word as om die formele aanspreekvorm te gebruik, bv. Pa, kan ek vanaand Pa se motor gebruik? (in plaas van: Pa, kan ek vanaand u motor gebruik?).
Taal bly maar interessant!
08/08/2001
34. ´n Mens spreek nie ´n problem aan nie!
Ek hoor so dikwels op die kampus hoe mense “probleme aanspreek”. So iets is nie moontlik nie. “Aanspreek” beteken naamlik letterlik “praat met (bv. met iemand op straat), betig (bv. kinders)” en dis nie wat met ’n probleem gebeur nie. ‘n Probleem of saak of krisis word eerder gehanteer of aangepak of kry aandag of bespreek. Aanspreek het in die taal van soveel mense (veral in hoë posisies) ‘n gerieflike modewoord geword wat weens oorgebruik bloot lastigheidswaarde het. Dan noem ek nie eens dat ‘n probleem ook nie geadresseer behoort te word nie! Ek wonder nogal waarheen?
Haal hierdie woorde gerus uit u woordeskat en gebruik eerder die presieser Afrikaanse alternatiewe.
08/11/2001
© Catharina Loader 2001